duimnael|regs|320px|Die kerkgebou in 2016.

duimnael|regs|300px|Die ingebruikneming van die nuwe Gereformeerde kerk op Dordrecht in 1907. Die kerkraad staan op die trap voor die deur.

Die Gereformeerde kerk Dordrecht is 'n gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika op die Noordoos-Kaapse dorp Dordrecht wat gestig is in 1869, net 10 jaar ná die kerkverband.

Agtergrond duimnael|230px|links|Proff. Dirk Postma en Jan Lion Cachet by vyf van die eerste teologiese studente van die kweekskool op Burgersdorp: M. Pelser, S. Venter, L.J. du Plessis, M.P.A. Coetsee jr. en W.J. Snyman. Ds. Postma en studente Coetsee en Du Plessis het die voorbereidende vergadering tot die stigting van die Gereformeerde gemeente Dordrecht op 5 Maart 1869 bygewoon.

Op 29 November 1868 het 'n kommissie onder voorsitterskap van ds. Dirk Postma, die grondlegger van die Gereformeerde Kerk, 'n verslag aan die Gereformeerde kerk Burgersdorp gelewer oor die moontlike afstigting van 140 lidmate in die omtrek van Dordrecht waar reeds in 1856 'n gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk gestig is. Die kommissie het bestaan uit ds. Postma, P.G. van Wijk en L.J. van der Walt. Hulle het bevind dat al die lidmate die plan om af te stig goedgekeur het en dit verlang, dat van die 140 lidmate net 10 vir eers nog onder Burgersdorp se gemeente wou ressorteer en dat dié lidmate vasgestel is as dié wat in die omgewing van Dordrecht woon en dat waterskeiding van Zwarthoogte die skeidslyn tussen Dordrecht en Burgersdorp sou wees.

As redes vir afstigting het die kommissie aangevoer die afstand tussen Dordrecht en die gevestigde gemeentes van Burgersdorp en Aliwal-Noord. Hulle sou hul sake beter kon besorg wanneer hulle as 'n selfstandige gemeente kon bestaan. En die vernaamste rede: Dat dit die opbouing en uitbreiding van Gods koninkryk beter sou dien as die mense tot 'n aparte gemeente sou kon afstig. Dié bevindings en redes het Burgersdorp se kerkraad algemeen aanvaar.

Op 5 Maart 1869 is 'n voorbereidende vergadering tot die stigting van die Gereformeerde gemeente op Dordrecht gehou waarop die volgende kerkraadslede teenwoordig was: D. Postma (voorsitter), ouderlinge N. Kruger, Pieter Hendrik Kruger, Gerrit Hendrik Jacobus Kruger, W.J. van Biljon, P.C. Snijman en diakens Johannes Lodewikus Venter, Johannes Christiaan Biujs, G.J. Steenekamp, W.A. de Klerk en P.J. Grobler. Die volgende teologiese studente van Burgersdorp het saam met ds. Postma gekom om die verrigtinge by te woon: P.J. Viljoen, A.A.A. de Klerk Coetzee, M.P.A. Coetsee en L.J. du Plessis. (Coetsee en Du Plessis verskyn saam met proff. D. Postma en Jan Lion Cachet op die eerste foto wat van die Teologiese Skool se hoogleraars en studente geneem is.)

Gemeentestigting duimnael|regs|200px|Ds. Dirk Postma het dié weergawe van die stigtingsverrigtinge van die gemeente op die eerste twee bladsye van die kerkraadsboek geskryf. Dit is die eerste bladsy.

duimnael|links|170px|Ds. Edmund de Beer van die NG gemeente Dordrecht was volgens oorlewering een van die belangstellendes wat die verrigtinge op die stigtingsnaweek van die Gereformeerde gemeente Dordrecht bygewoon het.

