Die Son is die ster in die middel van die Sonnestelsel. Dit is 'n swaar, warm bol plasma, wat opgeblaas en verhit word deur energie wat deur kernfusiereaksies in sy kern opgewek word. 'n Deel van dié interne energie word van die fotosfeer af uitgestraal as lig, ultraviolet- en infrarooibestraling, en dit verskaf die meeste energie vir lewe op Aarde.
Die Son beweeg om die galaktiese sentrum van die Melkweg, op 'n afstand van 26 660 ligjare. Die Son se afstand van die Aarde af is gemiddeld 1 AE () of sowat 8 ligminute. Sy deursnee is sowat , 109 keer soveel as die Aarde s'n of vier keer die afstand tussen die Aarde en die Maan. Sy massa is sowat 330 000 keer dié van die Aarde, wat sowat 99,86% van die totale massa van die Sonnestelsel is.
Rofweg 'n driekwart van die Son se massa bestaan uit waterstof (~73%); die res is hoofsaaklik helium (~25%), met klein persentasies swaarder elemente, insluitende suurstof, koolstof, neon en yster.
Die Son is 'n hoofreeksster van klas G (G2V), wat informeel 'n "geeldwerg" genoem word, hoewel sy lig eintlik wit is. Dit is sowat 4,6 miljard (miljard = 109) jaar gelede gevorm, vanweë die swaartekraginstorting van materie in 'n groot molekulêre wolk. Die meeste van die materie het in die middel versamel, terwyl die res in 'n plat skyf gedruk is, en daaruit het die res van die Sonnestelsel gevorm. Die massa in sy middel het so dig geword dat kernfusie eindelik in die kern ontstaan het. Alle sterre vorm vermoedelik deur middel van dié proses.
Die Son skakel elke sekonde sowat 600 miljoen ton waterstof in helium om deur kernfusie, en verander in die proses 4 miljoen ton materie in energie. Dié energie, wat tussen 10 000 en 170 000 jaar kan neem om uit die kern te ontsnap, is die bron van die Son se lig en hitte. Ver in die toekoms, wanneer die kernfusie van waterstof in die Son se kern sal afneem tot op 'n punt waar die Son nie meer in hidrostatiese ewewig is nie, sal sy kern aansienlik digter en warmer word; dit sal sy buitenste lae laat uitsit en die Son eindelik in 'n rooireus verander. Dié proses sal die Son sowat 5 miljard jaar van nou af so groot maak dat die Aarde onbewoonbaar sal wees. Hierna sal die Son se kern sy buitenste lae wegstoot en 'n digte soort afkoelende sterkern word bekend as 'n witdwerg. Dit sal nie meer kernfusie ondergaan nie, maar sal steeds gloei en hitte afgee vanweë sy voormalige fusieprosesse.
Die enorme uitwerking van die Son op die Aarde is sedert prehistoriese tye besef en baie kulture het dit as 'n godheid beskou. Die sinodiese rotasie van die Aarde en sy wentelbaan om die Son is die basis van sommige sonkalenders. Die kalender wat vandag die meeste gebruik word, is die Gregoriaanse kalender, wat gebaseer is op die 16de-eeuse vertolking van die Son se waargenome beweging as werklike beweging.
Etimologie Die woord "son" kom in verskeie Germaanse tale voor – Engels: sun, Duits: Sonne, Oudengels: sunne, Nederlands: zon en vele meer. Al dié woorde kom van die Proto-Germaanse *sunnōn.Vladimir Orel (2003) A Handbook of Germanic Etymology, Brill Dit hou ook verband met die woord vir "son" in ander takke van die Indo-Europese taalfamilie, hoewel 'n nominatiewe stam met 'n "l" in die meeste gevalle aangetref word, in plaas van die genitiewe stam met 'n "n", soos in Latyn: sōl, antieke Grieks: ἥλιος, hēlios) en Wallies: haul. Die "l" is soms wel ook in Proto-Germaans aangetref, en word gebruik in tale soos Sweeds en Deens (solen).
Die woord "son" word meestal in Afrikaanse verbindings gebruik, soos in sonlig en sonjaar. Die Griekse helios word soms gebruik, soos in die term heliosfeer, of die Engelse term solar word as "solêr" vertaal, soos in ekstrasolêre planeet.
