Die nasionale vlag van Oesbekistan is op 18 November 1991 amptelik in gebruik geneem. Die vlag vertoon drie horisontale bane van bo na onder in blou, wit en groen met rooi fraiings tussenin en ’n sekelmaan en twaalf sterre in die skildhoek.

Simboliek Die kleure en simbole van die vlag dra kulturele, politieke en regionale betekenisse. Die wit stel vrede en reinheid voor, die blou stel water en die lug voor. Blou verwys ook na Timoer wat in die 14de eeu oor die hedendaagse Oesbekistan regeer het. Groen stel die natuur en vrugbaarheid voor maar dit kan ook ’n voorstelling van Islam wees. terwyl die rooi fraiings die lewenskrag binne die Oesbeke voorstel. Die sekelmaan in die skildhoek roep die wedergeboorte van Oesbekistan as ’n onafhanklike land in herinnering. Dit stel voorts ook die Islamitiese geloof voor wat deur 88% van Oesbeke beoefen word. Regs van die sekelmaan is twaalf sterre wat die maande van die Islamitiese kalender voorstel asook die diereriem.

Geskiedenis Na die stigting van die Oesbekistanse SSR in 1925 is tot 1952 verskeie rooi vlae met goue inskripsie van die naam van die politieke entiteit gebruik. Die eerste variant wat van 22 Julie 1925 gebruik is het ’n inskripsie, ’n afkorting van Oesbekistanse Sosialistiese Sowjetrepubliek, in Arabies en Cyrillies bevat.

Van 9 Januarie 1926 is die Arabiese alfabet met Latynse alfabet vervang. Onder die Russiese inskripsie is nou in Tadjiks ook ’n inskripsie aangebring omdat die Oesbekistanse SSR ondergeskik aan die Tadjikistanse SSR was.

Na die skeiding van die Tadjikistanse en Oesbekistanse SSR in 1931 is die Tadjikse inskripsie van die vlag verwyder. Na 1935 is veranderings aan die Oesbekistanse Latynse alfabet aangebring en die vlag is dienooreenkomstig aangepas.

Nadat Oesbekies in 1940 in ’n Cyrilliese alfabet begin skryf is, is ’n nuwe vlag op 16 Januarie 1941 in gebruik geneem wat beide die Oesbekiese en Russiese naam in Cyrilliese skrif bevat het.

Op 29 Augustus 1952 het die vlag vir die laaste keer tydens die Sowjet-era verander. Hierdie vlag het bestaan uit drie horisontale bane in rooi, blou en rooi met wit fraiings tussenin. In die skildhoek was ’n hamer en sekel en ’n rooi ster. Die agterkant van híérdie vlag het geen tekens bevat nie.

Oesbekistan het op 1 September 1991 homself onafhanklik verklaar ongeveer drie maande voor die ontbinding van die Sowjetunie. Die soektog vir ’n nuwe nasionale vlag het kort daarna begin met ’n kompetisie om die nuwe ontwerp te bepaal. Meer as 200 inskrywings is ontvang en ’n kommissie is saamgestel om die voorstelle te evalueer. Die wenontwerp is op 18 November 1991 aanvaar nadat dit tydens ’n buitengewone sitting van die Oesbeekse Oppersowjet gekies is. Hierdeur het Oesbekistan die eerste van die nuwe onafhanklike republieke in Sentraal-Asië geword om ’n nuwe vlag te kies.

Vlag van Karakalpakië Die outonome Republiek Karakalpakië voer sedert die Sowjet-era sy eie vlag.

Sien ook

Verwysings

Eksterne skakels

Oesbekistan by Flags of the World.

Oesbekistan Kategorie:Oesbekistan