Topsy Smith (12 Julie 1914 – 5 Maart 1985) was 'n Afrikaanse skrywer wat ongeveer 200 boeke geskryf het. Hy is veral bekend vir sy jeugverhale, onder andere reekse soos Trompie, Saartjie (onder die skuilnaam Bettie Naudé) en Buksie. Sy boeke het 'n belangrike bydrae tot die Afrikaanse letterkunde gelewer en het jongmense vir baie jare lank lus en lief vir lees gemaak.Biografiese inligting op nb.co.za, besoek op 12 Julie 2014
Die eerste Trompie-verhaal is in 1950 gepubliseer, met opvolgstories wat tot 1956 verskyn het. Die TV-reeks Trompie, wat op sy boeke gebaseer is, is in 1980 uitgesaai met Anton Goosen wat die bekende kenwysie gesing het. Die Saartjie-reeks het die eerste keer in 1953 verskyn en is tot 1958 gepubliseer. Beide die reekse is verskeie kere daarna herpubliseer. Sy laaste boek, Nog net een keer, is in 1991, ses jaar ná sy dood, gepubliseer.Die skrywer, Beeld, 12 Desember 2006 Sy fiksie vir volwassenes word meestal onder die skuilnaam M.G. Smith gepubliseer.
Lewe en werk Mathys Gerhardus Smith is op 12 Julie 1914 in Parys in die Vrystaat gebore as een van drie kinders van Mathys Gerhardus Smith en Elizabeth Catharina Naudé.Geni-webwerf: https://www.geni.com/people/Topsy-Smith/6000000002538231721 Hy het ’n broer, Jacob Naudé, en ’n suster, Anna. Sy jeugjare bring hy in ’n Engelse huis in Pretoria deur.Nienaber, P.J. Hier is ons skrywers! Afrikaanse Pers-Boekhandel Johannesburg Eerste uitgawe 1949 Hy verloor albei sy ouers op vyftienjarige leeftyd en verhuis dan na Koppies in die Vrystaat. Hier is alles Afrikaans en hy lees alles wat hy in die hande kan kry. Hy matrikuleer op die dorp en in sy matriekjaar speel hy rugby vir die skool se eerste span en ook vir die dorpspan.
Hy studeer dan verder aan die Universiteit van Stellenbosch, waar hy die B.A.-graad behaal met Engels en Afrikaans-Nederlands as hoofvakke. Tydens sy studentejare speel hy vir die Maties se eerste rugbyspan en is hy ook kaptein van die boksspan en lid van die atletiekspan. Na sy graad neem hy ’n kursus in liggaamsopvoeding en nadat hy ’n diploma verwerf word hy aangestel as organiseerder van liggaamsopvoeding vir die skole van Springs en Brakpan. Vir geruime tyd hierna werk hy ook as vryskut-sportjoernalis vir onder andere Die Vaderland en Die Sondagpers. Van Springs word hy na Krugersdorp verplaas, maar hy besluit om eerder gewone onderwys te gee en behaal in 1943 die Hoër Onderwysdiploma aan die Universiteit van Pretoria. In 1944 begin hy Afrikaans onderrig by ’n Engelse privaatskool in Johannesburg.In 1978 tree hy af as hoof van Sandringham Laerskool, ’n posisie wat hy vir 25 jaar beklee het. Hierna ondervind hy hartprobleme en ondergaan in 1980 ’n groot opehartoperasie.
Hy is getroud met Josie Stuart-Bertram en hulle het ’n dogter, Shona, en ’n seun, Anthony. Op 5 Maart 1985 is hy oorlede.
Skryfwerk Reeds as student verskyn sy eerste kortverhaal in 1937 in Die Huisgenoot. In sy vrye tyd as onderwyser begin hy kortverhale en sketse skryf vir verskillende tydskrifte en sy verhaal, Trompie se das (voorloper vir die latere reeks) word op 25 Mei 1943 in Naweek gepubliseer.
Nie-fiksie Sy eerste boeke is nie-fiksie sportboeke, wat insluit Kampioene van die bokskryt, Ons Springbok-rugbyspelers en Tokkelossie (’n rugbygeskiedenis van die Springbokke tot voor die Tweede Wêreldoorlog), Bokshelde van die wêreld, Draers van groen en goud, “Atlete van Springbokland en Spannende gebeure van die sportwêreld.
Jeugreekse Hy is egter veral bekend vir sy talle jeugreekse, waaronder die Trompie-reeks en ook die Saartjie-reeks, laasgenoemde wat hy onder die skuilnaam Bettie Naudé skryf. Hierdie reekse, hoewel dit hewige teenstand vanuit letterkundige kringe kry omdat dit kwansuis nie letterkundig van aard is nie, is waarskynlik die gewildste reekse vir die Afrikaanse kind ooit. Hy skryf nog ander reekse jeugverhale, soos die Louws van Linton, Jantjie, Hendrik Hoffman, Bosapies van Bergville en Gampietjie-reekse. Vir Engelse kinders skryf hy reekse oor Nicky (ook in Afrikaans vertaal as die Niekie-reeks) en Leon.
