Vir ’n artikel oor die oblast met dieselfde naam, sien Kaliningrad-oblast. KaliningradКалининград 280px Kaart Wapen 180px|senter 75px|senter Vlag 90px|senter Land  Federale distrik Noordwes-Rusland Ekonomiese streek Kaliningrad Oblast 20px Kaliningrad Administratiewe verdeling 5 stedelike rajons Koördinate  Gestig op 1 September 1255 Vroeëre name Twangste (1242–1255)Königsberg (1255–1946) Oppervlakte:    - Totaal 223,03 vk km  Hoogte bo seevlak 4,8 m (sentrum) Bevolking:    - Totaal (2018) 475 056  - Bevolkingsdigtheid 1 900/vk km Tydsone UTC +2 (KALT) Burgemeester Elena Iwanowna Djatlowa Amptelike webwerf www.klgd.ru

Kaliningrad (Russies: Калининград, [kəlʲɪnʲɪnˈɡrat]; Pools: Królewiec; Litaus: Karaliaučius; tot 1946 Duits: Königsberg, [ˈkøːnɪçsbɛʁk], ; Russies: Кёнигсберг, Kjonigsberg, [ˈkʲɵnʲɪɡzbɛrk]) is die hoofstad van die gelyknamige Russiese eksklawe (Kaliningrad-oblast), wat sowat 1 289 kilometer wes van Moskou tussen Pole en Litaue aan die Oossee lê, met sowat 475 056 inwoners (2018). 'n Seekanaal van sowat 32 kilometer verbind die stad met die Oossee.

Die huidige Russiese stad het uit die bouvalle van die oorspronklik Duitse Koningsberg (Königsberg) ontstaan wat eeue lank die hoofstad van die Duitse provinsie Oos-Pruise was en in die laaste fase van die Tweede Wêreldoorlog deur Britse en Russiese bomaanvalle vernietig is.

Tot in 1991 kon die stad weens politieke omstandighede nie sy tradisionele rol as brug tussen die oostelike en westelike lande van die Oossee vervul nie, en ook sy toerismebedryf was dekades lank uitsluitlik op Russiese besoekers gemik. Vandag staan die stad weer oop vir internasionale handel en toerisme, alhoewel die geografiese ligging as Russiese eksklawe binne die Europese Unie 'n aantal probleme skep.

Naam duimnael|links|Die Duitse naam Königsberg op 'n Russiese nommerplaat Die ontbinding van die Sowjetunie in 1991 en die toeganklikmaking van die Kaliningradse gebied vir besoekers uit ander landsdele en die buiteland het openbare debat oor die stadsnaam gestimuleer. Michail Iwanowitsj Kalinin (1875–1946), een van Josef Stalin se bekendste handlangers wat dekades lank as formele staatshoof van die Sowjetunie gefungeer het, was een van die gevreesde massamoordenaars van die Stalinistiese tydperk en verantwoordelik vir die Slagting van Katyn, waarby sowat 20 000 Poolse offisiere deur die Sowjetse geheime polisie NKWD vermoor is.

Die Sowjetregering het destyds die Duitsers vir die moorde verantwoordelik gehou, terwyl die huidige Russiese regering ondanks Poolse protes nog steeds weier om die omstandighede van dié oorlogsmisdaad te ondersoek. 'n Massamoordenaar as vernoemde is in elk geval ook in Rusland as onvanpas geag sodat die stad Kalinin in die Uraal intussen na Twer hernoem is.

Vir sommige Kaliningradse burgers is "Кёнигсберг", die gerussifiseerde weergawe van die oorspronklike Duitse naam Königsberg, of die afkorting Кёниг 'n aanvaarbare alternatief, en dit word nou ook dikwels in die advertensiebedryf gebruik. Die meeste Russiese inwoners is egter gekant teen 'n herbenoeming wat as revisionisties beskou sou kon word.

Ander voorstelle het name soos Kantgrad of "Kantstad", ter ere van die aldaar gebore filosoof Immanuel Kant, Jantarnogorsk ("Barnsteenstad") en Baltikograd ("Oosseestad"). Die naamsverandering is uiteindelik vanweë die hoë koste wat daaraan verbonde sou wees, maar ook vanweë die teenkanting van militêre kringe en veterane van die Rooi Leër, nie deurgevoer nie. Gunnar Strunz: Königsberg entdecken. Berlyn: Trescher 2006, bl. 46

Geografie Ligging duimnael|Die ligging van Kaliningrad in die gelyknamige oblast duimnael|Die Kaliningrad-oblast soos vanaf die ISS gesien Kaliningrad is die mees westelike van Rusland se groot stede. Die stad is in die weste van die Kaliningrad-gebied (Oblast Kaliningrad) aan die Pregel-rivier (Russies: Pregolja) geleë wat wes van Kaliningrad in die Frisches Haff (Vistula- of Weichsel-haf, Russies Kaliningradski saliv) uitmond. Die strandmeer word deur 'n smal landstrook, die Frische Nehrung of Weichsel-/Vistula-skoorwal, van die Oossee geskei.

