duimnael|300px|’n Uitsig op die piramides by Giza. Van links is die drie grootstes: die Piramide van Menkaoere, van Chafra en van Choefoe. Die drie kleiner piramides op die voorgrond behoort tot die Menkaoere-kompleks. duimnael|300px|Die Piramide van Chafra vanaf die Groot Sfinks. Die Egiptiese piramides is antieke piramidevormige boustrukture in Egipte. Tot in 2008 is 138 piramides in dié land ontdek. Die meeste is gebou as grafkelders vir die land se farao's en hul vroue tydens die periodes van die Ou en die Middelryk van Egipte.Michael Ritter (2003) Dating the Pyramids. URL besoek op 13 April 2005
Die vroegste bekende Egiptiese piramides word aangetref by Saqqara, noordwes van Memphis. Die oudste van hulle is die Piramide van Djoser (gebou van 2630-2611 v.C.), tydens die 3de Dinastie. Dit is deur die argitek Imhotep ontwerp en word algemeen beskou as die wêreld se oudste monumentstruktuur van vormklipwerk. Die raming van hoeveel werkers nodig sou wees om die piramides te bou, wissel van ’n paar duisend tot 100 000.
Die bekendste Egiptiese piramides is dié by Giza, aan die buitewyke van Kaïro. Verskeie van die Giza-piramides word beskou as van die grootste strukture wat nog gebou is. Die grootste een is die Piramide van Cheops (of Choefoe). Dit is die enigste van die Sewe Wonders van die Antieke Wêreld wat nog bestaan.
Historiese ontwikkeling duimnael|Die Mastaba van Faraoen by Saqqara. Teen die tyd van die vroegdinastiese tydperk is belangrike mense begrawe in vierkantige bousels bekend as mastabas. Burial customs: mastabas. University College London (2001) URL besoek op 14 April 2005
Die tweede histories aangetekende piramide se ontwerp word toegeskryf aan Imhotep; daar word geglo dit is as die grafkelder van farao Djoser ontwerp. Imhotep was sover bekend die eerste mens wat voorgestel het dat mastabas bo-op mekaar gestapel word om so ’n bouwerk te skep wat uit ’n aantal "trappe" bestaan wat al hoe kleiner word na bo. Die gevolg was die Trappiramide van Djoser, wat ontwerp is as ’n reusagtige trap wat die siel van die ontslape farao kon bestyg na die hemele. Imhotep se prestasie was so groot dat hy deur latere Egiptenare vergoddelik is.Quirke, Stephen (2001). The Cult of Ra: Sun Worship in Ancient Egypt. Thames & Hudson. pp. 118–120
Die tyd waarin die meeste piramides gebou is, val saam met die hoogtepunt van absolutistiese farao-heerskappy. In dié tyd is die beroemdste piramides, dié by Giza, gebou. Namate die sentrale heerskappy afgeneem het, het die begeerte en vermoë om op ’n massiewe skaal te bou afgeneem, en latere piramides was kleiner asook vinniger en minder goed gebou.
Die Egiptiese sultan Al-Aziz Oethman (1171–1198) het probeer om die Giza-piramides te verwoes. Hy het handdoek ingegooi nadat hy die Piramide van Menkaoere beskadig het, want dit het ’n te enorme taak blyk te wees.Lehner, Mark The Complete Pyramids, London: Thames and Hudson (1997)p.41 .
Simboliek duimnael|300px|’n Diagram van die binnekant van die Groot Piramide. Die binneste lyn wys die huidige buitelyn en die buitenste lyn die oorspronklike profiel. Die vorm van die Egiptiese piramides verteenwoordig waarskynlik die oerheuwel waaruit die aarde volgens die Egiptiese mitologie geskep is. Dit verteenwoordig ook die neerskynende strale van die son, en die meeste piramides is afgewerk met gepoleerde, hoogs weerkaatsende wit kalksteen sodat dit geblink het as ’n mens dit van ver af gesien het. Die name het ook na die son se ligkrag verwys, soos die "Suidelike Skynende Piramide" (die amptelike naam van die Geboë Piramide by Dahsjoer) en "Senwosret Skyn" (die Senwosret-piramide by el-Lahoen).
Hoewel algemeen aanvaar word dat die piramides as grafkelders gebou is, is daar meningsverskille oor die spesifieke godsdienstige beginsels daarvan. Een teorie is dat hulle ontwerp is as ’n soort "opstandingsmasjien". Die Egiptenare het geglo die donker deel van die naglug waarom die sterre volgens hulle gedraai het, was die fisieke poort tot die hemele. Een van die nou gange wat van die hoofkamer van die Groot Piramide regdeur die struktuur strek, wys reg na die middel van hierdie deel van die lug. Dit laat kenners glo die piramides is dalk ontwerp om te dien as ’n middel waarmee die farao se siel reguit na die gode gestuur is.
