Jag verwys na die aktiwiteit waarin diere gesoek en uiteindelik doodgemaak word. Die rede waarom hierdie aktiwiteit geskied is óf 'n behoefte na kos, óf vir sport, óf om dieregetalle te beheer. Diere wat só gejag word deur mense, word gewoonlik wild genoem.
In die oertyd was jag vir die mens lewensbelangrik omdat dit naas die versamel van veldkos, die enigste manier was om voedsel te bekom. Met verloop van tyd, en veral sedert die Middeleeue, het hierdie manier van voedselverkryging stadig begin verdwyn en het jag grotendeels 'n sportsoort geword. Aanvanklik het slegs die adel ter wille van ontspanning gejag en vir dié doel alle jagregte vir hulself voorbehou. Tans word jag in feitlik alle lande deur die owerhede beheer, wat poog om die aantal jagters en die wildstapel deur middel van lisensies en jagregulasies te beheer.
Tog is daar steeds volke wie se bestaan hoofsaaklik van jag en veldkos afhanklik is. Hierdie volke bewoon die onherbergsaamste gebiede van die wêreld en daarom bestaan daar geen noukeurige gegewens oor hulle lewenswyse nie. Jag het in Suid-Afrika net soos in ander lande deur 'n aantal fases gegaan. Aanvanklik het die inboorlinge met primitiewe wapens en die Blanke setlaars met gewere ter wille van voedsel en veiligheid gejag. Die nuus van die land se wildrykdom het oorsese jagters egter na die land laat stroom, en die verbetering in vuurwapens het die Boere ook meer laat jag as wat nodig was. Wildbewaringswette het reeds in die middel van die 19e eeu nodig geword, en Suid-Afrika se wildstapel word vandag met 'n aantal streng regulasies van owerheidsweë beskerm.
Algemeen Jag was oorspronklik 'n suiwer ekonomiese bedrywigheid wat saam met die versamel van plantaardige voedsel die oudste manier is waarop die mens homself aan die lewe gehou het. Gevaarlike diere moes boonop ook dikwels as beskermingsmaatreël gejag word. Die oudste vorm van jag word vandag nog by die sogenaamde natuurvolke soos die Eskimo's, die Indiane van Suid-Amerika, die Rooihuide van Noord-Amerika, die pigmeë en Boesmans van Afrika en sommige Asiatiese volke aangetref.
Hulle jag ter wille van vleis, asook huide en velle, wat vir klerasie en behuising nodig is, ivoor, horings en been vir die vervaardiging van werktuie en wapens, en tande en vere vir versieringsdoeleindes. In die moderne samelewings word oorblyfsels van hierdie jagvorm nog in pelsjasse, handtasse van krokodil- of slangleer en vere vir hoede aangetref. In die vroegste tye is dieselfde wapens vir jag gebruik as die waarmee geveg is, naamlik knuppels en boemerangs. Spesialisasie in jagwapens het egter gou ingetree en honderde verskillende soorte pyle en boë met punte van been, horing of harde hout (wat soms met gif besmeer is), dolke van klip, been, bamboes en yster, spiese, slingers, blaaspypies en talle ander toerusting is ontwikkel.
'n Goeie voorbeeld van hierdie spesialisasie is 'n pyl met 'n afgeplatte, knotsvormige punt waarmee die Papoeas van Nieu-Guinee en Melanesië paradysvoëls geskiet het om te voorkom dat die pragtige verekleed, wat as versiering by danskostuums gebruik is, met bloed bevlek word. Benewens om van wapens gebruik te maak, is ander jagmetodes ook ingespan, soos byvoorbeeld vangkuile, nette, strikke en valle. In die Middeleeue het jag toenemend 'n sportsoort geword waarmee die adelstand hom in vredestyd feitlik daagliks besig gehou het. Jag het toe baie hoë aansien geniet. Die adellikes was so suinig met hul wildstapels dat ondergeskiktes verbied is om te jag. 'n Oortreder van die verbod is swaar gestraf - soms selfs met die dood.
