Fenisië (van die Griekse Φοινίκη, Phoiníkē; Arabies: فينيقية, Fīnīqīyah) was ’n antieke Semitiessprekende, seevarende beskawing in die westelike kusstreke van die Vrugbare Halfmaan wat aan die kuslyn van die moderne Libanon gesentreer was. Al die groot Fenisiese stede was aan die kus van die Middellandse See geleë.
Die gebied van die Fenisiese stadstate het deur die geskiedenis uitgebrei en gekrimp. Die kernstreek waarin die Fenisiese kultuur ontwikkel en floreer het, het gestrek van Bublos in Noord-Libanon tot Karmelberg in die hedendaagse Israel. Op die hoogtepunt van sy bestaan het Fenisië se grondgebied in die oostelike Mediterreense streek gestrek van die Orontesriviermond tot by Ashkelon. Buite sy tuisgebied het die Fenisiese beskawing gestrek tot by die Middellandse See, van Siprus tot die Iberiese Skiereiland.
Die Fenisiërs was 'n Semitiessprekende volk van ietwat onbekende oorsprong wat omstreeks 3000 v.C. in die Levant ontstaan het. Die term "Fenisië" is 'n antieke Griekse, nie-inheemse naam wat waarskynlik een van hulle belangrikste uitvoergoedere beskryf het: 'n kleursel ook bekend as Tiriese pers. Die term beskryf nie 'n samehangende kultuur of gemeenskap nie, want antieke bronne dui nie aan dat die Fenisiërs hulself voor die Laat Oudheid as van dieselde identiteit, afkoms of tuisland beskou het nie.
thumb|links|220px|Ruïnes van Tirus. thumb|links|220px|Sidon. thumb|links|220px|Bublos. Daar word gedebatteer of die Fenisiërs wel afsonderlik van die breër groep Semitiessprekende volke was wat as die Kanaäniete bekend staan. Die historikus Robert Drews glo "Kanaäniete" was die naam van die etniese groep wat deur die antieke Grieke die "Fenisiërs" genoem is, maar volgens die argeoloog Jonathan N. Tubb het die Ammoniete, Moabiete, Israeliete en Fenisiërs elk hulle eie kulturele identiteit gehad, hoewel hulle etnies Kanaäniete was, "dieselfde mense wat hulle in die 8ste millennium v.C. in boerderynedersettings in die streek gevestig het".
Die Fenisiërs het in die middel 12de eeu v.C. 'n opkoms gemaak ná die agteruitgang van die invloedrykste kulture in die verval van die Bronstydperk. Hulle was onder die mense van hulle tyd bekend as bekwame handelaars en seevaarders, en het deur die grootste deel van die klassieke oudheid die oorheersende kommersiële mag geword. Die Fenisiërs het 'n uitgebreide seehandelsnetwerk ontwikkel wat langer as 'n millennium geduur het. Hulle het gehelp om kulture, idees en kennis uit te ruil tussen groot bakermatte van die beskawing soos Griekeland, Egipte en Mesopotamië. Ná sy hoogtepunt in die 9de eeu v.C. het die Fenisiese beskawing in die oostelike Mediterreense streek stadigaan agteruitgegaan weens buitelandse invloed en mededinging; in die sentrale en westelike Mediterreense streek het sy invloed voortgeduur tot in die middel van die 2de eeu v.C.
Die Fenisiërs was in stadstate georganiseer, nes dié in antieke Griekeland, waarvan die noemenswaardigstes Tirus, Sidon en Bublos was. Elke stadstaat was polities onafhanklik, en daar is geen bewyse dat die Fenisiërs aan hulleself as 'n enkele nasionaliteit gedink het nie. Die Fenisiërs het kolonies en handelsposte oor die hele Mediterreense streek gevestig. Kartago, 'n nedersetting in Noordwes-Afrika, het in die 7de eeu v.C. 'n groot beskawing uit eie reg geword. Die Fenisiese gemeenskap en kultuurlewe was gesentreer rondom handel en seevaart. Terwyl die meeste stadstate deur die een of ander soort koning regeer is, het handelaarsfamilies waarskynlik groot invloed uitgeoefen.
Die Fenisiërs is lank as 'n verlore beskawing beskou weens die gebrek aan inheemse geskrewe rekords. Eers teen die middel 20ste eeu het historici en argeoloë 'n idee begin vorm van die komplekse en invloedryke beskawing. Hulle beste nalatenskap was die wêreld se oudste geverifieerde alfabet, waarvan die oorsprong verbind word aan dié van die Hebreeuse skrif via die Proto-Sinaïtiese alfabet. Dit is deur die Mediterreense streek versprei en gebruik om die Arabiese en Griekse alfabet te ontwikkel en daarna weer die Latynse alfabet en Cyrilliese skrif.
