duimnael|320px|’n Toneel in die kamp by Swartbooisdrift tydens die repatriasie van die nasate van die Dorslandtrekkers in 1928. Die Uniale regering het die meeste van die mense in die noorde van Suidwes help vestig. duimnael|320px|Die kamp by Swartbooisdrift van waar Angola-Boere in 1928 gerepatrieer is.

Die Gereformeerde kerk Humpata was die Gereformeerde Kerk se oudste gemeente in die destydse Portugees-Wes-Afrika (Angola) wat gestig is nadat lede van die Dorslandtrek, wat oorspronklik meestal uit Gereformeerdes bestaan het, hulle in die suidweste van die kolonie gaan vestig het. Dié wat nie tot die Gereformeerde Kerk behoort het nie, het hulle weldra by dié kerkverband aangesluit.

Die gemeente Humpata is op 20 Desember 1881 gestig, maar in 1928 ontbind nadat die Uniale regering 350 van die net meer as 400 gesinne na Suidwes-Afrika gerepatrieer het ingevolge ’n skema wat £500 000 gekos het. Die meeste het hulle in die noorde van die gebied gevestig waar die Gereformeerde kerk Gobabis in 1930 as eerste Gereformeerde gemeente in Suidwes gestig is; Outjo en Aranos (tot 1938 bekend as Gibeon en tot 1959 as Omrah) het in dieselfde jaar aan die beurt gekom.

Ná 1928 het net sowat 400 Afrikaners in Angola agtergebly. Vanaf 1958 is die meeste na Suidwes- en Suid-Afrika gerepatrieer sodat net enkeles in Angola agtergebly het. Met die uitbreek van die Burgeroorlog in 1975 het die laaste Afrikaners uit Angola gevlug. Dit was die einde van die Angola-Boere se verbintenis met dié Wes-Afrikaland.

Die Dorslandtrek duimnael|links|200px|Die vernaamste beweegrede vir die Dorslandtrek was dit wat die trekkers beskou het as pres. Thomas François Burgers se onchristelike bestuur van die ZAR. duimnael|220px|Gert Alberts (1836-1927), leier van die eerste Dorslandtrek. Omstreeks 1874/’75 het op staatkundige gebied in die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) ’n beroering gekom met die trekbewegings wat altyd meer en meer aandag begin geniet het. Die redes vir hierdie trekbewegings is moeilik om vas te stel, aangesien geen leidende figuur of instelling ’n manifes uitgereik het nie. Dit blyk die meeste trekkers het gekom uit die distrikte Rustenburg en Pretoria. Verskillende redes is genoem, byvoorbeeld die ongodsdienstigheid van die owerheid; die algehele vrymaking van die gekleurdes en ander onbestaanbare wette.

Ds. Dirk Postma jr. gee die redes as volg weer in sy boek De trekboeren te St. Januario, Humpata, wat in 1896 verskyn het: “’n Mens sou kon vra wat hierdie burgers van die Zuid-Afrikaansche Republiek gedring het om noordwaarts te trek. En seker is dit belangrik om na die redes van die trek ondersoek in te stel en daarop ag te gee. Stellig dink ek dat die ou bekende trekgees – treklus – van die Afrikaner daarmee te doen gehad het; tog is daar nog baie ander redes op te noem. Veroorloof my om dit te doen in die woorde van ds. S.J. du Toit van die Paarl. In April van hierdie jaar het ek hom op ’n terugreis van Pretoria af op die trein ontmoet, en onder meer het ons oor die trekboere gepraat.

“Terwyl ek geweet het dat ds. Du Toit destyds ’n reis deur die ZA Republiek gemaak het, het ek hom later geskrywe en gevra om sy opinie insake die redes wat aanleiding gegee het tot die trek, vir my op skrif te stel; en met sy verlof en my hartlike dank daarvoor laat ek dit nou hier volg soos hy dit gestel het: ‘Wat die trekboere na Humpata aangaan, het ek juis voor die uittog begin het, as proponent Transvaal deurreis en met baie van die persone gepraat; en sover ek my herinner, was die hoofredes deur hulle toe genoem, die onchristelike bestuur van wyle die arme oudpresident Burgers, wat toe op so ’n toppunt van glorie gestaan het, dat hulle gewanhoop het of hulle hom ooit sou kon ontsetel. Ek het van die mense letterlik hoor sê: “Die antichris is nou in die land, dus moet ons maar daaruit trek.” Ek het hulle met weemoed hoor vertel hoedat die president opsetlik, tot ’n grief vir die gelowiges, op Sondae dorpe en stede besoek het onder luidrugtige demonstrasies van sy geesgenote; hoe hy vrymesselaarslosies en danssale help stig het en daarin as voorman opgetree het, ens.”

