Letland (Lets: Latvija, [ˈlatvija], ; Letgallies: Latveja; Lyfs: Lețmō), amptelik die Republiek Letland (Lets: Latvijas Republika; Letgallies: Latvejas Republika; Lyfs: Lețmō Vabāmō), is 'n republiek in Noordoos-Europa, een van die Baltiese lande aan die Oossee. Die land word verder begrens deur Estland in die noorde, Litaue en Belarus in die suide en Rusland in die ooste. Net soos Estland en Litaue word Letland dikwels 'n Baltiese Tier genoem.

duimnael|links|Nasa-satellietbeeld van Letland duimnael|links|CIA-kaart van Letland Die land is geografies, in oppervlakte en inwonertal die middelste van die Baltiese lande, en verenig elemente van beide buurlande: dit deel sy Baltiese taal, Lets, met Litaue, waar die verwante Litaus gepraat word, en dit deel sy oorwegend Lutherse geloof met Estland. Die geskiedenis van Letland vertoon groot ooreenkomste met dié van Estland, en veel minder met dié van Litaue. Letland het ná 'n langdurige Sowjet-besetting in 1991 sy onafhanklikheid herwin nadat dit reeds tussen 1918 en 1940 as onafhanklike republiek bestaan het. 'n Erfenis van die Sowjet-tydperk is die groot aantal Russiessprekende inwoners.

Die hoofstad van Letland is Riga en die grootste rivier die Daugava of Westelike Dwina, onderskeidelik die grootste stad en die grootste rivier in die Baltiese gebied. Letland kan verdeel word in vier historiese landskappe: Koerland (Kurzeme), Lyfland (Vidzeme), Semgale (Zemgale) en Letgallen (Latgale). Letland is sedert 1 Mei 2004 'n lidland van die Europese Unie en die Euro is op 1 Januarie 2014 as geldeenheid ingevoer. Op 1 Julie 2016 het Letland by die OESO aangesluit.

'n Kenmerk van die huidige Letland is die groot teenstellings tussen die besige hoofstad, 'n voormalige lid van die magtige Hanseverbond waar Letland se ekonomiese opswaai merkbaar word, en die rustige idille – en soms ook armoede – van die landelike streke. Naas lae geboorte- en hoë sterftesyfers bly die grootskaalse emigrasie van Lette na Wes-Europa 'n groot uitdaging. Sedert 2004 het 'n vyfde van die Lettiese bevolking hulle in welvarende lande soos die Verenigde Koninkryk, die Republiek Ierland en Duitsland hervestig. Baltische Rundschau, 19 Februarie 2018: Lettland: Abwanderung sorgt für Probleme. Besoek op 6 Junie 2018

Etimologie Die naam Latvija is ontleen aan die antieke Letgalle, een van vier Indo-Europese Baltiese stamme (die ander is die Koere, Sele en Semgalle), wat saam met die Finse Litauers die Letlanders se etniese kern gevorm het. Henry van Letland het die Latinisering van die naam bepaal, Lettigallia en Lethia, albei is ontleen aan die Letgalle. Van dié terme is die weergawes van die landsnaam in Romaanse tale van Letonia en verskeie Germaanse tale van Lettland afgelei, waaronder die Afrikaanse naam "Letland".

Geografie duimnael|links|Moeraslande in die Nasionale Kemeri-park duimnael|links|Kustoneel langs die Golf van Riga duimnael|links|'n Klein rivier naby die Mordangas-meer Letland neem in geografiese opsig 'n middelposisie binne die Baltiese lande in. Met 'n oppervlakte van 64 589 km² is dit effens kleiner as die Republiek Ierland. Die land verskil met sy sterk beboste karakter merkbaar van Estland en Litaue – sowat 44 persent van die oppervlakte of 2,9 miljoen hektaar is bosgebiede wat deur besoekers reeds vanuit die vliegtuig op pad na Riga raakgesien kan word. Landskappe met bosse, moeraslande en mere is kenmerkend vir die heuwelagtige oostelike landsdele, terwyl die kusgebiede deur vlaktes oorheers word.

Net soos ander gebiede in Noord-Europa was Letland gedurende die laaste koueperiode sowat een miljoen jaar lank met 'n yslaag bedek wat 'n dikte van twee meter bereik het. Die landmassa het onder die swaar gewig geswig. Eers sowat 12 000 jaar gelede, toe die groot gletsers begin smelt het, is die huidige landskappe van Letland gevorm: tipiese morenelandskappe met lemige, sanderige of stenige afsettings wat as heuwellande of vlaktes voorkom en talle bosse, grasvelde en moeraslande behels.