Die sewende dag van die week is na die son genoem. Dit kom van die Nederlandse zondag, wat 'n leenvertaling van die Latynse dies solis, "dag van die son", is; dié dag is in die heidense outyd aan die son gewy."Sondag" in die Etimologiewoordeboek van Afrikaans (EWA) by viva-afrikaans.org (intekening nodig). Besoek op 5 November 2023.
Die sterrekundige simbool vir die son is 'n sirkel met 'n punt in: 16px|☉. Dit word gebruik in eenhede soos M☉ (sonmassa), R☉ (sonradius) en L☉ (sonligsterkte).
Algemene kenmerke Die Son is 'n G-tipe hoofreeksster wat sowat 99,86% van die Sonnestelsel se massa beslaan. Dit het 'n absolute magnitude van 4,83, wat na raming helderder is as sowat 85% van die sterre in die Melkweg, waarvan die meeste rooidwerge is.
Die Son is 'n populasie I-ster, of een met baie swaar elemente. Sy vorming is dalk veroorsaak deur skokgolwe van 'n supernova naby aan hom. Dit word vermoed vanweë 'n hoë voorkoms van swaar elemente in die Sonnestelsel, soos goud en uraan, relatief tot die voorkoms van dié elemente in sogenaamde populasie II-sterre, met minder swaar elemente.
Die Son is verreweg die helderste natuurlike voorwerp in die lugruim van die Aarde af gesien: Dit het 'n skynbare magnitude van . Dit is omtrent 13 miljard keer so helder as die tweede helderste voorwerp, die ster Sirius, met 'n skynbare magnitude van (hoe laer die magnitude, hoe helderder die ster).
Die gemiddelde afstand tussen die Aarde en die Son se middelpunte word geneem as 1 AE (astronomiese eenheid), hoewel dié afstand wissel met sowat 2,5 miljoen km namate die Aarde tussen sy perihelium (naaste afstand) op omstreeks 3 Januarie en sy afelium (verste afstand) op omstreeks 4 Julie beweeg.
Op die gemiddelde afstand beweeg lig in sowat 8 minute 20 sekondes van die Son na die Aarde. Die energie van dié sonlig onderhou feitlik alle lewe op Aarde deur middel van fotosintese, en is die dryfkrag agter ons klimaat en weer.
Die Son het nie 'n definitiewe grens nie, maar sy digtheid neem eksponensieel af met 'n toename in afstand van die fotosfeer af. Vir die doel van meting: Die Son se radius word beskou as die afstand van sy middel af tot by die rand van die fotosfeer, wat sy skynbare sigbare oppervlak is. Met dié meting is die Son 'n byna perfekte sfeer met 'n platting van sowat 9 miljoenstes; dit beteken sy pooldeursnee verskil van sy ewenaardeursnee met net 10 km. Die gety-invloed van die planete is swak en het nie 'n groot invloed op die vorm van die Son nie.
Die Son roteer vinniger by sy ewenaar as by sy pole. Dit word veroorsaak deur konveksiebeweging vanweë hittevervoer en die Corioliskrag as gevolg van die Son se rotasie. In 'n verwysingsraamwerk wat deur die sterre gedefinieer word, is die Son se rotasieperiode sowat 25,6 dae by sy ewenaar en 33,5 dae by sy pole. Van die Aarde af gesien terwyl dit om die Son wentel, is die Son se skynbare rotasieperiode by sy ewenaar sowat 28 dae.
Samestelling Die Son bestaan hoofsaaklik uit die elemente waterstof en helium. In dié stadium van die Son se bestaan is dit onderskeidelik 74,9% en 23,8% van die massa van die Son in die fotosfeer. Alle swaarder elemente, wat in sterrekunde "metale" genoem word, maak minder as 2% van die massa uit: Die volopstes is suurstof (sowat 1%), koolstof (0,3%), neon (0,2%) en yster (0,2%).
Die Son se oorspronklike chemiese samestelling sou oorgeërf gewees het van die interstellêre medium waaruit dit gevorm het. Dit sou aanvanklik sowat 71,1% waterstof, 27,4% helium en 1,5% swaarder elemente bevat het. Die waterstof en die meeste helium in die Son sou geskep gewees het deur Oerknal-nukleosintese in die eerste 20 minute van die heelal, en die swaarder elemente is geskep deur sterre van vorige generasies voor die Son gevorm is, en sou in die interstellêre medium versprei het gedurende die finale stadiums van sterlewe en deur verskynsels soos supernovas.
