Theodore Robert "Ted" Bundy (geb. as Theodore Robert Cowell; 24 November 1946 – 24 Januarie 1989) was ’n Amerikaanse reeksmoordenaar, verkragter en nekrofiel wat in die 1970's en waarskynlik al vroeër verskeie meisies en jong vroue vermoor het. Kort voor sy teregstelling, ná meer as ’n dekade van ontkenning, het hy skuld beken op 30 moorde in sewe deelstate tussen 1974 en 1978. Sy ware getal slagoffers is onbekend en kan veel hoër wees.
Bundy se slagoffers het hom as aantreklik en charismaties beskou en hy het dit uitgebuit om hul vertroue te wen. Hy het hulle gewoonlik in openbare plekke genader en gemaak of hy gestrem of beseer is, of hy het gemaak of hy ’n gesagsfiguur is. Daarna het hy hulle oorrompel, aangerand en hulle na ’n meer afgeleë plek geneem. Hy sou soms die plekke waar die moorde plaasgevind het vir ure besoek en die lyk versorg en daarmee seks hê totdat ontbinding of vernietiging deur wilde diere enige verdere interaksie onmoontlik gemaak het. Hy het minstens 12 van sy slagoffers onthoof en sommige van die koppe vir ’n tyd in sy woonstel gehou as aandenkings. ’n Paar keer het hy eenvoudig by blyplekke ingebreek en die slagoffers doodgeslaan terwyl hulle slaap.
Hy is aanvanklik in 1975 in Utah aangehou vir ontvoering en poging tot kriminele aanranding. Daar het hy ’n verdagte geword in ’n al hoe langer lys onopgeloste misdade in verskeie deelstate. Toe twee aanklagte van moord in Colorado hom in die gesig staar, het hy twee keer dramaties ontsnap en nog mense aangerand, waarvan drie vermoor is, voordat hy die laaste keer in 1978 in Florida in hegtenis geneem is. Hy het in twee verskillende verhore drie keer die doodstraf gekry vir die moorde in Florida.
Ted Bundy het op 24 Januarie 1989 in die elektriese stoel gesterf in die Raiford-tronk in Florida. Hy het homself eenkeer beskryf as "… the most cold-hearted son of a bitch you'll ever meet". ’n Lid van sy laaste verdedigingspan, Polly Nelson, stem saam. "Ted," het sy geskryf, "was die definisie van hartelose boosheid."
Vroeë lewe Kinderjare Bundy is as Theodore Robert Cowell gebore in ’n tehuis vir ongehude moedersVermontWoman.com . URL besoek op 2012-04-03. in Burlington, Vermont. Sy ma was Eleanor Louise Cowell, bekend as Louise, en sy pa se identiteit is nooit vir seker vasgestel nie. Sommige familielede het vermoed die pa kon Louise se eie gewelddadige pa, Samuel Cowell, gewees het.
Vir die eerste drie jaar van sy lewe is Ted deur sy grootouers, Samuel en Eleanor Cowell, as hul eie kind grootgemaak om die skande van ’n buite-egtelike kind te voorkom. Hy en ander familielede het geglo sy grootouers is sy ouers en sy ma is sy ouer suster. Hy het eindelik die waarheid ontdek en het sy ma sy lewe lank kwalik geneem omdat sy vir hom gejok het.
Hoewel Bundy in onderhoude gesê het hy respekteer sy oupa, het hy en ander familielede in 1987 aan advokate vertel Samuel Cowell was ’n tiran en boelie wat swart mense, Italianers, Katolieke en Jode gehaat het, sy vrou en hond geslaan en bure se katte aan hul sterte geswaai het. Hy het Louise se jonger suster, Julia, eenkeer teen die trap afgestamp omdat sy verslaap het.
duimnael|links|Bundy as ’n skoolseun in 1965. In 1950 het Louise skielik haar van na Nelson verander, Philadelphia saam met haar seun verlaat en in Tacoma, Washington, by familie gaan woon. In 1951 het sy Johnny Culpepper Bundy, ’n hospitaalkok, ontmoet en hulle is later dié jaar getroud. Johnny het Ted aangeneem en hoewel hy en Louise vier kinders van hul eie gehad het en Johnny probeer het om sy aangenome seun in gesinsbedrywighede te betrek, het Ted hom eenkant gehou.
Bundy se herinneringe aan sy kinderjare wissel van skrywer tot skrywer: van ’n soeke deur asblikke na foto's van naakte vroue en die lees van misdaadtydskrifte, veral as daar foto's van verminkte seksslagoffers in was, tot die verbruik van groot hoeveelhede alkohol en die afloer van mense deur oop gordyne.
