Hierdie artikel handel oor die taal. Vir die etniese groep, sien Russe.

Russies (ру́сский язы́к, roesski jazik, [ˈruskʲɪj jɪˈzɨk] ) is een van die grootste tale ter wêreld. Dit behoort tot die Indo-Europese taalfamilie en binne dié taalfamilie tot die Slawiese tale. Russies, Oekraïens en Belarussies vorm die Oos-Slawiese taalgroep.

Russies is verreweg die grootste en belangrikste Slawiese taal met meer as 160 miljoen moedertaalsprekers en meer as 110 miljoen wat Russies as tweede taal magtig is.Timothy J. Colton: Russia. What Everyone Needs to Know. New York, NY: Oxford University Press 2016, bl. 19 Al het Russies sy bloeitydperk as literêre taal reeds in die 19de eeu beleef en val die periode van sy grootste uitbreiding as belangrikste amps-, vreemde en verkeerstaal in die Sowjetunie en die Oosbloklande, insluitende Kuba, in die 20ste eeu, speel die taal steeds 'n belangrike rol as die medium met die tweede grootste inhoud op die internet na Engels en as die tweede of derde mees gesproke taal in lande soos Duitsland en Israel waar groot getalle Russiessprekendes hulle gevestig het. As huistaal vir 881 723 Amerikaners (van wie 'n derde in die deelstaat New York woonagtig was) was Russies in 2009 volgens die Amerikaanse Sensusburo daarnaas een van die tien mees gebesigde tale in die Verenigde State.Oksana Laleko: Assessing Heritage Language Vitality: Russian in the United States. In: Heritage Language Journal, 10 (3), Winter 2013, bl. 89

Die moderne Russiese skryftaal baseer op die Moskouse dialek van Russies, terwyl sy Cyrilliese alfabet met 33 letters uit die seremoniële Griekse skrif ontwikkel is en godsdienstig-kulturele bande met die Middeleeuse Grieks-Bisantynse wêreld weerspieël. Die beginpunt van moderne Russies word deur wetenskaplikes nie verder terug gedateer as die middel van die 17de eeu nie; in vroeëre taalperiodes oorweeg die invloed van Kerkslawies. Ondanks hervormings is die spelling van moderne Russies nie heeltemal aangepas aan die uitspraak nie en het dit sodoende 'n historiese karakter. Dit beteken dat bepaalde besonderhede nie deur die skryftaal aangedui word nie en derhalwe deur vreemde sprekers aangeleer moet word – net soos die vrye woordaksent van Russies en die harde en sagte (gepalatiseerde) weergawes van Russiese medeklinkers.

Geografiese verspreiding Russies is die amptelike taal van Rusland. Dit word ook in onder meer Estland (saam met Estnies), Georgië (saam met Georgies, Abchasies, Osseties, Armeens en Turks), Letland (saam met Lets), Litaue (saam met Litaus en Pools), Moldowa (saam met Roemeens, Oekraïens, Bulgaars, Turks en Gagaoesies), Oekraïne (saam met Oekraïens, Krim-Tataars, Gagaoesies, Roemeens, Hongaars, Bulgaars, Pools, Duits, Slowaaks, Belarussies en Grieks) en Belarus (saam met Belarussies, Oekraïens en Pools) gepraat en is een van die ses amptelike tale van die Verenigde Nasies.

In Rusland word naas Russies ook nog tale soos Tsjetsjnies, Tartaars, Kirgisies, Basjkiries en byna honderd ander tale gepraat.

Geskiedenis Vroeë geskiedenis duimnael|links|Wêreldwye verspreiding van Russies duimnael|links|Streke waar Russies gepraat word. Die donkerblou dele is waar Russies 'n amptelike taal is Die Protoslawiese dialek het waarskynlik in die tweede millennium v.C. binne die Indo-Europese taalfamilie ontstaan. In die eerste millennium n.C. het Protoslawies getransformeer in Oudslawies. In die sesde tot sewende eeu het drie groepe dialekte ontstaan: Oos-, Wes- en Suid-Slawies. Uit die Oos-Slawiese dialekte het Russies, Oekraïens en Belarussies in die veertiende tot vyftiende eeu ontstaan. Oekraïens toon groter afwykings van Russies as Belarussies.

