Ds. Cornelis Vermaak Nel (Newcastle, Natal, 26 Desember 1876 – Graaff-Reinet, 4 Junie 1936) was ’n predikant in drie gemeentes van die Nederduitse Gereformeerde Kerk.

Ds. H.C. Hopkins skryf in die NG gemeente Cradock se gedenkboek van 1968: "Hoflikheid, ’n gesonde oordeel, beslistheid en die onverskrokke moed van sy oortuiging was aan sy sterk persoonlikheid eie. Sy voorbereiding vir die kanselarbeid was besonder deeglik en sy noue gemeenskap met die Onsienlike het by hom die gesindheid van kalmte en vrede bestendig." Hopkins, ds. H.C. 1968. Die Ned. Geref. Kerk Cradock 1818–1968. Cradock: NG Kerkraad. Ds. J.W. Snyman, wat nege jaar lank (twee op Oudtshoorn en sewe op Robertson) intiem met hom saamgewerk het, het in sy huldigingsrede by ds. Nel se roudiens op 14 Junie 1936 gesê die ontslape predikant het op Robertson ’n "groot en geseënde werk verrig; albei die landstale magtig, vurig, ywerig en welsprekend, het hy oral harte verower, nie alleen vir homself nie, maar veral vir Jesus Christus". In sy 10 jaar in die gemeente Robertson het die lidmate hom leer ken met al sy talente en uitstaande karaktertrekke, wat ds. Snyman as volg opsom: "Vriendelikheid, hulpvaardigheid, beginselvastheid, gesonde oordeelkundigheid, onverskrokke moedigheid om sy oortuiging uit te spreek en te handhaaf, sterke persoonlikheid en opregte Christelike vroomheid. Daarby was hy ’n man van staal: ’n wil van staal, ’n gees van staal, ’n karakter van staal." Tromp, A.H. 1953. Robertson, 1853–1953. Gedenkboek by geleentheid van die honderdjarige bestaan van die dorp en die N.G. gemeente Robertson. Robertson: Die Eeufeeskomitee van Robertson.

Herkoms en opleiding duimnael|links|320px|Die Holy Brigade, in 1896 die Victoria-kollege se heel eerste rugbytoerspan, so genoem omdat hulle nooit 'n druppel drank oor hul lippe laat gaan het nie. Agter: D. Kloppers, C.V. Nel, P.A. Bergh, H.D. van Broekhuizen, P. de Waal, P.K. Albertyn, A.L. Hofmeyr, Ebbe Dommisse, C.A. Neethling, H.R. Kemsley. Middel: M.S. Daneel, H.J. Bergh, J.M. Hofmeyr (kaptein), D. Morkel, G. Chapman. Voor: A.M. McGregor, Piet de Vos, C. Gonin, P.A.M. de Vos.

duimnael|regs|180px|Nel het van 1894 tot 1898 vir die Victoria-kollege of Stellenbosch se eerste span rugby gespeel en was in 1897 ook lid van die Westelike Provinsie se eerste span.

links|320px|duimnael|Maties se eerste rugbyspan van 1896 wat die eerste keer die Groot Uitdaagbeker gewen het. (Die latere ds.) C.V. Nel sit regs in die middelste ry. P.K. Albertyn staan agter, vierde van links. Die kaptein, in die middel met die bal op sy skoot, is John Hofmeyr, later NG predikant van Somerset-Oos. Links van Hofmeyr sit Herman van Broekhuizen, later NG predikant van Kuilsrivier en Pretoria voor hy oorgegaan het na die Hervormde Kerk. Marthinus Daneel (later NG predikant van Fraserburg en Victoria-Wes sit links in die middelste ry.

duimnael|regs|320px|Nel was op Stellenbosch lid van die Unie-Debatsvereniging. Hierdie foto van die ampsdraers en joernaliste is in 1895 geneem. Agter: Cornelis Nel, J. Radloff, Andrew Rowan, M.S. Daneel en Christie Neethling. Voor: Dawie Mostert, Henri Gonin, D.F. Malan, E.T.F. Malan (voorsitter), C.H. Murray en George Rudman. Sover vasgestel kon word, het Nel, Daneel, Neethling, Gonin, D.F. Malan, Murray en Rudman predikant in die NG Kerk geword.

Cornelis Vermaak Nel is op 26 Desember 1876 uit 'n bekende Voortrekkerfamilie op sy vader se plaas in die distrik Greytown, Natal, gebore. Sy vader was Louis Louwrenz (gebore 27 April 1841 in die distrik Pietermaritzburg) en sy moeder Judith Margaretha Nel (gebore 22 Mei 1849 op Ladysmith, Natal). Nel was een van 11 kinders.