Hy het ook vertel hoe hy alleen was omdat hy nie interpersoonlike verhoudings verstaan het nie, hoewel klasmaats vertel het ander kinders het Ted geken en van hom gehou. Hy is daarna universiteit toe om Chinees te studeer en het ’n meisie, Stephanie Brooks, gehad. Hy het vroeg in 1968 opgeskop en ’n paar klein werkies gehad. Brooks het hom in dié tyd afgesê. Daarna het hy na Colorado en toe verder oos gereis om familie in Arkansas en Philadelphia te besoek.
Terug in Washington in 1969 het hy Elizabeth Kloepfer (wat gewoonlik onder ander name geïdentifiseer word) ontmoet. Hul stormagtige verhouding sou aanhou tot lank nadat hy in 1976 die eerste keer in Utah in hegtenis geneem is. In die middel van die sewentigerjare het hy weer begin studeer, met sielkunde as 'n hoofvak. Hy het goed gedoen en lof van sy lektore gekry. In 1972 het hy aangesluit by goewerneur Daniel J. Evans se herverkiesingsveldtog. Hier het hy hom goed van sy taak gekwyt en nadat Evans herverkies is, het Ross Davis, voorsitter van die Republikeinse Party van Washington, hom as ’n assistent aangestel. Hy het groot lof vir Bundy gehad. Vroeg in 1973 is Bundy vir regstudies aanvaar aan die Universiteit van Utah danksy getuigskrifte van Evans, Davis en verskeie van sy vorige professore.
In dié tyd het hy weer ’n verhouding met Brooks aangeknoop en toe skielik die verhouding eensydig verbeek. Later sou hy verduidelik hy wou net aan homself bewys dat hy met haar kon getrou het. In dié tyd het Bundy klasse begin misloop en in April het hy heeltemal ophou klas loop, terwyl jong vroue in die omgewing begin verdwyn het.
Eerste twee reekse moorde Washington, Oregon Daar is geen konsensus oor waar en wanneer Bundy vroue begin vermoor het nie. Hy het aan verskillende mense verskillende stories vertel en geweier om besonderhede oor sy vroeë misdade te onthul, selfs terwyl hy in die dae voor sy teregstelling latere moorde in detail beskryf het. Hy het aan Nelson vertel hy het in 1969 in New Jersey die eerste keer probeer om iemand te ontvoer, maar niemand vermoor tot in 1971 in Seattle nie. Hy het aan die sielkundige Art Norman vertel hy het in 1969 twee vroue in Atlantic City vermoor terwyl hy familie in Philadelphia besoek het. Teenoor speurder Robert D. Keppel het hy geskimp oor ’n moord in 1972 in Seattle en nog een in 1973 in Washington, maar geweier om uit te brei. Rule en Keppel glo albei hy kon as tiener al begin moor het. Omstandigheidsgetuienis dui daarop dat hy die agtjarige Ann Marie Burr van Tacoma in 1961 kon ontvoer en vermoor het toe hy 14 was, maar hy het dit herhaaldelik ontken. Sy eerste moorde sover bekend is in 1974 gepleeg toe hy 27 jaar oud was. Teen dié tyd, het hy self erken, het hy die slag ontwikkel om (voor die dae van DNS-toetse) so min moontlik diskriminerende bewyse op ’n misdaadtoneel te los.
Kort ná middernag van 4 Januarie 1974, omstreeks die tyd dat hy Brooks afgesê het, het Bundy die woonstel van die 18-jarige Karen Sparks (soms geïdentifiseer as Joni Lenz of Terri Caldwell), ’n student en danser, binnegegaan. Hy het haar in haar slaap geslaan en met ’n dokterspieël seksueel aangerand. Sy het heelwat interne beserings opgedoen. Sy was tien dae lank bewusteloos, maar het oorleef, met permanente breinskade. Minder as ’n maand later, in die vroeë oggendure van 1 Februarie, het Bundy by die woonstel van Lynda Ann Healy, ’n student, ingebreek. Hy het haar bewusteloos geslaan, vir haar blou jeans, ’n wit bloes en stewels aangetrek en haar weggedra.
duimnael|220px|Ted Bundy se 1968-Kewer, wat deel was van baie van sy misdade, by die National Museum of Crime & Punishment. Vrouestudente het teen sowat een per maand weggeraak. Op 12 Maart het Donna Gail Manson, ’n 19-jarige student, in Olympia, Washington, haar koshuis verlaat vir ’n jazzkonsert op die kampus, maar nooit daar aangekom nie. Op 17 April het Susan Elaine Rancourt verdwyn op pad na ’n fliek in Ellensburg, Washington. Twee ander studente het vertel dat hulle genader is, die een op die aand toe Rancourt verdwyn het en die ander drie dae vantevore, deur ’n man met sy arm in ’n hangverband. Hy het hulle gevra om hom ’n klomp boeke na sy bruin of taankleurige Volkswagen-Kewer te help dra. Op 6 Mei het Roberta Kathleen Parks haar koshuis in Corvallis, Oregon, verlaat om koffie saam met vriende te gaan drink, maar sy het nooit opgedaag nie.
