Veldmaarskalk Jan Christian SmutsIn J.C. Smuts se biografie wat in 1952 gepubliseer is, en wat deur sy seun (ook J.C. Smuts), geskryf is, noem hy dit spesifiek dat genl. Smuts sy naam as "Christian" gespel het met een "a" na aanleiding van sy oupa se name wat Jan Christian de Vries was. (Bovenplaatz, Riebeek-Wes, 24 Mei 1870 – Doornkloof naby Irene, distrik Pretoria, 11 September 1950) was 'n vooraanstaande Suid-Afrikaanse en Statebond-staatsman, militêre leier en filosoof. Behalwe dat hy verskeie kabinetsposte beklee het, het hy ook gedien as die eerste minister van die Unie van Suid-Afrika van 1919 tot 1924 en van 1939 tot 1948.

Herkoms en opvoeding duimnael|links|200px|Jacobus en Catharina Smuts, 1893. duimnael|270px|links|'n Chemieklas aan die Victoria-kollege, 1890. Agter: H. Brincker, Jan Smuts, J.N. de Vos, H, Stroebel, F.S. Malan. Voor: P.C. Luttig en Marthinus Daneel. duimnael|links|200px|Jan Smuts afgeneem op Stellenbosch toe hy sy B.A.-graad verwerf het aan die ou Victoria-kollege, voorganger van die Universiteit Stellenbosch. Die graad was in sowel letterkunde as wetenskap. Hy wen 'n beurs van £100 per jaar om aan die Universiteit van Cambridge te gaan studeer waar hy 'n graad in die regte behaal. duimnael|200px|links|Christ's College, Cambridge, waar Smuts in die regte studeer het. Smuts was die tweede kind van Jacobus Abraham Smuts (16 April 1845 – 25 Augustus 1914), later lid van die Kaapse Wetgewende Vergadering vir die kiesadeling Malmesbury, en Catharina Petronella (Philippina) Gerhardina de Vries (Mei 1845 – 13 Februarie 1902), 'n suster van ds. Boudewyn Homburg de Vries, destyds predikant van die NG kerk op Riebeek-Wes. Die stamvader van die Smuts-familie, Michiel Cornelis Smuts, het omstreeks 1692 na Suid-Afrika gekom uit Middelburg in Zeeland en vanaf 1786 het sy nasate in die Swartland geboer. Smuts se doopname kom van sy voorvader aan moederskant, Johann Christian Davel, 'n Duitser uit Bautzen, wat in 1734 na die Kaap gekom het, deur sy oupa Jan Christiaan de Vries, wat doopgetuie was en na wie Smuts vernoem is.

In 1876 het J.A. Smuts die plaas Klipfontein naby Riebeek-Wes bekom. Jan Christian is op die boonste gedeelte (Bovenplaats) van die plaas Ongegund gebore, maar in 1876 trek sy vader na Klipfontein, dertien myl noordwes van Riebeek-Wes. Op Klipfontein het Jan Christiaan 'n gelukkige kindertyd saam met drie broers en twee susters deurgebring. By sy ma het hy geleer lees en skryf in Engels, maar met die dood van sy oudste broer in 1882 is hy as 12-jarige as loseerder na die dorpskool van T.C. Stoffberg, wat later 'n senator in opposisie tot Smuts se Suid-Afrikaanse Party geword het, gestuur. Tot op daardie tydstip is nog net sy ouer broer, Michiel, wat bestem was om predikant te word, skool toe gestuur. In 1887 matrikuleer hy met onderskeiding aan die Victoria-kollege op Stellenbosch. In 1891 behaal hy in albei rigtings 'n eerste in die gekombineerde letterkunde- en wetenskapgraadeksamen van die Universiteit van die Kaap die Goeie Hoop en wen hy die Ebden-beurs. Sy jare op Stellenbosch het 'n belangrike rol in sy lewe gespeel. Daar het hy die politieke filosofie van Onze Jan Hofmeyr, leier van die Afrikanerbond aangegryp. Daar het hy ook sy toekomstige vrou, Sybella Margaretha (Issie) Krige, dogter van Jacob Daniël Krige, vooraanstaande plaaslike boer, ontmoet. Ook op Stellenbosch het hy as assistent van prof. Rudolf Marloth 'n lewenslange belangstelling in die botanie aangekweek. Ander intellektuele belangstellings destyds was Engelse en Duitse digkuns en Grieks. Hy was aktief in die kollege se debats- en vrywilligersvereniging. Ook was hy 'n Sondagskoolonderwyser, waar dr. D.F. Malan, in 1948 sy opvolger as eerste minister, een van sy leerlinge was.