Sedert die ontstaan van die Son is die belangrikste fusieproses die omskepping van waterstof in helium. Oor die afgelope 4,6 miljard jaar het die hoeveelheid helium en die ligging daarvan in die Son geleidelik verander. In die kern het die proporsie van helium van sowat 24% tot sowat 60% toegeneem vanweë fusie, en van die helium en swaarder elemente het van die fotosfeer na die middel van die Son beweeg as gevolg van swaartekrag. Die proporsies van die swaarder elemente het onveranderd gebly.
Hitte word deur straling van die Son se kern af versprei eerder as deur konveksie; die fusieprodukte word dus nie deur hitte na buite vervoer nie, maar bly in die kern. Tans het 'n binnekern van helium begin vorm wat nie versmelt (gefuseer) kan word nie omdat die kern nog nie warm genoeg is om helium te versmelt nie. In die toekoms sal helium in die kern bly versamel, en oor sowat 5 miljard jaar sal dié opbou van helium veroorsaak dat die Son die hoofreeks verlaat en 'n rooireus word.Iben, I Jnr (1965) "Stellar Evolution. II. The Evolution of a 3 M_{sun} Star from the Main Sequence Through Core Helium Burning". (Astrophysical Journal, vol. 142, p. 1447)
Die chemiese samestelling van die fotosfeer word gewoonlik beskou as verteenwoordigend van die samestelling van die oersonnestelsel. Die hoeveelheid swaarder elemente wat hier bo beskryf is, word gewoonlik gemeet deur beide spektroskopie van die Son se fotosfeer en die meet van hoeveelhede in meteoriete wat nog nie tot smeltpunt verhit is nie. Dié meteoriete het vermoedelik die samestelling van die protostellêre Son behou en word dus nie geraak deur die huidige hoeveelhede swaarder elemente in die Son nie. Die twee metodes werk gewoonlik goed saam.
Struktuur en fusie thumb|280px|'n Illustrasie van die Son se struktuur (in vals kleure ter wille van kontras).
Kern Die Son se kern strek van sy middel tot omtrent 20-25% van die sonradius. Dit het 'n digtheid van tot (sowat 150 keer die digtheid van water) en 'n temperatuur van naby 15,7 miljoen kelvin (K). In vergelyking hiermee is die Son se oppervlaktemperatuur sowat 5 800 K. Volgens onlangse ontledings van die Solar and Heliospheric Observatory- (SOHO)-sending is die rotasietempo in die kern vinniger as in die stralingsone daarbo.
Deur die grootste deel van die Son se bestaan word energie in die kernstreek opgewek deur kernfusie deur middel van die proton–proton-ketting; dié proses skakel waterstof in helium om. Tans kom net sowat 0,8% van die energie wat opgewek word van 'n ander reeks fusiereaksies wat die CNO-siklus (koolstof-stikstof-suurstof-siklus) genoem word, hoewel dié deel na verwagting sal toeneem namate die Son ouer en helderder word.
Die kern is die enigste streek van die Son waar 'n aansienlike hoeveelheid termiese energie deur fusie opgewek word; 99% van die krag word binne die eerste 24% van die sonradius opgewek, en by 30% van die radius hou fusie feitlik heeltemal op. Die res van die Son word deur dié energie verhit terwyl dit deur baie opeenvolgende lae na buite en eindelik na die fotosfeer beweeg, van waar dit in die ruimte ontsnap deur straling (fotone) of adveksie (massiewe deeltjies).
thumb|240px|links|'n Illustrasie van die proton-proton-reaksieketting van waterstof in deuterium, helium-3 en gewone helium-4. Die proton-proton-ketting kom omtrent keer per sekonde voor en skakel elke sekonde sowat 3,7 protone in alfadeeltjies (heliumkerns) om (uit altesaam ~8,9 vrye protone in die Son), of sowat . Elke proton vat egter gemiddeld sowat 9 miljard jaar om deur die PP-ketting met ander te versmelt. Deur vier vrye protone (waterstofkerns) in 'n enkele alfadeeltjie (heliumkern) om te skakel, word sowat 0,7% van die gefuseerde massa as energie opgewek; die Son laat dus energie vry teen 'n massa-energie-omskakelingstempo van 4,26 miljoen ton per sekonde (wat 600 metrieke megaton waterstof gebruik) vir 384,6 jottawatt () of 9,192 megaton TNT per sekonde.