Lewis Hamilton (gebore in Stevenage, Hertfordshire, Engeland op 7 Januarie 1985) is 'n Britse Formule Een-renjaer. Hy is die wêreldbestuurderskampioen in 2008, 2014, 2015, 2017, 2018, 2019 en 2020 en was van 2013 tot 2024 deel van die Mercedes AMG Petronas F1-span, voorheen met sy spanmaat George Russell. Hy het in Januarie 2025 van span verwissel en by Scuderia Ferrari aangesluit. Sy spanmaat is die 28-jarige Monegask Charles Leclerc. duimnael|links|200px|Lewis Hamilton (voor) spook sake uit met spanmaat Nico Rosberg in 2013.

Inleiding Hamilton het sy debuut as Formule 1-jaer in 2007 gemaak, die jaar waarin hy by die McLarenspan aangesluit het as die span se tweede jaer langs Fernando Alonso. Hy word beskou as een van die beste jaers wat Formule 1 ooit opgelewer het. Hy hou die rekord vir die meeste aantal voorwegspringplekke van alle tye en ewenaar die meeste wedrenne gewen op dieselfde baan (sedert 19 Julie 2020) met agt oorwinnings op die Hungaroring. Op Sondag 11 Oktober 2020 het Hamilton Michael Schumacher se aantal oorwinnings geëwenaar. Met 105 oorwinnings het hy die meeste keer 'n Grand Prix gewen nadat hy die Grand Prix van Emilia-Romagna op 1 November 2020 gewen het.

Motorsportloopbaan Formule Renault Nadat hy verskeie kart-kampioenskappe gewen het, is Hamilton deur die McLaren-span in Woking onderteken. Hulle het hom op die ouderdom van veertien met 'n "ontwikkelingskontrak" beloon. Dit het hom 'n groot hupstoot gegee in sy renloopbaan. Hy het in 2000 die Europese Kart-kampioenskap gewen en ook in 2001 aan die Formule Renault VK-renreeks deelgeneem. In sy eerste jaar eindig hy vyfde in hierdie kampioenskap. In 2002 eindig hy derde en behaal drie oorwinnings vir Manor Racing. Hy wen eenkeer in die Formule Renault EuroCup.

In 2003 behaal hy sy eerste groot sukses: hy word kampioen met tien seges, stel nege keer die vinnigste rondtetyd op en behaal elf voorste wegspringplekke. Hy was reeds twee wedrenne voor die jaareinde kampioen, en klop daarmee vir Alex Lloyd.

Formule 3 In 2004 skakel Hamilton oor na die Formule 3 Euroseries. In die finale rangorde eindig hy vyfde met een sege en twee keer 'n derde plek. Hy het ook die Bahrein F3 Superprix gewen. Hy behaal vyftien oorwinnings in die 2005 Formule 3 Euroseries met ASM Dallara-Mercedes. Hy het ook die gesogte BP Ultimate Masters van Formule 3 op die Zandvoort-renbaan gewen en vir die dominante ASM-span gejaag met die superieure Mercedes HWA-motor, sy tweede span in die kategorie nadat hy in 2004 vir Manor Motorsport gejaag het.

Hamilton toets die eerste keer vir McLaren teen laat-2004 by Silverstone.

GP2 In 2006 het Lewis Hamilton aan die GP2-reeks deelgeneem en vir die ART Grand Prix-span gejaag. Hy vervang die vorige jaar se kampioen, Nico Rosberg, wat hom by Formule 1 aangesluit het as die tweede jaer vir die Williams F1-span. Sy prestasie in die GP2 was asemrowend. In die Europese GP2-wedren het hy albei wedrenne gewen. Hy het hierdie dubbele oorwinning op Silverstone herhaal en word die eerste GP2-jaer wat albei uitdunne in twee renne gewen het. Hy het die GP2-titel in die voorlaaste ren gewen deur Nelson Piquet jr., Timo Glock asook sy ervare spanmaat Alexandre Prémat, te klop.

Formule 1 2007 Na 'n lang tyd van bespiegeling of hy, Pedro de la Rosa of Gary Paffett saam met die wêreldkampioen Fernando Alonso vir McLaren in die 2007 Formule Een-seisoen sou ry, is Hamilton aan die einde van 2006 as hul tweede jaer aangewys. Hamilton is die eerste en enigste swart renjaer in die F1-reeks.

Met sy Formule 1-debuut op Albert Park vir die 2007 Australiese Grand Prix, het Hamilton vierde gekwalifiseer en uiteindelik die wedren in die derde plek agter spanmaat Fernando Alonso en Kimi Räikkönen in sy Ferrari geëindig. Hy was die eerste jaer wat die podium gehaal het in sy eerste Grand Prix sedert Jacques Villeneuve in 1996.