In Oktober 1891 gaan Smuts na Engeland om in die regte te studeer aan Christ's College, Cambridge. Soos tevore, het sy hoë intelligensie en metodiese gewoontes hom hier die eerste plek in alle interkollegiale eksamens in die regte besorg en hom in 1894 die ongekende onderskeiding gegee om eerste te staan in albei dele van die tripos in die regte – 'n prestasie wat tot op daardie tydstip aan die universiteit ongeëwenaard was. Hy het die sosiale lewe en sportbedrywighede van die kollege vermy, waarvoor hy nóg die geld nóg die aanvoeling gehad het, maar 'n vrugbare vriendskap aangeknoop met H.J. Wolstenholme, wat sy toenemende belangstelling in die filosofie aangewakker het. Die inkomste uit sy studiebeurs moes deels aangevul word deur 'n lening van prof. J.I. Marais van die Kweekskool, wat hom ook op Stellenbosch gehelp het. Tydens 'n besoek aan Duitsland na die eksamens bestudeer hy die filosofie en die Duitse letterkunde. In Oktober 1894 is hy toegelaat tot die Middle Temple en daar was hy drie maande later die enigste kandidaat wat die uitdagende honneurseksamen van die Inns of Court kon slaag. Hy is die enigste suksesvolle kandidaat en wen twee geldpryse. Hy kon egter nie daarin slaag om 'n uitgewer vir sy filosofiese werk te kry wat hy aan Cambridge begin het nie. Die werk was getiteld Walt Whitman: a study in the evolution of personality.

Vroeë loopbaan duimnael|links|200px|Jan en Issie Smuts met een van hul dogters, Santa. duimnael|links|200px|Jan Christian Smuts in 1895 in Kaapstad afgeneem omstreeks die tyd toe hy die eerste keer in die politiek getree het.

Met sy terugkeer na Suid-Afrika in 1895 het Smuts in Kaapstad as advokaat begin praktiseer en op openbare platforms en in die pers die politieke vennootskap tussen Cecil John Rhodes en Onze Jan Hofmeyr ondersteun. Ná die mislukte Jameson-inval word hy egter 'n Afrikanernasionalis en republikein. Hy verkondig sy nuwe oortuiging in 'n reeks hoofartikels in Ons Land en die South African Telegraph. Hy lewer sy eerste politieke toespraak van belang op 29 Oktober 1895 in Kimberley. Daarin omlyn hy die twee fundamentele vraagstukke van die wit mense in Suid-Afrika. Die Cape Times beskryf sy toespraak as 'n soort repliek in antwoord op 'n lesing deur Samuel Cronwright-Schreiner, eggenoot van Olive Schreiner.

Smuts het die uitnodiging van die De Beers-debatsvereniging op aanrade van Hofmeyr aangeneem. Die Cape Times het onder meer as volg berig oor die toespraak: "Hy het gesê die twee oorheersende, oorwegende vraagstukke is: die eenwording van die twee blanke rasse in 'n gelyksoortige nasionaliteit, en die verhouding van die blanke tot die gekleurde rasse. Sommige was die mening toegedaan dat die eenwording van die blanke bewerkstellig kon word deur die onbelemmerde invloede van geld, spoorweë en handel. Hoewel hy die samesnoerende krag van hierdie middele ruimskoots erken, tog skyn dit vir dat so 'n bloot materialistiese vereniging nooit bestand wou wees teen die morele spanning waaraan dit in hierdie land onderworpe sou wees nie. Die neiging was reeds dat geld en handel en spoorweë eerder die Republiek en die Kolonie van mekaar vervreem het.

"Dit was nie 'n bloot materialistiese kompromis van botsende belange waaraan hulle behoefte het nie, maar wel 'n groot Suid-Afrikaanse nasionaliteit deurdronge van 'n nasionale gevoel. Die Afrikaner-Bond was die eerste wat die groot begrip van nasionaliteit in die Kaapse politiek ingevoer het. Dit was die gewigtige, historiese roeping van die Bond om die waarheid te verkondig dat daar eers 'n volk moet wees voordat daar 'n Staat kan wees; dat daar volkseenheid moet wees voordat daar politieke eenheid kon wees. Die bedoeling met die Bond was dat dit alle dele van die blanke volk sou behels, maar deur die Engelse koloniste is dit in werklikheid met onverskilligheid of vrees bejeën.