Trompie Die Trompie-reeks beskryf die wedervaringe van Trompie en die Boksombende, wat in die dorpie Kwaggaberg woon en middae na skool by die Fort vergader, waar hulle slim en stoute planne bedink en dan uitvoer. Trompie Toerien is die leier en die ander bendelede is die ewig-kouende Blikkies, die slimkop Dawie en die sterk Rooie, terwyl Trompie se hond, Boesman, die seuns orals vergesel. Hierdie reeks word telkemale herdruk en heruitgegee in omnibusse. Dit is ook ’n trefferreeks op televisie en die temalied, Trompie en die Boksombende, gesing deur Anton Goosen, word baie bekend. ’n Nuwe Trompie-reeks wat Smith ná ’n paar jaar begin skryf, kry nie dieselfde aftrek as die oorspronklike een nie.
Saartjie In die Saartjie-reeks is die dertienjarige Saartjie Baumann die hoofkarakter. Sy is die dogter van ’n snydokter en hulle woon in die voorstad Lynnekom in Johannesburg. Haar “kliek” is Anna en Lina, met die klein Muggie wat altyd ongenooid soos ’n skaduwee agter hulle aandrentel. Klein Apie, Saartjie se boetie, is ’n ewige doring in hulle vlees. Ook hierdie reeks word omskep in ’n televisiereeks en word verskeie heruitgegee, ook in omnibus-vorm. Die eksperiment om Trompie en Saartjie te kombineer in ’n reeks is minder geslaag en slegs twee boeke in hierdie beplande reeks word gepubliseer.
Jantjie Die Jantjie-reeks speel op die dorpie Petrusdorp af, waar Jantjie en sy bende, die Nuuskierige Agies, die dorp op horings neem.
Bosapies van Bergville Die Bosapies van Bergville speel op ’n klein dorpie in die Boland af en het vyf kinders (van albei geslagte) as hoofkarakters. Die leier van die bende Bosapies is die negejarige Buksie Barnard en die ander lede van die bende is Tjokkie Gous en sy tweelingsuster Geitjie Gous, Lien Barnard en Japsnoet Barnard (Buksie se broer en suster). Hulle vang allerhande kattekwaad aan en beland ook in spannende avonture, soos die keer toe Buksie agterkom wie die gemaskerde man is wat die rooftogte in Bergville uitvoer en die Bosapies kry om hom te help om die man te vang. Hierdie boeke is op jonger kinders gemik en word ook in groter formaat gepubliseer en geïllustreer.
Gampietjie Die Gampietjie-reeks beskryf die wedervaringe van die twee broers Gampietjie Gouws en sy broertjie Gawie, wat in die Sonskynweeshuis is nadat hulle ouers oorlede is. Hier vorm hulle hegte vriendskappe met Willem Barnard en die witkopdogtertjie Rina Neethling. Hulle het talle avonture, onder meer wanneer hulle probeer om weg te loop. Die maats se lewens verander, maar die avonture hou nie op nie, nadat hulle aangeneem word en op die dorpie Gansville gaan woon.
Die Louws van Linton Die Louws van Linton-reeks het die twaalfjarige Lammie Louw as hoofkarakter en meeste van die gebeure draai om hom. Daar is egter ook Gogga, Lammie se onnutsige jonger broertjie, hulle ouer broer Christo wat reeds in matriek is en hulle ouer suster Elise, wat reeds uit die skool is. Die pa is die gesette en joviale Jan Louw en die ma is Martha Louw. Hulle moet die wysheid van Salomo en die geduld van Job hê om huis te hou met veral Lammie en Gogga. Die Louws woon in Linton, ’n voorstad van Johannesburg.
Hendrik Hoffman Die Hendrik Hoffman-reeks is vir groter kinders, met Hendrik en sy maats wat aan die begin in matriek is en dan verder studeer op Stellenbosch. Hendrik Hoffman is die leier en ’n skitterende sportman en sy maats is Kallie Snyman, ook ’n gedugte sportman, die vet Sakkie de Beer en die tingerige maar skrander Pietie Kleynhans, wat by almal as Tinktinkie bekendstaan. Linda Greyling is die meisie wat Hendrik se hart vinniger laat klop en sy speel saam met haar vriendin, Anna Jooste, ook ’n belangrike rol in hierdie reeks.
Nie-reeks boeke Hy skryf enkele nie-reeks boeke. Gamaroela-Gawie en Tjokkie is rugbyverhale vir seuns, terwyl Roelf Reyneke – Aanslag nommer een ’n avontuurverhaal vir seuns is. Sy heel laaste boek (uitgegee ses jaar na sy dood) is weer ’n sportboek vir seuns, hierdie keer oor boks, naamlik Nog net een keer. Shona en die feetjies is ’n fantasieverhaal wat hy vir sy dogtertjie skryf.
