Djengis Khan (uitspraak: [ˈdʒɛŋɡɪs ˈkɑːn];The American Heritage Dictionary of the English 4de uitg. (2000). Mongools: Чингис хаан; Tsjingis chaan;Historici van die Mongoolse Ryk het die spelling Tsjinggis chaan verkies, omdat dit meer klink soos die naam in Mongools, Чингис хаан (IFA: [t͡ʃʰiŋɡɪs xaːŋ]). omstreeks 1162-1227), gebore as Temoedjin of Temüjin , was die stigter, khan (heerser) en khagan (keiser) van die Mongoolse Ryk, wat ná Djengis se dood die grootste aaneenlopende ryk in die wêreld se geskiedenis geword het.

Hy het aan die bewind gekom deur die vereniging van baie van die nomadiese volke van Noordoos-Asië. Nadat hy die Mongoolse Ryk gestig het en verklaar is tot "Djengis Khan" ("universele, sterk leier"), het hy met die Mongoolse invalle en strooptogte in ander lande begin. Die grootste deel van Eurasië, tot so ver wes as Pole en die Levant in die Midde-Ooste, is verower.

In sy leeftyd het die Mongoolse Ryk eindelik groot dele van Sentraal-Asië en China beslaan. Ook middeleeuse Georgië, Kiëf-Roes en Wolga-Bulgarye is binnegeval. Dié veldtogte het dikwels gepaard gegaan met ’n grootskaalse slagting onder die burgerlike bevolkings waarin miljoene mense dood is, en daarom beskou baie mense hom as ’n wrede leier. Vanweë sy buitengewone militêre suksesse word Djengis Khan ook dikwels gereken as die grootste veroweraar van alle tye.

Voor Djengis Khan se dood het hy sy seun Ögedei Khan as sy opvolger aangewys. Later het sy kleinseuns die ryk in khanate verdeel. Djengis Khan is in 1227 dood nadat hy Westelike Xia verslaan het. Op sy versoek is sy oorskot iewers in Mongolië in ’n ongemerkte graf begrawe. Sy afstammelinge het die Mongoolse Ryk tot oor die grootste deel van Eurasië uitgebrei deur vasalstate te oorwin of te skep in die hele moderne China, Korea, die Kaukasus en Sentraal-Asië, asook aansienlike dele van Oos-Europa en Suidwes-Asië. In baie van hierdie verowerings is die grootskaalse slagtings onder die plaaslike bevolkings herhaal. As gevolg daarvan het Djengis Khan en sy ryk ’n vreesaanjaende reputasie in plaaslike geskiedenisse.Ian Jeffries (2007). Mongolia: a guide to economic and political developments. Taylor & Francis. pp. 5–7. .

Benewens sy militêre suksesse het Djengis Khan die Mongoolse Ryk op baie maniere verbeter. Hy het die Oeigoerse skrif as die ryk se skryfstelsel aangeneem en volgens ’n meritokrasie regeer, waar mense volgens verdienste gebruik en bevorder word in plaas van volgens hulle rykdom of klas. Verder het hy godsdienstige verdraagsaamheid verkondig en die nomadiese stamme van Noordoos-Asië verenig. Hedendaagse Mongole beskou hom as die stigter van Mongolië.

Djengis Khan kry ook erkenning daarvoor dat hy die Syroete onder een, samehangende politieke omgewing gebring het. Daarmee is relatief maklike kommunikasie en handel bewerkstellig tussen Noordoos-Asië, Moslemse Suidwes-Asië en Christelike Europa, wat die kulturele horisonne van al drie streke uitgebrei het.

Naam en spelling Volgens die Secret History was Djengis Khan se geboortenaam Temoedjin of Temüjin (Chinees: 铁木真, 鐵木眞, Tiěmùzhēn) en kom dit van die Tataarse hoof Temüjin-üge, wat sy pa pas gevange geneem het. Die naam Temüjin word ook gelykgestel aan die Turks-Mongoolse woord temürči(n), "ystersmid". Daar is 'n tradisie wat Djengis Khan as 'n smid beskou, volgens Paul Pelliot, wat tot in die middel 13de eeu goed gevestig was, hoewel dit ongegrond was.

Djengis Khan is 'n eretitel wat "universele heerser" bereken wat 'n verheffing van die vorige titel, khan, is. Djengis kom vermoedelik van die Turkse woord tengiz ("see") en die eretitel beteken dus eintlik "seeheerser", maar word algemener verstaan as 'n metafoor vir die universaliteit van Temüjin se heerskappy uit 'n Mongoolse oogpunt.ЧИНГИСХА́Н — Big Russian Encyclopedia, 2010

Genghis Khan word op verskeie maniere in verskillende tale gespel, soos Chinggis Khaan in Mongools, Chinghiz, Chinghis of Chingiz in Engels, Cengiz Han, Çingiz Xan, Chingizxon, Shın'g'ısxan, Çingiz Han, Çıñğız Xan, Şıñğıs xan, Çiñğiz Xaan of Çiñğizhan in Turkse tale, en Чингисхан (Tsjingischan) of Чингиз-хан (Tsjingiz-chan) in Russies.

