Die Namibiese Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (NUST) is ’n instelling vir tersiêre opleiding in Namibië. In November 2015 toe die naam verander is vanaf Politegnikum van Namibië was die studentetal sowat 13 000.
Die NUST het in 1985 in Windhoek in die destydse Suidwes-Afrika ontstaan as ’n tegnikon, die benaming wat in Suid-Afrika vir soortgelyke instellings gebruik is. Dié tegnikon het naas die Akademie bestaan, wat gerig was op akademiese opleiding. Ná die gebied se onafhanklikwording in 1990 het die eerste president, Sam Nujoma, ’n kommissie aangestel om ondersoek in te stel na naskoolse opleiding in Namibië. Gevolglik is besluit dat die Akademie herdoop moes word tot die Universiteit van Namibië (Unam) terwyl die tegnikon die Politegnikum van Namibië (Polytechnic of Namibia) sou word. In 1999 het ’n naamsverandering van die politegnikum die eerste keer ter sprake gekom.
In 2012 het die kabinet besluit om voort te gaan met die verandering, in Maart 2015 is die nodige wetgewing deurgevoer en van 16 November 2015 staan die instelling amptelik bekend as die Namibiese Universiteit vir Wetenskap en Tegnologie, waarvan die Engelse afkorting NUST is. Die naamsverandering het na raming sowat R25 miljoen gekos. Aanvanklik sou die kursusse dieselfde bly en die personeel ook dieselfde betrekkings beklee. Die jare lange rektor is Tjama Tjivikua.
Sien ook Universiteit van Namibië
Verwysings
Bron Polytechnic ade, hallo Universität, Allgemeine Zeitung (Namibië), 20 November 2015.
Eksterne skakels
Politegnikum word universiteit, Republikein, 18 Desember 2012. URL besoek op 20 November 2015. Amptelike webwerf Amptelike webwerf van die skool van inligtingstegnologie Amptelike webwerf van die afdeling van sagteware ingenieurswese wet 33 van 1994 van die Parlement
Kategorie:Geboue en strukture in Windhoek Kategorie:Namibiese universiteite