In Wes- en Noord-Letland het die gletsers minder vrugbare sanderige of klipperige grond agtergelaat wat met die ryk landbougrond van binnelandse streke kontrasteer – soos die vlaktes van Zemgale (Semgale) suid van Riga. In Oos-Letland het die smeltende gletsers met hul wisselende yskante die hoogplato's van Vidzeme en Latgale (Letgallen) met hul talle mere gevorm. Letland se hoogste punt is die heuwelpiek Gaiziņkalns naby Madona (312 meter).

Daar is altesaam 12 000 riviere in Letland, waarvan egter slegs twaalf langer as 100 kilometer is. Die twee grootste riviere is die Daugava wat vanuit die suidooste tot by Riga vloei, met 'n lengte van 1 000 kilometer (waarvan 352 in Letland), en die Gauja wat net soos die Daugava in die Golf van Riga uitmond. Die grootste van Letland se 3 000 mere is Rāznas ezers met 'n oppervlakte van 57,6 km². By Kaap Kolka ontmoet die Golf van Riga en die Oossee. Net noord daarvan is die maritieme grens tot Estland geleë.

Die kuslyn langs die Oossee en die Golf van Riga, wat grotendeels deur dennebosse gesoom word, het 'n lengte van 497 kilometer. Dit behels eindelose sandstrande met aangrensende duinlandskappe, strandmere, naaldbosse, moeraslande en mere – 'n gevoelige ekostelsel wat deur die wisselwerking tussen land en see oorheers word. Aangesien die grootste deel van die kusgebiede tydens die Sowjet-besetting as militêre spergebied nie toeganklik was vir besoekers nie, kon die ekosisteme – behalwe vir enkele militêre terreine – hier onverstoord ontwikkel. Die soutwater-strandmere en vogtige grasvelde is gedurende die najaar 'n gewilde rusplek vir miljoene trekvoëls en – in die geval van die Pape-meer – ook tienduisende vlermuise.

Van Letland se totale oppervlakte word 8,5 persent as natuurreservate beskerm – daar is vier nasionale parke, vier natuurreservate, 28 natuurparke, nege landskapsreservate, een biosfeerreservaat, nege natuurmonumente en 'n aantal mikroreservate. Letland se vierde nasionale park, die Rāznas nacionālais parks met 'n oppervlakte van bykans 600 km², is eers in 2007 gestig.

Bosgebiede duimnael|Landskapstoneel in die Nasionale Gauja-park: die Gauja-riviervallei te midde van bosse Naaldbome beslaan sowat 69 persent van Letland se bosgebiede, die res bestaan uit oorwegend gemengde loofbosse. AS Latvijas valsts meži: Our forests Die mees uitgestrekte bosgebiede word in die noorde van Kurzeme (Koerland) aangetref. Tipiese Letlandse boomsoorte sluit denne, sparbome en berke in, maar ook eike, linde- en beukebome kom hier endemies voor. Die laasgenoemde soorte het 'n belangrike rol in Letland se voor-Christelike godsdiens gespeel waar besondere kragte aan hulle toegeskryf is. Reeds in die 16de en 17de eeu is voorsiening gemaak vir die volhoubare gebruik van bosse.

Sowat die helfte van alle bosse groei op droë mineraalgrond, terwyl 'n kwart as vogtige bosse geklassifiseer word wat in die res van Europa selde aangetref word. Die grond in dennebosse is 'n geskikte habitat vir bos- en bloubessies asook heideplante, terwyl in sparboombosse veral mosse en in beukebosse hoofsaaklik rietgrasse aangetref word. 'n Oordaad sampioensoorte kom in alle Letlandse bosse voor. Die meeste Letlanders het – soos die bewoners van die aangrensende buurlande – 'n passie daarvoor om in herfstyd mandjies vol sampioene te versamel.

