Ingrid Winterbach (* 14 Februarie 1948, JohannesburgEsat: http://esat.sun.ac.za/index.php/Ingrid_Winterbach -) is ’n Afrikaanse skrywer en kunstenaar, wat ook onder die skuilnaam Lettie Viljoen boeke publiseer. Sy verower talle pryse vir haar skryfwerk, insluitende die Hertzogprys, die M-Net-prys, die W.A. Hofmeyr-prys en die Universiteit van Johannesburg-prys.

Lewe en werk

Vroeë lewe en herkoms Ingrid Gerda Winterbach is op 14 Februarie 1948 in Johannesburg gebore as die oudste kind en enigste dogter van drie kinders van die onderwysers Jan Winterbach en Helena Dorothea Terblanche. Die beeldhouer en digter Dirk en Hougaard is haar twee jonger broers. Sy word in Florida in Roodepoort groot en gaan skool aan Florida Hoërskool, waar sy die hoofmeisie is in haar matriekjaar in 1965. Daarna studeer sy vanaf 1966 verder aan die Universiteit van die Witwatersrand in Johannesburg waar sy in 1969 die B.A. Skone Kunste-graad met lof verwerf en in 1970 die B.A. Honneurs-graad in Afrikaans-Nederlands, ook met lof. Hier is sy die beste student in Afrikaans-Nederlands vanaf 1966–1968 en verwerf die Henry Lidchi-prys vir sketse in 1967 en die Anya Millman-toekenning vir die beste derdejaar kunsstudent in 1968.LitNet ATKV-Skrywersalbum 24 Junie 2014: http://www.litnet.co.za/ingrid-winterbach-19481/

Verdere studie en begin van loopbaan Sy verwerf vroeg bekendheid wanneer Etienne Leroux sy roman 18-44 gedeeltelik baseer op briefwisseling tussen hom en die destydse agtienjarige kunsstudent. Hierdie briefwisseling en Etienne Leroux het ongetwyfeld ’n groot invloed op haar vorming as kunstenaar gehad.Botha, Jaco LitNet: http://www.litnet.co.za/absa-ketting-jaco-botha-gesels-met-ingrid-winterbach/Lenta, Margaret The Free Library: http://www.thefreelibrary.com/Ingrid%20Winterbach:%20Novelist%20(Interview).-a0221205453 Vanaf 1970 tot 1971 is sy assistent aan die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van die Witwatersrand, waarna sy in 1972 Afrikaans gee aan sekondêre skole in Louis Trichardt en Johannesburg.

In 1973 skryf sy in vir ’n M.A.-graad by die Universiteit van Stellenbosch onder studieleiding van D.J. Opperman, ’n graad wat sy in 1974 met lof verwerf met ’n verhandeling getitel Analise van enkele struktuuraspekte van ‘Om te vlieg’ van Breyten Breytenbach. Hierna sluit sy in 1974 as algemene verslaggewer aan by Die Burger en in 1975 by Albertyn-Uitgewers in Stellenbosch as lid van die redaksie van Ensiklopedie van die wêreld. Vanaf 1977 tot 1990 is sy as lektor verbonde aan die Universiteit van Stellenbosch se Departement Beeldende Kunste. Hier doseer sy teken, skilder en kunsgeskiedenis. Van 1976 tot 1983 is sy getroud met Anton Scholtz en haar dogter Brink word in 1979 uit hierdie huwelik gebore.

Op Stellenbosch is sy in 1981 stigterslid van ’n veelrassige vrouegroep en in 1989 stigterslid van die Stellenbosch Feministiese Besprekingsgroep. Sy is tussen 1984 en 1990 lid van professor Johan Degenaar se interdissiplinêre besprekingsgroep oor literatuur en woon in 1987 die Honneurskursus in Psigoanalise by, aangebied deur die Departement van Politieke Filosofie. By die Weekly Mail Book week in Kaapstad in 1986 is sy een van die paneellede en neem in dieselfde hoedanigheid weer in 1992 aan hierdie week deel. In Julie 1989 is sy teenwoordig by die geskiedkundige ontmoeting tussen Suid-Afrikaanse skrywers en die toe nog verbode ANC by die Victoria Waterval- konferensie.

Werk as akademikus en skrywer In 1989 trou sy met Andries Gouws, ’n senior lektor in Filosofie aan die Universiteit van Natal, en haar dogter Liesbeth-Helena word in 1990 gebore. Sedert 1991 woon sy in Durban, waar sy vanaf 1991 twee jaar lank deeltyds Afrikaans doseer aan die Universiteit van Natal en die Universiteit van Durban-Westville.

In 1992 woon sy op uitnodiging van die SAUK ’n kursus in die skryf van radiodramas by Klein-Kariba buite Bela-Bela by en in Julie 1993 is sy paneellid by die Winterforum besprekings oor Afrikaans, aangebied deur die Universiteit van die Witwatersrand. Vanaf September 1993 tot Augustus 1994 gee sy Afrikaans aan die Durban Girls High School. Sy is in September 1994 paneellid by die ALV-kongres in Port Elizabeth en in Oktober 1994 paneellid by die Leeskring-seminaar in Welkom. In Maart 1995 is sy een van die leiers by die Skool vir Kreatiewe Skryfwerk van die Universiteit van Potchefstroom se skryfskool.

Sy besoek Nederland van Julie 1995 tot Augustus 1996 en is van September tot Desember 1996 in die Verenigde State van Amerika, waar sy besoekende skrywer is aan die California Institute of the Arts en in Los Angeles onderrig gee in Creative Writing by die School of Critical Studies.

Van 1997 tot 2002 doseer sy weer Afrikaans en Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van KwaZulu-Natal. Daarna wy sy haar voltyds toe aan haar kuns (beeldende kunste, skilder en skryf). Sy hou verskeie kunsuitstallings, onder andere in Stellenbosch, Kaapstad, Durban, Johannesburg en Franschhoek en ontwerp ook self die buiteblaaie van meeste van haar romans, insluitende Klaaglied vir Koos, Karolina Ferreira, Erf, Belemmering en Niggie.

In 2001 hou sy ’n gesamentlike uitstalling met Breyten Breytenbach op Stellenbosch. Haar werke hang onder andere in die Durban Kunsgalery, die Carnegie Kunsgalery op Newcastle, die Universiteit van Stellenbosch se Kunsmuseum en die Durban Instituut vir Tegnologie se Kunsgalery.

Sy en haar man spandeer aan die begin van 2011 ses maande in Stellenbosch by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing en in 2013 trek hulle weer permanent terug na Stellenbosch.

In 2015 is sy betrokke by skryfopleiding van voornemende skrywers by die skryfskool van die Breytenbach-sentrum op Wellington en lei sy ook die Universiteit van Stellenbosch se skeppende skryfwerk werksessie.

Skryfwerk

Prosa Teen die laat sewentigerjare begin sy ernstig skryf, eers twee dramas vir die jaarlikse Stellenbosch amateurtoneelfees en toe ’n kort prosastuk getitel ’n Wolkie so groot soos ’n man se hand, wat in Mei 1983 in Stet gepubliseer word. Onder die skuilnaam Lettie Viljoen debuteer sy in 1984 met die novelle Brink, André P. Rapport, 20 Januarie 1985Klaaglied vir Koos,NB-Uitgewers: http://www.nb.co.za/authors/2974 ’n belydenis van ’n vrou wie se man haar verlaat het, moontlik om saam met Swapo-magteLe Roux, André “Die Burger” 18 April 1985 die onderdruktes te gaan bevry. Sy bly alleen agter saam met haar kind in ’n kleinburgerlike dorp met sy argetipiese inwoners. Haar verwerking van haar situasie en die noodsaak om aan te pas by ’n nuwe orde en selfstandig op te tree, word boeiend beskryf. Die verbrokkeling van die tradisionele rol van die vrou wat aan die rand van die gemeenskap leef, word hier in ’n gevallestudie aangebied. Sy soek eers troos in ’n verhouding met ’n ander man en ondervind verskillende stadia van ontwikkeling, soos onvervulde seksuele dryfvere en verlange, afsterwing en afstomping van die lewe en ’n inkeer na binne, nuwe bewuswording in haar omringende werklikheid met eindelike groter openheid vir die buitewêreld, wat alles plaasvind binne die soortgelyke siklus van seisoensverandering. Deurentyd maak die skrywer knap gebruik van simbole (soos die tuin se verwaarlosing en die swart man se teenwoordigheid in haar tuin) en ironie in ’n dig geskrewe teks, wat hoewel eenvoudig op die oog af, ryk is aan onderliggende betekenis. Dit is veral die eensaamheid en weerbaarheid van die verlate vrou in ’n vyandige wêreld wat hier gestalte kry. Klaaglied vir Koos is in 1985 ’n finalis vir die Louis Luyt-prys en word in 1986 deur Christo Leach en Barney Simon vir die teater verwerk en by die Laager in die Markteater in Johannesburg opgevoer.

In Erf verwys die titel na beide die fisiese stuk grond waarop eiendomsreg uitgeoefen word, asook dit wat van ouers en voorgeslagte geërf word. Dit is ’n driedelige novelle wat aansluit by die wêreld van haar eerste boek, met drie vroue (gesamentlik verteenwoordigend van vrou-wees in die wêreld) wat aan die woord gestel word. Bets is die hoofkarakter en belangrikste figuur, wat alleen saam met haar kind in ’n huis op ’n dorp woon terwyl haar erf stelselmatig deur ’n plakker en sy vrou ingeneem word. Ten spyte van haar fisiese nabyheid aan ander mense leef Bets feitlik vervreem van die res van die samelewing en is daar nie intimiteit tussen haar en ander nie, wat haar individualiteit beklemtoon. Agnes begeef haar in die politiek deur betrokke te raak by ’n veelrassige gespreksgroep en die bruin vrou Sally Williams van Cradock blyk ’n pseudoniem van die ek-verteller te wees. Eindelik word al drie vroue met Bets geassosieer en figureer hulle as dubbelgangers van Bets. Hulle lewe teen die agtergrond van die geleidelike inname van die erf en die geweld in die townships, sodat die karakters as’t ware op die randjie van die afgrond leef, wagtende vir die apokalips. Erf is in 1987 op die kortlys vir die toekenning van die Rapportprys.

BelemmeringBritz, Etienne. Rapport, 17 Maart 1991 is ’n komplekse verhaal wat uit drie sentrale verhaallyne bestaan, terwyl die openingshoofstuk ʼnLe Roux, André. Insig, April 1991 proloog is wat nie by een van die drie hoort nie. Die verhaallyne gaan eerstens oor Hannah,Pakendorf, Gunther. Die Burger, 14 Mei 1991’n paleontoloog wat by haar oom en tante in die Wes-Kaap kuier en ’n besondere vriendskap met hulle kleinkind Mirandah opbou. Deur middel van terugflitse word ’n kuier by die familie herroep waartydens gesprekke en herinneringe oor die Anglo-Boereoorlog, die Ossewa-Brandwag en die geskiedenis van die familie plaasvind. Tweedens is daar die ervarings van ’n groep mans op ’n politiek-militêre missie op ’n berg en die surrealistiese Generaal C wat mag personifieer.Viljoen, Louise. Beeld, 21 September 2015 Die vernaamste verhaalsituasie is dié van Deneysen en sy groep jong mans wat vir maande in ’n hut op ’n beskutte plek in die berge wag vir die instruksies van ene Geelgert, terwyl hulle daagliks die gebied bespied en patrollies uitstuur. Wanneer hulle, nadat Geelgert verdrink, eindelik onverrigter sake na die samelewing terugkeer, is dit na ’n wêreld waar onluste of burgeroorlog reeds geruime tyd lank woed. Die roman beweeg voort op die gedagtes en gesprekke van die karakters, waarbinne temas soos natuurwetenskaplike verskynsels, filosofie, skilderkuns, geskiedenis en oorlog, mag, liefde en kos aangespreek word. Die ruimte waarin dit plaasvind, is eerstens die natuur, maar ook die paleontologie of oerruimte waaruit alles ontstaan het, asook die psigiese lewe en ruimte van die karakters. Hierbinne skep die skrywer dan die karakters en verhaallyne, waarin die karakters in afwagting is op gebeure. Die verhaallyne word nie geïntegreer nie, eerder verder gefragmenteer in 105 genommerde afdelings, wat die onvoltooidheid en beperkte visie van elkeen aksentueer. Die manier waarop Deneysen en sy makkers die omgewing bespied, kaarte bestudeer en roetes beplan word ’n metafoor vir die lewe, want die hele lewe word bestudeer en planne beraam vir aksie. Die werklikheid is egter anders, want inderwaarheid is hulle afgesonder en glad nie in aanraking met die wêreld nie, met ’n totaal gebrekkige insig in die raaiselagtige optrede van die teenstander Dykstra. Die teks en die karakters se belewenis is dus gedurig onvoltooid, ’n gebrek of belemmering, met weinig insig in die volledige prentjie, vasgevang in ’n baie beperkte tyd en ruimte binne die groter prentjie van feitlik ewigdurende tyd en onbeperkte ruimte. Hulle vind hulle in ’n situasie wat hulle glad nie kan beheer nie. Belemmering word in 1990 genomineer vir die Rapportprys.