Rusland (Russies: Росси́я, Rossija, [rɐˈsʲijə], ), amptelik die Russiese Federasie (Russies: Росси́йская Федерaция, Rossijskaja Federatsija, [rɐˈsʲijskəjə fʲɪdʲɪˈratsɨjə], ), is 'n land wat gedeeltelik in Europa en gedeeltelik in Asië lê. Die land lê egter vanuit 'n politieke oogpunt in Europa omdat die belangrikste deel, ook die hoofstad, Moskou, Europees is en sowat 70 persent van die bevolking daar woon.

duimnael|links|Nasa-Satellietbeeld van Rusland duimnael|links|Rusland se Verre Ooste: Petropawlofsk-Kamtsjatski, geleë teen die voet van die Korjakski-vulkaan op die skiereiland Kamtsjatka Met sy oppervlak van 17 098 246 km² is Rusland by verre die grootste land ter wêreld, byna twee maal so groot soos die tweede grootste land, Kanada. Dit grens aan (antikloksgewys van NW na SO): Noorweë, Finland, Estland, Letland, Litaue, Pole, Belarus, Oekraïne, Georgië, Azerbeidjan, Kasakstan, die Volksrepubliek China, Mongolië en Noord-Korea. Verder is dit deur 'n see of smal seestraat geskei van die Verenigde State van Amerika (Alaska), Kanada, Turkmenistan, Iran, Turkye, Swede en Japan.

Die moderne Russiese landsnaam Rossija vir Rusland het sy oorsprong in die Griekse weergawe Rossia van die historiese Oos-Slawiese benaming Roes (Rus) vir gebiede in die huidige Europese state Rusland, Belarus en Oekraïne wat deur Slawiërs bewoon is. Die vroegste bewoners het hulle sowat 100 000 jaar gelede in die weste van moderne Rusland gevestig. Voordat Slawiese groepe hulle vanaf die 6de eeu n.C. vanuit hul stamland in noordelike en suidelike rigting begin uitbrei het, is die noorde van Ruslad deur Fins-Oegriese en Baltiese volke bewoon, terwyl Indo-Europese steppevolke soos Koergan, Kimmerers, Skitiërs, Sarmate en Alane hulle in die suidelike streke gevestig het. Hulle is later opgevolg deur Grieke, Gote, Hunne en Aware.

Die oorspronklike Slawiese stamgebied was tussen die noordelike en suidelike streke in 'n gebied geleë wat rofweg deur die riviere Dnjepr en Boeg begrens is. Skandinawiese Wikings het vanaf die 8de eeu Oos-Europese riviere as krygers en handelaars bevaar en hulle hier met die Slawiese meerderheidsbevolking begin vermeng. Hierdie krygerkooplui, na wie ook as Waragiërs of Roes verwys word, het onder leiding van hul legendariese aanvoerder Rjoerik grootliks bygedra tot die stigting van die eerste Oos-Slawiese staat Kiëf-Roes met vroeë stedelike sentra in Nowgorod (gestig in 862) en Kiëf (tans Kijif, 879). Hul handelsbetrekkinge het tot Konstantinopel gestrek.

In die suidelike steppelandskappe en langs die Wolgarivier het Turkvolke uit Asië - Chasare en Wolga-Bulgare - ryke gestig wat handel gedryf het met die Roes, maar ook oorlog teen hulle gevoer het. Noue betrekkinge met die Bisantynse Ryk het grootliks bygedra tot Kiëf-Roes se aanvaarding van die Ortodokse Christelike geloof in 988.

Kiëf-Roes het uiteindelik verbrokkel en in talle klein feodale Russiese state verdeel. Die belangrikste hiervan was die Groothertogdom van Moskou of Moskowië. Moskou het mettertyd die omringende Russiese prinsdomme herenig en die plek van Kiëf-Roes ingeneem. Teen die 18de eeu het die land begin uitbrei en tot die groot en multi-etniese Russiese Ryk ontwikkel wat gestrek het van Pole in die weste tot die Stille Oseaan.

In die 20ste eeu het Rusland as die Russiese Sosialistiese Federale Sowjetrepubliek (RSFSR) die kernland gevorm van die Sowjetunie, die wêreld se eerste en grootste grondwetlik sosialistiese staat en saam met die Verenigde State van Amerika een van die wêreld se twee supermoondhede. Toe die Sowjetunie in 1991 verbrokkel, is die Russiese Federasie gestig as sy de jure-opvolger. Rusland is 'n permanente lid van die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad en 'n voorste lid van die Gemenebes van Onafhanklike State (GOS) en die G8 (deelname tans opgeskort).