“‘Maar my eie oortuiging is: dat God ’n besonderse doel gehad het met die rampspoedige trek. Immers, juis kort voor die anneksasie het die treurige berigte gekom van die lyde van die trekkers. As dit nie gebeur het nie, dan sou ’n tien of twintig maal grotere trek die land uitgegaan het, moontlik onder aanvoering van manne soos president Kruger en generaal Joubert! En dan: 1 sou die ellende en die verlies van ons jong nasionaliteit des te groter gewees het, en 2 dan sou die wat agtergebly het, te swak en ontmoedig gewees het om hulle te ontworstel aan die juk wat hulle opgelê was, want tot aan die anneksasie was die behoud van ons swak en jeugdige nasionaliteit steeds gewees om te wyk en pad te gee vir die stroom van Britse oorheersing. Maar daar het die terugslag begin wat nog voortgaan en die golf terug sal dring tot by die see vanwaar dit gekom het. Uit daardie kwaad wat die arme ongelukkiges oorkom het, het God dus ’n heerlike goed laat verrys, soos so dikwels in die geskiedenis van die kerk en selfs van die wêreld gebeur het’.”

Met hierdie opvatting van ds. Du Toit stem ds. Postma heelhartig saam. Ongelukkig het ds. Du Toit nie gesê waarop sy bewering van die groter trek onder Kruger en Joubert berus het nie, maar in ’n brief van Paul Kruger gedateer 13 Maart 1874 en wat in De Maandbode verskyn het, het hy hom soos volg uitgelaat oor die trek: Hy keur die trekbeweging ten sterkste af en sy argument: God sal nie meetrek nie omdat deur die trek die Kerk verswak word en die Teologiese Skool op Burgersdorp benadeel word. Die trek as sodanig was ’n politiek burgerlike aangeleentheid, soos blyk uit die volgende sin uit prof. G.B.A. Gerdener se Boustowwe vir die geskiedenis van die Nederduits-Gereformeerde Kerk in die Transgariep (1930) : “Swaar het dit vir ons geval om ons Kerk te verlaat maar nie die land nie.”

Aankoms in Angola Die trekkers was vir die grootste gedeelte lidmate van die Gereformeerde Kerk. Die mense het nie as een verenigde groep trekkers die land verlaat nie. Die eerste groep, meesal bekend as die Van der Merwe-trek, was reeds ’n geruime tyd weg toe die tweede onder Louw du Plessis die land verlaat. Die tweede groep het die Kalahari in April 1877 aangedurf en in ’n stadium bestaan uit 480 blankes en ’n aantal bediendes met 128 waens en 1 958 trekosse, maar uiteindelik ongeveer 700 persone getel. Van die begin was daar onderlinge tweespalt. Later het hierdie twee aparte groepe tog ’n eenheid gevorm om so as ’n verenigde trek verder deur te sukkel, maar die trek was heeltemal groot vir die roete waarop water uiters skaars was. Op plekke moes die water lepelsgewys uitgedeel word of modder deur handdoeke en hemde gedruk word vir vogtigheid. Die ontberinge wat die mense deurgemaak het en wat in die bestek van vyf jaar amper die helfte van die trekkers, wit en bruin, se lewe geëis het, was byna onbeskryflik. Die dodetal onder mense in die eerste twee maande, was reeds 37. Die meeste van die vee het ook langs pad gevrek. ’n Derde, kleiner trek het die Kalahari veilig deurgedring. Die eerste oorgeblewenes het, nadat hulle op Rietfontein in Suidwes-Afrika aangekom het, eers geruime tyd daar vertoef. Nadat nog trekkers hulle by hulle aangesluit het, het hulle in die Kaokoveld gaan vestig en 18 maande daar gebly.

In Desember 1880 het die trekkers in Portugees-Wes-Afrika aangekom, nadat hulle die voorafgaande vyf jaar groot verliese aan besittings gely het. In die nuwe land het hulle in Humpata gaan woon as ’n groep nedersetters onder die Portugese regering. In Desember 1880 het die goewerneur-generaal van Angola aan die goewerment berig gestuur dat daar ’n groep trekboere by die Kunenerivier aangekom het en deurgetrek het tot by Humbe, waar hulle ’n tydjie sal vertoef voor hulle na Huila sal gaan, asook dat hulle van voorneme is om in die Portugese gebied grond aan te vra om te dien vir landbou en veeteelt en hulle dan so te vestig onder die weldadige beskerming van die Portugese vlag en verder mee te help om die Portugese Ryk te verstewig en deel te neem aan die beskawing en opheffing van die “naturelle”.

