duimnael|Sensuurwet:Orgie was een van André P. Brink se boeke wat vir 'n tyd lank nie vir die oop biblioteekrakke beskore was nie.
Die sensuurwet onder Apartheid verwys na die Wet op Publikasies en Vermaaklikhede wat sedert 1963 deur die parlement aanvaar is om binnelandse publikasies aan sensuur te onderwerp. Die bepaling van hierdie wet kon 'n publikasie ongewens verklaar indien die werk, of deel daarvan, onbetaamlik, onwelvoeglik, aanstootlik of skadelik vir die openbare sedes en/of godslasterlik sou wees en dit enige bevolkingsdeel van die Republiek van Suid-Afrika belaglik of veragtelik sou maak.
Agtergrond en aanloop Tweede Wêreldoorlog Beheer oor publikasies is voor die eerste wetgewing van 1963 deur die Volksraad toegepas deur verskeie koloniale of provinsiale wette, doeanewette en die Sensuurwet van 1931. Van die Apartheid-Sensuurwetgewing toon wel duidelike ooreenkomste met dié tydens die Tweede Wêreldoorlog, toe Suid-Afrika deel van die Britse Ryk was.
Tydens die Tweede Wêreldoorlog is onder meer 'n paar Afrikaanse boeke verbied, kragtens ’n regulasie dat boeke wat aan enige deel van die gemeenskap aanstoot mag gee, nie aangekoop mag word nie. Die verhouding tussen die Afrikaans- en Engelssprekendes was op daardie stadium swak - want daar was veral spanning tussen Republikeinsgesindes (wat onafhanklikheid nastreef) en Rojaliste (wat vir die Britse Ryk veg). Hoewel die meerderheid soldate wat aan die oorlog deelgeneem het inderdaad Afrikaanssprekend was, het veral die Engelssprekende soldate en Afrikaanssprekende burgerlikes mekaar aangerand. Een aanval op Die Vaderland en Die Transvaler se geboue op Saterdagaand, 1 Februarie 1941, waar manuskripte en persklaar romans, toneelstukke en akademiese artikels vernietig is, volg op 'n lang aanloop. Verdagmakery begin reeds na afloop van Heldedagviering op 28 Oktober 1939 op Vryburg. Speurders wou verneem oor die gedig "Voor in die wapad brand 'n lig" deur A.G. Visser, want die aanleiding tot die ondersoek was blykbaar "'n simboliese voorstelling van moedersmart in die konsentrasiekampe".
Die eerste boek wat op amateuragtige wyse deur 'n burger self 'n verbod op geplaas is (glo op las van die Regering), is die topverkoper Ek rebelleer! deur J.A. Smith (assistent-kommandant-generaal van die Ossewabrandwag), waarin hy sy ervarings as Kaaplandse skoolseun en Rebel tydens die Anglo-Boereoorlog meedeel. Die boek is uit eie beweging deur die Engelse voorsitter van 'n skoolraad te Port Elizabeth laat verwyder uit die stad se skoolbiblioteke; by nadere ondersoek was daar geen sprake van enige opdrag van die militêre owerheid of Minister van Verdediging nie. Toe hierdie nuus aan die lig kom, het skoolkomitees met dank die skenkings van die boek in ontvangs geneem en die omsendbrief ignoreer.
Generaal Manie Maritz se boek, My lewe en strewe, is die eerste Afrikaanse boek wat deur die regering tydens die Tweede Wêreldoorlog verban is, in Maart 1941. Dit is gedoen kragtens die noodregulasies tydens die duur van die oorlog - omdat dit een deel van die bevolking teen die ander ophits. Die eerste oplaag was toe reeds uitverkoop. Die boek is sterk gegrond op die "Protokolle" van die "Geleerdes Oues van Zion" en anti-Joods. Die staat voer aan dit is 'n heftige aanval op die Jode en propaganda, veral met die woorde "Laat ons die kanker wat aan ons volkslewe vreet - naamlik die Jood - verwyder." Maritz meen hy het nie bedoel dat die Jode met geweld magteloos gemaak moes word nie, maar op ander maniere. In sy oë was dit die knoeiery van die Jode wat aanleiding gegee het tot die 27 000 Afrikanervroue- en kinders wat hul lewens in die konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog verloor het. Hy voel dit is sy plig as burger om in te gryp as daar dinge gebeur wat moontlik aanleiding tot die bloedvergieting van sy eie volk sou lei. Maritz ontken dat Christus en sy dissipels Jode was, maar wel Judas Iskariot. Hy beskou ook nie die Jood as medemens nie. Maritz is weens sy minagting van die hof (weens uitbarstings) en verdere uitlatings 'n verswarende 75 pond-boete opgelê, of nege maande gevangenisstraf. Die boete is nie betaal nie en 'n lasbrief vir die gevangesetting is uitgereik. 'n Prokureur, W.G. Kirsten, het na afloop van Maritz se inhegtenisname wel die boete inbetaal.
Twee boeke loop 'n jaar later dieselfde bloutjie: Helkampe deur Ewald Steenkamp en Só het hulle gesterf!, 'n vertaling van Hoe zij stierven deur G. Jordaan. In albei gevalle handel dit weer oor die wreedheid van die Anglo-Boereoorlog wat uitgebeeld word. Die boekeverbod het feitlik geen aandag in die Engelse pers geniet nie. Albei boeke is verbied kragtens 'n noodregulasie oor die beslaglegging op boeke of dokumente waarin die informasie wat gebruik mag word om die landsverdediging te strem, vervat is. Ook Tant Alie van Transvaal, 'n dagboek van Alida Badenhorst, is later in die Tweede Wêreldoorlog 'n tyd lank verbied, maar na volgehoue protes weer ontban.
Ironies genoeg is die "hoogs anti-Britse" boek wat deur 'n Duitse sender (Radio Zeesen, wat ook na Suid-Afrika uitgesaai het) gebruik is, 'n Eeu van onreg, destyds, tydens die Anglo-Boereoorlog, geskryf deur niemand anders nie as die nou dienende Eerste Minister, Jan Smuts self. Die vraag is geopper deur J.G. Strijdom, na aanleiding van die vermelde Afrikaanse boeke, wanneer Smuts se werk dan nou verban gaan word. Namens die Minister van Binnelandse Sake is geantwoord : "Hierdie boek is nog nie onder my aandag gebring nie". Generaal Jan Kemp voer in 1942 aan hierdie antwoord kom maar "net omdat die boek deur die Eerste Minister geskryf is". In 'n persoonlike verklaring skryf Smuts reeds in 1939 die woorde wat hy veertig jaar tevore geskryf het, was geregverdig; daardeur kon 'n verenigde Suid-Afrika geskep word, "en daar is verder die vooruitsig dat ons 'n verenigde volk sal opbou. Ons geniet ook die waardevolle toegeneentheid en vriendskap van die hele Britse Gemenebes. [...] Niks waarvoor ons geveg en gely het, het op die ou end verlore gegaan nie, maar ons het selfs meer gewen as [waarop] ons gehoop het."
Die Transvaler was woedend oor die verbod op hierdie Afrikaanse boeke, juis in 'n tydperk wanneer "volkskadelike lektuur, naamlik oor die kommunisme" meer vryheid toegeken is. Ook voer Die Transvaler aan: feite bly feite, en wat die Britte aan die Afrikaner gedoen het sal nie gou uit die volksgeheue uitgevee word nie. Ook Die Burger voeg sy stem by: die dade van Brittanje staan swart as 'n ewige aanklag teen hom, en dit gaan maar moeilik om steun en geesdrif vir die Empire te werf wat presies dié gruweldade aan sy vyande toeskryf waaraan hy self skuldig is - kerke afbrand, onmenslike behandeling van vroue en kinders; alles onder die vaandel van Brittanje se stryd vir die Christelike beskawing. Die Volksblad het weer aangevoer daar was nooit voorheen 'n verbod op Hoe zij stierven nie - hoekom nou skielik? Dit is bloot die Britte se eie gewete wat hul aankla.Steyn, J.C. 1991. Politieke redes vir die verbod op 'n paar Afrikaanse boeke. Tydskrif vir Letterkunde, 29(4):30-38
Ná die Tweede Wêreldoorlog In 1947 kom die beheer oor binnelandse publikasies ter sprake, maar ook sit die Transvaalse Hooggeregshof in 1953 met 'n netelige probleem in verband met die kopieregskending van 'n 'obsene' artikel wat die Keur-tydskrif na bewering van die Fyn Goud gesteel het. Die saak was een van die hoofoorsake wat aanleiding gegee het tot die samestelling van die Cronjé-kommissie om die 'euwel van onwelvoeglike, aanstootlike of skadelike leesstof’ te ondersoek. Die verslag van die Cronjé-kommissie word aan die Volksraad voorgelê en in 1957 gepubliseer.