Die binne- en buitelandse beleid van die Russiese Federasie word in die 21ste eeu deur twee kwessies oorheers. Die demokratiseringsproses in die Russiese binnelandse beleid het tot stilstand gekom, terwyl die land op internasionale vlak pogings onderneem om sy historiese status as grootmoondheid te herwin. In 'n multipolêre wêreld, waar die Volksrepubliek China dieselfde aspirasies huldig, maar met 'n veel groter en meer gevorderde industriële basis, is sulke verwagtinge moontlik te hoog gestel. Met die Verenigde State as grootskaalse netto-energie-uitvoerder, onder meer van vloeibare gas, is daar intussen 'n strawwe mededinger op Rusland se belangrikste uitvoermarkte, alhoewel die land se grootste gasuitvoerder Gazprom tans op die Europese mark nog substansiële kostevoordele bo Amerikaanse produsente geniet. Handelsblatt, 3 Julie 2019: Gazprom verdrängt US-LNG aus Europa. Besoek op 24 Julie 2019

Etimologie Die naam "Rusland" is ontleen aan 'n Middeleeuse Latynse naam vir Roes, 'n Middeleeuse staat wat veral deur Oos-Slawiërs bevolk was. In die moderne geskiedenisskrywing word na dié staat algemeen as Kiëf-Roes verwys, genoem na sy hoofstad Kijif. Die naam Roes op sigself is ontleen aan die vroeë Middeleeuse Roes-volk, wat oorspronklik 'n groep Noorse handelaars en krygers was wat hulle van oorkant die Oossee eers in die noordelike streek Nowgorod gevestig het en later 'n staat rondom Kijif gestig het. 'n Ander Middeleeuse Latynse naam vir Roes was Roetenië.

In Russies is die huidige landsnaam Росси́я (Rossija) ontleen aan die Middel-Griekse naam vir Roes, Ρωσία (Rosía). 'n Nuwe weergawe van die naam Roes, Росия (Rosija), is ontleen aan dié Griekse term en vir die eerste keer gebruik in 1387, voordat dit in die 15de eeu in amptelike gebruik gekom het, hoewel die land tot aan die einde van die 17de eeu deur sy inwoners steeds Roes of die "Russiese land" genoem is. Daar is twee woorde in Russies wat in Afrikaans as Russe vertaal kan word – русские (russkije) wat verwys na etniese Russe en россияне (rossijane) wat verwys na Russiese burgers, ongeag hul etnisiteit.

Geografie duimnael|Topografiese kaart van Rusland duimnael|Die Wasjoegan-rivier op die vlaktes van Wes-Siberië duimnael|Sotsji in die Krasnodar-krai Die Russiese Federasie lê uitgestrek oor die grootste deel van Noord-Eurasië. Vanweë sy grootte is daar groot eentonigheid én afwisseling. Sy klimaat, plantegroei en grondsoorte strek oor 'n groot gebied. Saam met die klimaat wissel die plantegroei: van die toendra van die Oos-Europese Vlakte en die taiga (naaldboomwoude) tot die steppe (grasvelde) en halfwoestyn aan die Kaspiese See. Daar is 33 Unesco-wêrelderfenisgebiede in die land.

Topografie Die twee punte van Rusland wat die verste van mekaar geleë is, is sowat 8 000 km uitmekaar: die grens met Pole en die verre suidooste van die Koerile-eilande naby Japan. Rusland is oor elf tydsones versprei. Van die totale oppervlakte word 45 persent deur bosgebiede, 4 persent deur waterliggame, 13 persent deur landboustreke, 19 persent deur rendierweivelde en 19 persent deur ander landerye beslaan. Ambassade van die Russiese Federasie in Duitsland: Welkom in Rusland – Oorsig. Besoek op 3 Desember 2019

Die land het die wêreld se grootste oppervlakte woude en is bekend as "die longe van Europa". Net die Amasonereënwoud absorbeer meer koolstofdioksied. Dit voorsien Europa en die hele wêreld van 'n enorme hoeveelheid suurstof.

Russiese hengelvlote het toegang tot drie van die wêreld se oseane – die Atlantiese, die Arktiese en die Stille Oseaan – en hulle verskaf baie van die wêreld se visvoorraad. Die Kaspiese See is die bron van wat beskou word as die wêreld se beste kaviaar.