Kerkslawies 'n Belangrike gebeurtenis in die Russiese taalgeskiedenis was die aanvaarding van die Grieks-Ortodokse Christelike geloof deur Wladimir, grootvors van Kiëf in die laat 10de eeu. Vervolgens het die Christendom ook ingang gevind tot die gebied van die huidige Rusland. Die Slawiese taalvorm, wat deur geestelikes saamgebring is, was Oud-Bulgaars, 'n Suid-Slawiese dialek wat deur die sogenaamde Slawe-apostels Cyrillus en Methodios gebruik is om die Evangelies in die Slawiese volkstaal te vertaal. Tot vandag het hierdie Kerkslawies sy status as kerktaal in Rusland bewaar – veral danksy die feit dat Slawiese tale, in teenstelling met byvoorbeeld die Germaanse taalfamilie, nie so sterk uitmekaar beweeg het nie en onderling verstaanbaar gebly het.

Die gebruik van 'n geskrewe taalvorm as kommunikasiemiddel was aanvanklik byna uitsluitlik die domein van die kerk en die klerus sodat Kerkslawies as vroegste Russiese skryftaal beskou word. Die oudste literêre monument van Russies, die Ostromir-evangelie wat tussen 1056 en 1057 ontstaan het, is oorwegend in Kerkslawies geskryf, met slegs enkele besonderhede wat uit die gesproke Russiese volkstaal oorgeneem is.

Volkstaal en taalhervormings duimnael|Michail Lomonosof se gesaghebbende Russiese Grammatika is reeds nege jaar ná sy publikasie in Duits vertaal. Die foto wys die Sint Petersburgse uitgawe van 1764, die Rußische Grammatick Die laasgenoemde het weens die gebrek aan 'n geskrewe standaardvariant 'n meer dinamiese karakter getoon as die kerktaal wat in die loop van tyd in toenemende mate as argaïes waargeneem is. Buite die Russies-Ortodokse Kerk het elemente uit die volkstaal steeds meer ingang gevind tot geskrewe kommunikasie soos oorkondes en verdrae. Die 17de eeuse Moskouse kanselarytaal, geskrewe kommunikasie in die sakewêreld en die wêreldlike literatuur toon sterk invloede van gesproke Russies (prostorečie) – 'n taal waarin die outobiografie van die priester Awwakoem uit die tweede helfte van die sewentiende eeu geskryf is wat as die eerste werk van die moderne Russiese letterkunde beskou word. Die hervorming van die Russiese alfabet deur tsaar Pieter die Grote tussen 1708 en 1710 was die eerste belangrike maatreël om 'n selfstandige Russiese skryftaal vir nie-godsdienstige publikasies te help vestig – onafhanklik van Kerkslawies en sy historiese alfabet, die Kirillitsa – en ook die begin van 'n skeiding tussen kerk en staat op kulturele gebied.

Vir Pieter se nuwe wêreldlike alfabet (гражданскій шрифтъ graždanskij šrift) is enkele Griekse letters soos ξ (ksi), ψ (psi) en ώ (omega), wat saam met Grieks-Christelike leenwoorde ingang gevind het tot Russies, saam met klemtoontekens (sogenaamde силы) en afkortingstekens geskrap en twee nuwe letters, з en я, ingevoer. Ook is konsekwent oorgegaan tot die gebruik van groot- en kleinletters en Arabiese syfers (in plaas van letters). Die Kirilliese alfabet is aangepas by die klassisistiese Antiqua-lettertipes van tale met Latynse skryfstelsels.

'n Omvattende hervorming van Russies, wat as grondslag van die moderne taal beskryf mag word, word egter eers verbind met die naam van die geleerde en "Vader van die Russiese letterkunde", Michail Lomonosof (1711−1765). In sy retoriese en grammatikale werke (in 1755 het sy befaamde Russiese Grammatika (Rossijskaja grammatika) verskyn; in 1783 het die Russiese Akademie die eerste verklarende woordeboek van Russies saamgestel) ontwikkel hy sy teorie van drie taalstyle in Russies (Kerkslawies, Russiese skryf- en Russiese omgangstaal) en trek hy 'n lyn tussen die oorgelewerde Kerkslawies en Russies. Aan die eersgenoemde sou volgens hom die status van 'n seremoniële taal en hoë stylvorm toegeken word, terwyl die gewone skryftaal van Russies as 'n middelpad ontwikkel sou word – met 'n eg Russiese karakter. Nie-Russiese Slawiese elemente sou met groot versigtigheid bygemeng word.

