Pieter Johannes (Piet) Schoeman (1903–1988) was 'n Afrikaanse skrywer van hoofsaaklik natuurverhale (vir beide volwassenes en kinders). Hy is gebore in Utrecht en beleef sy grootwordjare in Natal.Stellenbosch Writers: http://www.stellenboschwriters.com/schoemanp.html

Lewe en werk

Vroeë lewe en herkoms Pieter Johannes Schoeman is op 20 September 1903 in ’n nagmaalwa op Utrecht in Natal gebore. Hy is die derde jongste en een van nege seuns uit ’n gesin van dertien kinders van Stefanus Schoeman en Helena Classina Smuts. Sy oupa is generaal Stefanus Schoeman, wat ’n tyd lank waarnemende president van die Zuid-Afrikaansche Republiek (Transvaal) was en hy was getroud met die weduwee van die Voortrekkerleier Andries Hendrik Potgieter. Sy vader ry as jong man transport tussen Johannesburg, Barberton, Kimberley en Durban en sluit dan by die staatsdiens aan. Hy word deur president Kruger as vrederegter in Swaziland aangestel, waarna hy Kommandant van Polisie vir Suidoos-Transvaal op Amersfoort word. Gedurende die Anglo-Boereoorlog word sy vader en sy oudste broer, Fanie, gevange geneem en as bannelinge na die eiland Bermuda gestuur. Na die oorlog begin sy vader boer, maar is nooit werklik suksesvol in hierdie beroep nie. Die klein Pieter word groot in die veld op die familieplaas St. Helena naby Utrecht aan die voet van die Drakensberg en gaan aanvanklik aan ’n plaasskooltjie op die familieplaas skool. Die gesin besit ook ’n bees- en jagplaas naby Nongomo in die Zoeloelandse bosveld, waarheen hulle gereeld in die winter gaan. Reeds as jong kind leer Pieter om Zoeloe vlot te praat.

Sy vader verkoop die familieplaas wanneer hy dertien jaar oud is en om verder te kan leer gaan bly hy op Belfast by sy tante Ella (kleindogter van Andries Hendrik Potgieter) en haar man, dominee Jan Stoffberg. Hulle neem hom aan as eie kind, verander sy doopname van Pieter Lafras Uys na Pieter Johannes om sy tante se pa te vernoem en laat hom verder leer. Hy begin dus eers op veertienjarige ouderdom die skool op ’n gereelde grondslag besoek. Hy slaag standerd vyf in Belfast en wanneer dominee Stoffberg na Langlaagte beroep word, slaag hy standerd ses aan die Milnerpark Afrikaanse Laerskool. Hierna gaan hy na die Hoërskool Helpmekaar in Johannesburg, waar hy in 1925 matrikuleer. Hy druip Latyn aanvanklik en slaag dit eers met die hereksamen. Reeds in hierdie tyd kom sy skrywerstalent na vore wanneer hy ’n Engelse opstelkompetisie wen met ’n inskrywing oor The Inundation of the Nile. Ná matriek gaan help hy weens gebrek aan geld om verder te studeer vir etlike jare sy broer Martiens op sy plaas naby Wakkerstroom. Die NG gemeente van Wakkerstroom, waar G.B.A. Gerdener destyds predikant was, borg dan gedeeltelik sy verdere studie op voorwaarde dat hy predikant word en hy leen die res wat benodig is by sy familie.

Verdere studie en loopbaan as Akademikus In 1928 is hy na die Universiteit van StellenboschEsaach: http://www.esaach.org.za/index.php?title=Schoeman,_Pieter_Johannes waar hy in 1930 die B.A.-graad met lof behaal met Volkekunde en Bantoetale as hoofvakke en Afrikaans tot op tweedejaarsvlak. Hierna behaal hy die M.A.-graad in 1931 met lof. Aan die einde van sy M.A.-jaar besluit hy om nie langer predikant te word nie en moet al die geld wat aan hom bewillig is, terugbetaal. Sy uitstekende resultate besorg hom egter die Ebden-stipendium vir drie jaar, waarmee hy sy doktorsgraad sou kon voltooi. In 1933 behaal hy dan sy D.Phil.-graad met ’n proefskrif oor Grepe uit die lewe van die Swazies en ’n verhandeling oor die ‘sakrale kompleks’ in hulle kultuur.

In hierdie tyd trou hy met Elizabeth Johanna Maria (Betsie) Bosman van Mooirivier. Hy bring feitlik al sy vrye tyd in die veld deur en onderneem onder andere in 1932 ’n staptoer van 2500 myl deur die binneland van Afrika. Die doel van hierdie staptoer was om stof in te samel vir sy akademiese verhandeling en om persoonlik met die stamme kennis te maak. Op hierdie toer doen hy in Tanzanië swartwaterkoors op en is vir nege dae bewusteloos. Wanneer hy herstel keer hy per boot vanaf Dar-es-Salaam terug huis toe. Hierna studeer hy vir ’n jaar verder in Londen onder die beroemde etnoloog professor Bronislav Malinowski. In Londen motiveer sy verlange na die veld hom om sy eerste jeugverhaal, Drie jong jagters, te skryf.

By sy terugkeer na Suid-Afrika is dit midde-in die depressietyd en hy kan aanvanklik nie werk kry nie, wat hom noop om by sy vrou se ouers op die plaas in te woon terwyl hy skryf aan sy boeke Die jagterprins en Mboza die Swazi. In 1935 kry hy ’n pos as joernalis by Die Vaderland in Pretoria, ’n koerant waar sy neef, Gustav Preller, die redakteur is. In hierdie tyd deel hy en sy vrou ’n huis met Sangiro en Coert Steynberg. Hierna word hy in 1936 senior lektor en in 1938 professor en hoogleraar in Volkekunde aan die Universiteit van Stellenbosch. Hierdie aanstelling bied hom die geleentheid om sy navorsing oor die inboorlingstamme voort te sit, onder meer gepubliseer as Die Swazies se jaarlikse seremonie van die eerste vrugte (1937) en Gevalle van onwettige bevrugting by die Zoeloe (1940). Hy sluit rondom die Tweede Wêreldoorlog aan by die Ossewabrandwag as bevelvoerder van die Berghaankommando, waar hy sy kennis van die veld tydens bergtogte en veldoefeninge aan die kommandolede oordra.Schoeman, P.J. Geliefde ou Afrika-vriende 2. Perskor-Uitgewery Johannesburg Eerste uitgawe 1976

Voltydse skrywer en politikus In 1947 bedank hy sy betrekking as professor aan die Universiteit van Stellenbosch om hom uitsluitlik aan skeppende werk te wy en hy gaan woon op Stilbaai. Hy word oorgehaal om kort nadat die Nasionale Party in 1948 aan bewind gekom het, as naturelleverteenwoordiger kandidaat van die Nasionale Party aan ’n verkiesing deel te neem. Sy visie was om aan die swart mense dieselfde respek te gun wat die witmense vir hulself opgeëis het. Sy boodskap van toenadering en samewerking is egter nie suksesvol nie en hy ly ’n groot nederlaag. Hierna begewe hy hom nie weer in die politiek nie.

In die jare 1950 tot 1955 word hy as hoofwildkurator in Suidwes-Afrika aangestel en volg vir Sangiro op in hierdie posisie. Terselfdertyd word hy aangestel as Voorsitter van die Boesman-Kommissie en in hierdie hoedanigheid onderneem hy ’n sensus van Suidwes se San en probeer vasstel wat gedoen kan word om hierdie volk van uitwissing te red. Aan die Kus van die Dood in Suidwes-Afrika se Namib-woestyn doen hy waarnemings in verband met die verkryging van varswater in die tye van oorlog.

Wanneer die vader van sy tweede vrou, dr. Esther Gertruida Wilhelmina Hofmeyr, in 1955 te sterwe kom, verhuis hulle weer terug na Stellenbosch om naby haar moeder te wees. Hier skryf Schoeman weer voltyds.

In 1972 is hy betrokke in ’n ernstige motorongeluk, waarna hy vir elf dae in ’n koma is. Schoeman en Esther Hofmeyr het twee dogters, naamlik Estie en Elise.

Hy is op 5 Julie 1988 in Stellenbosch aan hartversaking oorlede.Anoniem. P.J. Schoeman op Stellenbosch oorlede. Die Burger, 6 Julie 1988Fensham, Charles. P.J. Schoeman oorlede. Tydskrif vir Letterkunde. Jaargang 27 no. 1, Februarie 1989

Skryfwerk

Prosa Hy maak sy debuut as prosaskrywer met artikels en kortverhale wat sedert 1931 in Die Huisgenoot gepubliseer word. Sy werke behandel grootliks die veld, natuur en diere, asook die inheemse stamme soos die San, die Swazi’s en Nguni’s. Sy eerste werk is Die swerwerjagter, waarin die sketse wat hy aanvanklik vir ’n reeks in Die Huisgenoot geskryf het, saamgebundel word. Hierin beskryf hy sonder sentimentaliteit die dierelewe en sy ervarings in die veld, asook sy waarnemings oor die gedrag en kultuur van die inheemse volke.Anoniem. Nuwe Brandwag, Deel 5 no. 4, November 1933 Die verhale van Strepies, die sebratjie en Tiere, leeus en buffels uit hierdie boek word deur G.S. Nienaber en P.J. Nienaber opgeneem in die versamelbundel Die Afrikaanse dierverhaal.

Ook sy tweede boek, Die jagterprins en ander verhale, is sketse wat voorheen eers in Die Huisgenoot gepubliseer is. Dit is ’n weergawe van sy eie en inboorlinge se jagavonture in Swaziland en Oos-Afrika. Die keurkommissie vir die Hertzogprys vir 1936 voel dat Die swerwerjagter en Die jagterprins eervolle vermelding verdien.

Op die groot spore bestaan uit twee verhale. In die titelverhaal bly die skrywer in Zoeloeland op die spore van die grootwild, maar skiet slegs in lewensgevaar of om iets vir die pot vir sy spoorsnyers in die hande te kry. Deurentyd vind hy meer uit oor die Zoeloetradisies wat met voortdurende verwestering aan die uitsterf is. Hy wen die vertroue van die koning deur ’n leeu te skiet en word bevoorreg om saam met die koning se beroepsjagters op ’n jagtog te gaan om geheime medisynsoorte bymekaar te maak. Die toordokter vertrou egter nie die witman nie en probeer om hom te vermoor. Dit lei tot spannende insidente, terwyl jagtogte afgewissel word deur interessante gesprekke rondom die kampvuur, waar hy inligting verkry oor stamgebruike en tradisies. Die fragment Slaags met die buffels uit hierdie verhaal word opgeneem in die versamelbundel Die Afrikaanse dierverhaal. Die tweede verhaal in die bundel is Nobiyane, die ou Zoeloefilosoof, wat later apart gepubliseer word as Nobiyane, die Zoeloeminnaar. Hierdie filosoof besin oor sy volk se geskiedenis en hulle voorvaderlike sedes wat besig is om te verdwyn, terwyl hy ook sy beleë wysheid met die leser deel.

Outobiografies is Uit die dagboek van ’n wildbewaarder, wat die leser saam met hom en sy spoorsnyer, die Heikum-San Langman, die wildernis van die Etosha Nasionale Park in Namibië inneem. Die stryd om hierdie wildtuin te bewaar en te verbeter vorm die agtergrond van die boek. Die veld en sy inwoners word bekend gestel en die boek gee ’n magdom inligting weer op ’n rustige verteltrant wat beide vermaak en inlig. In die dagboek laat die skrywer ook baie van sy innerlike bepeinsings en lewenswysheid deurskemer.Buys, Junita. Kakkerlak, Uitgawe 3, 2005De Kock, Helene. Beeld, 14 November 2005

Van jagter tot wildliefhebber besin outobiografies oor lewensherinneringe en die al dieper besef dat die wilde diere beskerm moet word en nie uitgeroei moet word nie, want hulle is lewend onmisbaar vir die diversiteit van die wêreld en die mens kan hulle nie namaak as hulle sou uitsterf nie.Barnard, Chris. Beeld, 17 Februarie 2003

Semi-outobiografies is Op ver paaie. Hierdie boek speel af op die noordgrens van die Kaokoveld in Suidwes-Afrika, waar die skrywer op soek is na ’n wilde perd wat die leier is van ’n trop sebras. Die soektog ontwikkel tot ’n onverwagte verkenning van die gees. Dit is ’n boeiende verhaal van die swerflus en heimwee na die onbereikbare van die veldmens. Hierdie stemming oorheers, maar die boek is vol onderhoudende interaksie met wilde diere en ’n inheemse stam, sodat die boek ’n interessante mengsel word van werklikheid, fantasie en stemming. Die wyse veldfilosoof Kalimo maak in hierdie boek sy eerste verskyning in Schoeman se werk en maak die Westerse skrywer se oë oop vir die eenheid van die omgewing en mens. Die skrywer ontmoet ook vir Tjimaka, die vrou met die heimwee in haar oë, en besin oor die stadsmens se verlies aan eenvoud. Die bindende element is ’n liefdesverhaal en die romantiek en heimwee wat dit meebring, veral in die eensaamheid van die veld.Smith, Charles. Beeld, 17 November 2014Van Zyl, Wium. Rapport, 5 April 2015

Terug op ver paaie neem hierdie motiewe verder en is ’n vervolg op Op ver paaie. Die skrywer en sy vriend, die veldfilosoof Kalimbo, is weer op die ver paaie, waar hulle die geheime van die veld en die diere wil oordra aan die jonger geslag, aan Dawid en Miemsie en hulle seuntjie Dawie.