"Mnr. Smuts het met die woord gesluit: 'Laat ons negrofiliste, optimiste en welmenende onrusstokers trotseer; laat ons skouer aan die wiel sit en sien of dit nie moontlik is – heeleerste deur oortuiging, desnoods deur sagte dwang – om die naturel af te rig tot iets wat ons beskawing en sy menslikheid waardig is nie. 'n Blindelingse en magtelose beroep op grondbeginsels is nie wat ons in Suid-Afrika nodig het nie. Alleen staatsmansbeleid, tug, organisasie kan die groot vraagstukke van ras en eenwording oplos . . . Net soos Asië die tuiste was van godsdienstige despotisme en Europa dié van feudale monargie, net soos die Nuwe Wêreld die tuiste is van volksdemokrasie, so is die bestemming van die Nuwer Wêreld – as ek die benaming mag besig – 'n groot rasse-aristokrasie. Die groot opbouende, konserwatiewe beleid vervat in die Bond-Rhodes-verbond het ten doel die aanwakkering van dié kragte wat die vooruitgang bevorder, en die verlening van regte slegs namate pligte geleer word. Dié beleid het reeds tot uiting gekom in verskeie wette, wat, instede van aanduidings te wees van agteruitgang in ons politiek, die begin is van 'n opbouende beleid, vatbaar vir ontwikkeling en verbetering deur geslagte van staatsmanne in die toekoms.'"Smuts, J.C. 1941. Groter Suid-Afrika. Planne vir 'n beter wêreld. Toesprake deur die hoog-edelagbare J.C. Smuts, P.C., C.H., K.C., D.T.D. Johannesburg: Waarheidsleër.

Die Zuid-Afrikaansche Republiek het sy geestelike tuiste geword en saam met sy bruid, Issie Krige, gaan vestig hy hom in Johannesburg in 1897, waar hulle lidmate word van die NG gemeente Johannesburg-Oos. 'n Jaar later laat vaar hy sy belowende loopbaan in die regte om toe te tree tot die Transvaalse staatsdiens as staatprokureur, wat in wese minister van justisie was, op die ouderdom van 28 jaar. Sy ampstermyn was merkwaardig vir sy streng optrede teen onwettige goudhandel, vir sy streng toepassing van die drankwet en vir die hervorming van 'n korrupte speurdiens. As regsraadgewer van die uitvoerende raad het hy 'n groot aandeel gehad in die vooroorlogse onderhandelinge met die Britse regering. Smuts was uit die staanspoor vasberade dat die Republiek se onafhanklikheid gehandhaaf moes word en het geglo die Britse regering was oorgehaal om dit te beëindig, selfs al moes hulle oorlog voer. Nietemin raai hy sy regering aan om sekere toegewings te maak, veral wat die vraagstuk van stemreg vir uitlanders betref het, sodat Brittanje nie 'n verskoning sou hê om oorlog te verklaar nie. Toe Brittanje die Republiek se laaste aanbod verwerp, het Smuts die uitvoerende raad van akute en verbeeldingryke raad bedien ten opsigte van militêre en politieke strategie in die naderende oorlog en ook A century of wrong (deur sy vrou in Nederlands vertaal as Eene eeuw van onrecht) geskryf – 'n uitstekende anti-Britse traktaat in Engels op gesag van die staatsekretaris F.W. Reitz, sonder dat die skrywer se naam vermeld is.

Tweede Vryheidsoorlog Smuts is aanvanklik nie toegelaat om hom by die Boeremagte in Natal in die Tweede Vryheidsoorlog aan te sluit nie en toe sy regering ooswaarts na Middelburg uitwyk op 29 Mei 1900 (vyf dae ná sy dertigste verjaardag), is hy as hul verteenwoordiger in die hoofstad agtergelaat. Voor Pretoria voor die vyand geswig het, kon hy die staatsfondse wat nog in die bank was (sowat £500 000 in goud en munte) verwyder en na Middelburg versend. Hy sluit hom hierna aan by genl. Louis Botha en was teenwoordig tydens die Slag van Donkerhoek en tydens die samesprekings wat gelei het tot die tweede of guerrilla-fase van die oorlog. In Julie 1900 is genl. Koos de la Rey, met Smuts as assitent, volle militêre en burgerlike mag in die Wes-Transvaal gegee nadat die Republikeinse regering so te sê beheer oor dié streek verloor het. Tesame het De la Rey en Smuts vars kommando's op die been gebring, die vyandelike magte in 'n reeks veldslae in die Magaliesbergreeks aangedurf en die regeringsmagte uitgeoefen. Onder leiding van De la Rey het Smuts 'n bekwame generaal geword met sy vernaamste operasionele gebied die Gatsrand, suid van Johannesburg.