Die volgende dag is 'n openbare samekoms met die gemeente gehou waarop die volgende twee afgevaardigdes van Aliwal-Noord teenwoordig was: ouderling J.L. van Niekerk en diaken J.A. Kotzé. Op hierdie vergadering is die volgende besluit: Die gemeente word in die naam van die kerkraad verklaar gestig te wees geheel en al ooreenkomstig met die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika en in gemeenskap met dieselfde. Op die eerste twee bladsye van die kerkraadsboek van die Gereformeerde gemeente te Dordrecht is 'n mooi weergawe van die verrigtinge tydens die stigting in ds. Dirk Postma se eie handskrif. Hy skryf onder meer 'n Gereformeerde Gemeente is op die 6de Maart 1869 op Dordrecht gestig uit lede van die kerk wat tot op hede behoort het aan die Gereformeerde gemeente op Burgersdorp. Die twee ouderlinge en twee diakens, wat reeds tevore in hierdie afdeling gedien het, maak nou die kerkraad van die nuwe gemeente uit. Ds. Postma skryf hy is vergesel van vier van sy kwekelinge, wat hom soms sy plek tydens die toesprake ingeneem het. Op Sondagmôre, 7 Maart, is eers deur eerw. Postma 'n heilige Avondmaal bedien. Die middag het die student P. Viljoen opgetree en Kol. 2:6,7 tot teks geneem. Daardie aand het ds. Postma self weer opgetree en lei die volgende toesprake en met gebed en die voorlesing van Heb. 12 in, waarna student A. Coetsee na vore tree onder die sing van Ps. 133:1 en 'n toespraak lewer tot die gemeente wat hulle afsluit met gebed. Onder die sing van Ps. 90:9 het die student P. Coetzee na vore gekom en ook 'n toespraak gelewer, waarna die verrigtinge afgesluit is met 'n dankgebed. Onder die sing van Ps. 89:7 het die leraar Postma na vore gekom en lofwoorde tot die Here gerig en tot opwekking van die gemeente, waarop ook nog Ps. 147:1 gesing is en hy die seën uitgespreek het.

Ds. Postma maak in sy verslag melding dat nie net lede van die Kerk nie, maar ook vele mense van die dorp en omstreke, wat nog nie tot die nuwe gemeente behoort het nie, die verrigtinge bygewoon het. Hy skryf daar is selfs gesê dat ds. E.Z.J. de Beer van die NG gemeente die Saterdagmiddag teenwoordig was. Hy sluit sy verslag af deur te sê die gemeente hou sy godsdiens in 'n hulpkerk, wat gebou is met die bedoeling dat dit later as pastorie sou kon dien. Dié gebou het gestaan op twee erwe wat die plaaslike NG gemeente aan die Gereformeerde gemeente geskenk het.

Eerste kerkraadsvergadering Op die selfde dag waarop die kerk gestig is, is 'n kerkraadsvergadering ná die gemeentevergadering gehou. Onder meer is die volgende besluite geneem: Die kerkraad versoek ds. Postma om as konsulent op te tree en wens om, so ver moontlik, vier maal per jaar bedien te word. Die kerkraad bepaal die konsulent se vergoeding vir eers op £6 onverminderd sy aandeel van die trougeld. Die diaken Venter word benoem tot kassier en bewaarder van die kerklike boeke. Daar word besluit om die kerkraad van die NG gemeente te vra om vrydom van belasting op die kerkgrond. Ook word besluit om elke tweede Sondag van die maand gesamentlik godsdiens te hou, sover dit moontlik is. Die broeders kerkraad het hul laastens tot die Sinode bepaal en kies diaken J.L. Venter asook albei ouderlinge, uit krag van hul roeping, as afgevaardigdes.

Kerkbou duimnael|330px|regs|Dordrecht se eerste Gereformeerde kerkie soos dit in die sestigerjare gelyk het. Dis nie lank daarna nie gesloop. Volgens oorlewering is die Gereformeerde kerk Dordrecht in 'n sinkskuur van ene Dugmore gestig. Dit het langs 'n winkel gestaan op twee erwe oorkant die Anglikaanse kerk. Teen 1969 het hierdie twee erwe (toe reeds opgedeel in drie, naamlik erwe 569, 563 en 563) aan Symms Marais behoort en het daar 'n woonhuis opgestaan, wat in 1863 opgerig is. Dit is nie bekend of die woonhuis vandag nog staan nie.

Al vroeg ná die stigting is daar gedink aan kerkbou. Die tweede erwe wat die NG gemeente aan die Gereformeerde kerk geskenk het, is reeds op 7 Desember 1868 getransporteer op die naam van die "Hervormde Kerk te Dordrecht". (Dit blyk uit verskeie transportaktes dat die Gereformeerde Kerk in hierdie tyd as die Reformed Church of Hervormde Kerk bekendgestaan het; laasgenoemde is waarskynlik 'n verkeerde vertaling van die Engels. Ds. Postma het egter in sy verslag oor die stigting van die gemeente uitdruklik na 'n "Gereformeerde" gemeente verwys.) In 1869 is 'n begin gemaak met die bou van die kerk, soos blyk uit talle kwitansies, gedateer 7 Januarie, 4 Mei en 17 Mei 1869, en onderteken deur C. Parkes, die kerk se boukontrakteur.

