duimnael|320px|regs|Die destydse kerkgebou is geleë op die hoek van Grey- en Bothalaan. Nadat die gemeente met Vereeniging-Oos saamgesmelt het, is die kerk verkoop en word die pastorie verhuur.
duimnael|regs|320px|Die Gereformeerde kerk Vereeniging.
Die Gereformeerde kerk Vereeniging was van 1927 tot 1995 die oudste gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika in die Vaaldriehoek, toe dit met Vereeniging-Noord saamgesmelt het om Vereeniging '95 te vorm. Dié nuwe gemeente het in 2014 185 belydende en 30 dooplidmate gehad en is bedien deur ds. J.H. Jordaan. Vereeniging-Oos het in daardie jaar 362 belydende en 78 dooplidmate gehad. In 2014 is Vereeniging opnuut gestig nadat Vereniging '95 met Vereeniging-Oos saamgesmelt het. So het die drie Gereformeerde kerke in Vereeniging verminder tot net een.
Op die aanliggende Vanderbijlpark het die moedergemeente (gestig in 1951) in 2000 saamgesmelt met Vanderbijlpark-Noord (gestig in 1988) as Vanderbijl, wat in 2009 met Vanderbijlpark-Oos (1974) en Vanderbijlpark-Suid (1962) saamgesmelt het as Vanderbijlpark-Trinitas. Dié gemeente het in 2014 715 belydende en 166 dooplidmate gehad, vergeleke met sy samestellende dele se 1 132 belydende en 432 dooplidmate in 2002. Einde 2015 het die belydende lidmate 418 getel en die dooplidmate 53, 'n afname in die sieletal van 410.
Agtergrond links|310px|duimnael|Die Gereformeerde kerk Vereeniging-Oos, waarin die enkele Gereformeerde kerk in Vereeniging sedert 2014 aanbid. Op die oewers van die Vaalrivier het sedert die 19de eeu 'n aantal Gereformeerde huisgesinne gewoon wat behoort het tot die gemeentes van Heidelberg, Frankfort, Vredefort (later Parys), Potchefstroom en Krugersdorp. Die Gereformeerde kerk Vereeniging was dus 'n organiese ontwikkeling uit die lidmate van dié gemeentes. Ouderling J.C.P. Labuschagne was ouderling in die wyk wat ook gevra is om die wyk finansieel te behartig, aangesien die verkose diaken, A. Kruger, die roeping as diaken nie kon aanvaar nie. Blykbaar het die groepie Gereformeerdes gesentreer rondom Houtkop net buite Vereeniging, want daar is besluit dat "in die wyk Houtkop volle dienste te hou met aanneming van diegene wat daaraan behoefte mag hê en by die geleentheid dan 'n diaken te verkies". Weens swak opkoms kon dit toe nie gebeur nie en het oudl. Labuschagne ingewillig om ook nog die diakenswerk te verrig. As gevolg van swak gesondheid het hy ook ontslag gevra, maar aangesien daar niemand gevind kon word om te dien nie, het hy maar aangebly. Ook broer S. Buys het nie aangeneem nie. Intussen is daar ook Nagmaal bedien by 'n erediens in die geweste van Evaton. Daar was ook 'n kerkgeleentheid op Strydpan en 'n wykskerk op Kliprivier.
In 1921 het ds. D. Rumpff op Vereeniging gepreek en meld hy aan die kerkraad: "Ingeval die verwagte aantal lede van Potchefstroom oorkom, kan daar aldaar 'n ouderling gekies word", waarop 'n kommissie benoem is om op die saak in te gaan. In 1924 word verwys na Vereeniging in verband met die verkiesing van 'n konsulent aangesien daar dan geen bediening sal wees nie. Die "Buitebedieninge" is egter gelaat in die hande van die konsulent. Later is besluit om een Sondag van Alwynspoort af te neem vir bediening op Vereeniging wat sou plaasvind in die Hervormde kerk teen 'n vergoeding van £2.10 terwyl dit vroeër gratis was en daarvan dus nie meer gebruik gemaak sou word nie, waarop 'n verduideliking van ds. L.E. Brand volg.