Al die Egiptiese piramides is op die wesoewer van die Nyl gebou. Omdat die son daar ondergegaan het, is dit in die Egiptiese mitologie verbind met die doderyk.
Getal en ligging van die piramides Karl Lepsius het in 1842 die eerste moderne lys van piramides opgestel; hy het 67 getel. Baie meer is later ontdek. In November 2008 was daar 118 bekende Egiptiese piramides. Die ligging van Piramide 29, wat Lepsius die "Koplose Piramide" genoem het (moontlik dié van Menkaoehor), het ná sy ontdekking weer verlore geraak nadat dit met woestynsand bedek is, en dit is eers in 2008 herontdek.
Baie piramides is in ’n swak toestand of in sand begrawe. As hulle sigbaar is, lyk hulle dikwels soos rommelhope. Argeoloë identifiseer en ondersoek dus dikwels voorheen onbekende strukture. Die mees onlangse piramide wat ontdek is, is dié by Saqqara van koningin Sesjesjet, moeder van die 6de-dinastiese farao Teti. Die ontdekking is op 11 November 2008 bekend gemaak deur Zahi Hawass, sekretaris-generaal van die Egiptiese Opperraad van Oudhede.
Al die piramides, behalwe dié van die 3de-dinastiese Zawjet el-Amwat (of Zawjet el-Majitin), is op die wesoewer van die Nyl geleë, en die meeste is op ’n paar terreine gegroepeer. Die belangrikstes hiervan, van noord na suid, is:
Lys van belangrikste piramides
no Piramide Ligging Basis afmetings (meter) Hoogte 1 Groot Piramide van Giza (Piramide van Khufu) Giza 230.4 × 230.4 Oorspronklik 146.6 meter, tans 138.8 meter 2 Rooi Piramide (Noordelike Piramide) Dahsjoer 220 × 220 104.4 meter 3 Piramide van Khafre Giza 215.25 × 215.25 Oorspronklik 143.5 meter, tans 136.4 meter 4 Gebuigde Piramide Dahsjoer 188.6 × 188.6 97 meter 5 Piramide van Sneferu (Meidum Piramide) Meidum 144 × 144 91.65 meter 6 Piramide van Djoser (Trap Piramide) Saqqara 121 × 109 62.5 meter 7 Piramide van Sekhemkhet (Begraafde Piramide) Saqqara 115 × 115 Onvoltooid; was beplan om 70 meter te wees 8 Piramide van Menkaure Giza 108.5 × 108.5 Oorspronklik 65.5 meter, tans 61 meter 9 Piramide van Amenemhat III (Swart Piramide) Dahsjoer 105 × 105 Oorspronklik 75 meter, tans ongeveer 30 meter 10 Piramide van Neferirkare Abusir 105 × 105 Oorspronklik 72 meter, tans ongeveer 50 meter 11 Piramide van Senusret I Lisht 105 × 105 Oorspronklik 61 meter, tans ongeveer 20 meter 12 Piramide van Djedkare-Isesi Saqqara 85 × 85 Oorspronklik 52 meter, tans ongeveer 20 meter 13 Piramide van Neferefre Abusir 80 × 80 Onvoltooid; was beplan om 65 meter te wees, tans ongeveer 7 meter 14 Piramide van Teti Saqqara 78.75 × 78.75 Oorspronklik 52.5 meter, tans ongeveer 20 meter 15 Piramide van Sahure Abusir 78.75 × 78.75 Oorspronklik 47 meter, tans ongeveer 36 meter 16 Piramide van Nyuserre Abusir 78.5 × 78.5 Oorspronklik 52 meter, tans ongeveer 20 meter 17 Piramide van Pepi I Saqqara 78.75 × 78.75 Oorspronklik 52.5 meter, tans ongeveer 12 meter 18 Piramide van Pepi II Saqqara 78.75 × 78.75 Oorspronklik 52.5 meter, tans ongeveer 10 meter 19 Piramide van Userkaf Saqqara 73.3 × 73.3 Oorspronklik 49 meter, tans 40 meter 20 Piramide van Unas Saqqara 57.75 × 57.75 Oorspronklik 43 meter, tans ongeveer 19 meter
Aboe Rawasj duimnael|Die grootliks verwoeste Piramide van Djedefre. Aboe Rawasj is die plek waar die heel noordelikste piramide voorkom (behalwe die ruïnes van Lepsioes s’n, Piramide 1) – die grootliks verwoeste Piramide van Djedefre, seun en opvolger van Choefoe. Aanvanklik is geglo die piramide is nooit voltooi nie. Nou glo argeoloë die piramide is nie net voltooi nie, dit was omtrent net so groot soos die Piramide van Menkaoere, en dus sou dit een van die sowat ses grootstes gewees het.