Net soos in Melbourne, kwalifiseer hy vierde vir die tweede Maleisiese Grand Prix op die Sepang Internasionale Renbaan. Na 'n indrukwekkende begin- en aanvanklike fase waarin hy albei Ferrari-jaers in die wiele gery het as 'n ervare Formule 1-jaer, eindig Hamilton die ren in die tweede plek agter sy spanmaat, Alonso.

In sy derde Formule 1-ren in Bahrein het Hamilton geskiedenis gemaak deur in sy eerste drie renne as Formule 1-jaer op die podium te eindig. Hy was die eerste debutant in Formule 1-geskiedenis wat dit kon bereik. Op Sondag 13 Mei 2007 eindig hy weer op die podium tydens die Spaanse Grand Prix op die Barcelona-Catalunya-renbaan. Met hierdie uitslag neem hy die eerste keer in die 2007-seisoen die voortou in die kampioenskap. Daarbenewens verbeter hy die rekord vir die jongste Wêreldbeker-leier in die geskiedenis, voorheen deur Bruce McLaren, stigter van Hamilton se span gehou.

Op 9 Junie 2007 behaal Hamilton sy eerste voorste wegspringplek in Kanada. Die volgende dag wen hy ook die eerste Grand Prix van sy loopbaan. 'n Week later, op Sondag 17 Junie 2007 wen hy sy tweede Grand Prix, die Verenigde State se Grand Prix op die Indianapolis-baan. In Frankryk eindig hy derde, die week daarna kwalifiseer hy heelvoor vir die Britse Grand Prix, maar hy kon nie munt slaan uit sy tuisskare nie en eindig derde. Dit was sy negende agtereenvolgende podiumplek.

In Brasilië - op 21 Oktober - was Hamilton die beste op papier om wêreldkampioen te word, maar hy het swak weggespring. Beide Räikkönen en Alonso het hom ingehaal. In 'n poging om Alonso onmiddellik verby te steek, het Hamilton uit die draai geskiet. Hy keer terug na die baan, maar oomblikke later stop sy McLaren tydelik. Hamilton het 'n goeie inhaalwedren begin, maar die vyfde plek wat vir die wêreldtitel benodig is, het uitgebly. Hy kom tweede in die wêreldkampioenskap, slegs één punt agter die nuwe wêreldkampioen, Kimi Räikkönen, en gelyk aan die uittredende wêreldkampioen, Fernando Alonso.

2008 duimnael|regs|280px|Hamilton jaag hier vir McLaren in die 2008 Australiese Grand Prix Op 18 Januarie is aangekondig dat Lewis Hamilton sy kontrak met McLaren tot 2012 verleng het. Alonso vertrek na Renault, waarna Heikki Kovalainen sy nuwe spanmaat word.

In die 2008-seisoen het hy vyf Grands Prix gewen: die Australiese, Monaco, Britse, Duitse en die Chinese.

Op 2 November 2008 verower Hamilton sy eerste Formule 1-bestuurderstitel. Die kampioenskap is eers in die laaste ren van die seisoen, dié van Brasilië, beslis. As gevolg van stortreën in die laaste agt rondtes van die ren, het dit vir 'n oomblik gelyk asof Hamilton weer die kampioenskap deur sy vingers gaan laat glip: hy is immers in die laaste twee rondtes deur Sebastian Vettel verbygesteek en was toe in die sesde plek, wat hom op 97 punte sou plaas. In die laaste draai was Hamilton baie gelukkig om Timo Glock verby te steek, wat weens die reën amper nie greep kon vind nie, omdat hy nie op reënbande gejaag het nie. As gevolg hiervan was Hamilton steeds vyfde en behaal 'n finale telling van 98 punte. Hiermee klop hy Felipe Massa met een punt op die finale ranglys.

2009–2012 Gedurende hierdie seisoene behaal Hamilton minder sukses, en wen slegs 13 wedrenne in vyf jaar. Aan die einde van die 2012-seisoen verlaat Hamilton – tot almal se verbasing – die McLaren-span en sluit aan by die Mercedes GP-span waar hy Michael Schumacher vervang het. Sy jaarsalaris by Mercedes was volgens berigte byna negentien miljoen euro.Hamilton vervangt Schumacher bij Mercedes 28 September 2012. Besoek op 2 November 2020

2013

Hamilton het die seisoen goed begin met 'n derde plek in kwalifisering in Australië. Uiteindelik eindig hy die ren in die vyfde plek. In die tweede Grand Prix van 2013, dié van Maleisië, kwalifiseer hy vierde, waarna hy derde eindig na 'n opwindende stryd met beide Red Bulls en Nico Rosberg. Dit was sy eerste podium vir sy nuwe span Mercedes.