In 1925 het oudl. J.H. Kruger kennis gegee van 'n voorstel om op die volgende vergadering die selfstandige bestaan van buitewyke weer voor te bring, maar daarvan is afgesien. Die bal is egter aan die rol gesit. Hierna kom daar ’n brief van ds. J.V. Coetzee van Frankfort insake lidmate wat nader aan Vereeniging woon en daar behoort opgeneem te word. Ook van die kant van Vereeniging self word gevra vir afstigting, terwyl die saak ook voor die Klassis gedien het en 'n skrywe ontvang is van die minister van lande. Die saak is egter toe by die bespreking gelaat, maar daar sou voeling gehou word met die wyke van Vereeniging, terwyl ouderlinge Wichers en Ackerman as kommissie sou gaan met die eersvolgende Nagmaal.
Stigting Eindelik in 1927 word ná rype bespreking besluit dat die af te stigte gemeente (van Frankfort, Vredefort en Vereeniging) sou bly ressorteer onder bearbeiding van die predikant van Heidelberg. ’n Minimum bedrag van £90 sou tot Heidelberg bygedra word vir die dienste wat hul leraar moes lewer. ’n Kommissie bestaande uit ouderlinge Bonsma en Kruger en diaken R. Opperman is benoem om die voorwaardes van afstigting op te stel. Dié ooreenkoms is opgestel, aanvaar en onderteken deur 'n groot aantal manslidmate. So is die gemeente op 14 Mei 1927 gestig. Die eerste begroting was ’n karige £116, waarvan aan Heidelberg £90 betaal moes word vir die bediening in die kombinasie.
Beginjare Uit die staanspoor was daar 'n worsteling met finansies om die kop bo water te hou. Ds. N.H. van der Walt van Heidelberg het die gemeente 12 jaar bedien van die stigting in 1927 tot 1939, agt Sondae per jaar. In elkeen van die notules gedurende daardie jare was die finansies ernstig onder bespreking en was daar 'n gedurige tekort waarvoor die kerkraad reeds al op 28 Januarie 1928 reëlings moes tref by die bank vir 'n oordrag. So swaar het die las op die jong gemeente gedruk dat hul nie die verpligte bydrae aan Heidelberg kon bybring nie en telkens die kerkraad van Heidelberg moes nader om vermindering van hul verpligtinge, soos weerspieël in die vergaderings van 18 Augustus 1928, 25 Januarie 1929, 13 Februarie 1932 ensovoorts.
Die moedergemeente se kerkraad moes elke keer ook toegee aan die druk sodat hul uiteindelik alleen £40 van Vereeniging ontvang het vir die dienste wat hul predikant hier moes kom verrig. Geen wonder dat die skriba, G.P. van der Walt, in 'n stuk opgestel met die hoeksteenlegging van die kerk op 3 Desember 1949, die volgende getuig van ds. Van der Walt nie: "Die gemeente kan nooit naas God, sy waardering en gehegtheid in woorde uitspreek teenoor hierdie stille, godvrugtige en geduldige herder en leraar nie."
Dit was egter nie net die verpligtinge teenoor Heidelberg wat gesnoei moes word nie; in ’n stadium het die kerkraad ook die water laat "afsny" vir besparing. Die "treurige posisie van die finansies" is ook voor die gemeente gelê, maar dit het blykbaar nie gebaat nie, want ook die kerklike ramings aan die Administratiewe Buro kon nie bygebring word nie, en daar was gedurige aanmanings van die Buro en van die meerdere vergaderings sodat selfs spesiale visitasie gehou moes word om die saak onder oë te sien nadat die kerkraad reeds om afskrywing van die agterstallige geld gevra het, wat dan ook bewillig is. Maar al was die finansies van die gemeente in so 'n benarde toestand in hierdie jare van Depressie en "armblankedom", wat daar tog geleidelike groei van die lidmate, byvoorbeeld:
1927: 100 lidmate 1930: 120 lidmate 1933: 136 lidmate 1936: 161 lidmate 1939: 257 lidmate 1942: 283 lidmate
Die gemeentelike aktiwiteite het ook nie agterweë gebly nie. Kerkdienste is gereeld gehou, behalwe die agt dienste van die leraar, deur die ouderlinge in die wyke een keer per maand en in die dorp in die skoolgebou totdat die gemeente sy eie kerkgebou opgerig het en die dienste beter georganiseer kon word. Daar was die een groot ideaal by almal om so gou moontlik 'n eie kerkgebou op te rig op die kerkerwe wat wyle minister P. Grobler aan die gemeente toegesê het – vier goewermentserwe wat nog beskikbaar was. As erkentlikheid wou die kerkraad dat min. Grobler die hoeksteen van die kerkgebou lê. Die erwe het egter nie aaneen gelê nie, maar is later deur die Vereeniging Estates in ruil geneem vir vier ander erwe, 97, 98, 156 en 157, op die hoek van Botha- en Greylaan, waarop die eerste en later die huidige kerkgebou van die gemeente Vereeniging '95 toe opgerig is.
