Die Gereformeerde kerk Durban was ’n gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika in die gelyknamige stad in KwaZulu-Natal wie se laaste erediens en daarmee saam die laaste Nagmaal op 3 November 2019 gehou is. Dié diens is gelei deur ds. Herman Coetzee van die Gereformeerde kerk Amanzimtoti.

Hoewel die gemeentes Vryheid (1897) en Paulpietersburg (1899–1951) etlike jare voor Durban (1922) en Pietermaritzburg (1925) gestig is, was Durban die eerste Gereformeerde kerk wat in Natal gestig is omdat Vryheid en Paulpietersburg in die sogenaamde Nieuwe Republiek geval het en daarom kerklik nog dekades lank onder Transvaal geressorteer het.

Oorsig duimnael|links|240px|Die Gereformeerde kerk Durban. Die Gereformeerde kerk Durban is op 16 Julie 1922 met 24 belydende en 23 dooplidmate gestig. Eers moes die kerkraad kort-kort ’n saal soek waarin leesdienste gehou kon word. Vanaf April 1935 het hulle die Vrymesselaarslosie gehuur en gebruik tot die gemeente in 1945 sy eie kerkgebou in gebruik kon neem. Die perseel daarvoor is in 1940 aangekoop. Weens die boubeperkings van die Tweede Wêreldoorlog is die boupermit eers in 1945 goedgekeur. Kort daarna het ds. H.F.V. Kruger die hoeksteen gelê. Dié kerkgebou is nie in ’n bekende boustyl opgerig nie en was net tot Desember 1950 in gebruik.

Vanweë die toename van die lidmate in dié oorwegend Engelse stad, wat ook die NG Kerk eers betreklik laat betree het met die stigting van die NG gemeente Durban in 1913, en namate meer jong mense hulle hier kom vestig het, het die behoefte aan ’n ruimer kerk ontstaan. Die kerkraad het die Gereformeerde argitek Pieter Dykstra genader om dit te ontwerp. Hy het die ontwerp van die Gereformeerde kerk Louis Trichardt aangepas by plaaslike omstandighede. Ds. P.J. de Klerk het die hoeksteen op 15 April 1950 gelê. Die kerk en toring is van geelbruin siersteen gebou terwyl die deure en vensters deur pleisteromramings beklemtoon word.

Die Laukhuff-pyporrel met 967 pype is op 3 Oktober 1952 in gebruik geneem en bly een van die stad se uitstaande orrels. Vandag nog word dit by elke erediens gebruik asook vir talle ander geleenthede. Die ou kerkie is in ’n saal met katkisasielokale omskep en in 2003 is ’n veiligheidsheining om die perseel aangebring.

Die Gereformeerde kerk Durban-Wes het in 1968 van Durban afgestig, maar het in 1990 ontbind en weer daarby ingeskakel. Die Gereformeerde kerk Durban-Noord, wat in 1952 van Durban afgestig het as Noord-Durban, bestaan nog (2015). Ook die Gereformeerde kerk Amanzimtoti (1985) het van Durban afgestig.

Voorgeskiedenis duimnael|regs|270px|Oom Corneels en tant Louisa du Plooy. Hy het 'n leidende aandeel gehad in die stigting van die Durbanse kerk in 1922. Hy was ouderling tot in die jare sestig en byna 17 jaar lank skriba.

Die eerste Gereformeerde Kerk wat in Natal gestig is, is Gereformeerde kerk Vryheid. Aan die einde van die 19de eeu is hierdie streek ook op kerklike gebied by die Transvaal ingeskakel en so het dit dan gebeur dat 'n gemeente op 15 Oktober 1897 op die plaas Traktaat, distrik Vryheid, gestig is. Die stigting is waargeneem deur di. Ph.S. Snyman, W.J. Snyman, oudl. C.E.G.S. Schutte en diaken F.J. Potgieter. 'n Skamele 63 lidmate het aangesluit. Toe Cornelius Machiel du Plooy (wat later bekend was in die Durbanse Gereformeerde kerk as oom Corneels) in 1918 van Carolina na Durban verhuis het, was in dié hawestad slegs een NG gemeente van omtrent 75 lidmate. Hul predikant, ds. Poen, was die Gereformeerdes baie goedgesind, en toe die jonge C.M. du Plooy en nog 'n paar lidmate – op raad van ds. J.V. Coetzee (Piet Retief se Dopperlraar van 1916 tot 1918) – by die NG Kerk hier aansluit, het hy (ds. Poen) hulle die name en adresse van nog Gereformeerde lidmate gegee.