Daarnaas het Lomonosof ook groot aandag aan Russiese poësie geskenk. Hier is tot Lomonosof se hervormings, afgesien van enkele onsuksesvolle pogings, vasgehou aan die sillabiese versmaat wat uit Pools ontleen is – en in elk geval onversoenbaar was met die vrye woordaksent van Russies. Vir sy swierige odes het Lomonosof vir die eerste keer die toniese beginsel toegepas wat as enigste geskik is vir Russies.Max Vasmer, Erich Berneker: Russische Grammatik. Sesde onveranderde uitgawe. Berlin: Walter de Gruyter 1947, bl. 12

Lomonosof, Karamzin, Poesjkin en die Goue Tydperk van Russiese literatuur Lomonosof se hervormingswerk is deur sy opvolgers voortgesit, onder wie die geskiedkundige Nikolai Karamzin (1766−1826) wat, vol bewondering vir die elegansie van Franse meesterwerke, die oorgelewerde styl van Russies as "barbaars" waargeneem en dit volgens die voorbeeld van Frans begin omvorm het. Vir 18de en 19de eeuse Russiese elites was Frans, net soos vir die adels- en hoërklas van ander Europese lande in hierdie tydperk, die voorkeur- of tweede taal wat vir 'n verskeidenheid doelwitte gebruik is.Derek Offord, Vladislav Rjéoutski, and Gesine Argent: The French Language in Russia. A Social, Political, Cultural, and Literary History. Amsterdam: Amsterdam University Press 2018, bl. 11

Karamzin se ideaal van Russies – die Nuwe Styl of novyj slog wat op Lomonosof se "middelpad" gesteun het – is deur hom gesuiwer van oorbodige ontlenings uit vreemde tale en slawismes waarvoor hy Russiese terme ingevoer het. Waar hy dit nodig geag het, is die Russiese sintaks en woordeskat volgens die voorbeeld van ander Europese tale, hoofsaaklik Frans, aangepas. Sodoende het Karamzin die letterkundige norm daargestel waarop Aleksander Poesjkin en ander literêre persoonlikhede soos die digter Michail Lermontof (1814−1841) en die prosaskrywers Nikolai Gogol (1809−1852), Iwan Toergenef (1818−1883), Fjodor Dostojefski (1821−1881) en Leo Tolstoi (1828−1910) kon voortbou.

Die stabilisering en standaardisering van Russies as literêre en skryftaal het gou vrugte afgewerp. Die laat 18de en 19de eeu sou later as die "Goue Tydperk" van Russiese literatuur beskryf word waartydens werke van wêreldfaam in 'n volmaakte Russies ontstaan het. Poesjkin se rykdom van stylmiddels, klank- en ritmiese vorme was so gesofistikeerd dat sy werke as onvertaalbaar beskou word.

Sowjet-Russiese tydperk duimnael|Die voor-rewolusionêre Russiese alfabet en sleutelborduitleg op 'n tikmasjien van 1912, vervaardig deur die Amerikaanse Fox Typewriter Company, Grand Rapids, Michigan In die Sowjetunie was Russies die "taal van interetniese kommunikasie" en sodoende die de facto-ampstaal.

Ontwikkelinge in moderne Russies Die ingrypende maatskaplike veranderinge, wat die Sowjetunie vanaf die 1980's begin deurloop het en ook in die huidige Russiese Federasie steeds plaasvind, het gepaard gegaan met strukturele veranderinge en die toevoeging van nuwe betekenisse van die Russiese woordeskat. Terwyl die politieke stabiliteit (of stilstand) van die Sowjettydperk in 'n hoogs beperkte variabiliteit van die woordeskat weerspieël is, het die dinamiek van sosiale omwentelinge daartoe gelei dat Russiessprekendes 'n stortvloed ontlenings uit die Amerikaanse variant van Engels bereidwillig begin aanvaar het – dikwels regstreekse ontlenings van leefstyl-, rekenaar-, internet- en ekonomiese vakterme soos fast food, business, business lunch, dress code, online of broker.

In moderne Russies vind daarnaas toenemend terme, wat tradisioneel by Substandaard-Russies of – as jargon – by bepaalde groepstale gereken is, of as dialektismes of vulgarismes bestempel is, ingang tot Standaardrussies – insluitende die literêre taal. Hierdie proses word deur taalkundiges dikwels as 'n liberalisering of demokratisering van Russies beskryf.

Invloede en ontlenings uit ander tale Met die kerstening van Rusland het met die oorname van nuwe godsdienstige konsepte en instellings vir die eerste keer vreemde leenwoorde uit Grieks in groter omvang ingang tot die Russiese woordeskat gevind. Ook die eeue lange Tataarse bewind tussen die 13de en 16de eeu het merkbare spore gelaat. So is terme in die geld- en vervoerwese, vir behuising en huisgereedskap, asook klerasie en wapens dikwels uit Tataars ontleen.

Terme wat uit Engels ontleen is