Die grootste deel van Rusland – sowat driekwart van die totale oppervlakte – bestaan uit uitgestrekte vlaktes (die Oos-Europese en Wes-Siberiese Vlaktes is die grootstes op aarde), hoofsaaklik steppe na die suide en digte woude na die noorde met toendra aan die noordelike kus. Bergreekse word aangetref aan die suidelike grense: die Kaukasus, met Elbroes, teen 5 642 m (18 511 vt) is Rusland en Europa se hoogste punt, gevolg deur Dychtaoe met 'n hoogte van 5 205 m; en die Altai, asook in die oostelike dele, soos die Werchojansk-reeks en die vulkane op die Kamtsjatka-skiereiland. Die Oeralgebergte strek noord-suid en skei Europa van Asië. Dit is ook ryk aan minerale bronne. Altesaam 10% van die wêreld se bewerkbare grond lê in Rusland.

Rusland se kuslyn is langer as 37 000 km aan die Arktiese en die Stille Oseaan, sowel as die Oossee, See van Azof, Swartsee en Kaspiese See. Die Barentssee, Witsee, Karasee, Laptefsee, Oos-Siberiese See, Tsjoekotkasee, Beringsee, See van Ochotsk en die See van Japan is met Rusland verbind. Groot eilande en eilandgroepe sluit in Nowaja Zemlja, Franz Josef-land, Sewernaja Zemlja, die Nieu-Siberiese Eilande, Wrangeleiland, die Koerile-eilande en Sachalin.

Rusland het duisende riviere en mere en het dus een van die wêreld se grootste binnelandse waterbronne. Die grootste van sy watermassas is die Baikalmeer, die wêreld se diepste en mees onbesoedelde varswatermeer. Dit bevat meer as 'n vyfde van die wêreld se vars water. Ander groot mere is onder andere die Ladogameer en die Onegameer.

Van sy 100 000 riviere is die Wolga die land se bekendste, nie net omdat dit die langste rivier in Europa is nie, maar ook vanweë sy groot rol in die Russiese geskiedenis. Rusland se talle natuurlike hulpbronne sluit in petroleum, aardgas, steenkool, hout en minerale.

Klimaat duimnael|Klimaatsones in Rusland volgens die Köppen-klimaatklassifikasie Vier klimaatsones word in die Russiese Federasie aangetref – van noord na suid: die arktiese, subarktiese, gematigde en subtropiese sone.

Verskeie faktore bepaal Rusland se klimaat. Die enorme grootte van die land en die feit dat baie dele ver van die see is, veroorsaak dat daar in die grootste gebied 'n kontinentale klimaat is, behalwe in die toendra en die verre suidooste. Berge in die suide verhinder die vloei van warm lugmassas van die Indiese Oseaan af en die vlaktes in die weste en noorde stel die land bloot aan Arktiese en Atlantiese invloede.

In die grootste deel van die land is daar hoofsaaklik twee seisoene: winter en somer. Die lente en herfs is gewoonlik net kort tydperke van wisseling tussen baie lae en baie hoë temperature. Die koudste maand is Januarie (Februarie aan die kus), die warmste is gewoonlik Julie. Groot temperatuurverskille is tipies. In die winter word dit kouer van suid na noord sowel as van wes na oos.

Federale deelgebiede

duimnael|Rusland se federale deelgebiede Die Russiese Federasie bestaan vanaf 18 Maart 2014 uit 85 deelgebiede (Russies: субъекты; soebjekti). Hierdie gebiede het 'n gelyke verteenwoordiging in die Staatsdoema (2 afgevaardigdes per deelgebied), maar die mate van outonomie verskil.

Rusland onderskei die volgende ses kategorieë (soos vanaf 1 Maart 2008): 22 outonome republieke (state), 46 oblaste (provinsies), 8 krais (distrikte), 1 outonome oblast, 5 outonome distrikte en 3 federale stede (Moskou, Sewastopol en Sint Petersburg), wat vergelykbaar is met oblaste.

Regering en politiek duimnael|links|'n Nagaansig van die Moskouse Kremlin, setel van die president van Rusland, maar ook 'n eersterangse kompleks van katedrale, musea en paleise duimnael|Eerste minister Michail Misjoestin se nuwe kabinet op 21 Januarie 2020 Volgens die Russiese grondwet, wat op 12 Desember 1993 tydens 'n nasionale referendum aanvaar is, is Rusland 'n federasie en 'n semi-presidensiële republiek, waarin die president die staatshoof is en die eerste minister die regeringshoof. Die Russiese Federasie is in wese 'n verteenwoordigende demokrasie. Die uitvoerende mag lê by die regering. Die wetgewende mag lê by die regering en die twee kamers van die Federale Vergadering. Die regering word gereguleer deur 'n stelsel van skeiding van magte soos bepaal in die grondwet.

Die federale regering bestaan uit die volgende: