duimnael|regs|350px|Daar word algemeen aanvaar die Gereformeerde kerk Middelburg, Kaap, is die oudste kerkgebou van die kerkverband wat vandag nog as sodanig diens doen.Die hoeksteen van Colesberg se kerkgebou is wel eerste gelê, maar bouwerk aan die Middelburgse kerk is eerste voltooi.
Die Gereformeerde kerk Middelburg, Kaap is die oudste gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika op die Oos-Kaapse dorp Middelburg en die tweede oudste gemeente, naas Burgersdorp, van dié Kerkverband in die voormalige Kaapprovinsie.
Die stigting van die gemeente duimnael|regs|210px|Ds. Dirk Postma, grondlegger van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika en ook van die gemeente Middelburg, Kaap. duimnael|links|320px|Die opstal op die plaas Grootfontein waarop die gemeente gestig is. Die gebou staan vandag op die perseel van die Landboukollege Grootfontein. Die destydse eienaar, broer S.W. Vorster, het dit in 1867 herbou soos dit nou lyk nadat dit in 1827 opgerig is.
duimnael|links|200px|Bordjie buite die kerkgebou wat lui dat dit die oudste in die kerkverband is.
Op 21 Januarie 1860 is die Gereformeerde kerk Burgersdorp deur ds. Dirk Postma gestig. Die beswaarde lidmate van Middelburg het van sy besoek verneem en 'n deputasie is na die plaas Roosterhoek gestuur met die versoek aan Postma om ook hier aan hulle 'n besoek te bring. So het dit gebeur dat ds. Postma gedurende Februarie 1860 'n groot byeenkoms van vriende en vyande op die plaas Grootfontein, waarvan C.J.H. Vorster en H.T.J. van der Walt die eienaars was, toegespreek het.
Volgens getuienis van tydgenote, soos opgeteken in De Vijftigjarige Feestviering te Middelburg, K.P., wou 'n groot aantal lidmate toe al hê dat ds. Postma hulle sou herstig as 'n Gereformeerde kerk, maar omdat hy gevrees het vir 'n oorhaastige besluit wat hulle later kon berou, was sy raad aan hulle om so 'n stap nie op daardie tydstip te doen nie, maar "weest voorzichtig en nuchter!" Dit ten spyt het vyf gesinne tog by hierdie geleentheid as lidmate van die Gereformeerde Kerk ingeskryf. Voornemende lidmate van die kerk het deeglik besef watter toekoms van opoffering, selfverloëning en stryd op hulle gewag het. Hulle het nie blindelings op die ingewing van die moment 'n sprong in die duister gegee nie; daarom dat, toe dit op hulle neergereën het, hulle nie vir hoon en smaad teruggedeins het nie.
Elf maande later het ds. Postma weer gekom en op 1 Desember 1860 en is die Gereformeerde Kerk Middelburg gestig. Dit was 'n ernstige stap, maar die jong en klein gemeente, met tussen 250 en 300 lidmate, het die toekoms met verbysterende moed en volharding ingegaan. Vir die destydse predikant van die NG kerk hier, ds. W. Murray, moes dit 'n bedroewende ervaring gewees het. Hy was nog ongetroud en het ingewoon by een van sy ouderlinge, H.T.J. van der Walt, mede-eienaar van Grootfontein. Hierdie ou vader het ook by die Gereformeerde Kerk aangesluit en is as ouderling verkies. "Van ds. Murray", getuig 'n tydgenoot, "kan ek niet dan goed getuigen. Hij was ons nooit kwaad gezind. Hij klaagde dat de steunpilaren zijner gemeente hem ontvallen waren". (Sy skoonsuster, mev. ds. Andrew Murray, was 'n ander mening oor die Gereformeerdes aangedaan en het by geleentheid gesê: "The only people I don't like are the Doppers. They are really such a dirty obstinate race." Wie is die Doppers? URL besoek op 25 Januarie 2015. Sy is gebore Emma Rutherfoord, 'n dogter van die welvarende Kaapse handelaar en sendingvriend Howson Edward Rutherfoord, en vanuit huis Anglikaans.) Die eerste notuleboeke van die kerkraad, tot 1869 toe die eerste predikant hier bevestig is, het ongelukkig nie bewaar gebly het nie. Hierdie boeke is seker van die begin af al vermis, want hierdie feit word ook betreur in die feesuitgawe met die vyftigjarige feesviering van die gemeente in 1910.
