duimnael|links|220px|Die simbool waarmee die Sodiakmoordenaar hom geïdentifiseer het.
Die Sodiakmoordenaar was ’n reeksmoordenaar wat in die laat 1960's in Noord-Kalifornië bedrywig was. Hy is nooit aangekeer nie en sy identiteit is onbekend. Die saak is al beskryf as die beroemdste onopgeloste moordsaak in die Amerikaanse geskiedenis en het al gelei tot baie pogings deur amateurspeurders om dit op te los.
Hy het mense tussen Desember 1968 en Oktober 1969 in Benicia, Vallejo, by die Berryessa-meer en in San Francisco vermoor. Vier mans en drie vroue tussen 16 en 29 jaar oud is aangeval. Twee van sy slagoffers het oorleef. Die Sodiak self het beweer hy het 37 mense vermoor en hy is verbind met verskeie ouer moorde, sommige in Suid-Kalifornië en ander buite Kalifornië. Die moordenaar het self die naam "Sodiak" gebruik in ’n reeks tartende briewe aan koerante in die Baaigebied. Dié briewe het vier geheime kodes bevat – net een hiervan is vir seker ontsyfer.
Verskeie verdagtes is ondersoek, maar geen beslissende bewyse is gevind nie. In April 2004 het die San Francisco-polisie die saak as "onaktief" gemerk, maar dit in 2007 heropen.SFPD-nuusvrystelling, Maart 2007 Die saak is ook nog oop in Vallejo en ander gebiede, asook by die Kaliforniese departement van justisie.Webtuiste van die Kaliforniese departement van justisie
Die enigste verdagte wat destyds ooit in die openbaar genoem is, was Arthur Leigh Allen, 'n voormalige laerskoolonderwyser en veroordeelde seksoortreder wat in 1992 dood is.
Moorde en korrespondensie Bevestigde slagoffers Hoewel die Sodiakmoordenaar in briewe aan koerante beweer het hy het 37 moorde gepleeg, is net sewe slagoffers bevestig, van wie twee sy aanvalle oorleef het. Hulle is: David Arthur Faraday, 17, en Betty Lou Jensen, 16, is op 20 Desember 1968 in die stad Benicia doodgeskiet. Michael Renault Mageau, 19, en Darlene Elizabeth Ferrin, 22, is op 4 Julie 1969 in Vallejo geskiet. Mageau het oorleef, maar Ferrin het gesterf. Bryan Calvin Hartnell, 20, en Cecelia Ann Shepard, 22, is op 27 September 1969 by die Berryessa-meer in Napa met ’n mes gesteek. Hartnell het agt steekwonde aan sy rug oorleef, maar Shepard het twee dae later gesterf. Paul Lee Stine, 29, is op 11 Oktober 1969 in San Francisco doodgeskiet.
Benicia en Vallejo Die eerste moorde wat algemeen aan die Sodiakmoordenaar toegeskryf word, is dié op die skoliere Betty Lou Jensen en David Faraday op 20 Desember 1968 net binne die stadsgrense van Benicia. Die twee was op hul eerste afspraak en sou ’n Kerskonsert by die Hoërskool Hogan drie blokke van Jensen se huis af bywoon. Hulle het egter in plaas daarvan ’n vriend besoek, by ’n plaaslike restaurant geëet en toe na ’n gewilde stilhouplek vir paartjies gery. Minder as ’n uur later is hul lyke deur ’n plaaslike inwoner ontdek. Die Solano-sheriffkantoor kon geen leidrade kry nie.
Volgens forensiese getuienis het ’n ander motor by hulle stilgehou. Die moordenaar het na hul motor gestap en die paartjie vermoedelik beveel om uit te klim. Toe Faraday halfpad uit die motor was, is hy doodgeskiet. Jensen is geskiet terwyl sy weggehardloop het. Daarna het die moordenaar weggery.
Net voor middernag op 4 Julie 1969 het Darlene Ferrin en Michael Mageau ’n paar kilometer van daar af parkeer, in die Blue Rock Springs Park in Vallejo. Terwyl hulle in Ferrin se motor gesit het, het ’n ander motor langs hulle parkeer en feitlik dadelik weggery. Tien minute later was die motor terug en het dit agter hulle stilgehou. Die bestuurder het uitgeklim en na die passasierskant van Ferrin se motor gestap met ’n klein flitslig en ’n 9 mm-Luger. Hy het die lig in die paartjie se oë geskyn en hulle vyf keer geskiet. Verskeie skote het deur Mageau getrek en Ferrin getref. Die moordenaar het weggestap, maar toe hy Mageau hoor kreun, het hy teruggeloop en elkeen nog twee keer geskiet voodat hy weggery het.Graysmith, pp. 26–28. Ferrin was dood met haar aankoms by die hospitaal. Mageau het oorleef, hoewel hy in die gesig, nek en bors geskiet is.Graysmith, p. 29.