Hulle kry ook die eer vir innovasies in skeepsbou, navigasie, nywerheid, landbou en regering. Daar word geglo hulle internasionale handelsnetwerk het die ekonomiese, politieke en kulturele fondamente gelê van die klassieke Westerse beskawing.
Etimologie Die Fenisiërs was 'n gemeenskap van onafhanklike stadstate en het blykbaar nie 'n term gehad vir Fenisië as geheel nie.Department of Ancient Near Eastern Art. “The Phoenicians (1500–300 B.C.).” In Heilbrunn Timeline of Art History. New York: The Metropolitan Museum of Art, 2000–. http://www.metmuseum.org/toah/hd/phoe/hd_phoe.htm (October 2004) In plaas daarvan sou hulle name gehad het vir die inwoners van elke spesifieke stad, soos "Sidoniërs" vir die inwoners van Sidon, ens. As die Fenisiërs wel 'n naam vir die hele streek gehad het, sou dit waarskynlik "Kanaän" gewees het en sou hulle na hulleself as "Kanaäniete" verwys het.Britannica, The Editors of Encyclopaedia. "Phoenicia". Encyclopedia Britannica, 20 Augustus 2020, https://www.britannica.com/place/Phoenicia. Besoek op 9 Januarie 2022.
Die naam "Fenisiërs" kom, nes die Latynse Poenī (adjektief poenicus, later pūnicus), van die antieke Griekse Φοινίκη (Phoiníkē). Die woord φοῖνιξ (phoînix) beteken "Fenisiër", "Tiriese pers" of "dadelpalm." Homeros het dit in elk van dié betekenisse gebruik. (Die mitiese voël Feniks het ook dié naam, maar dit kom eers eeue later voor.) Dit is moeilik om te bepaal watter betekenis eerste was, maar dit is verstaanbaar dat die Grieke die karmosynrooi of pers kleur van dadels en kleurstof met die handelaars van albei dié produkte vereenselwig het.
Geskiedenis Omdat min Fenisiese rekords bewaar gebly het, kom die meeste van die kennis oor hulle oorsprong en geskiedenis uit die geskrifte van ander beskawings wat oor die hele Mediterreense streek opgegrawe word. Die geleerdes stem saam dat Fenisië se vooruitstrewendste tydperk van 1200 v.C. tot aan die einde van die Persiese tydperk (332 v.C.) was.
Die Fenisiese Bronstydperk is grootliks onbekend. Die belangrikste twee terreine is Bublos en Sidon-Dakerman (naby Sidon). In 2021 was daar egter steeds meer as honderd terreine wat opgegrawe moes word, terwyl ander nog nie heeltemal ontleed was nie. Die Middel-Bronstydperk was oor die algemeen 'n vreedsame tyd van toenemende bevolkings, handel en vooruitgang, hoewel daar om natuurlike hulpbronne meegeding is. In die Laat Bronstyd het die mededinging tussen Egipte, Mitanni, die Hetiete en Assirië 'n groot impak op Fenisiese stede gehad.
Oorsprong duimnael|180px|’n Fenisiese sarkofaag by Antarados, Noord-Libanon, 480-450 v.C. Die Kanaänitiese kultuur waaruit die Fenisiërs ontstaan het, het blykbaar op die plek ontwikkel uit die vroeëre Ghassuliese Kopersteentydperkkultuur. Die staat Oegarit uit die Laat Bronstydperk word argeologies ook as Kanaänities beskou,Tubb, Jonathan N. (1998), "Canaanites" (British Museum People of the Past) hoewel Oegarities nie tot die Kanaänitiese tale behoort nie.. .
Die Griekse historikus Herodotos en ander het ander teorieë gehad oor plekke van waar die Fenisiërs gekom het.Herodotos Histories 1.1, 2.44 & 7.89; Strabo, Geography 16.3.4. Sommige argeoloë het al 'n migrasie voorgestel wat verband hou met die verval van 'n beskawing omstreeks 1750 v.C. Die meeste geleerdes verwerp egter die idee van 'n migrasie; argeologiese en historiese bewyse dui daarop dat die streek millenniums lank aaneen bewoon is, en onlangse genetiese navorsing dui aan hedendaagse Libanese kry die grootste deel van hulle afkoms (meer as 90%) van 'n Kanaänitiesverwante bevolking.