Aan die Victoria-kollege op Stellenbosch behaal hy die B.A.-graad en in 1901 word hy ná voltooiing van die teologiese kursus aan die Kweekskool tot die bediening toegelaat. Op universiteit het hy in rugby uitgeblink en saam met latere predikante soos P.K. Albertyn, John Murray en Herman van Broekhuizen vir Maties se eerste span uitgedraf, en in 1897 vir die Westelike Provinsie.

Die volgende paar jaar (1901 tot 1905) verrig hy as reisende sekretaris van die Christen-Studentevereniging 'n geseënde werk. Ds. Snyman het in sy huldigingsrede op ds. Nel se roudiens oor dié tydperk in die ontslapene se lewe gesê: "Hierdie vierjarige ondervinding het sy geestelike lewe nie alleen verdiep nie, maar ook sy mensekennis vermeerder. Oor hierdie jare in sy lewe het hy baie met my gepraat, en altyd verduidelik dat die kerkmanne wat op sy geestelike lewe die meeste invloed uitgeoefen het, prof. N.J. Hofmeyr, ds. Andrew Murray, dr. G.F. Marais (sy oorlede skoonvader) en ds. George Malan, leraar van Newcastle van 1897 tot 1903, was."

Cradock Ontvangs Die kerkraad van die NG gemeente Cradock het reeds in 1899 gevoel dat die gemeente met meer as 3 700 siele en 1 700 lidmate te groot was vir een predikant, maar weens die ontwrigting van die Tweede Vryheidsoorlog is die saak voorlopig daargelaat. In 1905 roer die kerkraad die saak weer aan en op 13 Julie 1905 kom prop. C.V. Nel en sy vrou per trein op Scalen aan. Daarvandaan het sowat 60 rytuie hulle na die pastorie in Breestraat vergesel waar hulle met ’n lied deur die Sondagskoolkinders en die gebruiklike adresse verwelkom is. Die namiddag was dit warm sodat ’n groot skare na die park kon gaan, waar die susters vir ’n gesellige ontvangs gesorg het.

By die ordeningsdiens Vrydagoggend het ds. G.F. Marais – mev. Nel se vader – van die Sendinginstituut op Wellington, in 'n rede oor Jer. 19 'n mooi uiteensetting gegee van Jeremia se roeping tot profeet. Die bevestigingsformulier is gelees deur ds. J.H. Hofmeyr (Somerset-Oos, saam met wie se seun John Hofmeyr prop. Nel in Maties se eerste rugbyspan gespeel het) en die handoplegging het in 'n plegtige stilte geskied deur ds. Hofmeyr, prof. J.I. Marais en di. Martin, Marais, Reyneke, J.H. van Wyk en J.P. Kriel. Aandagtig en dankbaar het die gemeente die namiddag na ds. Nel se intreewoord geluister, waar hy dit met Joh. 1:7 ("Deze kwam tot een getuigenis, om van het Licht te getuigen, opdat zij allen door hem geloven zouden." Statevertaling. URL besoek op 25 September 2015.) as teks oor die Lig as die onderwerp van die leraar se getuienis en die geloof as die doel daarvan gehad het. Ná die drie Nagmaaldienste is die verrigtinge Sondagaand met 'n konferensie afgesluit.

Kerksaal duimnael|links|300px|Die NG gemeente Cradock se kerksaal, ontwerp deur Wynand Louw, is tydens ds. Nel se dienstyd opgerig en plegtig op 2 Augustus 1912 ingewy.

duimnael|regs|230px|Van die moedergemeente Cradock was ds. Nel medeleraar van 1906 tot 1914.

Ds. Reyneke het verskeie kere die "Christelyke Zaal" vir die kerkraad te koop aangebied, maar later word dit as 'n sakegebou en 'n bioskoopsaal gebruik. Die eerste stoot aan die bou van 'n eie kerksaal was 'n bemaking van £500 deur die weduwee van ds. J.H. du Plessis aan die gemeente om 'n vergaderplek vir die Sondagskool op te rig. (Vir die Paarl het sy dieselfde gedoen.) Hierdie bedrag is voordelig belê en toe 'n gemeentevergadering in Junie 1911 'n boukommissie benoem, staan die Du Plessis- of Sondagskoolfonds op £1 025. Teen dié tyd het die gemeente groot behoefte aan 'n gebou gehad wat nie net die Sondagskool nie, maar ook alle ander kerklike verenigings en organisasies kon huisves en terselfdertyd 'n saamkomplek aan die jong mense, met 'n leeskamer en 'n kafee, kon bied. Die koste moes nie £6 000 te bowe gaan nie. Die pastorieperseel se naaste hoek aan die kerk was vir die saal uitgehou. Onder die leiding van die heer P.W. Michau (Orange Grove) – lid van die Hoërhuis van die Kaapse Parlement van 1904 tot 1910 – het die twee leraars en die broers M.J. du Plessis, H.J. van Heerden, H.P. van Heerden, P.J. Erasmus, A.J. de Kock en G.H. Lategan (sekretaris) aan die werk gespring. Wynand Louw van die Paarl was die argitek. Die laagste tender, dié van Boesen, is met £400 tot op £6 200 verminder en op 16 Desember 1911 is die hoeksteen deur ds. (later prof.) John du Plessis gelê.

Met die hartlike samewerking tussen die kommissie, die argitek en die bouheer, was die bouwerk ná sewe maande klaar. Op die totale koste van £7 450 het die gemeente net £2 920 verskuldig gebly. Twee basaars het £400 en £639 gelewer, terwyl vyf persone £100, veertien £50, drie £30 en nege £25 elk gegee het. 'n Kollekte deur die Sondagskoolkinders het £49 en intekeninge £622 ingebring. Toe die distriksraad geen lening mag toestaan nie, leen die kerkraad £1 500 uit die boedel van James Ayliff. Buiten 'n geweldige hoeveelheid klip, is 365 000 stene gebruik, op die vervoer waarvan daar £100 bespaar is deur-dat die gemeente kosteloos daarmee gehelp het. Groot dank het H.J. van Heerden en M.J. du Plessis toegekom vir hul persoonlike toesig en hulp. Die gasligte sou gebruik word totdat Cradock hopelik binnekort elektriese ligte kry.

By die opening op Vrydagaand 2 Augustus 1912 was die groot saal, kort nadat ds. D.J. Pienaar, leraar van Uitenhage en moderator van die vorige sinode, die hoofdeur oopgesluit het, stampvol. Op die verhoog het die leraars van die verskillende kerke op Cradock en die vernaamste inwoners van die dorp en distrik hul plekke ingeneem. Die verslag van die Boukommissie is deur die voorsitter gelewer en ds. Pienaar – prof. J.I. Marais kon nie kom nie – het 'n rede oor "Vooruitgang, die Eis van die Lewe" gehou. Hy het op die vordering in die opvoedkundige, maatskaplike en kerklike lewe van Suid-Afrika gewys. Hiervan was ook die nuwe saal 'n sprekende bewys. Dit moes dien tot die ontwikkeling van die verstand, tot opbouing van die karakter, tot be-vordering van die maatskaplike verkeer en tot vestiging van die Godsryk op aarde. Ds. Nel het 'n samevatting van die rede in Engels gegee en onder die sang van die kerkkoor is daar £100 gekollekteer. Al die verenigings "die als zonen en dochters der gemeente beschouwd kunnen worden", sou die vrye gebruik van sekere vertrekke hê, mits die kerkraad op hulle kon reken as dit by skulddelging en die instandhouding van die gebou kom.

Afskeid Die dae van 24 tot 27 Julie 1914 was vir die gemeente droewig weens die afskeid van ’n geliefde leraarspaar wat toe reeds agt jaar en twee weke in die gemeente gestaan het. Van alle kante het mense gekom en in gevalle waar mans nie kon kom nie weens die lammeroes, het die vrou gekom. Nadat die verenigings in die loop van die week reeds van ds. en mev. Nel afskeid geneem het, was daar die Vrydagmiddag in die kerksaal ’n gesellige gemeentelike byeenkoms. Die Sondag was dit Nagmaal en die aand was die kerk stampvol vir ds. Nel se diep ernstige en boeiende afskeidspreek na aanleiding van Hand. 20:32: "En nu, broeders, ik bevele u Gode, en den woorde Zijner genade, Die machtig is u op te bouwen, en u een erfdeel te geven onder al de geheiligden." Die Statevertaling. URL besoek op 24 September 2015. By die verlening van demissie die Maandagoggend in die kerkraadsvergadering het baie trane gevloei. Hierna moes ds. Nel se medeleraar, ds. J.C. Reyneke, weer ’n aantal jare alleen staan, hoewel hy soms hulppredikers gehad het sodat hy meer tyd aan die buitewyke kon afstaan.

Oudtshoorn duimnael|regs|180px|Ds. Nel, omstreeks 1916.

320px|links|duimnael|Tydens ds. Nel se dienstyd is die NG kerk Oudtshoorn in 1921 gerestoureer en van elektriese ligte voorsien.

Ontvangs Ná die aftrede in 1913 van ds. S.P. Helm, wat net ’n jaar met woning en werkkring op Armoed (waar die gemeente Volmoed later sou afstig) gearbei het, besluit die kerkraad van die NG gemeente Oudtshoorn begin April 1914 om ’n derde predikant te beroep met standplaas Armoed. Nadat verskeie beroepe uitgebring is vir die vakature veroorsaak deur die vertrek van ds. A.M. McGregor (die eerste predikant; ds. P.J. Viljoen was die tweede predikant) na die NG gemeente Drieankerbaai, is die beroep eindelik aangeneem deur ds. C.V. Nel, wat einde Julie sy intreerede gehou het as eerste predikant van Oudtshoorn.

Sy dienstyd