Reeds by die volgende Grand Prix, dié van China, was hy in die voorste wegspringplek vir Mercedes, presies een jaar na die eerste vir Mercedes (Rosberg, China 2012). Uiteindelik eindig hy die wedren weer in die derde plek. Na die derde vrye oefensessie van die Grand Prix in Bahrein is Lewis gestraf omdat hy sy ratkas laat verander het. Nadat hy vierde gekwalifiseer het, het hy die ren in die negende plek begin. Na 'n taktiese wedren eindig hy in die vyfde plek. Hy het op die ranglys vir die Wêreldkampioenskap verby Alonso, wat 'n swak wedren beleef het, na die derde plek opgeskuif.

Aan die begin van die Spaanse Grand Prix beklee Mercedes die hele voorry na kwalifisering, met Nico Rosberg op #1 en Lewis Hamilton tweede. Gedurende die ren het Mercedes egter te veel bandslytasie ondervind, en albei jaers sak terug in die veld. Hamilton eindig uiteindelik punteloos in die twaalfde plek.

Hamilton het ook in die tweede plek vir die Grand Prix in Monaco gekwalifiseer, reg agter Nico Rosberg. Albei het die ren goed begin en het eerste en tweede gebly. Maar tydens die taktiese gesukkel as gevolg van 'n veiligheidsmotor-periode, val Hamilton terug na die vierde plek, waar hy uiteindelik eindig. Rosberg behaal die eerste oorwinning van die seisoen vir Mercedes.

In Kanada was Hamilton die grootste deel van die ren tweede, maar 'n paar rondes voor die einde is hy deur Fernando Alonso verbygesteek. Hy verower nogtans 'n podiumplek.

In die Britse Grand Prix het Lewis 'n vierde plek behaal. Na die vinnigste tyd in oefening het hy aanvanklik die wedren gelei, maar in die agtste rondte 'n band gebars, wat hom aanvanklik baie laat terugsak het. Hy sou egter nie die enigste een wees wat hierdie probleem gely het nie, en deels weens die vertraging wat daartoe gelei het, het Hamilton uiteindelik daarin geslaag om hom tot die vierde plek op te werk.

Hy was weer voor vir die Duitse Grand Prix, maar het na 'n swak wegspring teruggesak na die derde plek. Weens die nuwe Pirelli's het Mercedes weer 'n paar probleme met die bande gehad. Hamilton het ver teruggeval, maar ná 'n puik eindronde het hy steeds vyfde geëindig.

In die Hongaarse Grand Prix het hy beter gevaar. Die Brit was vir die vierde keer op die voorwegspringplek, maar anders as in vorige Grand Prix-wedrenne, het hy daarin geslaag om voor te bly en hierdie keer het hy die wedren gewen. Pirelli het weer nuwe bande vir hierdie Grand Prix gebruik, wat verder verbeter is na dié van die vorige Grand Prix in Duitsland.

Die Belgiese Grand Prix: Tydens 'n kwalifiserende sessie met wisselende weerstoestande behaal hy weer die voorste wegspringplek, maar tydens die ren word hy op die Kemmel-pylvak deur Sebastian Vettel ingehaal. Uiteindelik moes hy met die derde plek tevrede wees.

Die 2013 Italiaanse Grand Prix was minder suksesvol. Hy het slegs in die twaalfde plek gekwalifiseer, maar ná 'n sterk eindpoging kon hy steeds negende eindig. Ook tydens die Grand Prix in Singapoer eindig hy slegs vyfde in die kwalifisering. Hy het die ren ook in die vyfde plek voltooi.

Met die Koreaanse Grand Prix was hy die vinnigste tydens die eerste en tweede vrye oefening. Hy kwalifiseer tweede ná Vettel. Die wedren was egter minder suksesvol. Die bande het weer moeilikheid gegee en hy eindig uiteindelik vyfde.

Mercedes het vroeër opgehou om die motor te ontwikkel, wat die vierde plek die hoogste moontlike vir die res van die seisoen gemaak het. Hamilton eindig uiteindelik die 2013-seisoen in die vierde plek.

2014 Veranderinge aan enjinregulasies vir die 2014-seisoen, wat die gebruik van turbo-hibriede enjins vereis het, het bygedra tot die begin van 'n uiters suksesvolle era vir Hamilton. Hierdie jaar het Mercedes 16 van die 19 wedrenne daardie seisoen gewen, 11 van dié wat Hamilton verseker het toe hy in 'n seisoenlange tweestryd om die titel teen spanmaat Rosberg geseëvier het. Hamilton het sy tweede jaerstitel ingepalm en die oorwinningstelling van alle Britse jaers voor hom verbygesteek, en ná die laaste wedren in Aboe Dhabi oor die spanradio verklaar: "Dit is die grootste dag. van my lewe."