Dokumentêre gegewens oor die eerste nege jaar van die bestaan van die gemeente is dus maar baie skraal. Hoewel die eerste vaste predikant eers in 1869 hier bevestig is, bestaan daar tog bewyse dat daar reeds vroeër pogings aangewend is om 'n eie leraar te bekom. Volgens 'n beroepsbrief wat bewaar gebly het, is ds. J. Beyer van Reddersburg op 17 Augustus 1863 hierheen beroep. Eers in 'n skrywe van 1864 antwoord ds. Beyer op die beroep. Hy kla dat die beroepsbrief hom eers teen die einde van November bereik het. Voorts verwyt hy die gemeente: "Dat ek niet een eenige letter, noch van Kerkeraad of Gemeente ontvangen, waarin hunne begeerte en werkzaamheid, voor God in het verborgen, in deze zoo gewigtvolle zaak mij werd geopenbaar", terwyl sy eie gemeente (Reddersburg) hom beïnvloed het om te bly, want hulle het hom "als bestormden met smeekingen en gebeden, en brieven van meer dan 250 leden onderteekend, zoodat ik met vrijmoedigheid des harten" besluit het om te bedank.
Daar is onmiddellik begin met die bou van die kerk. Daarvoor is nie alleen mildelik bygedra nie, "maar, eigen wagen en ossen en eigen persoon waren niet te kostbaar om het werk des Heeren voort te zetten". Sprekend van die deeglike en omslagtige wyse waarop alles gedoen is, is die geskrewe ooreenkoms tussen W. Warner van Burgersdorp en ds. Postma namens die gemeente vir die maak en installering van die preekstoel, wat in 1868 gedoen is. Dit het £140 gekos, waarvan hy £93-6-8 in kontant ontvang het en aan skape £46-13-4.
Eerste leraar duimnael|regs|180px|Ds. M.P.A. Coetsee sr. was van 1869 tot 1889 Middelburg se eerste Gereformeerde leraar.
Verskillende predikante het die herderlike werk in die gemeente gedurende die eerste jare van sy bestaan gedoen, meestal ds. D. Postma van Burgersdorp af. Op 'n kerkraadsvergadering gehou op 29 April 1867, die eerste notule in die oudste bestaande notuleboek, en waarop ds. D. Postma as voorsitter opgetree het, is weer 'n beroep uitgebring, en wel op student M.P.A. Coetsee, "student bij den Leeraar Postma". Drie maande later behandel die kerkraad 'n brief van die beroepe student waarin hy die beroep aanneem. Dit kom tog snaaks voor dat hy eers op 6 Augustus 1869, dit wil sê twee jaar later, hier bevestig is. Die voor die hand liggende verklaring hiervoor is seker dat hy eers sy studie moes voltooi.
Die jong leraar se traktement het bestaan uit £300 aan kontant, 100 hamels, 20 mud meel en "zoo mogelijk ook brandstof, benevens vrije woning". Die helfte van die trougeld sou hom ook toekom. So was dit seker vir die gemeente 'n groot vreugde om, byna nege jaar ná sy stigting, sy eie predikant te hê in die persoon van ds. M.P.A. Coetsee sr. Ds. M.P.A. Coetsee is op 6 Augustus 1869 hier in die amp bevestig. Die jong leraar het dadelik begin om die gemeente en die gemeentelike werk behoorlik te organiseer. Om die ampte reg te laat fungeer, is dadelik besluit dat twee ouderlinge en twee diakens by elke erediens teenwoordig sal wees en by die afwesigheid van die predikant sal die ouderlinge godsdiensoefeninge waarneem. Ook die diakonie is behoorlik georganiseer. Vir hulle is 'n kassier benoem asook 'n kassier wat die boufonds moes behartig.
