duimnael|links|Die Gereformeerde kerk Silverton is in Augustus 1962 in gebruik geneem.
Silverton is 'n ou en gevestigde voorstad in die verre ooste van Pretoria, Suid-Afrika. Etlike ander woonbuurte het oor die afgelope 60 jaar rondom Silverton uitgebrei. Die Moreletaspruit kronkel noordwaarts deur die buurt, en die Pioniersmuseum en Pretoria Boeremark is op die oewer daarvan geleë. Die klein woonbuurt van Bellevue word deur Silverton omring, en die Pretoria- Nasionale Botaniese Tuin is aangrensend aan die woonbuurt in Brummeria.
Geskiedenis Dawid Botha, 'n boer uit die Kaapkolonie, en sy familie, was die eerste mense om hulself in 1848 op die plaas Hartebeespoort te vestig waar Silverton vandag geleë is. Deur modder en miershoopgrond te gebruik, is kleimure en 'n vuurherd opgerig. Soos by die inheemse mense was die vloer van beesmis en miershoopgrond. Die Bothafamilie het die plaas in 1851 aan ene Vermeulen verkoop.
In 1874 is die plaas ten bedrae van £1400 aan die Duitse immigrant Hans Mundt verkoop. Mundt het dit as 'n halfwegstasie vir reisigers gebruik, aangesien die plaas op die hoofvervoerroete na Pelgrimsrus geleë was, toe die goudstormloop daarheen begin het. Teen 1900 was 'n silwer-neerslag op die plaas bekend, en die betrokke plaasdeel is ten bedrae van £9000 deur die Silver Mining Company aangekoop.
Dit is in 1890 as dorpsgebied verklaar, en sou so bly tot dit in 1964 by Pretoria ingelyf is. Tydens die depressie het dit as Blikkiesdorp bekend gestaan weens die talryke sinkhuisies wat deur arm wit boere bewoon is. Laerskool Silverton in Jasmynlaan is in 1906 gestig.
In 1961 het die Mundt-familie hul landgoed aan die munisipaliteit van Silverton geskenk, en die administrasie daarvan is in 1975 aan die Nasionale Kultuurhistoriese Museum toevertrou, toe dit as die Pionier-opelugmuseum vir die publiek geopen is.
In Augustus 1962 is die Gereformeerde kerk Silverton in gebruik gestel, en in 1966 is 'n sekondêre skool, Hoërskool Silverton, in die suide van die woonbuurt gestig.
Die Silvertonbeleg Op 25 Januarie 1980 was drie Umkhonto we Sizwe-lede, Stephen Mafoko, Humphrey Makhubo en Wilfred Madela na bewering na 'n beplande MK-sabotasie op brandstofdepots by Waltloo op pad. Toe hulle besef dat hulle deur die polisie agtervolg word, het hulle hul toevlug in 'n plaaslike tak van Volkskas Bank geneem. Hulle het 25 burgerlikes in die bank gyselaar gehou en 'n aantal eise gestel. Na 'n reeks onsuksesvolle onderhandelinge, het die polisie die bank bestorm en die trio doodgeskiet. Twee burgerlikes, Valerie Anderson en Anna de Klerk, is ook dood en talle ander is in die skietery gewond.
Pretoria Boeremark duimnael|regs|Besoekers besigtig stalletjies by die Boeremark Die Pretoria Boeremark word as 'n bron van huishoudelike voorsiening, 'n 'modieuse' plek om kultuur deur middel van spyseniering te ervaar, en 'n mikrokosmos van Suid-Afrikaanse ekonomiese en kulturele praktyke beskryf. Dit het in 1992 ontstaan en is oorspronklik op 'n oop stuk veld oorkant die WNNR gehou. Die parkeerarea was waar die brug oor die snelweg tans staan, en die aanbou daarvan het beteken dat die Boeremark in Desember 2004 na die Pionier-opelugmuseum moes verskuif, waar dit vir byna 13 jaar lank (Desember 2004 tot Julie 2017) op Saterdae gehou is. In 2017 het die Pretoria Boeremark 'n nuwe terrein in Silverton, net minder as 2 kilometer weg betrek. Die huidige terrein het twee wesingange, naamlik in Moreleta- en Krigestrate.
Geloftedag Geloftefeesvierings in Silverton het in 1942 ontstaan, en die eerste vergadering van die Dingaansfeeskomitee is op 4 November 1942 in die huis van die Leibrandts gehou. Die eerste fees is onder bloekombome op die hoek van Pretoriaweg en Jameslaan gehou en het 2 dae geduur. In 1981 het die verrigtinge na die Pionier-opelugmuseum verskuif, en in 2024 na die aanliggende Ou Motorklub. Van 1994 af is die tema van versoening ook ingebring en is daar gepoog om 'n sosiale verantwoordelikheid teenoor die verlede sowel as hede na te kom. Volgens die 2025 feeskomitee getuig die geskiedenis van hierdie fees van die dryfkrag en getrouheid van mense wat op 16 Desember die eer en die dank aan die Here bring vir Sy hand in hul lotgevalle.Geloftedagpamflet, 2025
Sien ook Gereformeerde kerk Silverton
Verwysings
Kategorie:Voorstede van Pretoria