Volwasse fiksie Vir volwasse lesers skryf hy boeke vir die Dagbreek-Boekkring, meestal onder die naam M.G. Smith, waarvan Juffrou Jackie se man die gewildste is. Die ontluiking van tant Matilda (later heruitgegee as Die metamorfose van Matilda) is ook vir hierdie mark en vertel van die 33-jarige oujongnooi Matilda se verandering nadat sy onverwags die waardevolste diamant in die wêreld erf en die mans om haar begin draai. Blonde godin is ’n spanningsverhaal vir volwasse lesers. Nadat ’n intieme vriendin se man vermoor word, besluit dr. Gie impulsief om te help en hy dokter die misdaadtoneel om haar ’n beter alibi te gee. Hy verloor egter sy identiteitsdokument en vlug, waarna hy ’n feitlik onmoontlike stryd voer om sy onskuld te bewys. Hy skryf ook talle tydskrifvervolgverhale onder verskeie skuilname.
Publikasies Werke uit sy pen sluit in:Springbokboeke: http://www.springbokboeke.co.za/html/topsy_smith_boeklys.html Worldcat: http://www.worldcat.org/search?q=au%3ANaude%CC%81%2C+Bettie.&qt=hot_authorWorldcat: http://www.worldcat.org/identities/lccn-n2004038224/Worldcat: http://www.worldcat.org/search?q=au%3ASmith%2C+Topsy%2C&qt=hot_author
Topsy Smith
Nie-reeks boeke Kampioene van die bokskryt, 1964 Ons Springbok-rugbyspelers en Tokkelossie, 1946 Shona en die feetjies, 1946 Bokshelde van die wêreld,1946 Draers van die groen en goud, 1947 Atlete van Springbokland, 1950 Spannende gebeure van die sportwêreld, 1950 Die Botha’s, 1953 The day the bus vanished, 1966 Fanie die vlieër, 1967 Gamaroela-Gawie, 1967 Juffrou Jackie se man (MG Smith), 1970 Die ontluiking van tant Matilda (M.G. Smith), 1971 Tjokkie, 1971 Operation big one, 1972 Roelf Reyneke – aanslag nommer een, 1978 Die metamorfose van Matilda, 1979 Jackie, 1979 Blonde godin, 1980 Nog net een keer, 1991
Die Trompie-reeks Trompie, 1950 Trompie die onnut (later heruitgegee as Trompie die stouterd), 1950 Trompie die soet seun, 1951 Trompie die hoërskoolseun, 1951 Trompie die dromer, 1952 Trompie die speurder, 1952 Trompie die sterk seun (later heruitgegee as Trompie die kragman) , 1952 Trompie die groot minnaar (later heruitgegee as Trompie die hartedief) , 1952 Trompie die held, 1952 Trompie die jintelman, 1952 Trompie die mooi seun, 1952 Trompie die prefek (later heruitgegee as “Trompie die leier”), 1952 Trompie die filmster, 1955 Trompie die krieketspeler, 1955 Trompie die vegter, 1955 Trompie die sakeman, 1956 Trompie die sportman, 1956 Trompie die waaghals, 1956 Trompie die rebel, 1956 Trompie die rugbyspeler, 1956 Trompie die hanswors, 1956 Trompie die reisiger, 1956 Trompie die kaptein, 1956 Trompie die atleet, 1956 Trompie die meisiehater (later heruitgegee as Trompie die alleenloper), 1957
Die nuwe Trompie-reeks Trompie en die mooi meisie, 1962 Trompie en die dominee, 1962 Trompie en die kinderstrand, 1962 Trompie en die sneltrein, 1962 Trompie en die renmotor, 1963 Trompie en die erdvarkgat, 1963
Trompie en Saartjie Eerste ontmoeting, 1970 Die geheim van die honde, 1970
Die Bosapies van Bergville-reeks Die padda by die skool, 1958 Die geheim van Bergville, 1958 Die vlieënde pierings, 1958 Die rowers by die see, 1958 Japsnoet begin skoolgaan, 1958 Buksie speel rugby, 1958 Die gemaskerde man, 1959 Buksie se klasmaats, 1959 Buksie en die spook, 1959 Huis sonder moeder, 1959 Buksie en die slang, 1959 Oorlog op Bergville,1959
Die Hendrik Hoffman-reeks Hendrik Hoffmann, hoofprefek, 1959 Hendrik Hoffmann, Matiestudent, 1959 Hendrik Hoffmann, intervarsity-held, 1960 Hendrik Hoffmann, Springboksenter, 1960 Hendrik Hoffmann, kaptein van sy land, 1960 Hendrik Hoffmann, sportman van die jaar, 1960
Die Louws van Linton-reeks Lammie soek moeilikheid, 1960 Avonture by die see, 1960 Lammie en die leeu, 1960