Hierdie boere sou dan ’n soort trekkende kolonie uitmaak wat na die ontberinge in die binnelande van Afrika nou hier rustig onder beskerming van die Portugese vlag wou woon, terwyl hulle die politieke en administratiewe Grondwet wat die nasie aan hulle voorgeskryf het, sou eerbiedig, tevrede met die voorregte wat die land aan sy onderdane gegun en verseker het. So sou hulle die vrugbare velde van Humpata, met ’n uitnemende klimaat en oorvloed van standhoudende water, gaan bewoon. Die genoemde Kolonie het bestaan uit 270 blankes en 50 swart arbeiders. Op daardie tydstip het almal saam 64 huise, 52 waens, 8 perde, 523 trekosse, 511 beeste, 71 skape en 79 bokke besit. Dit was al wat oor was van die 800 siele wat sewe jaar tevore uit Transvaal vertrek het en daardie hele tyd in die binnelande van Afrika rondgeswerwe het.

Ooreenkoms met Portugese owerheid Ongetwyfeld is die nodige onderhandelinge gevoer met die Portugese amptenare, en nadat die Boere gevra het om in die velde van Huila en Humpata te mag woon, is die volgende ooreenkoms aangegaan tussen die twee partye: Die Goewerment sal aan elke gesin ’n stuk grond toeken groot 200 ha op die plek wat elkeen self as sy eie (stuk grond) sou uitkies ooreenkomstig die bepalinge van 21 Augustus 1856, 4 Desember 1861 en 10 Oktober 1865, wat sulke skenkinge gereël het. As die skenking verkry is, belowe die Boere om hulle aan die Portugese wette te onderwerp, hoewel hulle hulle nog as vreemdelinge beskou het. Die vrye uitoefening van hulle godsdiens is toegestaan ooreenkomstig artikels 6, 145 en 4 van die konstitusionele wette van die land. Hulle sou gedurende die eerste 10 jaar volgens die Wet van 4 Desember 1861 geen belastings betaal nie. Hulle sou die reg hê om diensbares onder kontrak aan te hou volgens die Wet van 29 April 1875; diensbares in hulle diens sou egter onder toesig staan van die Goewermentsamptenare. Hulle sou die reg van verdediging hê ingeval hulle aangeval sou word deur naturelle, maar reg om ’n aanvallende oorlog te begin, sal hulle nie hê nie, en in elke geval sal hulle hulle tot die Goewerment kan wend. En in geval van voorkomende diefstalle, moord of andersins sal die Goewermentsamptenaar tot hulp geroep word om daarin te handel volgens die oomblik en volgens reg. Gronde wat die naturelle bewerk, is hulle eiendom en kan nie aan die Koloniste gegee word nie en kan ook nie van die naturelle afgeneem word nie. Hulle belowe om hulle families te gaan haal en hopelik in Desember 1880 of Januarie 1881 te Huila sou aankom. Intussen sou pogings in die werk gestel word om ’n goeie vertaler te bekom. Op hierdie gronde sou die Goewerment hulle verwelkom, maar as hulle dit nie wou aanvaar nie, sou hulle nogtans as gewone vreemdelinge verwelkom word.

Die Goewerneur het eindelik ook nog onderneem dat hierdie onderhandelinge beskrywe sou word en dat dit onderteken sou word deur die aanwesige persone. Dit is so aanvaar, en die Portugese owerheid het J.F. Botha, wat onder die emigrante as kommandant bekend was, aangewys as ’n soort landdros of tussenpersoon tussen die Goewerment en die emigrante.

Die naam van die nuwe nedersetting sou wees Humpata St. Januario, ter ere van die destydse Portugese minister van kolonies. Op 28 Desember 1880 het die goewerneur van Mossamedes, kol. Sebastiao Nunes da Matta en sy mense en J.F. Botha en syne die nodige stukke onderteken, sodat die nuwe kolonie gestig kon word. Die voorwaardes van stigting het aangesluit by die bogenoemde, en in art. 5 daarvan is nog weer die vrye en onbelemmerde uitoefening van hulle godsdiens genoem.

Trekkers se kerklike posisie