Die Koningsbergse Seekanaal (tans Kaliningradse Seekanaal, Kaliningradski morskoi kanal), wat op 14 November 1901 geopen is, verbind die stad met die seehawe Pillau (Baltijsk), wat 50 kilometer van Kaliningrad af lê, en die oop see. Die landskap rondom Kaliningrad word deur uitgestrekte vlaktes oorheers, wat plek-plek deur enkele morene-heuwels onderbreek word. Die stad grens in die noorde en weste aan die skiereiland Samland (Sambijski of Semljandski poluostrof), in die ooste en suide aan die Pregel-riviervlaktes.

Klimaat Kaliningrad is in 'n oorgangsgebied tussen 'n see- en landklimaatsone geleë waar soms baie koue winters voorkom. Die weer is egter wisselvallig, en die lugtemperatuur word ook deur die ligging naby die Oossee beïnvloed. So vries die grond soms nog in Mei, terwyl op Oujaarsaand reën in plaas van sneeu kan val.

Die gemiddelde jaarlikse temperatuur is 7,1 °C, die gemiddelde jaarlikse neerslae beloop 697 millimeter. Julie en Augustus is die warmste maande van die jaar met gemiddeldes van tussen 16,4 °C en 17,3 °C, terwyl die kwik in die koudste maande Januarie en Februarie tot gemiddeldes van tussen -2,1 en -2,7 °C daal.

Julie, Augustus en September is die natste maande met neerslae van tussen 83 en 90 millimeter. Die droogste tyd van die jaar is tussen Februarie en Mei met gemiddelde neerslae van tussen 27 en 43 millimeter.

Geskiedenis Vroeë geskiedenis duimnael|Die sewe brûe van Köningsberg Die stad is in 1242 as 'n handelspos van Lübeckse koopmans gestig en het in 1286 stadstatus gekry. Die Duitse stad Königsberg het 'n belangrike lid van die Hanse-bond, setel van die Duitse Ridderorde en hoofstad van die Duitse provinsie Oos-Pruise geword. In 1451 is Königsberg deur die Duitse Ridderorde oorgeneem en het as die hoofstad van hulle Pruisiese staat gefungeer. Dit is die geboortestad van die Duitse filosoof Immanuel Kant (*1724), wat hier tot met sy dood in 1804 gebly het.

In 1736 besoek Leonhard Euler die stad. Destyds het mense gevra of dit moontlik is om oor alle sewe brûe van Köningberg net een maal oor te stap sonder om hul voete nat te kry. Euler het bewys dat dit nie moontlik is nie. Sy bewys was ook die begin van die wiskundige onderwerp topologie.

Die ondergang van Königsberg duimnael|Die ou stadspoort ("Koningspoort") Toe die Derde Ryk in 1945 reeds ondergang in die gesig gestaar het, het die Nasionaal-Sosialiste 'n beroep op die Oos-Pruisiese "grensbevolking" gedoen om 'n "soldatiese houding" te toon en nie voor die naderende Rooi Leër te wyk nie. Andreas Kossert: Ostpreußen. Geschichte und Mythos. Derde uitgawe. München: Pantheon/Random House 2008, bl. 326 Adolf Hitler het Königsberg tot "vesting" verklaar, en die uitsiglose stryd teen die oormag Russiese troepe is voortgesit. Sowat 'n derde van die Sowjetlugmag het aanvalle op Königsberg uitgevoer, terwyl geen enkele Duitse vliegtuig ter verdediging opgestyg het nie. Kossert (2008), bl. 316 Die aantal Russiese pantservoertuie was eenhonderd keer so groot soos dié van die Duitse weermag. Königsberg was reeds 'n puinhoop toe dit op 9 April 1945 deur Sowjettroepe ingeneem is.

Teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog was 90 persent van die stad se geboue vernietig. Die sowat 400 000 Duitse bewoners het almal gevlug of is kort ná die oorlog verdryf; die 100 000 bevreesde Duitsers wat nog in die stad aangebly het, was merendeels bejaardes, vroue en kinders wat dikwels die doods- en bloedprys moes betaal vir die gruweldade wat deur Duitsers in die Sowjetunie gepleeg is. Die Sowjetpers het die Rooi Leër tot wraak opgeroep, en alhoewel Russiese soldate en owerhede nie deurgaans 'n vyandelike houding teenoor die nou regtelose Duitse bevolking ingeneem het nie, was verkragting van vroue en geweldpleging teen Duitse bewoners aan die orde van die dag. Binne twee jaar het sowat 80 000 Duitsers aan honger en siektes beswyk of as gevolg van verkragtings en geweldpleging gesterf. 20 000 oorlewendes is uiteindelik na die Sowjetbesettingsone van Oos-Duitsland gedeporteer.

Kaliningrad as Russiese stad duimnael|Die ou katedraal van Kaliningrad duimnael|Die Russies-Ortodokse Christus-die Verlosser-katedraal is in 2006 ingewy Königsberg is vervolgens by die Sowjetunie ingelyf en het in 1946 die nuwe naam Kaliningrad gekry. Die Duitse bewoners, wat in 1945 nog nie na die weste gevlug het nie, is in die volgende twee jaar stelselmatig verdryf, terwyl mense uit verskillende dele van die Sowjetunie hier deur die owerhede gevestig is.

Vanweë die vloothawe Baltijsk se strategiese betekenis is Kaliningrad en sy omgewing in 1951 tot militêre spergebied verklaar en was tot en met die politieke hervormings van 1991 nie meer vir buitelanders toeganklik nie. Kaliningrad is in 1996 tot spesiale ekonomiese sone verklaar waar in- en uitheemse sakeondernemings 'n reeks voordele soos laer belasting- en doeanetariewe geniet. As 'n Russiese enklawe in die Europese Unie (EU) het die Oblast Kaliningrad volgens 'n ooreenkoms tussen die EU en die Russiese regering voorregte ten opsigte van vervoer en visavereistes verkry wat vervoer tussen Kaliningrad en die res van die Russiese Federasie vergemaklik.

In Junie 2005 het Russiese argeoloë vermeld dat hulle in die kelder van die Duitse Orde se kasteel 'n raaiselagtige vonds opgegrawe het – 'n silwerdosie met 'n aantal voorwerpe wat blykbaar vir sataniese rituele gebruik is, onder meer amulette en medaljons met geheimsinnige Latynse en Griekse inskripsies. Die dosie dateer vermoedelik uit die tydperk van die 16de tot 17de eeu en is die volledigste versameling rituele voorwerpe van hierdie soort wat tot dusver in Europa gevind is.

Op uitnodiging van die Russiese president Wladimir Poetin is 'n spitsberaad op 3 Julie 2005 gehou met die Franse president Jacques Chirac en die Duitse bondskanselier Gerhard Schröder by die vakansieoord Swjetlogorsk (vroeër Rauschen), sowat 50 kilometer van Kaliningrad. Die spitsberaad was deel van die 750-jarige vierings. Die feit dat die Poolse en Litause staatshoofde nie uitgenooi is nie, het 'n twispunt in dié twee lande veroorsaak. Gerhard Schröder was die eerste Duitse regeringshoof sedert 1945 en Jacques Chirac die eerste Franse staatshoof na Napoleon Bonaparte wat 'n besoek aan Kaliningrad afgelê het. By die geleentheid is die Universiteit van Kaliningrad hernoem tot Immanuel-Kant-Universiteit. Dit was een van die gasheerstede tydens die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2018.

Ekonomie en infrastruktuur duimnael|Die Ou Beurs (Duits: Alte Börse) dien tans as sakehuis Kaliningrad is 'n beduidende ekonomiese en industriële sentrum wat deur middel van 'n kanaal met die ysvrye voorhawe Baltijsk aan die Oossee verbind is. Die belangrikste ekonomiese sektore is die chemiese bedryf, masjienbou, meubelvervaardiging en musiekinstrumente. Aangesien Kaliningrad se seehawe die hele jaar deur ysvry bly, het dit tot 'n beduidende sentrum van die Russiese skeepsboubedryf ontwikkel. Die Yantar-skeepsbouwerf (vroeër Schichau-Werke) vervaardig sedert 2007 fregatte vir die Indiese vloot.

Kaliningrad beskik oor die grootste visseryvloot in Rusland, en ook motors van BMW (Duitsland) en Kia Motors (Suid-Korea) word hier vir die Russiese mark gemonteer. Sowat 340 Duitse ondernemings het plaaslike filiale hier gestig.

In Maart 2011 is met die bou van 'n nuwe haweterminaal begin waar landbougoedere hanteer sal word. Meer as drie miljard ZAR sal in die projek belê word.

Die Spesiale Ekonomiese Sone Jantar duimnael|Die skeepswerwe in Jantar