Die Gereformeerde kerk Kaapstad is die tweede oudste gemeente in die GKSA se Klassis Boland. Die gemeente het einde 2015 95 en 20 dooplidmate gehad, vergeleke met 151 en 29 vyf jaar vantevore al sluit dit ’n reusedeel van die Kaapse Skiereiland in van Melkbosstrand tot Simonstad; trouens alle dele van Kaapstad wes van die gemeentes Bellville en Bellville-Oos, al word Melkbosstrand, Milnerton en Table View die afgelope paar jaar ook by laasgenoemde se beskrywing in die GKSA se Almanak ingesluit.
Oorsig duimnael|links|320px|Die Gereformeerde kerk Kaapstad, ontwerp deur Gerard Moerdyk en Henry Watson en op 6 April 1952 in gebruik geneem. Die Gereformeerde kerk Kaapstad het op 6 Mei 1923 tot stand gekom met net 31 belydende lidmate. Die kerkperseel – Hofstraat 2, Tuine, aan die bopunt van die Kompanjiestuin en langs die Mount Nelson-hotel – het eers aan die Palmer-instituut behoort. Daarop het ’n saaltjie en ’n woonhuis gestaan. In 1931 het die gemeente dit vir £2 750 aangekoop. Dié geboue is in 1951 gesloop om plek te maak vir die nuwe kerkgebou.
Dr. P.J. Coetzee, die gemeenteleraar van 1945 tot 1952, het die hoeksteen van die nuwe kerk op 11 Augustus 1951 gelê. Die kerkgebou is amptelik in gebruik op 6 April 1952, presies 300 jaar nadat Jan van Riebeeck voet aan wal gesit het in Tafelbaai, ’n hanetree van die kerkperseel af. Baie jare later, in 1998 (toe gemeente nog 298 belydende lidmate gehad het), is as deel van die viering van die gemeente se 75-jarige bestaan boodskappe van lidmate agter die hoeksteen ingemessel.
Die kerkgebou met sy meer as 300 sitplekke is ontwerp deur Gerard Moerdyk en Henry Watson, wat ook saam gewerk het aan die Voortrekkermonument. Die perseel langs die kerkgebou op die hoek van Oranje- en Hofstraat, is in 1959 vir £6 500 aangekoop. In 1964 is die kerk- en saalperseel gekonsolideer. Die kerksaal, waarvan Braam Singels die gedenksteen op 27 September 1969 gelê het, het R35 400 gekos.
Die kerkraad het in 1942 begin met evangeliebediening aan verbyvarende seelui. Van 1947 af is die Gereformeerde gemeentes in die Skiereiland, die NG Kerk en later ook die VG Kerk deel van dié interkerklike bediening, genaamd Biblia.
Tot 1994 was die gemeente jare lank die tuiste van heelparty politici en staatsamptenare wanneer die parlement in sitting was. Dié lidmate veral in Seepunt, Rondebosch en Bellville (later afgestig) gewoon. Sen. Jan de Klerk en sy vrou, Corrie, was lidmate van 1969 tot 1974 en hul seun FW moontlik van 1978 tot moontlik 1997. Dr. Connie Mulder en sy vrou, Suzanne, was lidmate van 1968 tot 1978, toe hy weens die Inligtingsdebakel gedwing is om as minister te bedank. Min. Amie Venter was terwyl hy parlementslid was ook lidmaat van die gemeente en het die ingebruikneming van die eerste fase van die kerk se ouetehuis, Huis Boland, op 25 April 1990 waargeneem.
Stigting duimnael|regs|230px|Die Gereformeerde kerk Kaapstad se vooraansig.
In Februarie 1923 het 17 Kaapse lidmate van die Gereformeerde Kerk 'n brief gerig aan die Algemene Vergadering van die Gereformeerde Gemeentes in die Kaapprovinsie. Die adres van die briefskrywers word aangedui as Buitengracht 65, ’n gebou wat dateer uit 1774 en vandag nog staan. Die brief, met die spelling onveranderd gelaat, lui soos volg:
Behalwe die sewentien mans en vroue wat hierdie brief onderteken het, kon van nog vyf met redelike sekerheid aangeneem word dat hulle gewillig sou wees om aan te sluit by 'n Gereformeerde gemeente in Kaapstad. Dus altesame 22 lede, en 15 dooplidmate. Ook is die name van agt of nege persone genoem wat moontlik belang sou stel.
Die onsekerhede van Februarie het in Mei 1923 sekerheid geword. Die eerste diens van die Gereformeerde Gemeente het op Sondagmôre, 6 Mei, in die Wichtzaal (eiendom van die NG gemeente Tamboerskloof, toe nog bekend as De Nieuwe Kerk) plaasgevind. Onmiddellik né die môrediens is 'n vergadering van lidmate gehou en het ds. J.G.H. van der Walt (leraar van Middelburg, Kaap, van 1904 tot 1939) die doel van die vergadering uiteengesit: om na aanleiding van die versoek van die lidmate “van onse Kerk wat hier in die Skiereiland en omstreke woon, en op advies van onse Algemene Vergadering, wat in Maart 1923 te Steynsburg gesit het, die Gereformeerde Kerk alhier te Kaapstad tot openbaring te bring". In die eerste lidmaatregister is 31 name opgeteken. Nicolaas van der Walt is wettig as ouderling en Joseph Coetzee as diaken gekies, en in die aanddiens bevestig. Daarna is die eerste kerkraadsvergadering op 8 Mei gehou, en het br. Van der Walt skriba, korrespondent en kassier van die gemeente geword.
In Die Kerkblad, die Gereformeerde Kerk se orgaan, van 15 Mei 1923 het dié verslag verskyn van wat op 6 Mei in Kaapstad plaasgevind het:
Noudat die gemeente van Kaapstad geinstitueer was, het die gemeentelike lewe langsaam koers begin kry. Oudl. Van der Walt en sy diaken het destyds die hele Boland as wyk gehad het. Die grense van die pas gestigte gemeente het tot op plekke soos Riversdal gestrek en duskant De Aar opgehou. Oudl. Van der Wa1t se een dogter, Engela, was die eerste bruid wat in die gemeente getroud is. Haar bruidegom was 'n polisieman, Petrus van Heerden. 'n Jong suster, Gina Rosing, wat nie lidmaat van die gemeente geword het nie omdat sy lojaal gevoel het teenoor die NG Kerk, het aangebied om wanneer daar dienste was, die klavier te bespeel, want 'n orrel was daar nog nie. Teen 'n nominale vergoeding in 1936 nog maar £3 per jaar, het sy langer as 20 jaar die orreliste van die gemeente gebly. Gereelde katkisasieklasse het begin, en is waargeneem deur oudl. Nicolaas van der Walt.
Eerste kerkgebou Op 18 Augustus 1923 was Sietske Boersma die eerste suster wat belydenis van haar geloof in hierdie Gemeente afgelê het. Die volgende dag het ds. Dirk Postma van Burgersdorp die Nagmaal bedien en by dieselfde geleentheid, op 19 Augustus, is die eerste kindjie van die gemeente gedoop: Hendrik Ryk de Vos. Ook het die arbeid onder Gereformeerde studente aan die Universiteit van Stellenbosch begin, nadat ds. Postma van ongeveer 16 Gereformeerde studente die belofte gekry het dat hulle vir Nagmaalsdienste sou oorkom na Kaapstad.
In Oktober dieselfde jaar het ds. J.G.H. van der Walt, as eerste konsulent van die gemeente, weer die helpende hand gebied. 'n Nagmaalservies van £25 is gekoop, en die kerkraad het die moontlikheid bespreek dat in samewerking met die gemeente van De Aar, wat ook in 1923 gestig is, saamgewerk sou kon word. Die toekomstige predikant van De Aar sou dan gevra word om agt Sondae per jaar in die Kaap te preek. Die gemeente Kaapstad het kans gesien om te sorg vir sy losies, sy reiskoste van ongeveer £5 met £4 per Sondag as traktement.
Met 'n blik op die toekoms het die kerkraad besluit om by die munisipaliteit van die stad aanvraag te doen om grond vir 'n toekomstige kerkgebou. Die jaar 1924 was 'n jaar van teleurstellings. Die NG Kerk het laat weet dat hulle die Wichtzaal nie langer beskikbaar kon stel nie en die munisipaliteit dat hulle geen grond beskikbaar gehad het nie. Daar was 'n tekort in die kas van £8.5.9. Ook het ds. Van der Walt die gemeente in kennis gestel dat hy nie langer as konsulent sou kon optree nie. Volgens 'n besluit van die Algemene Vergadering sou die predikant van Venterstad, ds. J.H. Boneschans, hierdie taak op hom neem. Die nuwe vergaderplek van die gemeente, die Metropolitan Hall, was allesbehalwe ideaal. Saterdagaande is tot laat gedans en langsaan het die Boy Scouts 'n kamer gehad, waar die geraas en rumoer dikwels die dienste moeilik verstaanbaar gemaak het. Maar hulle het volhard. Dr. Anna Böeseken, wat saam met ouers van die eerste lidmate van die gemeente was, skryf in 1973 met die oog op die gemeente se halfeeufeesviering: “Die dinge wat werklik belangrik was – die suiwere verkondiging van die Woord, die gemeenskap, die breking van brood en die gebede – kon nie deur moeilike omstandighede belemmer word nie.” Ds. Boneschans was 'n ywerige konsulent, en het ook op Stellenbosch, Wellington, in die Paarl en op Worcester gesinne opgespoor wat elders lidmate van Gereformeerde Kerke was. Ook op Ceres het so 'n gesin gewoon.
Intussen het besoekende predikante, asook professore van die Teologiese Skool Potchefstroom, gehelp deur preekbeurte waar te neem. So het ds. D.G. Venter van Steynsburg en prof. J.A. du Plessis dienste waargeneem. Daar is ook ingegaan op die wenslikheid en moontlikheid van 'n gekombineerde beroep van een predikant vir De Aar, Clanwilliam en Kaapstad. 'n Ander kombinasie is voorgestel, naamlik Kaapstad, Oos-Londen en Clanwilliam, maar dit is deur die Kerkraad as onprakties verwerp. De Aar se ligging was beter, aangesien lidmate op Stellenbosch, Ceres, Wellington, Worcester, in die Paarl en op Moorreesburg dan ook besoek kon word.
'n Belangrike besluit wat in die jaar 1926 geneem is, was dat Ceres te klein was om alleen die mas op te kom. Die Kerkrade van die twee Gemeentes het ooreengekom dat Ceres sou bydra tot Kaapstad se fondse, en dat Kaapstad sou sorg vir die geestelike behoeftes van Ceres. Aangesien ds. Boneschans in 1926 'n beroep na Transvaal aangeneem het, moes hy bedank as konsulent van Kaapstad, en het die Algemene Vergadering dit aan ds. H.S. van Jaarsveld van Philipstown opgedra om as konsulent op te tree.
Hoewel dienste steeds in die Metropolitan Hall plaasgevind het, was daar verblydende tekens van vooruitgang. Volgens die kerklike statistiek was daar 65 lede in die gemeente Kaapstad-Ceres in die jaar 1927. Die batige saldo was £82.15.8 en daar was 'n boufonds wat op £757.14.3 gestaan het. Twee ouderlinge en twee diakens het die konsulent bygestaan.
Nadat De Aar besluit het om die voorstel tot kombinasie met Kaapstad en Clanwilliam nie aan te neem nie, het Clanwilliam weer die moontlikheid geopper om saam met Kaapstad 'n predikant te beroep. Die broeders in Clanwilliam het aangebied om £100 per jaar by te dra vir die predikantstraktement “ingeval met hulp en steun van die Eerw. Algemene Vergadering 'n predikant kan verkry word wat aan Clanwilliam 12 Sondae bediening met huisbesoek kom gee, die Sondae vir Nagmaal ingesluit". Die Gemeente van Kaapstad het met blydskap van hierdie besluit kennis geneem, maar toe De Aar besluit om nie tot hierdie kombinasie toe te tree nie, moes met leedwese verklaar word dat die drakrag van die twee gemeentetjies te klein was om 'n predikant te bekostig.
Dr. Böeseken skryf oor dié besluit: “Miskien is dit nodig om in hierdie stadium daarop te wys dat die denkwyse van 1930 nie die denkwyse van 1970 was nie. In 1929 en 1930 het die groot depressie voor die deur gestaan. Oor die algemeen was die mense bang vir skuld. In hul persoonlike sowel as hul kerklike lewe wou hulle seker maak dat hulle alle verpligtinge wat hulle op hulle neem, kon nakom. Dit was nie 'n gebrek aan geloof nie, maar wel 'n eerbaarheid, 'n strewe na geregtigheid en eerlikheid wat vandag maar alte dikwels ontbreek.”
In hierdie jare van voorbereiding het lidmate van Kaapstad hard gewerk en gebid. Op 1 Februarie 1930 het die hele Kerkraad – bestaande uit die voorsitter, ds. D.G. Venter van Steynsburg, skriba-ouderling J. Dekker, oudl. S. Boersma en die broeders diakens P.J. van Heerden en C.M. van den Heever – die volgende beskrywingspunt aan die Algemene Sinode van Burgersdorp gestuur: “Die Kerkraad van die Gereformeerde Gemeente van Kaapstad wens die Generale Sinode te dank vir die hulp wat aan die gemeente gegee is. Die boufonds staan tans op amper £1 000. Maar beleefd maar ook dringend te vra dat die Sinode spesiaal ernstige aandag gee aan die behartiging van die Kerk se belange in die Westelike Provinsie."