__NOTOC__
Die trekduif (Ectopistes migratorius) was 'n hipersosiale duifspesie wat algemeen oor die kontinent van Noord-Amerika voorgekom het, voordat dit vroeg in die 20ste eeu uitgesterf het. Dit was die volopste voël in Noord-Amerika met 'n bevolking van 3 tot 5 miljard individue toe Europese setlaars op die kontinent aangeland het. Wat getalle betref het dit sowat 30 tot 40% van die hele Noord-Amerikaanse voëlbevolking uitgemaak. Volgens hierdie ramings was dit ook die volopste voëlspesie ter wêreld, en moet as een van die mees sonderlinge voëlspesies ooit gereken word.
Vroeë verslae Migrerende swerms het dae geneem om oorhoofs te beweeg en het die lug verduister. Eietydse verslae beskryf migrerende swerms van 1,6 km breed en 500 km lank, wat dae geneem het om verby te trek, só dig op mekaar dat die lug oordag verdonker is, hul vlerkgedruis na donderweer geklink het, en hul mis soos sneeu geval het.
J.J. Audubon, wat in 1813 'n swerm by die Ohiorivier dopgehou het, het geskryf: "Ek kan die effek van hierdie wolk duiwe nie vir jou beskryf nie. Hulle het as 'n snelle stroom voortbeweeg, en uit elke rigting het hulle gekom... Ek het die swerms getel soos hulle verbygegaan het, en moed opgegee, want hulle was ontelbaar." Hulle het dikwels op onreëlmatige tye in groot swerms oor die kontinent gevlieg. In 1866 nog het die oortog van een so 'n swerm in Ontario minstens 14 uur lank geduur, en dit moes meer as 'n miljard duiwe bevat het.
Broeigedrag Hul dun, pieringvormige neste is uitsluitlik in bome (hardehout of immergroen) gebou, tipies tussen 2 en 20 meter van die grond af. Elkeen van hierdie kommunale broeiplekke het 'n groot area in 'n oostelike bladwisselende woud beslaan. Een massiewe broeikolonie in Wisconsin het ongeveer 850 vierkante myl beslaan en het na raming 136 miljoen voëls gehuisves. 'n Kolonie was stampvol met dosyne tot honderde neste per boom. In een geval is 300 neste in 'n enkele groot boom aangeteken. Hulle was die uitsondering op tipiese duiwe deurdat 'n broeipaar slegs 'n enkele eier per broeipoging gelê het. Die ouers het mekaar afgelos om te broei, en om die veiligheid van hul getalsterkte te benut, het inkubasie slegs sowat 12 tot 14 dae geduur. Die enkele kuiken het die tipiese voeding van kropmelk ontvang, wat later met sade en neute aangevul is. Dit het vinnig gegroei en is na sowat twee weke deur die ouers verlaat. Dit sou nog 'n wyle op vetreserwes teer voor dit na die bosvloer afgevladder het om daar te begin wei.
Oorbenutting van die spesie Ondanks die groot getalle het hierdie duiwe later uitgesterf. Daar is genadeloos op hulle gejag en ontbossing het tot 'n verlies aan habitat gelei. Met behulp van telegraaf en spoorweg het die kommersiële jag op die spesie in die 1850's met alle erns begin. As 'n broeiplek gevind is, het jagters dit aan ander jagters getelegrafeer, en is op hele neskolonies van soms 200 km² toegeslaan. Wavragte van die duifbuit is na stede vervoer waar dit as goedkoop voedsel verhandel is. Professionele jagters het nette, pale en swerms opgeleide duiwe as lokvalle gebruik. Een New Yorkse markplek het daagliks 18 000 voëls verkoop.
By 'n bepaalde broeikolonie in Michigan is daar in 1874 sowat 25 000 duiwe per dag afgemaai. Die laaste omvangryke broeiplek was in 1878 te Petoskey in Michigan. Teen die jare tagtig van die negentiende eeu was dit duidelik dat hulle deur uitsterwing bedreig word, en met die eeuwending was die wilde bevolking funksioneel tot niet.
Laaste individu Op 1 September 1914 sterf die laaste duif, genaamd Martha, in die Cincinnati- Diere- en Botaniese Tuin. Sy was 29 jaar oud. Sy is in gevangenskap gebore, en het byna drie dekades in die Cincinnati-dieretuin oorleef, uiteindelik as die laaste van haar spesie. Sy het 136 gram geweeg, en haar liggaam is dadelik in 'n blok ys geplaas en na die Smithsonian gestuur.
Galery
Sien ook Alfabetiese lys van Suid-Afrikaanse voëls Lys van Suid-Afrikaanse voëls (Groepeer) Lys van Suider-Afrikaanse voëls volgens wetenskaplike name
Verwysings
Eksterne skakels Inligting oor die trekduif
Kategorie:Duiwe