Die kerkgebou links|duimnael|320px|Die kerkgebou met die saal links daarvan. Die kerk is ingewy op 14 September 1862. Met die koms van ds. M.P.A. Coetsee was daar nog 'n (vir daardie tyd) aansienlike bedrag op die gebou verskuldig. Daar was sprake van £771-8-0 skuld op die kerk en die pastorie. Hierdie skuldelas moes die kerkraad baie kommer besorg het, want daar is gedurig daaroor gekla. Hierdie geld is blykbaar by lidmate geleen, want in Mei 1873 word met vreugde gerapporteer dat aan die here B. Vorster en G. van der Walt die bedrae £172 en £100 onderskeidelik afbetaal kon word. Toe was die balans van £75 nog verskuldig. So 'n bedraggie klink dalk klein, maar geld was destyds bitter skaars. Groot was dan ook die vreugde en innig die dankbaarheid toe die gemeente, 13 jaar ná sy stigting, 'n afbetaalde kerkgebou kon besit. Onmiddellik daarna is aan die werk gespring om die kerk van buite te laat pleister. Tenders is dan ook vroeg in 1874 daarvoor gevra, "de gevels met sement en de muren met kalk". 'n Tender vir £250 is aanvaar en die diakens, wat maar gedurig vir een of ander saak moes kollekteer, moes weer inspring. Die werk is gedurende 1875 gedoen en in Februarie 1876 word op die kerkraadsvergadering gerapporteer dat ook hierdie bedrag betaal is en dat daar nog 'n voordelige balans van £64 is. Die afgelope meer as anderhalf eeu kon die gemeente in dieselfde gebou aanbid. Die gebou geniet ook die onderskeiding dat dit die oudste kerkgebou in die Gereformeerde Kerk is wat nog in gebruik is.
Die koster en voorsinger duimnael|regs|310px|Die kerkgebou in sy oorspronklike vorm, hier afgeneem omstreeks 1916.
Hierdie onmisbare persoon het destyds 'n heel belangrike rol in die kerklike lewe gespeel. Die koster was nie bloot verantwoordelik vir die versorging van die eiendomme van die kerk en vir die versorging en voorsiening van die nodige by die eredienste nie, maar in sy hoedanigheid as koster het hy ook die kerkraadsvergaderings bygewoon. Dit was sy verantwoordelikheid om toe te sien dat die leraar die deel van sy traktement wat uit hamels, meel en brandstof bestaan het, sou ontvang. Hy moes dan ook gedurig hieroor aan die kerkraad verslag doen. Om enige misverstand oor sy pligte te vermy is daar in 1877 'n deeglike diensooreenkoms met die koster aangegaan.
Die voorsinger was nog 'n belangrike en onmisbare persoon by elke erediens, omdat daar toe nog geen sprake was van musiekbegeleiding by die gemeentelike sang nie. Trouens, dit sou eers ná baie jare toegelaat word dat 'n musiekinstrument in die kerk ingebring kon word. Die voorsingers het gedurig gewissel en daar was ook gedurig moeilikheid oor die wyse waarop hulle hul plig vervul het. Die beloning aan hierdie amp verbonde was gewoonlik £25 per jaar.
Die kassier en kerklike bydrae Ook hierdie amp moes gedurig gevul word. Dis dan ook begryplik dat dit nie maklik was om 'n geskikte persoon te vind wat vaardig genoeg met syfers was om die kerkboeke te hou nie. Om in daardie jare diaken te wees was seker ook nie 'n benydenswaardige taak nie. Omdat bankrekenings in die vorige eeu onbekend was, moes daar vir elke afsonderlike behoefte by herhaling gekollekteer word. Die diakens was gedurig besig om vir die een of ander saak by die lidmate aan te klop en 'n mens kom onder die indruk dat die lidmate sodanig bygedra het dat hulle die diakens altyd aan die kollekteer gehou het.
Steynsburg Op 16 Augustus 1872 maak ouderling A.P.J. Steyn van Bulhoek aan die kerkraad bekend "dat hij van voornemen is om tusschen dit dorp (Middelburg) en Burgersdorp een dorp aan te leggen". 'n Kommissie is benoem om die grense tussen die dorpe te bepaal en in November 1872 vra ouderling Steyn en diaken G.P.S. Venter 'n kommissie om die gemeente op Steynsburg te stig, deels uit Middelburg en deels uit Burgersdorp. Al bruidskat wat Steynsburg blykbaar van Middelburg ontvang het, is "de tavel, die hier toch niet gebruikt wordt". Dit was 'n welkome uitkoms vir lidmate wat van sover as die huidige Steynsburg hierheen vir sakramentsbediening moes kom, maar dit het tog moeilikheid veroorsaak met lidmate op die grens, wat met die verdeling aan Steynsburg se kant geval het en wat nog graag tot Middelburg se kerk wou behoort. Steynsburg kry dan ook opdrag om Middelburg van sulke gevalle in kennis te stel.
Die sending