duimnael|links|280px|Die Gereformeerde kerk Kempton Park-Noord is op 7 April 1971 in gebruik geneem.

duimnael|regs|270px|Die kerkgebou, einde 2017.

Die Gereformeerde kerk Kempton Park-Noord is een van drie gemeentes van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika in die Oos-Randse stad Kempton Park.

Die gemeente het op 5 Februarie 1966 afgestig van die gemeente Kempton Park, wat reeds in die eeufeesjaar (1959) van die Gereformeerde Kerk ’n sieletal van 951 gehad het; dus die derde grootste Gereformeerde kerk aan die Oos-Rand. Binne 10 jaar het Kempton Park-Noord so gegroei dat Kempton Park-Mooifontein (1976) kon afstig, waaruit Birchleigh in 1989 tot stand gekom het. Laasgenoemde het egter in 2000 weer deel van Mooifontein geword.

Kempton Park-Noord het vier aangrensende erwe as bruidskat ontvang, maar dit was nie geskik vir kerkbou nie. ’n Sentraler geleë erf van 5 acre (sowat 2 hektaar) is toe vir dié doel aangekoop. Die argitek was ene Hartman (blykbaar B. De W. Hartman). Die bouaannemer, Gert Hendrik Petrus Opperman, het die gebou opgerig teen net R130 000 uit halwe gekapte stene, asbesstene, gekapte beton en glas. Die kerk en saal vorm ’n eenheid onder ’n plat dak met ’n geboë helling afloop van die 18 m hoë muur agter die preekstoel tot 4 m by die agterste muur. ’n Groot houtdeur van 14 x 3,5 m skei die kerk en saal.

Die kerkgebou is feestelik in gebruik geneem op 7 April 1971. Op 30 April die vorige jaar is ’n tender vir R10 260 van Oos-Randse Orrelbouers aanvaar vir die voorsiening van ’n orrel. Dit is op 23 Februarie 1973 met ’n gepaste program in gebruik geneem.

Predikante Steenkamp, Willem Frederik, 1966 – 1974 De Bruyn, Frans Roelof Petrus, 1974 – 1995 De Villiers, Izak Jacobus Johannes, 1996 – 1997 De Villiers, Izak Jacobus Johannes, 1997 – 2004 Van Schaik, Johannes (Joop), 2005 – 2011 Tredoux, Alwyn Petrus, 2012 – hede

Bronne Harris, C.T., Noëth, J.G., Sarkady, N.G., Schutte, F.M. en Van Tonder, J.M. 2010. Van seringboom tot kerkgebou: die argitektoniese erfenis van die Gereformeerde Kerke. Potchefstroom: Administratiewe Buro. Schalekamp, ds. M.E. (voorsitter: redaksiekommissie). 2001. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2002. Potchefstroom: Administratiewe Buro. Van der Walt, dr. S.J. (voorsitter: deputate almanak). 1997. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 1998. Potchefstroom: Administratiewe Buro. Venter, ds. A.A. (hoofred.) 1958. Almanak van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika vir die jaar 1959. Potchefstroom: Administratiewe Buro. Vogel, Willem (red.). 2014. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2015. Potchefstroom: Administratiewe Buro.

Eksterne skakels Die gemeente se webtuiste. URL besoek op 23 November 2015.

Kemptonpark-Noord Kategorie:Kemptonpark