Sy ligging naby ’n groot kruispad maak dit ’n maklike bron van klippe. Weens buiting het min oorgebly benewens ’n hoop klippe op ’n natuurlike heuwel wat deel van die piramide se kern gevorm het. ’n Klein aangrensende satelliet-piramide het beter bewaar gebly.
Giza duimnael|300px|’n Lugfoto van die Giza-kompleks. Die Piramide van Choefoe word by Giza aangetref, asook die ietwat kleiner Piramide van Chafra, die middelslag-Piramide van Menkaoere, ’n paar klein satelliet-piramides bekend as koninginpiramides, en die Groot Sfinks.
Van die drie grotes het net die een van Chafra nog ’n bietjie van die oorspronklike gepoleerde kalksteen oor. Die piramide lyk groter as die aangrensende Chafra-piramide vanweë sy hoër ligging en sy helling, maar dit is kleiner in volume en hoogte.
Die Dodeakker van Giza is sedert die antieke tyd ’n gewilde toeristebestemming en het in die Hellenistiese tyd nog gewilder geword nadat Antipater van Sidon dit as een van die sewe wonders van die wêreld gelys het. Dit is die enigste van dié wonders wat vandag nog bestaan.
Zawjet el-Arjan Twee onvoltooide piramides uit die Ou Ryk word hier aangetref. Daar word geglo die mees noordelike een is die graf van farao Nebka en die meer suidelike een dié van die 3de-dinastiese farao Chaba. As dit waar is, kan Chaba se kort bewind die rede wees dat sy trappiramide nie voltooi is nie. Dit is vandag sowat 17 m hoog; as dit voltooi was, sou dit waarskynlik hoër as 40 m gewees het.
Aboesir duimnael|Die Piramide van Sahoere by Aboe Sir. Altesaam 14 piramides word hier aangetref; dit was die hoof koninklike dodeakker van die 5de Dinastie. Die gehalte is swakker as dié van die 4de Dinastie – dit dui moontlik op ’n afname in koninklike mag of ’n swakker ekonomie. Hulle is kleiner as vorige piramides en is van ’n plaaslike swakgehalte-kalksteen gebou.
Die drie grootste piramides is dié van Nioeserre, wat ook die beste bewaar gebly het, dié van Neferirkare Kakai en dié van Sahoere. Ook die onvoltooide Piramide van Neferefre word hier aangetref. Die meeste van die groot piramides by Aboe Sir is op dieselfde manier gebou, met ’n rommelkern, omring deur moddersteentrappe en ’n kalksteenafwerking.
Saqqara duimnael|Die Trappiramide van Djoser. Groot piramides hier sluit in die Piramide van Djoser, wat beskou word as die oudste monumentstruktuur van vormklipwerk, en dié van Oeserkaf, Teti en Merikare. Die Piramide van Oeserkaf en van Oenas, wat ook hier is, was die onderwerp van een van die vroegste bekende restourasiepogings, deur Chaemweset, ’n seun van Ramses II.Kenneth Kitchen: Rammeside Inscriptions, Translated & Annotated, Translations, Volume II, Blackwell Publishers, , 1996 By Saqqara is ook die onvoltooide Trappiramide van Djoser se opvolger, Sechemchet. Argeoloë glo as dié piramide voltooi was, sou dit groter as Djoser s’n gewees het.
Suid van die hoofpiramides is die kleiner piramides van onder andere Pepi I, Isesi, Merenre, Pepi II en Ibi. Die meeste is in ’n swak toestand.
Die 4de-dinastiese farao Sjepseskaf het óf nie belanggestel óf nie die geld gehad om ’n piramide soos dié van sy voorgangers te laat bou nie; sy graf by Suid-Saqqara was ’n ongewoon groot mastaba en tempelkompleks. Dit is bekend as die Mastaba van Faraoen. The Mastaba of Shepseskaf
’n Voorheen onbekende piramide is in 2008 in Noord-Saqqara ontdek. Daar word geglo dit is die graf van Teti se ma, koningin Sesjesjet. Dit is tans sowat 5 m hoog, hoewel dit aanvanklik nader aan 14 m was.
Dahsjoer duimnael|Snofroe se Rooi Piramide. Hierdie gebied is waarskynlik die belangrikste piramideterrein benewens Giza en Saqqara. Dit was egter tot in 1996 ontoeganklik weens sy ligging in ’n militêre basis en redelik onbekend buite argeologiese kringe.
Die suidelike piramide van Snofroe was waarskynlik die eerste Egiptiese piramide wat van die begin af bedoel was as ’n ware gladde piramide; die vroeëre Meidoem-piramide het gladde kante gehad, maar dit is ontwerp en gebou as ’n trappiramide en die trappe is later opgevul en agter ’n gladde afwerking versteek.