Later in die Middeleeue is die jagtersinstink van sommige diere soos honde, roofvoëls en jagluiperds by jagtogte gebruik. Dryfjagte te perd om bisons te vang, is toe reeds deur die Noord-Amerikaanse Rooihuide uitgevoer. Teenswoordig word jag in die ontwikkelde lande feitlik uitsluitlik as sport en ontspanning beoefen, maar ook om wildstapels te beheer deur oorbevolking te voorkom. Hoofsaaklik swak-ontwikkelde diere word uitgeskiet. Dit is egter steeds noodsaaklik om skadelike diere dood te maak.
duimnael|250px|Illustrasie uit die Hertog de Berry se getyeboek (Frankryk, 15de eeu)
Westerse jaggeskiedenis Nomadestamme het tot in die Neolitikum (ca. 6000 tot 2000 v.C.) in Europa gewoon en hoofsaaklik van jag gelewe. In hierdie tydperk het dele van die bevolking hul egter al op 'n vaste plek gevestig om voedsel te verbou, en jag het 'n minder belangrike rol as voorheen gespeel. Gaius Julius Caesar (100-44 v.C.) het byvoorbeeld in sy De bello Gallieo geskryf dat die dier vir die Germane nog baie belangrik was. Caesar het daarop gewys dat daar in die destydse bosryke Wes-Europa nog rendiere, elande en oerosse was. Die diere wat deur die Germane met spiese en valstrikke gevang is, het reeds in die Middeleeue nie meer voorgekom nie. Die Germane het toe waarskynlik ook reeds dryfjagte met honde uitgevoer. Hierdie jagvorm het sy oorsprong in Gallië (min of meer die huidige Frankryk) gehad. Kleiner wildsoorte en voëls is met 'n pyl en boog gejag. Die Romeinse oorheersing het die Wes-Europese jagtegnieke nie beïnvloed nie. Veranderings op dié gebied het in die Middeleeue voorgekom toe jag reeds tot die elitegroepe beperk was, en die laere stand verbied is om te jag.
Middeleeue Reeds tydens die bewind van keiser Karel die Grote (768-814) was jag al 'n belangrike tydverdryf van die hoër stand. Die keiser het groot stukke bosryke grond opsy laat sit waar slegs hy en 'n klein groepie uitverkorenes mog jag. Daar het hulle dryfjagte met honde asook valkejagte, wat sedert die 4e eeu gebruiklik geword het, uitgevoer. 'n Ander vorm was die sogenaamde ingeslote jag, waar die wild deur 'n kleiner wordende kring jagters vasgetrek is.
Die jagvorm was veral na 900 in die Duitse gebiede baie gewild, terwyl die dryfjag met honde in Frankryk steeds die gewildste was. Tot diep in die Middeleeue was jag oor die algemeen 'n aksie net vir mans. Na die eerste kruistogte in die 11e en 12e eeu het die jag met voëls soos vaIke, sperwers en hawikke al wyer in gebruik geraak. Hierdie vorm, wat uit Asië en Noord-Afrika afkomstig was, het hom tot die deelname van die edelvroue geleen, en jagpartye het 'n onontbeerlike deel van die elite se feeste geword.
Jag het ook toenemend 'n sportsoort geword waarby die klem meer op vermaak as op voedselvoorsiening geval het. In die 14e eeu is daar selfs handboeke oor die jagsport geskryf wat met prentjies van diere en jagtegnieke versier was. Sedert die 15e eeu is vuurwapens by dryfjagte gebruik. Tydens die regering van Lodewyk XV (1715- 1774) het sluipjag, waarvoor die koning baie lief was, mode geword. Hierby moes die jagters, wat dikwels gekamoefleer was, die wild tot op skootafstand nader. Die Franse jagmetodes was in die 17e en 18e eeu toonaangewend vir die hele Wes-Europa.
