Moses Sithole (geb. 17 November 1964) is ’n Suid-Afrikaanse reeksmoordenaar en verkragter wat die sogenaamde ABC-moorde gepleeg het. Dit is so genoem omdat hulle in Atteridgeville begin en daarna na Boksburg en Cleveland, ’n voorstad van Johannesburg, uitgebrei het. Sithole is daarom ook die ABC-moordenaar genoem, asook die South African Strangler.
Vroeë lewe Hy is in Vosloorus, ’n arm deel van Boksburg, Gauteng, gebore. Sy pa is dood toe hy vyf jaar oud was en sy ma het die gesin alleen gelaat. Sithole en sy sibbes het die volgende drie jaar in ’n weeshuis grootgeword waar hulle volgens hom sleg behandel is. Daar is nie veel van sy lewe bekend nie, behalwe wat hy self vertel het. Volgens hom is hy in sy tienerjare vir verkragting in hegtenis geneem en was hy daarna sewe jaar in die tronk. Hy het later sy tyd in die tronk die skuld daarvoor gegee dat hy ’n moordenaar geword het. Hy het gesê die vroue wat hy vermoor het, het hom almal herinner aan dié wat hom baie jare tevore "vals beskuldig" het van verkragting.
Moorde Ten tye van die moorde het Sithole ’n vals organisasie, Youth Against Human Abuse, gehad wat oënskynlik misdaad teen kinders beveg het. Al sy slagoffers is vroue met wie hy onderhoude gevoer het vir posisies in die "welsynorganisasie". Hy het hulle na afgeleë dele geneem en hulle dan geslaan, verkrag en vermoor. Hulle is gewoonlik met hul eie onderklere verwurg. Hy sou die woord "bitch" op hul lyke skryf. Die eerste moorde het in die township Atteridgeville naby Pretoria plaasgevind.
Ná ’n ruk het Sithole sy dade in Boksburg voortgesit en toe in Cleveland. Teen 1995 het hy beweer hy het meer as 30 vroue vermoor. In sommige gevalle het hy daarna die slagoffer se familie gebel, blykbaar net om hulle te tart.A&E Biography – Moses Sithole Die destydse president, Nelson Mandela, het Boksburg in ’n stadium besoek om die publiek se hulp te vra om die moordenaar aan te keer.
Arres en vonnis In Augustus 1995 is iemand wat saam met een van die slagoffers gesien is, as Sithole geëien. Die SAPD-ondersoekers het gou besonderhede oor sy vorige vonnis vir verkragting bekend gemaak. Sithole het net daarna verdwyn. In Oktober 1995 het hy Tamsen de Beer, ’n joernalis by die Johannesburgse dagblad The Star gekontak en gesê hy is die moordenaar.Beeld, 1 November 1996. "Stem in opname van oproep Sithole s'n, getuig verslaggewer". URL besoek op 26 Oktober 2014 Tydens ’n telefoongesprek met De Beer het hy gesê hy het die moorde gepleeg uit wraak vir sy "onregverdige tronkstraf". Hy het toe gesê hy het 76 vroue vermoor, twee keer soveel as wat vroeër berig is. Uiteindelik, om te bewys hy is die moordenaar, het hy aanwysings gegee na waar hy een van die lyke gelos het.
Sithole is eindelik in Johannesburg opgespoor en in hegtenis geneem. Die polisie het hom in die maag, arm en voet geskietBeeld, 3 November 1995. "Vermeende reeksmoordenaar dalk gou tronk toe". URL besoek op 26 Oktober 2014 toe hy ’n konstabel met ’n byl aanval. Hy is daarna hospitaal toe geneem, waar hy positief vir MIV getoets het.Beeld, 28 November 1995. "Sithole glo besmet met die HI-virus". URL besoek op 26 Oktober 2014
Op 5 Desember 1997 is Sithole gevonnis tot 50 jaar tronkstraf vir elk van die 38 moorde, 12 jaar vir elk van 40 verkragtings en vyf jaar vir elk van ses diefstalaanklagte. Aangesien hy dit agtereenvolgens moet uitdien, is hy effektief tot 2 410 jaar tronkstraf gevonnis. Regter David Carstairs het gelas Sithole moet minstens 930 jaar daarvan uitdien voordat hy in aanmerking kan kom vir parool. Hy is aanvanklik in die C-Max-maksimumsekuriteitsafdeling van die Pretoria Sentraal-gevangenis aangehou en is nou in die Manguang-gevangenis in Bloemfontein in die Vrystaat.
Sien ook Lys van Suid-Afrikaanse reeksmoordenaars
Verwysings
Bronne
15px Hierdie artikel is merendeels vertaal uit die Engelse Wikipedia
Kategorie:Suid-Afrikaanse reeksmoordenaars Kategorie:Suid-Afrikaanse verkragters Kategorie:Geboortes in 1964 Kategorie:Lewende mense