Toe Koeblai Khan die Yuan-dinastie in 1271 stig, het hy sy oupa Djengis Khan in amptelike dokumente die tempelnaam Taizu (太祖, Tàizǔ) en die nadoodse naam Keiser Shengwu (聖武皇帝) gegee. Djengis Khan word dus ook Yuan Taizu (keiser Taizu van Yuan) genoem.

duimnael|220px|links|Die Ononrivier in Mongolië, in die streek waar Temüjin gebore is. Vroeë lewe Afstamming Djengis Khan was ’n agterkleinseun van Kaboel Khan, die eerste bekende khan van die Khamag-Mongoolse konfederasie op die Mongoolse plato. Toe die Jurchense Jin-dinastie hulle steun in 1161 verskuif van die Mongole na die Tatare, het hulle Kaboel Khan vernietig.

Djengis Khan se pa, Jisoegei, leier van die Bordjigin-clan, het die hoof van die regerende Mongoolse clan geword. Dié amp is teengestaan deur die verwante Taitsjioed-clan.

Toe die Tatare ná 1161 te magtig word, het die Jin hulle steun verskuif van die Tatare na die Keiraïete.

Geboorte

Min is bekend oor Djengis Khan se vroeë lewe weens ’n gebrek aan geskrewe rekords uit dié tyd. Die paar bronne wat wel inligting verskaf, weerspreek mekaar dikwels.

Djengis Khan se geboortenaam, Temoedjin of Temüjin, is afgelei van die Mongoolse woord temür, "van yster", terwyl jin dui op werksaamheid. "Temüjin" beteken dus "ystersmid".

Djngis Khan is moontlik in 1162 geboreRashid al-Din glo Djengis Khan is in 1155 gebore, terwyl die Geskiedenis van Yuan die geboorte as 1162 aangee. in Delüün Boldog, naby die berg Burkhan Khaldun en die riviere Onon en Kherlen in die hedendaagse Noord-Mongolië, naby die huidige hoofstad, Ulaanbaatar. Volgens Die Geheime Geskiedenis van die Mongole het Temoedjin ’n bloedklont in sy vuis gehou toe hy gebore is – ’n tradisionele teken dat hy bestem is om ’n groot leier te word. Hy was die oudste seun van Ho'eloen, sy pa se tweede vrou. Volgens die Geheime Geskiedenis is Temoedjin genoem na die Tataarse hoofman Temüjin-üge, wie sy pa pas gevange geneem het.

Jesoegei was van die Bordjigin-clan, wat nes die ander stamme nomades was. Temoedjin het nie ’n maklike lewe gehad nie. Sy pa het ’n huwelik vir hom gereël en hom op negejarige ouderdom by die familie van sy toekomstige bruid, Börte van die Khongirad-stam, gaan aflaai. Hy moes daar woon en vir die hoof van die huishouding, Dai Setsen, werk totdat hy op 12 jaar oud genoeg was om te trou.

Op pad huis toe het sy pa op die naburige Tatare afgekom, wat lank vyande van die Mongole was. Hulle het hom kos aangebied en hom vergiftig. Toe Temoedjin dit hoor, het hy huis toe gegaan om sy pa se posisie as hoof op te eis. Die stam het geweier en die gesin versaak. Die volgende paar jaar het die gesin in armoede gelewe. Hulle het op wilde vrugte en diertjies wat die seuns gevang het, oorleef.

In dié tyd was geen van die stamkonfederasies van Mongolië polities verenig nie, en gereëlde huwelike is dikwels gebruik om tydelike bondgenootskappe te sluit. Temoedjin het in dié strawwe politieke klimaat grootgeword wat oorlogvoering tussen stamme, rowery, klopjagte, korrupsie en wraak tussen konfederasies ingesluit het. Dit is vererger deur inmenging van buite, soos van China in die suide. Temoedjin se ma, Ho'eloen, het hom baie geleer, veral die belangrikheid van sterk bondgenootskappe om stabiliteit in Mongolië te verseker.

Vereniging van die Mongoolse konfederasies In die vroeë 12de eeu was die Sentraal-Asiatiese plato noord van China verdeel in verskeie prominente stamkonfederasies, insluitende die Naimans, Merkits, Tatare, Khamag-Mongole en Keiraïete. Hulle het nie vriendskaplike bande gehad nie, soos wedersydse aanvalle, wraakaanvalle en plundertogte getuig.

