Die City of Westminster [ˈwɛstmɪnstər] is een van die administratiewe distrikte (boroughs) van Londen. Dit beslaan 'n groot deel van Sentraal-Londen, insluitende die West End, en is wes van die historiese middestad, die City of London en oos van die Royal Borough of Kensington and Chelsea, geleë. Die Teems vorm 'n natuurlike grens in die suide. duimnael|links|Regent Street Die huidige stadsdistrik City of Westminster is in 1965 met die vestiging van Groter Londen geskep deur die samesmelting van die ou City of Westminster en die distrikte Paddington en St. Marylebone. Die stadstatus van die vroeëre, kleiner Metropolitan Borough of Westminster is ook onmiddellik aan die nuwe distrik toegeken wat deur die Westminster-stadsraad (Westminster City Council) geadministreer word.
Die distrik word in 'n aantal nie-administratiewe buurte onderverdeel, waaronder die historiese regeringskwartier rondom die Paleis van Westminster; die winkelbuurte rondom Oxford Street, Regent Street, Piccadilly en Bond Street; en die vermaaklikheidsbuurt Soho.
Behalwe vir sy groot aantal parke en ander groen ruimtes het die oorwegend residensiële distrik 'n hoë bevolkingsdigtheid. In 2014 is die bevolking op meer as 230 000 beraam.
Baie van Londen se bekendste besienswaardighede is in die City of Westminster geleë, waaronder die Sint James- en Buckingham-paleise, die parlementsgebou (Paleis van Westminster), en 10 Downing Street, die ampswoning van Britse eerste minsters.
Bron Gray, Robert: A History of London, Hutchinson & Co, London, 1978,
Verwysings
Eksterne skakels
Amptelike webtuiste
Kategorie:Boroughs van Londen