Die Gereformeerde kerk Bloemfontein-Suid is sedert 2013 die tweede oudste gemeente van die GKSA in die Vrystaat se hoofstad, Bloemfontein, nadat die gemeente Bloemfontein-Oos (1949) in 2007 ontbind het en die moedergemeente (1903), die oudste in die stad, in 2013 ontbind het.
Geskiedenis Die gemeente is in 1951 gestig en die eerste kerkgebou, in Roselaan, Wilgehof, reeds drie jaar later in gebruik geneem. Dit is aanvanklik teen ’n koste van £5 000 gebou met die doel dat dit as saal sou dien nadat ’n kerkgebou vooraan die gebou opgerig is. Om die een of ander rede het dié plan nie ’n werklikheid geword nie, want in 1972 is die huidige kerkgebou ingewy. Die bou koste het R110 000 beloop en die argitek was Nico le Roux, terwyl Soon Calitz die bouaannemer was. Dié kerkgebou is geleë op die hoek van Walter Sisuluweg (die ou Haldonweg) en Lilaclaan, Gardeniapark, Bloemfontein.
’n Unieke kenmerk van die kerk is die skuins helftes van leiklipdak wat nie aan die bokant bymekaarkom nie, maar ruimte vir vensters bied. In die somer word die vensters oopgemaak sodat warm lug kan uitvloei. Die groot orrel is in 1965 in die ou saalkerk kerk geïnstalleer en in 1972 na die nuwe kerkgebou oorgeplaas. Hier is dit vergroot.
In 1990 het die gemeente ’n groot gemeentesentrum met ’n saal, kombuis en kantore teen ’n koste van R220 000 laat aanbou. Tussen die saal en die kerk is ’n groot soetdoringboom behou wat skadu in die kuiergedeelte bied.
Die gemeente het einde 2014 400 belydende en 83 dooplidmate gehad, vergeleke met onderskeidelik 556 en 159 einde 1997, toe dit die stad se naasgrootste Gereformeerde kerk was. In 2019 wad dit onderskeidelik 422 en 76.
Predikante Van Wyk de Vries, dr. Klaas Speleveld, 1952 – 1955 Van der Vyver, dr. Gert Christoffel Petrus, 1955 – 1970 Duvenage, Abraham Petrus Carolus, 1971 – 1981 Postma, Ferdinand, 1974 – 1979 Bingle, dr. Johannes Petrus, 1979 – 1984 Venter, Herman Johannes Petrus, 1982 – 1985 Steenkamp, Willem Frederik, 1985 – 1988 (aanvaar sy emeritaat) Schutte, Johan Ali, 1989 – 2002 Van der Walt, dr. Sarel Jacobus, 2003 – 2014
Galery
Bronne Harris, C.T., Noëth, J.G., Sarkady, N.G., Schutte, F.M. en Van Tonder, J.M. 2010. Van seringboom tot kerkgebou: die argitektoniese erfenis van die Gereformeerde Kerke. Potchefstroom: Administratiewe Buro. Schalekamp, ds. M.E. (voorsitter: redaksiekommissie). 2001. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2002. Potchefstroom: Administratiewe Buro. Van der Walt, dr. S.J. (voorsitter: deputate almanak). 1997. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 1998. Potchefstroom: Administratiewe Buro. Vogel, Willem (red.). 2014. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2015. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
Eksterne skakels [https://www.google.com/maps/@-29.1272685,26.1765894,3a,75y,329.48h,101.48t/data=!3m6!1e1!3m4!1sJwz0p-2f2FmrVfjx-t7SQQ!2e0!7i13312!8i6656 Die kerkgebou op die hoek van Walter Sisuluweg en Lilaclaan, Gardeniapark, Bloemfontein, soos te sien op Google Maps. URL besoek op 12 Desember 2015.
Kategorie:Bloemfontein Bloemfontein-Suid