Reeds in die 1940's het die houding wat die Kerk en georganiseerde kultuur ingeneem het die uitgewersbesluite beïnvloed, onder meer op Nasionale Persboeke. In tydskrifte en koerante is eindeloos geskryf oor die gevaar van pornografie. Sensuur is bepleit. Op 28 November 1953 rig H.L. Roux, bestuurder van die Nasionale Boekhandel, 'n brief aan Die Volksblad waarin staan dat die Afrikaanse volk met sy kultuur en letterkunde voor 'n krisis staan. Die sedelike waardes word bedreig deur 'n "stortvloed pornografiese leesstof".
J.J. Human skryf op 26 Maart 1954 aan Die Huisgenoot dat daar 'n verskil is tussen "pornografie" en "prikkellektuur". Prikkellektuur word nie geskryf nie, maar gedink. Dit is die onoordeelkundige lees van die leser wat die vuil in 'n teks uitlig waarvan dikwels geen sprake is nie of waarvan dit nie die bedoeling is nie (Human skryf op 18 Januarie 1956 dat mens selfs van die Hooglied van Salomo pornografie kan maak). Hy verwys onder meer na die seksuele verhouding tussen Johanna en Henning in die roman Laat vrugte – wat nêrens ter sprake is nie – maar waar Sybrand se kleinkind tog uit gebore moet word. Human pleit eerder vir 'n grondige hervorming in die moedertaalonderwys en veral by die studie in die letterkunde.
Die voorsitter van die Akademie, dr. T. E. W. Schumann, het egter op 3 Julie 1954 onwelvoeglike lektuur vergelyk met gifgas: Indien die wet my verbied om in die middel van Eloff- en Adderleystraat 'n ontwikkelaar van gifgas aan die gang te sit, waarom sal hy my nie ook verbied om geestelike gifgas in die land te versprei nie? Die argument dat die publiek hierdie gifgas verlang, maak op my geen indruk nie. By letterkundiges soos Gerrit Dekker en C.M. van den Heever was daar kommer oor die dekadensie asook sensasielus wat besig was om die verskyning van suiwer letterkunde in Afrikaans te verdring. Van den Heever wys onder meer na wellustige seks wat godsdiens verdring; dat dit amper 'n obsessie in die poësie en prosa was.
In die vyftigerjare het die Nasionale Boekhandel dikwels meer gewaag met die digkuns as met die prosa. Steenbok tot poolsee (1955) van Peter Blum het oor die algemeen gemengde resensies ontvang. Maar na die verskyning van die bundel het die een klagte op die ander gevolg, ook van die Uitsaaikorporasie. Geen resensies van die boek is deur die SAUK uitgesaai nie, hoewel hul nie die boek in die ban gedoen het nie. Die heftigste beswaar was teen "Oor monnemente gepraat". (Ironies genoeg is die sonnet in 1986 afgedruk op die eksamenvraestel in die letterkunde vir Afrikaans Hoër Graad (Senior Sertifikaat) van die Kaapse Onderwysdepartement). N.P. van Wyk Louw het oor Radio Nederland Wereldomroep 'n goeie woordjie vir die digbundel gedoen.
Die Sensuurwet aanvaar Die eerste poging van die Cronjékommissie om 'n sensuurwet ingesteld te kry, het misluk weens die verreikende voorstelle in verband met beheer. Ná herhaalde pogings het dit geluk. Die Wetsvoorstel is in 1962 ter tafel gelê en ingedien deur die Minister van Binnelandse Sake; met die amptelike benaming: Wetsontwerp om die produksie en verspreiding te verbied van publikasies en voorwerpe wat ongewens is, en om voorsiening te maak vir aangeleenthede wat daarmee in verband staan; en om die "Police Offences Ordinance, 1902" (Oranje-Vrystaat), die "Criminal Law Amendment Act, 1909" (Transvaal), die Doeanewet, 1955, en die Poswet, 1958, te wysig.
In 1963 is die Wet op Publikasies en Vermaaklikhede aanvaar. Die wet bepaal dat 'n Raad saamgestel sou word wat minstens uit nege lede bestaan en waaruit ses deskundiges van kuns, taal en die lettere of regspleging moes wees. Hierdie aanstelling sou gedoen word deur die Minister van Binnelandse Sake, wat ook die paneel sou aanwys waaruit die Raad kommissies in die lewe kon roep. Die komitees moes dan onder die Raad se gesag verslag doen oor 'n publikasie wat aan hom voorgelê word.
Die publiek kon publikasies vryelik voor die Raad gaan voorlê, maar die skrywer, uitgewer of invoerder moes by die Hooggeregshof (en daarna ook by die Appèlhof) appèl gaan aanteken. Die Raad hoef volgens die wet nie redes vir sy besluite te verstrek nie. Die koerante wat lid was van die Suid-Afrikaanse Persunie was van hierdie wet vrygestel.