Eerste kerkbou duimnael|regs|190px|Prof. dr. C.J. de Wet het die rede gehou tydens die ingebruikneming van Vereeniging se eerste Gereformeerde kerkgebou op 27 Augustus 1931.
Die kort tydsverloop tussen die stigting van die gemeente op 14 Mei 1927 en oprigting van die eerste kerk, bewys die kerkraad het nie stilgesit nie, maar was van die begin af baie aktief. So is op 12 November 1927 aandag geskenk aan die oprigting van 'n eie kerkgebou wat in 1931 ’n werklikheid geword het. Die eerste vermelding van die kerkboufonds van £122.7.6 was reeds op 20 Oktober 1928. Maar die kerkraad wou nie begin met bou voordat hul nie £500 ingesamel het vir 'n beraamde gebou van £1 000 nie. Bouplanne is bespreek en ondersoek is ingestel na die moontlikheid van gratis stene van Vereeniging Brick & Tile, wat nie bewillig is nie. 'n Lening van £400 is verkry van ds. Van Rooy. Eindelik is tenders gevra en dié van I.L. Terblanche vir £880 aangeneem. Maar 'n nuwe probleem duik op. Die departement van lande weier om 'n verband vir die lening te laat registreer omdat die grond goewermentseiendom was en net gereserveer word vir die Gereformeerde Kerk sodat daar geen verband oor gepasseer kan word nie, en moes die kerkraad self die skuldbrief teken.
Eindelik is die gebou voltooi en reëlings getref vir die ingebruikneming op 27 Augustus 1931, waar min. P. Grobler die hoeksteen sou lê en prof. dr. C.J.H. de Wet van die Teologiese Skool Potchefstroom die rede sou hou. Min. Grobler kon dit nie waarneem nie en prof. De Wet het die hoeksteen gelê en die rede gevoer. 'n Hele skaar mense was teenwoordig met die hoeksteenlegging en ingebruikneming, wat op dieselfde datum plaasgevind het. Ds. N.H. van der Walt was nie teenwoordig nie omdat hy afwesig was vir bediening na Rhodesië. Die reëlings was dat: Ds. W.J. de Klerk die opening waarneem. Bedanking onder meer aan die kontrakteur en sy repliek. Dr. De Wet wat die hoeksteen sal lê, toegespreek; die hoeksteenlegging deur hom daarna en sy toespraak. Opening van die gebou. Die oudste ouderling (J.D. van Aswegen) in diens sal die deur oopsluit en met die Bybel die kerk betree.
Uit die verslag van die Boukommissie blyk verder dat die kerk voltooi is teen 'n bedrag van £880 en afgelewer is op 28 Julie 1931; 24 banke gemaak is teen £92.14.0 deur I.L. Rautenbach; stoele aangekoop vir £12.10, en 'n tafel vir £3.10.
Behoefte aan beter bediening Met die voltooiing van die kerkgebou het 'n nuwe fase ingetree. Die behoefte van meer dienste deur 'n leraar het nou sterk na vore getree en die sentralisering van die eredienste in die kerkgebou "en nie rond en bont in die distrik nie". Omdat die diens van die leraar deur sy eie gemeente en ander noodsaaklike dienste van die kerk sy tyd en kragte geverg het, is die moontlikheid bespreek om die hulp van 'n proponent te verkry. So ernstig was die behoefte aan meerdere bediening dat 'n deputasie van die susters die kerkraad ontmoet het met die oog op die verkryging van 'n proponent en aangebied het om vir sy losies te sorg. Ook Heidelberg het ingestem om saam te werk en so is prop. N.T. Snyman "beroep" wat dan vir 'n tyd hier werksaam was. Maar op die eerste vergadering waar hy teenwoordig was deel hy die kerkraad mee dat hy beroep is na Kroonstad en dit aanvaar het.