duimnael|links|210px|Die huidige kerkgebou is 11 Oktober 1955 in gebruik geneem.
Die Gereformeerde kerk Ficksburg is ’n gemeente van die GKSA in die Oos-Vrystaat met sy middelpunt op die dorp Ficksburg, maar dit sluit ook Clocolan, Fouriesburg, Rosendal en Lesotho in. Einde 2014 het die gemeente 65 belydende en 19 dooplidmate gehad, vergeleke met onderskeidelik 89 en 59 einde 2001.
Voorgeskiedenis Die ontstaan van die Gereformeerde kerk Ficksburg kan teruggevoer word tot 1903 toe twee Gereformeerde gesinne, die Viljoens en Buitendags, van Philipstown na Ficksburg verhuis het. Kort voor lank was daar 14 Doppergesinne in die omgewing. Die Gereformeerdes het net die volgende jaar (1904) by die dorpsraad aansoek gedoen om ’n kerkerf waarop hulle ’n plek van samekoms kon oprig, maar 12 jaar sou verloop voor dié gebou oprig kon word.
In 1906 het ds. J.C. Kruger met eredienste op Ficksburg begin, maar toe was dit nog meestal in privaat woonhuise. In 1916 kon die gemeente met die bou van sy sandsteenkerk begin. Die argitek sowel as bouaannemer was diaken D.J. Viljoen. Ds. H.P.J. Pasch het die hoeksteen op 6 Oktober 1917 gelê.
Stigting en vooruitgang Ficksburg het op 10 Mei 1919 van die Gereformeerde kerk Ladybrand afgestig en terselfdertyd hul kerkgebou in gebruik geneem. ’n Pomporrel is uit Kanada ingevoer, een van net vier wat in die land aangekom het. Dis per trein van die hawe (die bron vermeld nie watter een nie, maar moontlik Durban) na Ficksburg vervoer.
In 1953, toe ds. J.H. Venter die leraar was, is beplan vir ’n groter en doelmatiger kerkgebou. Hy het die hoeksteen van die gebou op 4 Desember 1953 gelê en op 11 Oktober 1955 het die gemeente dit in gebruik geneem.
Die Gereformeerde kerk Senekal het in 1961 van Ficksburg afgestig toe reeds op Senekal asook Marquard Gereformeerde kerkgeboue gestaan het.
Galery
Predikante Du Plessis, Dirk Postma, 1920 – 1941 Aucamp, Abraham Liebrecht, 1942 – 1948 (in kombinasie) Duvenage, Abraham, 1949 – 1952 Venter, Jan Hendrik, 1953 – 1966 Breedt, Johannes Jacobus, 1969 – 1975 (in kombinasie met Senekal) Malan, Petrus Jacobus, 1977 – 5 Julie 1977 (oorlede in die amp) Van der Merwe, dr. Daniël Charl Stephanus, 1978 – 1982 Van Tonder, dr. Jacobus Machiel, 1982 – 1984 De Kock, Jacobus Johannes, 1985 – 1990 De Beer, Hendrik Johannes Petrus, 1990 – 1999 Du Plessis, Lourens Stephanus Daniël, 1999 – 2003 Putter, Christiaan Johannes Jacobus, 2003 – 2006 Smidt, Marthinus Johannes, 2006 – 2017
Bronne Harris, C.T., Noëth, J.G., Sarkady, N.G., Schutte, F.M. en Van Tonder, J.M. 2010. Van seringboom tot kerkgebou: die argitektoniese erfenis van die Gereformeerde Kerke. Potchefstroom: Administratiewe Buro. Schalekamp, ds. M.E. (voorsitter: redaksiekommissie). 2001. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2002. Potchefstroom: Administratiewe Buro. Van der Walt, dr. S.J. (voorsitter: deputate almanak). 1997. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 1998. Potchefstroom: Administratiewe Buro. Venter, ds. A.A. (hoofred.) 1957. Almanak van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika vir die jaar 1958. Potchefstroom: Administratiewe Buro. Venter, ds. A.A. (hoofred.) 1958. Almanak van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika vir die jaar 1959. Potchefstroom: Administratiewe Buro. Vogel, Willem (red.). 2014. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2015. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
Sien ook NG gemeente Ficksburg
Kategorie:Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika Kategorie:Vrystaat