Die Gereformeerde kerk Oudtshoorn is die sesde oudste van die 20 gemeentes in die GKSA se Klassis Boland en einde 2015, toe hier 124 belydende en 21 dooplidmate was, die 12de grootste. Buiten die hoofdorp, Oudtshoorn, sluit die gemeentegrense ook dorpe soos De Rust, Calitzdorp en Ladismith en Uniondale in die Klein-Karoo in, en Willowmore, Beaufort-Wes, Prins Albert, Loxton en Fraserburg in die Groot-Karoo.
Agtergrond duimnael|links|230px|Die Gereformeerde kerk Oudtshoorn is op 2 Augustus 1969 in gebruik geneem.
Vroeër jare was Gereformeerde lidmate in die Suid-Kaap en Klein-Karoo heeltemal onbekend. Sover bekend, was die egpare J.A. Venter op Oudtshoorn en J.W. Olwage op George in die veertigerjare die enigste Gereformeerdes in die streek. Hulle het aansluiting gevind by die gemeentes Port Elizabeth en De Aar.
Vanaf omstreeks 1950 het die bediening begin vorm aanneem vanuit Port Elizabeth. Die wyk Oudtshoorn is gestig met grense van Plettenbergbaai in die ooste tot by Heidelberg, Kaap, en selfs Montagu in die weste en noordwaarts tot by Willowmore en Joubertina. Ten spyte daarvan dat dit ’n reusegebied is, het hier net vyf of ses gesinne gewoon. Wanneer ds. M. Venter van Port Elizabeth hier besoek afgelê het, het die NG Kerk geboue vir eredienste beskikbaar gestel. Leesdienste is in lidmate se huis gehou en in die saal van die Hoër Tegniese Skool op Oudtshoorn.
Stigting Op 19 Junie 1960 is die Gereformeerde kerk Oudtshoorn-George gestig met 64 belydende en 52 dooplidmate, onder wie ook verspreidwonendes. In 1966, ook op 19 Junie, tydens ds. J.J. de Jager se bediening, het die Gereformeerde kerk George afgestig wat einde 2016 359 belydende en 71 dooplidmate gehad het.
Kerkbou duimnael|170px|regs|Ds. J.C. Buys, die predikant van 1971 tot 1974.
Op 22 Maart 1969 het oudl. J.A. Venter die kerkgebou op Oudtshoorn se hoeksteen gelê. Geld vir kerkbou is dringend ingesamel. Om koste te besnoei, het lidmate self met die bouery gehelp. Hierdie kerkgebou is op 2 Augustus 1969 in gebruik geneem. Dié eenvoudige dog sierlike gebou bied sitplek aan 200 kerkgangers. Die houtbanke en preekstoel is vervaardig deur P.A. Venter van Worcester en skep saam met die indirekte lig ’n rustige atmosfeer in die kerk. Later is ’n pyporrel geïnstalleer. Vandag nog is dié gebou ’n simbool van die Gereformeerdes se volhardende opoffering om ’n gemeentes hier tot stand te bring en ’n middelpunt vir baie verspreidwonendes.
Die volgende groot voorwaartse tree in die gemeente se bestaan was die bou van die kerksaal. Daarvan het br. Niko van die Walt die hoeksteen op 20 Julie 2008 gelê.
Predikante Van der Walt, Hendrik Jacob, 1960 – 1962 De Jager, Johannes Jacobus, 1968 – 1970 (in kombinasie met George) Buys, Johannes Christiaan, 1971 – 1974 (in kombinasie met George) Van der Walt, dr. Sarel Jacobus, 1975 – 1977 (in kombinasie met George) Combrink, Jan Jacob, 1977 – 1981 (in kombinasie met George) Breed, dr. Gert, 1981 – 1984 Van den Berg, Paul Jacobus, 1985 – 1990 Viljoen, dr. Francois Petrus, 1990 – 1994 Van der Walt, Johannes Gideon Lessing, 1994 – 2000; 2009 – hede Vrey, Coenraad Christoffel Andries, 2000 – 2006 Malan, Jan, 2006 – 2008
Galery van kerkeiendom
Bronne Harris, C.T., Noëth, J.G., Sarkady, N.G., Schutte, F.M. en Van Tonder, J.M. 2010. Van seringboom tot kerkgebou: die argitektoniese erfenis van die Gereformeerde Kerke. Potchefstroom: Administratiewe Buro. Schalekamp, ds. M.E. (voorsitter: redaksiekommissie). 2001. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2002. Potchefstroom: Administratiewe Buro. Van der Walt, dr. S.J. (voorsitter: deputate almanak). 1997. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 1998. Potchefstroom: Administratiewe Buro. Venter, ds. A.A. (hoofred.) 1957. Almanak van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika vir die jaar 1958. Potchefstroom: Administratiewe Buro. Venter, ds. A.A. (hoofred.) 1958. Almanak van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika vir die jaar 1959. Potchefstroom: Administratiewe Buro. Vogel, Willem (red.). 2014. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2015. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
Sien ook NG gemeente Beaufort-Wes NG gemeente De Rust NG gemeente Fraserburg NG gemeente Ladismith NG gemeente Loxton NG gemeente Oudtshoorn NG gemeente Prins Albert
Kategorie:Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika