Hierdie artikel handel oor die taal. Vir die etniese groep, sien Italianers.
Die taal Italiaans (italiano, [itaˈljaːno], of lingua italiana, [ˈliŋɡwa itaˈljaːna]) is 'n lid van die Romaanse taalgroep. Net soos ander Romaanse tale was die gesproke Latynse taal of Vulgêrlatyn die uitgangspunt vir 'n taalkundige proses wat in die Middeleeue met die vestiging van Italiaans as selfstandige taal afgesluit is. Die oudste tekste, wat as Italiaans geklassifiseer word, dateer uit die tydperk tussen 960 en 963 en staan bekend as Placiti Cassinesi. Hulle is opgestel as juridiese dokumente vir die beslegting van 'n grondgeskil tussen drie Benediktynse-kloosters en 'n plaaslike grondeienaar in die omgewing van Capua, Kampanië. Blykbaar was ten minste een van die partye nie Latyn magtig nie sodat 'n vertaling in die volkstaal of volgare as nodig geag is.Berloco 2018Simone 2010
duimnael|links|'n Inskrif op 'n marmertafel in Capua herinner aan die oudste bekende teks in Italiaans Italiaans word deur ongeveer 65 miljoen sprekers in Italië, San Marino, die Vatikaanstad, Switserland (hoofsaaklik in die kanton Ticino), Monaco, Frankryk (département Alpes-Maritimes), Italiaanse minderhede in dele van Kroasië en Slowenië asook Italiaanse gemeenskappe in die Europese en oorsese buiteland gepraat. So is dit danksy grootskaalse immigrasie vanaf die 19de eeu die tweede mees gesproke taal in Argentinië naas Spaans. Met die groot emigrasiegolwe van die laat 19de en vroeë 20ste eeu is Italiaans as een van die mees gesproke tale naas Engels in die Verenigde State gevestig. Wêreldwyd is tussen vyftien en twintig miljoen sprekers Italiaans as tweede taal magtig.
Geskiedenis Van Vulgêrlatyn tot vroeë vorme van Italiaans Die ontwikkeling van Italiaans as Romaanse skryf- en literêre taal in eie reg het – in vergelyking met ander dele van die Romaanse taalgebied – relatief laat begin omrede Latyn nog betreklik lank maklik verstaanbaar was. Terwyl die Latynse stelsel van ses naamvalle of morfologiese kasus in Italiaans – net soos in ander Romaanse tale – verlore gegaan het, is die verbuigingstelsel bybehou. Opvallend is die oorgang van sintetiese tot analitiese konstruksies – 'n proses wat reeds in die Vulgêrlatynse taalfase begin het.
Oorgang van sintetiese tot analitiese konstruksies + Klassieke Latyn Vulgêrlatyn Italiaans Afrikaans laudor laudatus sum sono lodato ek het lof ontvang cantavi habeo cantatum ho cantato ek het gesing Bron: Ursula Reutner/Sabine Schwarze: Geschichte der italienischen Sprache. Eine Einführung. Tübingen: Narr Francke Attempto 2011, bl. 24
Middeleeuse Italiaans Oksitaanse invloede 'n Reeks faktore het daartoe bygedra dat 'n literêre Italiaanse standaardtaal eers betreklik laat begin ontwikkel het. So het baie digters in Noord- en Suid-Italië aanvanklik voorkeur gegee het aan Oksitaans wat hulle nie net as 'n aantreklike taal beskou het nie, maar wat ook elders in Europa groot aansien geniet het en deur elites maklik verstaan en gelees kon word. Vroeë liriek in Suid-Italië is derhalwe in Oksitaans geskryf, terwyl in Noord-Italië naas Franko-Italiaanse chansons de geste (heldegedigte of epiese liedere wat die geïdealiseerde wêreld van ridders beskryf, in Afrikaans dikwels regstreeks vertaal ook Dadeliedere genoem) ook talle ander teksdokumente soos kronieke en ande geskiedkundige werke, digkuns, diergedigte en -fabels asook ander prosa in Oksitaans geskep is. Per Sture Ureland (ed.) et al.: Entstehung von Sprachen und Völkern. Glotto- und ethnogenetische Aspekte europäischer Sprachen. Akten des 6. Symposions über Sprachkontakt in Europa, Mannheim 1984. Tübingen: Max Niemeyer Verlag 1985, bl. 143
Selfs die Italiaanse meesterdigter Dante Alighieri het sy respek aan Oksitaans betoon en laat in Canto XXVI van sy Purgatorio die Oksitaanse trobador Arnaut Daniel (1150−1210), hoofverteenwoordiger van die sogenaamde donker en ingewikkelde styl van trobador-liriek (wat onder meer deur versteekte sinspelings gekenmerk is, bekend as trobar clus) wat deur hom as die "beste smid van die moedertaal" beskryf is, in sy eie taal optree.
Sisiliaanse Skool duimnael|Die Normandiese gedeelte van die Palazzo dei Normanni of Palazzo Reale te Palermo, Sisilië. Hier, waar Frederik II grootgeword het, het later ook sy hof, die Magna Curia, vergader – 'n multikulturele sentrum van kunste en wetenskappe Die vroegste vorme van geskrewe literêre Italiaans dateer uit die 13de eeu en uit die suide van die taalgebied. Hier het Frederik II (1194−1250), keiser van die Heilige Romeinse Ryk en koning van Sisilië, 'n kunssinnige en intellektueel hoogstaande heerser wat ook self gedigte geskryf het, aan sy Sisiliaanse hof as beskermheer van digters opgetree. Die Sisiliaanse Skool (of Scuola siciliana) was 'n klein groep digters, naas enkele vastelanders meestal Sisiliane wat deel uitgemaak het van die koningshof, die Magna Curia.
Met die notaris Giacomo da Lentini as hul hoof het hierdie groep tussen 1230 en 1266 meer as driehonderd gedigte met hoofse liefde as sentrale tematiek voortgebring wat, soos elders in Italië, deur Oksitaanse trobador-liriek geïnspireer is, maar vir die eerste keer in die volkstaal geskryf is, en juis nie in Oksitaans nie. Koning Frederik II se litêrere eksperiment is ná sy afsterwe voortgesit deur sy seun Manfred.
Toskane
Die dryfkrag agter die vorming van 'n Italiaanse standaard-skryftaal in die Middeleeue was die sukses van digkuns wat verder noord, in Toskane, ontstaan het. Gebaseer op die Toskaans-Florentynse dialek in sy geskrewe 13de eeuse vorm, die fiorentino letterario, en met die stad Florence as kulturele sentrum, het die werke van drie Florentynse digters, Dante Alighieri (1265−1321), Francesco Petrarca en Boccaccio, wat as die Tre corone di Firenze vereer word, 'n literêre uitgangspunt vir 'n algemeen aanvaarde Italiaanse standaardskryftaal begin vorm. Die publikasie van Dante se Divina commedia in Toskaanse Italiaans het daartoe bygedra dat die volkstaal naas Latyn as literêre medium erkenning kon kry. Die oudste geskrewe materiaal in die vroeë volkstaal stam uit die 10de eeu. Daar is egter baie meer materiaal uit die 14de eeu wat die werke van die bogenoemde klassieke Florentynse digters insluit. Vanaf die 16de eeu is Standaarditaliaans in sy geskrewe vorm algemeen aanvaar.
Terwyl Latyn gedurende die Middeleeue die enigste medium vir enige vorm van wetenskaplike diskoers was, was Alighieri een van die eerste Italiaanse filosowe en geleerdes wat bereid was om aan Italiaans as gesproke moedertaal die status van selfstandige studieonderwerp toe te ken. Blykbaar het sy siening van Italiaans geleidelik verander. In een van sy vroeë werke, Vita nuova (1294), het hy nog daarvoor gepleit om die gebruik van die volkstaal tot liefdesliriek te beperk. Ook in die Convivio (1304−1307) beklemtoon hy steeds die ondergeskikte rol van Italiaans teenoor Latyn. Hierdie siening kontrasteer met die opinie oor die volkstaal wat hy in sy Latynse traktaat De vulgari eloquentia (1303−1304) vervat. Volgens hom is dit juis Italiaans se natuurlikheid wat dit verhewe maak bo Latyn. Geleerdes se refleksie oor hul eie moedertaal het algaande hulle belangstelling gewek vir taalgeskiedenis en taalkundige verandering.
Venesië Die gebrek aan 'n konings- of ander hof, waar heersers as beskermhere en -dames van kunste kon optree en sodoende 'n geskrewe literêre standaard kon bevorder wat wyer erkenning sou geniet, was een van die redes hoekom die Republiek Venesië se taalvariant, Venesiaans of venexian, maar 'n ondergeskikte rol in die proses van Italiaanse taalstandaardisering sou speel – al was die Dogerepubliek een van die belangrikste politieke en ekonomiese rolspelers in die taalgebied. Literatuur en digkuns is in Venesië as 'n privaat aangeleentheid beskou en nie deur die owerheid bevorder nie.
