Oekraïne (Oekraïens: Україна, Oekrajina, [ʊkrɐˈjinɐ], ) is 'n land in Oos-Europa wat in die suide aan die Swartsee, in die ooste aan Rusland, in die noorde aan Belarus en in die weste aan Pole, Slowakye, Hongarye, Roemenië en Moldowa grens.

duimnael|links|Die blou hemel en uitgestrekte graanvelde versinnebeeld die nasionale kleure van Oekraïne duimnael|links|Kaart van Oekraïne duimnael|links|Topografiese kaart van Oekraïne Oekraïne is die tweede grootste land in Europa ná die Russiese Federasie en die grootste wat in sy geheel in Europa lê. Die hoofstad en grootste stad is Kijif. Noord van Kijif lê Tsjornobil (vroeër bekend as Tsjernobil) wat met die kernramp van 1986 verbind word. Drie groot riviere deurkruis die land, die Dnipro (in die weste tot onlangs hoofsaaklik bekend onder sy Russiese naam Dnjepr), die Dnister en die Donets.

Deur die loop van die geskiedenis het Oekraïne en sy streke deel uitgemaak van minstens 14 verskillende state voordat dit uiteindelik in die laat 20ste eeu as onafhanklike republiek gevestig is. Die belangrikste van hierdie moondhede was die Koninkryk Pole-Litaue, die Russiese Tsareryk en die Sowjetunie. Bundeszentrale für politische Bildung (bpb): Geschichte der UKraine im Überblick. Besoek op 31 Maart 2019

Volgens oorlewerings was Kiëf-Roes, 'n ryk wat in die 9de eeu deur Skandinawiese Warangiërs gestig is, die eerste histories gedokumenteerde Oos-Slawiese staat. Dit het in die Middeleeue tot 'n magtige ryk ontwikkel, maar later, in die 12de eeu, verbrokkel. Teen die middel van die 14de eeu het Oekraïense gebiede onder die bewind van drie vreemde moondhede gestaan – die Goue Horde, die Grootvorstedom Litaue en die Koninkryk Pole. Ná die Groot Nordiese Oorlog (1700–1721) het Oekraïense gebiede deel geword van 'n aantal streeksmoondhede. In die 19de eeu is die grootste deel van die land by die Russiese Ryk ingelyf, terwyl die res onder Oostenryks-Hongaarse bewind gestaan het.

Ná die Eerste Wêreld- en die Russiese Burgeroorlog is Oekraïne deur gewapende konflikte geteister, terwyl tussen 1917 en 1921 verskeie pogings onderneem is om die land as onafhanklike staat te herstel. Ondanks internasionale erkenning het Oekraïne onder Sowjet-Russiese invloed gekom om op 30 Desember 1922 as Oekraïense Sosialistiese Sowjetrepubliek een van die stigtersrepublieke van die Sowjetunie te word. Kort voor en ná die Tweede Wêreldoorlog is gebiede langs die westelike grens by die Oekraïense SSR ingelyf. In 1954 het die Krimskiereiland onder Oekraïense administrasie gekom. Die Oekraïense SSR was in 1945 een van die stigterslede van die Verenigde Nasies.

Oekraïne het sy onafhanklikheid ná die verbrokkeling van die Sowjetunie in 1991 herwin. Die oorskakeling na 'n markekonomie was 'n moeilike proses wat met 'n lang resessie gepaard gegaan het. Die globale ekonomiese krisis in 2008 het die land nog eens in 'n resessie gedompel. Intussen toon die Oekraïense bruto binnelandse produk hoë jaarlikse groeisyfers. Oekraïne het tot 'n belangrike mark van globale betekenis ontwikkel en was in 2011 die derde grootste graanuitvoerder ter wêreld.

Etimologie Landsnaam duimnael|Oekraïne onder Władysław II Jagiełło van Pole as "Ukraine" duimnael|Uittreksel uit die Evangelie van Peresopnytsia (Matteus 19,1) (1556), waar die woord "ukrainy" (оукраины) met "kus" (KJV-Bybel) of "streek "(NIV-Bybel) ooreenstem duimnael|Titel van die Beauplan-kaart "Ukrainae pars" uit 1648 Die eerste historiese verwysing na die landsnaam "Oekraïne" kom in die Kiëfse Hypatius-kroniek van 1187 voor, in 'n teksgedeelte oor die Suid-Russiese prinsdom Perejaslaf. litopys.org.ua In latere kronieke word die naam met betrekking tot verskillende geweste van die Roes gebruik, insluitende gebiede wat ver buite die huidige Oekraïense staatsgebied geleë is.