Speurders van King County se sheriffkantoor en die Seattle-polisieafdeling het al hoe meer bekommerd geraak. Daar was geen beduidende fisieke getuienis nie en die vroue het min gemeen gehad, benewens dat hulle jonk, mooi en wit studente met lang hare en ’n middelpaadjie was. Op 1 Junie het Brenda Carol Ball, 22, verdwyn toe sy ’n taverne in Burien, Washington, verlaat. Sy is die laaste keer gesien terwyl sy op die parkeerterrein gepraat het met ’n man met bruin hare en sy arm in ’n hangverband. In die vroeë oggendure van 11 Junie het die student Georgann Hawkins verdwyn terwyl sy in die helder verligte paadjie tussen haar en haar kêrel se koshuise gestap het. Ná haar verdwyning het getuies na vore gekom wat vertel het hulle het dié nag ’n man in ’n nabygeleë paadjie gesien. Sy been was in gips, hy het met krukke geloop en het gesukkel om ’n aktetas te dra. Een vrou het gesê die man het haar gevra om hom te help om die tas na sy motor, ’n ligbruin Volkswagen-Kewer, te dra.
In dié tyd het Bundy by ’n staatsnooddiens in Olympia gewerk wat betrokke was by die soektog na die vermiste vroue. Daar het hy Carole Ann Boone ontmoet en met haar uitgegaan. Sy was twee keer geskei en die ma van twee kinders, en het ’n belangrike rol in die finale fase van sy lewe gespeel.
Paniek het onder die publiek uitgebreek toe nuus oor die moorde en Sparks se aanranding bekend raak. Die polisie kon nie die min besonderhede wat hulle gehad het, bekend maak nie uit vrees dat dit hul ondersoek sou belemmer. Die polisie het nou spesifieke ooreenkomste opgemerk: die verdwynings het snags plaasgevind, gewoonlik naby bouwerk, binne ’n week voor of na eksamens; al die slagoffers het langbroeke of jeans gedra; en op die meeste tonele is ’n man opgemerk met gips of ’n hangverband wat met ’n bruin of taankleurige Volkswagen-Kewer ry.
Op Sondag 14 Julie is twee vroue helder oordag op ’n besige strand ontvoer, sowat 32 km van Seattle. Vyf vrouestudente het beskryf hoe ’n aantreklike man in wit tennisklere en met sy linkerarm in ’n hangverband met hulle gepraat het. Hy het ’n ligte aksent gehad, soos Kanadees of miskien Brits. Hy het hom as "Ted" voorgestel en hul hulp gevra om ’n seilboot van sy taan- of bronskleurige Kewer af te laai. Vier het geweier en een het hom tot by sy motor vergesel, maar toe sy gesien het daar is nie ’n boot nie het sy gevlug. Nog drie getuies het gesien hoe hy Janice Anne Ott, 23, met die storie van ’n seilboot nader, en dat sy saam met hom weg is. Sowat vier uur later het die 18-jarige Denise Naslund ’n piekniek verlaat om ’n draai te loop, en sy het nie teruggekeer nie. Bundy het later vertel Ott het nog gelewe toe hy met Naslund terugkeer en dat hy die een gedwing het om te kyk hoe hy die ander vermoor. Hy het dit egter die aand voor sy teregstelling teruggetrek.
Inligting oor die verdagte is deur Seattle versprei en ’n skets het in die media verskyn. Elizabeth Kloepfer, Ann Rule en ’n universiteitsprofessor het die profiel, skets en motor herken en Ted Bundy as ’n moontlike verdagte gerapporteer. Speurders, wat tot 200 wenke per dag ontvang het, het egter gedink dit is onwaarskynlik dat ’n voorbeeldige regstudent sonder ’n misdaadrekord die skuldige is.
Op 6 September is Ott en Naslund se oorskot naby ’n pad ontdek. ’n Ekstra femur en verskeie menslike rugwerwels wat op die toneel gevind is, is later deur Bundy geïdentifiseer as dié van Georgann Hawkins. Ses maande later is die kopbene en kakebene van Healy, Rancourt, Parks en Ball gevind op Berg Taylor, waar Bundy dikwels gestap het. Manson se oorskot is nooit gevind nie.
Idaho, Utah, Colorado