Ook was Venesiane meer behoudend in die omgang met Latyn as uit die antieke tydperk oorgeërfde skryftaal. Latyn het hierdie funksie nog tot omstreeks 1500 vervul – met 'n aanvanklike neiging om vir geskrewe kommunikasievorme Latyn en vir mondelinge die inheemse koinē of algemene volkstaal te gebruik. Geleidelik het Venesiaans dieselfde status begin vervul soos Latyn, en so is daar 'n betreklik omvangryke korpus van Venesiaanse tekste uit verskillende vakgebiede.
Venesiane se taalkundige pragmatisme en onverskilligheid teen enige vorm van konsekwente taalbeleid het daartoe bygedra dat vanaf omstreeks 1500, net soos elders in Italië, die Toskaans-gebaseerde Italiaanse standaardskryftaal de facto as die voorkeurmedium van wetgewing en die meeste ander vorme van geskrewe kommunikasie in Venesië aanvaar is. Ronnie Ferguson: Venetian Language. In: Eric E. Dursteler: A Companion to Venetian History, 1400–1797. Leiden • Boston: Brill 2014, bl. 952
Bybelvertalings duimnael|'n Bladsy uit Nicolò Malermi se Venesiaanse Bybelvertaling van 1471 Bybelvertalings in Italiaans het, in teenstelling met ander Europese lande, geen noemenswaardige bydrae gelewer tot taalstandaardisering nie. Eerste Italiaanse uitgawes van enkele Bybelboeke dateer uit die 13de eeu en uitsluitlik as handgeskrewe eksemplare wat net deur 'n klein minderheid belangstellendes bekostig kon word. In die volgende eeu is steeds meer Bybelboeke vertaal sodat kort voor lank die hele Heilige Skrif in die landstaal beskikbaar was. Nogtans was daar geen enkele volledige uitgawe nie – alle Bybeltekste is deur anonieme vertalers op verskillende plekke en tye in Italiaans saamgestel.
Die uitvinding en verspreiding van die drukpers het die publikasie van die eerste volledige Bybeluitgawe moontlik gemaak wat in 1471 in Venesië gedruk is. Nicolò Malermi (1422−1481), 'n Camaldulenser-monnik, het die Latynse Vulgata-Bybel en bestaande Italiaanse uitgawes as basis vir sy eie vertaling gebruik wat binne agt maande voltooi is. 'n Aantal terme is deur Malermi deur Venesiaanse woorde vervang. Nogtans was die Bibbia del Malermi die eerste Italiaanse Bybeluitgawe wat op nasionale vlak versprei is.
'n Tweede Venesiaanse Bybeluitgawe is in 1532 deur Antonio Brucioli, 'n boorling van Florence en humanis wat in Protestantse leerstellings belang gestel het sonder om sy bande met die Rooms-Katolieke Kerk te verbreek (alhoewel hy uit sy geboortestad verban is en sy oortuigings deur vele as teologiese kettery beskou is), as eerste Italiaanse Bybel regstreeks uit die oorspronklike Hebreeuse en Griekse tekste vertaal. Brucioli het sy vertaalwerk stapsgewys voltooi. So het in 1530 vooraf 'n nuut vertaalde uitgawe van die Nuwe Testament verskyn («di greco novamente tradotto in lingua toscana») en in die volgende jaar die Psalms («da la hebraica verità»).
Die Brucioli-Bybel het, al was dit allesbehalwe 'n literêre meesterwerk, dekades lank aanklank gevind by Italiaanse Protestante en nonkonformiste. Hersiene uitgawes daarvan is later gepubliseer, ook deur Rooms-Katolieke outeurs, waaronder een in Antwerpen en twee in Lyon, alhoewel geen noemenswaardige sukses aan hierdie vertalings beskore was nie. Van groter belang is die drie boekdele met kommentare op die Bybel wat Brucioli in 1540 gepubliseer het (vier bykomende dele het later verskyn), veral vanweë die soms onverhulde Protestantse standpunte wat die skrywer inneem (en reeds in die voorwoord tot die Venesiaanse Bybel van 1532 begin deurskyn het).
Dat Brucioli geen geleerde was nie, maar 'n leek wat blykbaar Grieks en Hebreeus aangeleer het, maak sy prestasie des te merkwaardiger. Moontlik was sy Hebreeuse taalvaardighede beperk – 'n groter gedeelte van die Hebreeuse Geskrifte in sy Bybeluitgawe steun sterk op 'n vroeëre Latynse vertaling van die Italiaanse Bybelgeleerde Santi Pagnini (1470−1536) sonder dat dit eksplisiet vermeld word. S.L. Greenslade (red.): The Cambridge History of the Bible, Volume 3. The West from the Reformation to the Present Day. Cambridge: Cambridge University Press 1975, bl. 110