Opkoms in die Laat Bronstydperk (1479-1200 v.C.) Die eerste bekende aantekeninge oor die Fenisiërs hou verband met die verowerings van farao Toetmoses III (1479-1425 v.C.). Die Egiptenare het kusstede geteiken wat volgens hulle behoort het aan die Fenekhu, "skrynwerkers", soos Bublos, Arwad en Ullasa. Die stede het aan die Egiptenare toegang verleen tot die Mesopotamiese handel en groot hoeveelhede van die streek se inheemse sederhout, waarvan daar geen ekviwalent in Egipte was nie.
Teen die 14de eeu v.C. het die Egiptenare die Fenisiese stadstate as "gunstelingstede" beskou. Tirus, Sidon, Beiroet en Bublos is as die belangrikstes gereken. Die Fenisiërs het aansienlike outonomie gehad en hulle stede was redelik goed ontwikkel en vooruitstrewend. Bublos was die belangrikste stad; dit was 'n sentrum vir bronsvervaardiging en die primêre sentrum van waardevolle items soos tin en lasuursteen van so ver oos as Afghanistan. Die Egiptiese amptenare het ook belanggestel in Sidon en Tirus, en dit het 'n patroon van mededinging begin wat oor die volgende millennium sou voortduur.
In die Amarna-briewe word vertel die naburige Amoriete en Hetiete het Fenisiese stede van 1350 tot 1300 v.C. verower, veral in die noorde. Egipte het eindelik sy kusgebiede van Oegarit in Noord-Sirië tot by Bublos naby Sentraal-Libanon verloor.
Opkoms en hoogtepunt (1200-800 v.C.) Tussen 1200 en 1150 v.C. het die verval van die Bronstydperk gelei tot die verswakking of vernietiging van die meeste beskawings in die streek, insluitende die Egiptenare en Hetiete. Dit lyk of die Fenisiërs die toets van die tyd deurstaan het, want hulle het in 1230 v.C. as 'n afsonderlike en georganiseerde beskawing verrys. Dié tydperk word soms die "Fenisiese renaissance" genoem. Hulle het die magsleemte gevul wat deur die ander beskawings gelaat is deur die enigste handels- en seemag in die streek te word, 'n status wat hulle eeue lank sou volhou.
thumb|180px|links|'n Kleiruiter uit Tirus, 500-400 v.C. Britse Museum. Die herstel van die Mediterreense ekonomie is waarskynlik te danke aan Fenisiese handelaars en seevaarders wat die langafstandhandel tussen Egipte en Mesopotamië in die 10de eeu v.C. herstel het.
Vroeg in die Ystertydperk het die Fenisiërs hawens, pakkamers, markte en nedersettings oor die hele Mediterreense streek en tot by die suidelike Swartsee gevestig. Kolonies is gestig op Siprus, Sardinië, die Baleariese Eilande, Sisilië en Malta, sowel as aan die kus van Noord-Afrika en die Iberiese Skiereiland. Fenisiese silwer uit dié tyd wat as betaalmiddele gebruik is, bevat loodisotoopverhoudings wat ooreenstem met dié van lood in Sardinië en Spanje, wat dui op hoe uitgebrei die Fenisiese handelsnetwerk was.
Teen die 10de eeu v.C. het Tirus die rykste en magtigste Fenisiese stadstaat geword, veral tydens die bewind van Hiram I (c. 969-936 v.C.). Tydens die bewind van die priester Etbaäl (887-856 v.C.) het Tirus sy grondgebied uitgebrei tot so ver noord as Beiroet en tot in 'n deel van Siprus. Dié ongewone daad van aggressie was die naaste wat die Fenisiërs daaraan gekom het om 'n verenigde staat te vorm.
Toe sy ryk sy grootste gebiedsomvang bereik, het Etbaäl hom verklaar tot "koning van die Sidoniërs", 'n titel wat ook deur sy opvolgers gebruik is en in beide Griekse en Joodse geskrifte genoem is.
In die Laat Ystertydperk was die Fenisiese boot-, handels- en kulturele bedrywighede op hulle hoogtepunt, veral tussen 750 en 650 v.C. Die Fenisiese invloed was duidelik in die "oriëntalisasie" van Griekse kultuur- en kunskonvensies. Onder hulle gewildste goedere was fyn tekstiel, gewoonlik gekleur met Tiriese pers.
Homeros se Ilias, wat in dié tyd geskryf is, verwys na die gehalte van Fenisiese klere en metaalgoedere.
Stigting van Kartago