In 1919 het oom Corneels diaken geword in die NG kerk, maar toe later nog Gereformeerdes in daardie kerkraad begin dien, het die (NG) lidmate beswaar daarteen gemaak met die gevolg dat oom Corneels dadelik weer 'n versoek aan ds. J.V. Coetzee (toe reeds leraar van die Gereformeerde kerk Johannesburg) gerig het om die saak van die Gereformeerdes in Durban aanhangig te maak by die Algemene Vergadering van die Oranje-Vrystaat (OVS). Maar ook vanaf die suidkus van Natal het 'n soortgelyke roepstem tot die Algemene Vergadering gekom. Br. Johannes J. van der Walt – die oudste dooplidmaat met die stigting van die gemeente, en later jare lank kerkraadslid (ook kassier) van Durban – skryf: “In Januarie 1916 is my vader van die gemeente Bethulie na Ixopo verplaas. In 1918 het ds. J.A. van Rooij (van 1905–’31 leraar van Bethulie) ons op Umzinto besoek. Toe hy ons in 1920 weer te Umbogintwini besoek, het my vader hom na ander lidmate vir besoek geneem. Ds. Van Rooij het toe aan die Algemene Vergadering van die OVS verslag gedoen.”

Die gevolg van hierdie versoeke was dat die Algemene Vergadering di. D.P. du Plessis van Ladybrand en C.W.M. du Toit van Frankfort in 1921 na Durban afgevaardig het om ondersoek te gaan instel na die moontlikheid van die stigting van 'n Gereformeerde gemeente aldaar. 'n Vergadering van lidmate is gehou en die twee predikante is versoek om die Algemene Vergadering te vra om 'n gemeente in Durban te kom stig.

Gemeentestigting en konsulentsjare duimnael|regs|170px|Ds. I.D. Krüger, een van Durban se eerste twee konsulente.

Op die volgende sitting van die Algemene Vergadering (Maart 1922) is die aansoek van Durban behandel en is 'n kommissie van drie lede afgevaardig om “die nodige stappe” te doen om 'n Gereformeerde gemeente in Durban te stig. Die lede van hierdie kommissie was: ds. I.D. Kruger van Bloemfontein, ds. C.W.M. du Toit van Frankfort en oudl. J.J. de Wet van Ladybrand. Op Saterdagaand 15 Julie 1922 het hierdie kommissie die lidmate van Durban in die YMCA-saal ontmoet. Aanvanklik was 17 manslidmate en vyf susters in die saal teenwoordig, maar volgens die notule het daar later nog “'n stuk of wat” opgedaag. Ds. Kruger tree op as voorsitter, open die vergadering met psalmgesang (Ps. 146:1), Skriflesing en gebed, en kondig toe die doel van die vergadering aan, naamlik “om die nodige stappe te doen sodat môre DV die gemeente gestig kan word”.

Nadat die saak bespreek is, is daar op voorstel van br. H. Grüne (gesekondeer deur br. J.P. Aucamp) besluit dat die grense van die gemeente voorlopig ooreen sou stem met die munisipale grense van Durban en dat op Pietermaritzburg en Ladysmith wyke van die Gereformeerde gemeente Durban sou wees. Vervolgens het die kwessie van 'n konsulent ter sprake gekom. Met die oog op die afstand en op die samestelling van die gemeente is daar besluit om twee konsulente (tewete di. Kruger en Du Toit) te beroep. Om mee te begin is daar vir Durban drie ouderlinge en drie diakens gekies, en vir Pietermaritzburg slegs 'n ouderling. Vir Durban is gekies brs. C.M. du Plooy (later algemeen bekend as oom Corneels), L.S. van Wyk en H. Grüne as ouderlinge en brs. C.H. Coetsee, J.N. van der Walt en P.A. Venter as diakens. Br. J.P. Aucamp is gekies as ouderling vir Pietermaritzburg.