Gedurende die Sowjet-besetting van Letland is min waarde aan omgewingsbewaring geheg. Nog in die 1990's was ontbossing 'n groot probleem wat met die stigting van 'n staatsbeheerde bosbou-aandelemaatskappy in 1999 uiteindelik opgelos is. Tans is sowat die helfte van alle Letlandse bosse in staatsbesit, terwyl 'n konsep vir volhoubare bosbou deur Ugis Rotbergs, die plaaslike Wêreldnatuurlewefondsdirekteur, ontwikkel is. Die verhouding tussen houtontginning en herbebossing vergelyk nou gunstig met dié van ander lande. Jochen Könnecke: Lettland. Ostfildern: DuMont 2009, bl. 50

Moeraslande duimnael|'n Ryp dwergmoerbei Moeraslande beslaan sowat tien persent van Letland se oppervlakte – 'n persentasie wat bo die gemiddeld in Europa is. 42 persent van die moeraslande is met mos en 49 persent met gras bedek – die res is oorgangsgebiede. Könnecke (2009), bl. 50 Die helfte van alle Letlandse moeraslande is ongerepte landskappe en 'n natuurlike habitat vir skaars diere en plante waar meer as twintig beskermde plantsoorte aangetref word, asook 'n rusplek vit trekvoëls soos krane en ganse.

Die moeraslande se vyftien tipiese voëlspesies sluit onder meer kraanvoëls, goudpleviere (Pluvialis apricaria), korhoens (Lyrurus tetrix), smellekens (Falco columbarius) en slegvalke (Falco peregrinus) in. 'n Verskeidenheid eetbare bessies, wat in oestyd talle versamelaars lok, aard in hierdie vogtige gebiede, soos mos-, blou-, bosbessies en skaars dwergmoerbeie (Rubus chamaemorus).

Daar is egter ook bedrywighede wat die moerashabitat agteruit laat gaan en uitdroging bedreig soos kommersiële turfontginning. Letlandse turf word veral na Wes-Europese bestemmings uitgevoer.

Klimaat duimnael|Donker wolke oor die Oossee Letland is in die oorgangsgebied tussen die gematigde maritieme klimaat van noordelike Sentraal-Europa en die kontinentale klimaatsone van Oos-Europa geleë. Die land het dus net soos die ander twee Baltiese lande 'n koel-gematigde klimaat met lang en koue winters waartydens die kwik benede vriespunt daal (en wat in sommige jare van Oktober tot April kan duur), en gematigde somers met gemiddelde temperature van tussen 16 en 17 °C. Lente en herfs is korter as in Sentraal-Europa. In Letland word jaarliks tussen 1 800 en 1 900 sonskynure aangeteken. Die jaarlikse gemiddelde temperatuur beloop in Riga naastenby 6 °C, met 'n gemiddelde jaarlikse reënval van 600 mm.

Die Letlandse kusgebied word deur relatief gematigde temperature gekenmerk, terwyl die binnelandse geweste groter temperatuurskommelinge ondervind. In die afgelope dekades is die Oosseegebied sterker deur verwarming geraak as ander wêrelddele sodat veral tydens die winter en lente hoër temperature aangeteken word en die Oossee se oppervlak in wintermaande nie meer dikwels bevries raak nie. Die somerneerslae het gelyktydig afgeneem, terwyl gedurende die winters meer reënval aangeteken word. Die watertemperatuur styg in Augustus tot sowat 17 °C.

Geskiedenis Vroeë geskiedenis duimnael|Baltiese stamme in die 12de eeu n.C. (Litause kaart) Die eerste menslike nedersettings in die gebied van die huidige Letland het in die 9de millennium v.C. ontstaan. Baltiese stamme, die voorvaders van die Letlanders en Litauers, het hulle in die tweede helfte van die 2de millennium v.C. hier gevestig en die Fins-Oegriese volke verdring of geassimileer.

Teen die begin van ons tydrekening het Letland as kruispunt van belangrike handelsroetes bekend gestaan – die sogenaamde "Roete van die Wikings tot by die Grieke", waarna in ou kronieke verwys word, het vanuit Skandinawië deur die huidige Letland langs die Daugava-rivier na Rusland en na die Bisantynse Ryk geloop. Die Baltiese stamme was self by handelsaktiwiteite betrokke en het veral barnsteen uitgevoer wat tydens die antieke oudheid en die Middeleeue dikwels kosbaarder geag is as goud. Letlandse barnsteen was sowel in die antieke Griekse wêreld asook in die Romeinse Ryk gewild.

Middeleeue duimnael|Die Livlandse Konfederasie duimnael|'n Ou kaart van LyflandJoannes Portantius, 1573