Nadele Die adel se jagliefhebbery is ten koste van die boere bedryf. In Engeland het Willem die Veroweraar (1066- 1087) se opvolgers die boere verjaag en sulke groot stukke landbougrond laat ontruim om jagterreine aan te lê. Die Franse koning Lodewyk XI (1461 - 1483) het die jagreg in die hele grondgebied vir homself en sy naaste familie en vriende voorbehou. Dit het veroorsaak dat die wildstapel in so 'n mate toegeneem het dat dit 'n plaag vir die boere geword het. Hutlanderye was nie omhein nie en die diere het groot skade aan die oeste berokken. Daarby was die boere ook aan die gevaar wat die groeiende aantal wolwe ingehou het, blootgestel. As hulle die diere self sou doodmaak, het hulle gevaar geloop om weens oortreding van die jagwet vervolg te word.
19e eeu Sedert die 19e eeu is die jagsport in die Weste al hoe minder intensief beoefen. Die wild het skaarser geword, as gevolg van onder meer die sterk bevolkingstoename. Veral grootwild het al hoe skaarser geword. Die adelstand het sy voorregte, en dikwels ook sy rykdomme, verloor, wat meegebring het dat die jagtradisie nie meer op dieselfde skaal as in die Middeleeue voortgesit kon word nie. Daarby het die regerings steeds strenger bepalings aan jag gekoppel. Deesdae is lisensies feitlik oral in die Weste 'n vereiste.
Jagtersvolke duimnael|links|Boesmanjagter Die term jagtersvolke verwys in die kulturele antropologie na groepe met 'n selfstandige kultuur wat heeltemal van jag en die versamel van veldkos afhanklik is, en wat geen akkerbou of veeteelt beoefen nie. Hoewel die jag op grootwild ʼn belangrike deel van hul lewens vorm, versamel die meeste jagtersvolke ook plantaardige voedsel en ander kos soos eiers, larwes en vis. Daarom is dit beter om na jagters en versamelaars te verwys. Vroeër is hierdie volke ook dikwels "natuurvolke" genoem. Daarmee is bedoel dat hulle nader aan die natuur sou gelewe het as meer beskaafde samelewings wat "kultuurvolke" genoem is. Jagters en versamelaars het wel 'n kultuur, en moet net soos alle ander mense leer hoe om sosiaal reg op te tree en hoe om voedsel te bekom. Die bestaan van jagters en versamelaars is wel volkome verweef met die natuurlike prosesse in hul onmiddellike omgewing, waarin hulle selde ingryp maar wat 'n groot invloed op hul sosiale lewe en hul godsdiens het.
Oorsprong van jag Daar bestaan enkele gegewens wat daarop dui dat alle mense tot sowat 10 000 jaar gelede jagters en versamelaars was. Gedurende die 2 tot 3 miljoen jaar van die mens se bestaan het hy homself van gereedskap voorsien en hom aangepas om hom in die uiteenlopendste omstandighede te kan handhaaf (Eskimo's in uiterste koue, Ethiopiërs en pigmeë in kwaai hitte). As die tydperk waarin die mens op aarde bestaan, aan een uur gelykgestel word, dan was hy vir feitlik 56 minute van daardie uur jagter en versamelaar.
Volgens 'n ander raming was sowat 90% van alle mense wat tot nou toe gelewe het, jagters en versamelaars. Hierteenoor vorm huidige ramings dat nog slegs 'n paar honderdduisend mense lewe wat tot die een of ander jagtersvolk behoort, 'n skerp kontras. Hierdie mense woon boonop verspreid oor die hele wêreld, in die meeste gevalle in gebiede wat vir ander mense (tot vandag toe) onaantreklik is, naamlik halfwoestyne, poolgebiede en tropiese oerwoude.
Die vraag bestaan hoe lank hulle nog sal voortbestaan, want in die laaste paar eeue het talle jagterskulture verdwyn - veral sedert Europeërs hul jaggebiede binnegedring en oorgeneem het. Oor sommige jagterskulture is deeglike navorsing gedoen, maar oor andere is min of niks bekend nie. Dit is trouens nie eens moontlik om 'n volledige lys van alle bestaande jagtersvolke op te stel nie.
Kenmerke