Nadat op voorstel van br. C. M. du Plooy, gesekondeer deur br. J.P. Aucamp, besluit is dat elke lidmaat van die gemeente een veertigste (2,5%) van sy/haar maandelikse inkomste aan traktement sou afstaan, is alle lidmate wie se attestasie of bewys van lidmaatskap nog nie ingelewer was nie, opgeskerp om dit so spoedig moontlik te bekom en oor te dra. Voordat ouderling J.J. de Wet die vergadering met psalmgesang en gebed afgesluit het, is alle lidmate eers opgewek om op die Kerkblad in te teken.

Sondag 16 Julie 1922, is twee samekomste gehou. In die oggend is die Woord bedien, 'n babatjie gedoop en belydenis van geloof deur drie jong lidmate afgelê. In die namiddag is 'n erediens gehou (deur ds. C.W.M. du Toit) “in verband met die stigtingsplegtigheid. Die YMCA–saal was goed gevul: behalwe die kommissie van die Algemene Vergadering OVS was daar ook teenwoordig talle lede van die plaaslike NG kerkraad benewens ds. Poen. Ná die diens is die sewe verkose kerkraadslede bevestig en het ds. Kruger aangekondig dat 22 lidmate reeds hul attestasie of bewyse van lidmaatskap ingelewer het en dat nog 22 persone “hul begeerte definitief te kenne gegee het om aan te sluit”. Daar behoort, volgens aanduidings, altesaam tussen 50 en 60 lidmate te wees. Namens die NG Kerk wens ds. Poen, oudl. Fergg en diaken J.C.N. Jooste die pas gestigte gemeente “Gods seën toe” en eindelik word daar aangekondig dat die YMCA-saal voorlopig die vergaderplek van die gemeente sou wees.

Op Maandagaand 17 Julie 1922 is die eerste vergadering van die kerkraad van die Gereformeerde gemeente Durban gehou. Al sewe die kerkraadslede was teenwoordig. Aangesien di. Kruger en Du Toit elders doenig was en eers later sou opdaag, is oudl. H. Grüne as voorsitter vir die aand gekies. As skriba van die kerkraad is gekies oudl. C.M. du Plooy (oom Corneels) en as kassier diaken C.H. Coetsee. Op hierdie vergadering is die volgende reëlings onder meer getref: Durban en Pietermaritzburg sal elk sy eie finansies beheer, en pro rata bydra tot die reiskoste van die konsulent. Oudl. Aucamp sal elke week katkisasie hou in Pietermaritzburg en elke 14 dae daar leesdienste hou. Totdat 'n diaken daar bevestig is, sal hy ook die finansies behartig. 'n Naamlys van Pietermaritzburg se lidmate sal daar sowel as in Durban gehou word, en oudl. Aucamp sal die atteste so gou moontlik bekom. Saterdagaand 23 Julie sal 'n gemeentevergadering gehou word en dan sal bespreek word of hier Sondae een of twee leesdienste gehou sal word.

Einde Julie 1922 tot 11 April 1930 duimnael|regs|170px|Ds. Jan Viljoen Coetzee, Durban se konsulent in die tyd (1925–'28) toe hy leraar van Frankfort was. In die volgende weke en maande is hierdie reëlings dan ook so deurgevoer: oudl. Aucamp het die finansies van Pietermaritzburg bly behartig totdat op 28 Oktober 1922 'n diaken (br. J.H. du Plessis) gekies is; nadat die kerkraad die gevoelens van die gemeente verneem het, het hulle op 27 Julie 1922 besluit om elke Sondag twee leesdienste in Durban te hou en die ouderlinge sou hierdie dienste “per toerbeurt” waarneem. Op hierdie laasgenoemde vergadering is oudle. Grüne en Du Plooy as katkiseermeesters benoem en die katkisasie sou smôrens voor die erediens gehou word; elkeen van die drie Durbanse wyke sou uit 11 lidmate bestaan; Nagmaal sou kwartaalliks in Durban gevier word en halfjaarliks in Pietermaritzburg en op Ladysmith; kollektes sou smôrens ten bate wees van die Armkas en saans van die Kerkkas. Soos wat dit maar die geval is met enige pas gestigte gemeente moes allerlei sake, groot en klein, gereël word om behoorlik op dreef te kon kom: bankrekenings moes geopen word; Nagmaalservies moes aangekoop word; 'n lokaal vir eredienste moes kort-kort gesoek word; kerkraadsvergaderings kon net gehou word wanneer die konsulent hier was vir die bediening van die heilige Nagmaal – om maar 'n paar sake te noem wat die kerkraad se aandag in beslag geneem het.