Hierdie artikel handel oor die etniese groep. Vir die taal, sien Skots-Gaelies. __NOTOC__

Die Skotte (Engels: Scots of Scottish people, Skots: Scots Fowk, Skots-Gaelies: Albannaich) is 'n Keltiese nasie en etniese groep inheems aan Skotland en die omliggende eilande. Histories gesien het hulle ontstaan uit 'n samesmelting van twee groepe — die Pikte en die Gaele — wat in die 9de eeu die Koninkryk van Skotland (of Alba) gestig het en vermoedelik in etnotaalkundige opsig Kelte was. Later is die naburige Kumbriese Britone, wat ook 'n Keltiese taal gepraat het, asook die Germaanstalige Angel-Saksers en Noormanne, in die Skotse nasie geïntegreer.

duimnael|links|Skotse kilt-mode in 'n toonvenster in Buchanan Street, Glasgow In moderne opsig word die terme "Skotse mense" of "Skotte" gebruik om na iemand te verwys wat in taalkundige, kulturele, voorvaderlike of genetiese opsig van Skotse afkoms is. Die Latynse word Scotti het oorspronklik na die Gaele verwys, maar word nou gebruik om na al die inwoners van Skotland te verwys. Hoewel dit soms as argaïes of ongewens beskou word, word die term Scotch ook gebruik om na die Skotse mense te verwys, maar dit is tans hoofsaaklik buite Skotland gebruiklik.

Daar is mense van Skotse afkoms in baie lande buite Skotland. Emigrasie, beïnvloed deur faktore soos die Hoog- en Laelandse klane, die Skotse lidmaatskap in die Britse Ryk, en in die onlangse tyd industriële agteruitgang en werkloosheid, het tot gevolg gehad dat Skotse mense hul wêreldwyd gevestig het. Groot bevolkings van Skotse mense het hulle in die Nuwe Wêreldse lande van Noord- en Suid-Amerika, Australië en Nieu-Seeland gevestig. Daar is 'n Skotse teenwoordigheid op 'n besonders hoë vlak in Kanada, wat oor die hoogste vlak van Skotse afstammelinge per inwoner in die wêreld, en die tweede grootste bevolking van Skotse afstammelinge ná die Verenigde State beskik. Hulle het hul Skotse tale en kultuur saamgeneem.

Skotland het migrasie en vestiging van mense op verskillende tye oor die geskiedenis heen gesien. Die Gaele, die Pikte en die Britone het, soos die meeste Middeleeuse Europese volke, verskeie mites van oorsprong. Germaanse setlaars, soos die Angel-Saksers, het hulle vroeg in die 7de eeu in Skotland gevestig. Skandinawiese setlaars het tydens die 8ste eeu in baie dele van Skotland voet aan wal gesit. In die Hoë Middeleeue, sedert die heerskap van Dawid I van Skotland, het emigrante vanuit Frankryk, Engeland en die Lae Lande na Skotland gekom. Sommige bekende Skotse vanne, insluitende dié van Bruce, Balliol, Murray en Stewart het in hierdie tyd na Skotland gekom. Vandag is Skotland een van die vier lande van die Verenigde Koninkryk en die meerderheid van die mense wat in Skotland leef is Britse burgers.

Sien ook Skotse predikante in die NG Kerk

Verwysings

Bronne 15px Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia

Eksterne skakels

Kategorie:Etniese groepe in Australië Kategorie:Etniese groepe in Kanada Kategorie:Etniese groepe in die Verenigde Koninkryk Kategorie:Etniese groepe in die Verenigde State van Amerika Kategorie:Kelte