Vroeë pogings tot mag duimnael|260px|Djengis Khan en Togroel Khan; ’n illustrasie uit ’n 15de-eeuse manuskrip. Temoedjin het sy opgang na ’n magsposisie begin deur homself aan te bied as ’n bondgenoot, of volgens sommige bronne ’n vasal, van sy pa se bloedbroer (anda), Togroel, wat khan van die Keiraïete was. Hy was beter bekend onder die Chinese titel "Wang Khan", wat die Chinese Jin-dinastie in 1197 aan hom toegeken het. Dié verhouding het die eerste keer vrugte afgewerp toe Börte deur die Merkits gevange geneem is. Temoedjin het Togroel se steun gevra, en dié het 20 000 van sy vegters aangebied. Hy het verder voorgestel Temoedjin kry sy vriend uit sy kindertyd Djamoecha betrokke. Dié het self khan van sy stam, die Jadaran, geword.

Hoewel Börte tydens die veldtog bevry en die Merkits verslaan is, het dit ook die weg gebaan vir die onenigheid tussen Temoedjin en Djamoecha. Voorheen was hulle bloedbroers, wat beloof het om vir ewig aan mekaar trou te bly.

Onenigheid met Djamoecha Terwyl Temoedjin en Djamoecha as vriende uitmekaargedryf het, het albei mag begin konsolideer en het hulle teenstanders geword. Djamoecha het die tradisionele Mongoolse aristokrasie gesteun, terwyl Temoedjin ’n meritokratiese benadering gevolg het en in die proses ’n groter verskeidenheid en laer klas volgelinge gelok het. Ná sy vroeëre oorwinning oor die Merkits het Temoedjin se mag begin uitbrei. In 1186 is hy tot khan van die Mongole verkies. Omdat Djamoecha bedreig gevoel het deur sy mag, het hy Temoedjin in 1187 met ’n leër van 30 000 troepe aangeval. Temoedjin is in die Slag van Dalan Balzjoet verslaan. Djamoecha het egter moontlike volgelinge gewalg deur 70 jong manlike gevangenes lewend in potte te laat kook. Togroel, as Temoedjin se beskermheer, is verban. Temoedjin se lewe vir die volgende 10 jaar is onduidelik, want hy word feitlik nie in historiese rekords genoem nie.

Terugkeer na mag Omstreeks 1197 het die Jin-dinastie ’n aanval op hulle voormalige vasalstaat die Tatare geïnisieer met die hulp van die Keiraïete en Mongole. Temoedjin was in beheer van ’n deel van die aanval, en ná sy oorwinning is hy en Togroel deur die Jin in hulle gesagsposisies herstel. Die Jin het aan Togroel die eretitel Ong Khan gegee, en aan Temoedjin die laer titel j'aut quri.

Omstreeks 1200 was die hoofmededingers om die Mongoolse konfederasie (tradisioneel die "Mongole") die Naimans in die weste, die Merkits in die noorde, die Tangoets in die suide en die Jin-dinastie in die ooste.

duimnael|220px|’n Jurchense inskripsie (1196) in Mongolië oor Djengis Khan se bondgenootskap met die Jin teen die Tatare. In sy heerskappy en veldtogte teen mededingende stamme het Temoedjin op ’n paar belangrike maniere van die Mongoolse tradisie weggebreek. Hy het gesag toegeken geskoei op meriete en lojaliteit, eerder as familiebande. As aanmoediging vir absolute gehoorsaamheid het hy aan burgers en soldate buit van toekomstige oorloë beloof. Wanneer hy mededingende stamme verower het, het hy nie hulle soldate en burgers verdryf nie, maar hulle onder sy beskerming geneem en in sy eie stam geïntegreer. Hy het selfs dat sy ma weeskinders van die verowerde stam aanneem en hulle so in sy eie familie ingebring. Dié politieke innoverings het groot lojaliteit onder die verowerde stamme aangewakker en Temoedjin met elke verowering versterk.

Onenigheid met Togroel Senggoem, ’n seun van Togroel, was blykbaar jaloers op Temoedjin se groeiende mag en verhouding met sy pa. Hy wou Temoedjin na bewering vermoor. Hoewel Temoedjin Togroel se lewe op verskeie geleenthede gered het, het hy onder sy seun geswig en wou hy nie meer met Temoedjin saamwerk nie. Temoedjin het hom eindelik verslaan.

In 1201 het ’n koeroeltai, ’n raad van Mongoolse stamhoofde, vir Djamoecha as Gür Khan ("universele heerser") gekies. Dit het gelei tot die finale breuk met Temoedjin en Djamoecha het ’n koalisie van stamme gevorm om hom aan te val. Voor die konflik het verskeie generaals Djamoecha teengestaan en ná ’n paar gevegte het Djamoecha se eie manne hom in 1206 aan Temoedjin uitgelewer.

duimnael|220px|links|Die Mongoolse Ryk omstreeks 1207. Alleenheerser van die Mongole