Op 5 Julie 1969 het ’n man die Vallejo-polisie gebel en verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar, asook vir die moord op Jensen en Faraday ses en ’n half maande tevore. Die oproep is nagespeur na ’n telefoonhokkie net ’n paar blokke van die polisiekantoor af.Graysmith, pp. 32–33.
Briewe van die Sodiak 250px|duimnael|Die oplossing van die geheime kode van 408 simbole. Die betekenis van die laaste 18 letters is onbekend.Graysmith, pp. 54–55. Op 1 Augustus 1969 is drie briewe van die moordenaar ontvang deur die koerante Vallejo Times Herald, San Francisco Chronicle en San Francisco Examiner. In die drie byna identiese briewe het die skrywer verantwoordelikheid aanvaar vir die aanvalle in Benicia en Vallejo. Elk van die briewe het ook ’n derde van ’n geheime kode van 408 simbole bevat wat die moordenaar beweer het sy identiteit bevat. Hy het geëis dat die koerante dit op hul voorblad plaas, anders sou hy die hele naweek rondry en ’n dosyn mense doodmaak.Graysmith, p. 49.
Die Chronicle het sy derde van die kode op bl. 4 van die volgende dag se uitgawe geplaas. In ’n artikel daarby het die koerant Vallejo se polisiehoof aangehaal wat sê hulle is nie oortuig dit kom van die moordenaar af nie, en dat hy nog ’n brief met meer inligting moet stuur om sy identiteit te bewys."Coded Clues in Murders". San Francisco Chronicle, 2 Augustus 1969. Argiefweergawe van die oorspronklike Die moorde het nie plaasgevind nie en eindelik is al drie dele van die kode gepubliseer.
Nog ’n brief is op 7 Augustus 1969 deur die San Francisco Examiner ontvang waarin die moordenaar hom "die Sodiak" noem. Dit was in antwoord op die versoek dat hy nog inligting stuur. Daarin was besonderhede van die moorde wat nog nie bekend gemaak is nie, sowel as ’n boodskap aan die polisie dat as hulle die kode ontsyfer, hulle hom sou kon vang.Graysmith, pp. 55–57.
Op 8 Augustus 1969 het Donald en Bettye Harden van Salinas, Kalifornië, die kode ontsyfer. Dit was ’n boodskap met spelfoute waarin die Sodiak beweer het hy maak slawe bymekaar vir die hiernamaals. Geen naam verskyn in die teks nie en die moordenaar het gesê hy sal nie sy naam bekend maak nie, want dit sal sy versameling van slawe belemmer.
Berryessa-meer en San Francisco Op 27 September 1969 het die studente Bryan Hartnell en Cecelia Shepard piekniek gehou op ’n klein eiland in die Berryessa-meer wat met ’n strook sand aan die land verbind was. ’n Man met ’n laksman-tipe swart masker met donkerbrilglase aan die ooggate vasgemaak, het hulle genader. Hy het ’n soort borslap aangehad met ’n wit sirkel-en-kruissimbool daarop. Hy het beweer hy het uit ’n psigiatriese hospitaal ontsnap en het ’n motor en geld nodig gehad om na Mexiko te gaan. Hy het ’n wapen by hom gehad, asook stukke wasgoedlyn. Hy het Shepard beveel om Hartnell vas te maak voordat hy haar ook vasgemaak en Hartnell se toue stywer getrek het. Hartnell het aanvanklik gedink dis ’n vreemde rooftog, maar toe haal die man ’n mes uit en steek albei herhaaldelik. Hy het daarna teruggeloop na Hartnell se motor en die sirkel-en-kruissimbool op die kar getrek met ’n swart viltpen. Daaronder het hy geskryf: "Vallejo/12-20-68/7-4-69/Sept 27–69–6:30/by knife."Graysmith, pp. 62–77
Om 19:40 het die moordenaar die sheriffkantoor van ’n openbare telefoon af gebel en sy laaste misdaad aangemeld. Toe ’n radioverslaggewer minute later by die telefoon kom ’n paar blokke van die sheriffkantoor maar ver van die misdaadtoneel af, was die gehoorbuis nog van die mikkie af. Die polisie het ’n palmafdruk wat nog nat was, op die telefoon gekry, maar kon nooit bepaal aan wie dit behoort nie. Toe die polisie op die misdaadtoneel kom, was Shepard nog by haar bewussyn en sy het die aanvaller in detail beskryf. Sy is twee dae later dood, maar Hartnell het oorleef en die gebeure vir die pers beskryf.
Twee weke later, op 11 Oktober 1969, het ’n passasier Paul Stine se taxi in San Francisco gehaal en gevra om na Presidio Heights geneem te word. Naby hul bestemming het die man Stine in die kop geskiet, sy beursie en motorsleutels gevat en ’n stuk van Stine se bebloede hemp afgeskeur. Drie tieners het dit sien gebeur en die polisie gebel. Hulle het die moordenaar in die rigting van die Presidio, ’n blok van daar, sien loop.
Twee blokke van die misdaadtoneel af het konstabel Don Fouke op die polisie-oproep gereageer. Hy het ’n wit man op die sypaadjie sien loop. Daar is egter oor die radio gewaarsku die polisie moet uitkyk vir ’n swart verdagte, en Fouke het verbygery. Dis steeds onseker hoe dié fout ingesluip het. ’n Soektog is gelas, maar geen moontlike verdagtes is aangekeer nie. Die drie tieners het daarna ’n skets van die verdagte saam met die polisie saamgestel.
Nog korrespondensie van die Sodiak Op 14 Oktober 1969 het die Chronicle nog ’n brief van die Sodiak ontvang, dié keer met ’n deel van Paul Stine se bebloede hemp as bewys dat hy die moordenaar is. In die brief was ook ’n dreigement dat hy kinders op ’n skoolbus sou vermoor. Op 20 Oktober het iemand wat beweer het hy is Sodiak, die polisie in Oakland, Kalifornië, gebel en geëis dat twee bekende regsgeleerdes, F. Lee Bailey en Melvin Belli, op die televisieprogram A.M. San Francisco verskyn. Belli was op die program en die kykers is gevra om die telefoonlyne oop te hou. Eindelik het iemand gebel, beweer hy is die Sodiak en gesê sy naam is "Sam". Belli het ingestem om hom iewers te ontmoet, maar die verdagte het nie opgedaag nie.
Die Sodiak het op 8 November 1969 ’n kaartjie met nog ’n geheime kode gestuur wat uit 340 karakters bestaan het. Dit is nooit ontsyfer nie.
Op 9 November het hy ’n brief van sewe bladsye gepos waarin hy beweer twee polisiemanne het met hom gepraat drie minute nadat hy Stine geskiet het."I've Killed Seven" The Zodiac Claims . San Francisco Chronicle,m 12 November 1969.New Letters From Zodiac – Boast of More Killings . San Francisco Chronicle, 12 November 1969. Op 20 Desember, presies ’n jaar ná die moord op David Faraday en Betty Lou Jensen, het die Sodiak ’n brief aan Belli gepos wat nog ’n stuk van Stine se hemp bevat het. Hy het beweer hy wil hê Belli moet hom help.
Moontlike slagoffers Die volgende moorde is moontlik deur die Sodiakmoordenaar gepleeg, hoewel nie een bevestig is nie. Robert Domingos, 18, en Linda Edwards, 17, is op 4 Junie 1963 op ’n strand naby Gaviota, Kalifornië, doodgeskiet. Daar was spesifieke ooreenkomste tussen hul moord en dié van die aanvalle ses jaar later by die Berryessa-meer. Cheri Jo Bates, 18, is op 30 Oktober 1966 doodgesteek en byna onthoof in Riverside, Kalifornië. Haar moord is eers vier jaar later met die Sodiakmoordenaar verbind.Graysmith, p. 160. Donna Lass, 25, is op 6 September 1970 die laaste keer gesien in Stateline, Nevada. ’n Poskaart wat ’n koerant sewe jaar later ontvang het, het haar met die Sodiak verbind, maar geen ander bewyse nie.Adams, p. 274
Nog ’n vermeende slagoffer het oorleef: Kathleen Johns, 22, is na bewering op 22 Maart 1970 naby Modesto, Kalifornië, ontvoer. Johns het ontsnap nadat haar ontvoerder sowat ’n uur en ’n half met haar en haar babadogter rondgery het.
Modesto Op die aand van 22 Maart 1970 het Kathleen Johns van San Bernardino, Kalifornië, na Petaluma gery om haar ma te besoek. Sy was sewe maande swanger en het haar dogtertjie van 10 maande by haar gehad. Op die snelweg naby Modesto het ’n motor agter hare sy toeter begin druk en sy ligte geflits. Sy het van die pad afgetrek. ’n Man het agter haar stilgehou en gesê haar regteragterwiel wikkel heen en weer. Hy het gesê hy sal die boute stywer vasmaak, en daarna het hy weggery. Toe Johns wegtrek, het die wiel egter feitlik dadelik van die motor afgeval. Die man het teruggery en aangebied om haar na die naaste vulstasie te neem.