Uit die kasboek van hierdie jaar word vermeld £253.17.0 – geld vir die gebou – is in daardie jaar ingesamel en uitbetaal. Op 10 Mei 1870 word vermeld dat nog £50 verkry is uit bydraes vir die kerkgebou en afbetaal is, en op 12 November 1872 £100 vir die kerkskuld. Dit blyk dis die kerk het altesaam £403.17.0 gekos. Hierdie kerkie is dieselfde gebou wat vandag nog oorkant die nuwe kerk in Voortrekkerstraat op erf. nr. 261 staan en wat as kerksaal gebruik is. Hoewel hierdie kerk in 1906, toe die hoeksteen van die nuwe kerk gelê is, vir £400 verkoop is en eers as bioskoopsaal en toe Voortrekkersaal gedien het, is dit op 13 Februarie 1965 op aandrang van die gemeente se vrouelidmate deur die kerkraad teruggekoop. Dié kerkie het oorspronklik 'n grondvloer gehad en elke drie maande voor Nagmaal moes die koster, 'n broer Piet Nienaber, na die swart woongebied gaan om vroue te kry om die vloer te kom smeer. Die banke was eers anders gegroepeer en die preekstoel het aan die linkersykant in die midde gestaan, terwyl die banke in vier rye, in die vorm van 'n halwe kubus, om die preekstoel gestaan het. Aan die linkersykant was 'n deur waar die predikant en kerkraadslede ingekom het.

Op 26 November 1875 het die kerkraad besluit om banke vir die kerk te laat maak en dat "elk ldimaat zijne plaats maakloon sal betalen". Op 19 Februarie 1876 is in dié verband met die sitplekke se koste besluit dat elke sitplek 15 s. sou kos. Die hele som moes betaal word in drie paaiemente. Op 6 Februarie 1881 is besluit om 'n konsistoriekamer aan die kerk te bou, en op 19 Augustus 1881 om 'n ringmuur om die kerk op te rig, waarvan dekades later nog net enkele oorblyfsels gesien kon word. Tydens die Basotho-oorlog het die Engelse soldate dié kerkie as militêre kaserne gebruik. Daar was sedert 1873 reeds sprake van 'n klok.

Die eerste Kanselbybel wat in dié kerk op die preekstoel gelê het, was 'n geskenk van ds. Dirk Postma, die stigter van die Gereformeerde Kerk sowel as Dordrecht se gemeente. Dié Statebybel is in 1868 in Kampen deur S. van Velzen jr. gedruk en het al die jare in die gemeente se besit gebly. In die Bybel staan die volgende woorde in ds. Postma se handskrif: "Aan mijne geliefde gemeente, de Gereformeerde te Dordrecht. D. Postma v.d.m. April, 1871."

Eerste kerkraad links|230px|duimnael|Ouderling G.H.J. Kruger het in Dordrecht se eerste Gereformeerde kerkraad gedien. Hy het ook bekendgestaan as oom groot Gert Kruger. Die eerste kerkraad het bestaan uit vier lede, vergeleke met ses in 2015. Die ouderlinge was broers P.H. Kruger en H.H.J. Kruger en die diakens broers J.L. Venter en J.C. Buijs. Die gemeente het met sy stigting uit net twee wyke bestaan en die grens met Burgersdorp was die waterskeiding van Swarthoogte. Maar reeds vroeg in 1870 sou daar verandering kom, want op 11 Februarie word besluit dat daar op 19 Junie 'n diens op Waschbank gehou sal word en dat die kerkraad vergroot sou word, veral in belang van die lidmate wat oor Waschbank woon. As ouderling is toe verkies Dirk Hendrik Jacobus Coetzee en as diaken broer Tjaart Erasmus. Op 12 Augustus 1870 het daar weer verandering gekom, want toe besluit die kerkraad om, as dit moontlik is, op enige tye in die jaar gereeld dienste in Waschbank te hou en dat die kerkraad verder vergroot sou word om oor Waschbank nog 'n ouderling en 'n diaken te laat verkies, naamlik in die buurt van die ouderling Coetsee (dié van word in die bron om die beurt met 'n "s" en 'n "z" geskryf) 'n diaken, en in die buurt van die diaken Erasmus 'n ouderling. Op 11 November 1870 is broer Isak Stephanus Cornelius Buijs tot ouderling en broer Hendrik Bernardus Kruger tot diaken verkies. Die kerkraad het in dié geval geen benoeming gemaak nie, maar dit aan die gemeente oorgelaat. Diaken J.L. Venter was in 1869 die kassier van die kerklike boeke en broer Piet Nienaber die koster.

Die eerste afvaardiging na die Sinode wat in 1869 op Potchefstroom gehou is, was die twee ouderlinge, broers P.H. Kruger en G.H.J. Kruger en diaken J.L. Venter. Op hierdie Sinode is baie ernstig gepraat oor die sendingsaak wat ook weerklank gevind het op die kerkraadsvergaderings van die gemeente Dordrecht.

Barkly-Oos stig af