'n Tradisionele etimologiese verklaring vir Oekraïne is die Oud-Oos-Slawiese woord ukraina wat as "grensgebied, militêre grens" vertaal kan word en dieselfde betekenis het soos sy westerse eweknie Mark (byvoorbeeld in Ostmark, 'n ouer benaming vir Oostenryk, of Mark Brandenburg). Ф.А. Гайда. От Рязани и Москвы до Закарпатья. Происхождение и употребление слова «украинцы» // Родина. 2011. № 1. С. 82-85. litopys.org.ua: Yak nazva Hierdie sienswyse oorheers sowel die internasionale asook die Oekraïense geskiedskrywing, veral aangesien dit onder meer deur die bekende geskiedkundige Michailo Hroesjefski en die "Ensiklopedie van Oekraïne" (Енциклопедія українознавства) gedeel word. З ЕНЦИКЛОПЕДІЇ УКРАЇНОЗНАВСТВА; НАЗВА «УКРАЇНА»

Die meeste outeurs is hulle daaroor eens dat hierdie benaming, wat aanvanklik na die sogenaamde Wilde Veld, 'n grensgebied met Turkse ruiternomades verwys het, oor 'n lang tydperk nie met 'n bepaalde etniese groep verbind is nie. Daar is verskillende opvattings oor die tydperk waarin dié naam vir die eerste keer as sinoniem vir Klein-Rusland gebruik is, soos Oekraïne in die Russiese Ryk in die kerklike en amptelike taalgebruik genoem is.

Die Oos-Slawiese etimologiese wortel krai verwys egter sowel na 'n "rand, grens" asook na "gebied, land". Die moderne nasionale geskiedskrywing in Oekraïne beweer dan ook dikwels dat die naam Ukraina in kronieke vanaf die 12de eeu eerder na 'n "selfstandige gebied" of "prinsdom" verwys het, terwyl 'n "grensland" okraina genoem is. Григорій Півторак. Походження українців, росіян, білорусів та їхніх мов Hierdie hipotese word egter nie deur die meeste ander navorsers of primêre historiese bronne gedeel nie.

Volksnaam In teenstelling met die landsnaam het die etnoniem "Oekraïner" eers teen die begin van die 20ste eeu gebruiklik geraak. Nog in die Middeleeue is na alle Oos-Slawiese volke – Russe, Oekraïners en Wit-Russe – as Rus verwys. Hiervan is die etnonieme Rusyn/Rusak/Roeteen (Roeteniër) afgelei wat in Oekraïne en Wit-Rusland nog tot in die 20ste eeu algemeen gebruik was, net soos die Russiese benamings vir Rus (russkij) en Rusland (Rossija). Andreas Kappeler: Die Ukraine – ein Land wischen West und Ost. In: Info aktuell. Informationen zur politischen Bildung, nommer 28/2015, bl. 2 In Oekraïne is na Russe tradisioneel as "Moskouers" (moskali) verwys om hulle van die "eintlike Rus" te onderskei.

Vanaf die 16de eeu is die term Klein-Rusland (Malorossija) vir Oekraïne gebruik – 'n benaming wat aan die Middeleeuse Griekse taalgebruik ontleen is. Klein-Rusland en Klein-Russe was in die Russiese Ryk vanaf die middel van die 17de eeu die amptelike terme waarmee na Oekraïne en Oekraïners verwys is. Eers vanaf die laat 19de eeu is aan dié terme 'n negatiewe konnotasie van "klein" en "minderwaardig" geheg.

In die Habsburgse Ryk is na Oekraïners steeds as Roetene (Roeteniërs) verwys. Die Oekraïense nasionale beweging het ten gunste van die benamings Oekraïne en Oekraïners gepleit wat egter eers ná 1917 in die Oekraïense Volksrepubliek, in die Oekraïense Sowjetrepubliek en uiteindelik in die onafhanklike Republiek Oekraïne algemeen gebruiklik geraak het.

Geografie Landskapsvorme duimnael|300px|links|Die Swartsee en die dorp Gaspri, soos gesien vanaf die bergpiek Ai-Petri in die Krimgebergte duimnael|Digtersnarsings (Narcissus poeticus) was naamgewers vir die Narsingvallei in die Transkarpatestreek duimnael|Die Karpate-bergreeks in Wes-Oekraïne Met 'n oppervlakte van meer as 600 000 km² is Oekraïne die tweede grootste land in Europa ná Rusland. Ten opsigte van sy bevolking van meer as 46 miljoen neem dit die sesde plek in Europa in, alhoewel sy bevolkingsdigtheid van sowat 73 inwoners per km² laer is as in die meeste ander Europese lande. Opvallend hoog is die aandeel van landbougrond wat in die woudsteppe en steppe meer as 90 persent beloop.

Die Swartsee en die Karpate-bergreeks vorm 'n natuurlike grens in die suide, net soos die waterryke Pripjat-rivier met sy moerasgebiede in Noordwes-Oekraïne. Daarteenoor is Oekraïne in die ooste, noorde en weste 'n uitgestrekte oop land wat in sy geskiedenis steeds weer deur vreemde magte binnegeval is – van die Mongole-inval in die 13de eeu tot die Duitse inval in 1941. Thomas Gerlach en Gert Schmidt: Ukraine – zwischen den Karpaten und dem Schwarzen Meer. Berlyn: Trescher 2011, bl. 21

Aangesien die grootste deel van die staatsgebied (sowat 95 persent) in die Oos-Europese Vlakte geleë is, word Oekraïne tradisioneel by Oos-Europa gereken. Die res van die land word by Sentraal-Europa (die Karpate-begreeks en die gebied van Lemberg) en Suidoos-Europa (Odessa en die Krim-skiereiland) gereken.

Daar is min landskapsvorme buite die groot uitgestrekte vlaktes met hul vrugbare swart grond en die steppelandskappe, hoofsaaklik in Suidwes-Oekraïne en in die uiterste suide van die land. In die suid-weste strek die Oekraïense staatsgebied tot in die Woudkarpate en die Pannoniese Laagvlakte. Die hoogste bergpiek is die Howerla in die oostelike Karpate-reeks op 2 061 m bo seevlak. Roman Kosj (1545 m) is die hoogste piek op die Krim-skiereiland. Minder as twee persent van die staatsgebied is hoër geleë as 1 000 m.

Oekraïne se aandeel aan die Oos-Europa Vlakte word veral in die noorde en suide deur uitgestrekte laaglande (Oekraïens Низовина) soos die Dnipro-laagland en die Swartseevlakte oorheers wat tussen 0 en 200 m bo seevlak geleë is. Weens die klein hoogteverskille in dié gebied vloei riviere hier besonder stadig. Veral in die Sentraal-Oekraïense Oblast Poltawa is kleiner aardgas- en olievelde ontdek wat egter by verre nie in die land se behoeftes aan fossiele brandstowwe kan voorsien nie. Olievelde in die Swartsee, wat tans nog nie ontgin word nie, het moontlik baie groot potensiaal. Hul ontginning word onder meer deur 'n grensgeskil met die suid-westelike buurland Roemenië bemoeilik.

Die sentrale landsdele word deur hoër geleë gebiede oorheers wat in Oekraïens plate (Височина) genoem word, waaronder die Podoliese of die Donetsplaat met hoogtes van tussen 200 en 500 m bo seevlak. Die gesteentes in hierdie streke is al in die Paleosoïkum gevorm en eers gedurende die laaste tien miljoen jaar tydens die ontstaan van die Alpidiese bergreekse weer na die oppervlak opgehef. Hulle is ryk aan minerale en fossiele energiebronne soos ystererts en steenkool. Baie groot ysterertsreserwes word in die gebied van Kriwoi Rog in die Oblast Dnipro aangetref, terwyl steenkool hoofsaaklik in die omgewing van Donetsk ontgin word. Ystererts en steenkool het die basis vir Oekraïne se swaar nywerhede gevorm. Van die riviere in die gebied het diep in die platelandskap ingesny.

Die noord-weste van Oekraïne staan tradisioneel as Wolhinië bekend, 'n gebied wat saam met Galisië as die bakermat van die onafhanklike Oekraïense republiek beskou word. Hierdie streke is eers gedurende die Tweede Wêreldoorlog deur Pole aan die destydse Sowjetunie afgestaan. Dele van Wes-Oekraïne het, met klein uitsonderings, nooit deel uitgemaak van 'n ryk wat vanuit Moskou geregeer is nie. Nadat die russofiele beweging in Galisië deur die Oostenryks-Hongaarse owerheid vernietig is, was die bevolking merendeels gereserveerd teenoor Rusland. Die bakermat van die Oekraïense taal en kultuur is egter in die Dniprogebied suidwes van Kiëf geleë waar in die 17de eeu 'n tyd lank 'n Kosakkestaat bestaan het.

Grensland Die tradisionele vertaling van Oekraïne as Grensland verwys na die belangrike feit dat die land al duisende jare lank 'n soort grens tussen geografiese, kulturele, politieke, godsdienstige en ekonomiese ruimtes gevorm het. Oorspronklik was dit 'n grens tussen die uitgestrekte oop vlaktes en die beskermende bosgebiede. Later was dit 'n kulturele grensland tussen Rooms-Katolisisme, Oosterse Ortodoksie en Islam. Gedurende die 19de en 20ste eeu het die grenslyn tussen die verdrukkende bewind van die Russiese Tsareryk en sy meer demokraties gesinde westelike buurlande, tussen die politieke en ekonomiese stelsels van Sowjet-Russiese kommunisme en Westerse kapitalisme deur Oekraïne geloop.