Die nasionale vlag van Indië is op 22 Julie 1947 amptelik in gebruik geneem. ’n Driekleur in saffraangeel, wit en groen met 'n vlootblou wiel (Aśoka Tsjakra) met 24 speke in die middel van die wit baan. Die vlag is in sy huidige vorm aanvaar tydens ’n byeenkoms van die Grondwetgewende Vergadering op 22 Julie 1947 toe dit die amptelike vlag van die Dominium van Indië geword het. Die vlag is gevolglik behou as dié van die Republiek van Indië. In Indië verwys die term “Driekleur” byna altyd na die Indiese nasionale vlag. Die vlag is gebaseer op die Swaraj-vlag, ’n vlag van die Indiese Nasionale Kongres wat ontwerp is deur Pingali Venkayya.
Die vlag moet volgens wet van khadi gemaak word; dit is ’n tipe handgespinde doek van katoen of sy wat deur Mahatma Gandhi gewild gemaak is. Die vervaardigingsproses en spesifikasies vir die vlag is uitgelê deur die Buro vir Indiese Standaarde. Die vervaardigingsreg van die vlag word deur die Khadi Ontwikkeling- en Dorpsindustrieë Kommissie voorbehou wat dit in streeksgroepe toeken. Sedert 2009 is Karnataka Khadi Gramodyoga Samyukta Sangha die enigste vervaardiger van die vlag.
Gebruik van die vlag word bepaal deur die Indiese vlagkode en ander wetgewing wat verband hou met die nasionale embleme. Die oorspronklike kode verbied gebruik van die vlag deur privaatburgers behalwe op nasionale dae soos Onafhanklikheidsdag en Republiekdag. In 2002, na die aanhoor van ’n appèl van ’n privaatburger, Naveen Jindal, het die Indiese Hooggeregshof die Indiese Regering beveel om die vlagkode te wysig sodat privaatburgers ook toegelaat word om die vlag te gebruik. Die Uniekabinet van Indië het gevolglik die kode gewysig om beperkte gebruik toe te staan. Die kode is weer in 2005 gewysig om bykomende gebruik toe te staan op sekere kledingstukke. Die vlagkode bepaal ook die protokol vir vertoon van die vlag en die gebruik van die vlag tesame met ander nasionale en nie-nasionale vlae.
Simboliek Gandhi het in 1921 die vlag aan die Indiese Nasionale Kongres voorgelê. Die vlag is ontwerp deur Pingali Venkayya, ’n landbouer van Machilipatnam. In die middel was ’n tradisionele spinwiel waardeur Gandhi se visie van ’n selfversorgende Indiese bevolking deur die maak van hul eie klerasie gesimboliseer is. Die ontwerp is aangepas om ’n wit baan in die middel te bevat om voorsiening te maak vir religieuse gemeenskappe en om ’n agtergrond vir die spinwiel te bied. Om enige sektariese verbintenis met die kleurskema te vermy is gevolglik op saffraan, wit en groen besluit. Die drie kleure staan vir moed en opoffering (saffraan), vrede en waarheid (wit) en geloof en ridderlikheid (groen).
’n Paar dae voor Indiese onafhanklikheid op 15 Augustus 1947 het die spesifiek saamgestelde Grondwetgewende Vergadering besluit dat die vlag van Indië vir alle partye en gemeenskappe aanvaarbaar moet wees. Daar is eindelik op die Swaraj-vlag besluit; die driekleur het dieselfde kleure van saffraan, wit en groen behou. Die tsjarka is met die Aśoka Tsjakra, wat die ewige wiel van die reg voorstel, vervang. Die filosoof Sarvepalli Radhakrishnan wat later Indië se eerste vise-president en tweede president geword het, het die aanvaarding van die vlag, en die betekenis daarvan, soos volg beskryf:
Ontwerp +Groottes van die Nasionale Vlag Vlaggrootte hoogte en breedte (mm) Grootte van Aśoka Tsjakra (mm) IS 1: 1968 Spesifikasie vir die nasionale vlag van Indië (katoen khadi). Outeur: Indiese Buro vir Standaarde. Uitgewer: Regering van Indië 1 6300 × 4200 1295 2 3600 × 2400 740 3 2700 × 1800 555 4 1800 × 1200 370 5 1350 × 900 280 6 900 × 600 185 7 450 × 300 90 IS 1: 1968 Spesifikasie vir die nasionale vlag van Indië (katoen khadi), wysiging 2. Outeur: Indiese Buro vir Standaarde. Uitgewer: Regering van Indië 8 225 × 150 40 9 150 × 100 25 Volgens die vlagkode van Indië het die vlag van Indië ’n hoogte-breedte-verhouding van 2:3. Al drie bane van die vlag (saffraan, wit en groen) moet gelyk in hoogte en breedte wees. Die grootte van die Aśoka Tsjakra is nie in die vlagkode gespesifiseer nie maar die Aśoka Tjakra moet 24 speke hê wat eweredig gespasieer is. In afdeling 4.3.1 van “IS1: Vervaardigingstandaarde vir die Indiese Vlag” is ’n tabel wat die grootte van die Aśoka Tsjakra spesifiseer vir die nege groottes van die nasionale vlag. In die vlagkode en in IS1 word bepaal dat die Aśoka Tsjakra op albei kante van die vlag geverf moet word in vlootblou. Hieronder is ’n tabel wat die kleure vir die vlag spesifiseer.
KleurskemaSaffraangeelWitIndië-groenVlootblou RGB-kleursisteem 255-204-0 255-255-255 51-153-51 0-0-128 CMYK 0-50-90-0 0-0-0-0 100-0-70-30 100-98-26-48 Heksadesimaal FFCC00 FFFFFF 339933 000080 Pantone 021c 1c 341c 662c
Geskiedenis Indië was in die 19de eeu onder Britse regering. ’n Aantal vlae met wisselende ontwerpe is gebruik deur die regeerders van die verskillende vorstestate in die tydperk wat die Indiese Onafhanklikheidsbeweging voorafgegaan het; die idee van ’n enkele Indiese vlag is vir die eerste keer deur die Britse regeerders van Indië geopper na die rebellie van 1857 wat uitgeloop het in direkte imperiale regering. Die eerste vlag (bekend as die Ster van Indië) was gebaseer op westerse heraldiese standaarde en was ’n rooi Britse vaandel, soortgelyk aan wat in Suid-Afrika, Australië en Kanada gebruik is; die blou vaandel het die Union Jack in die skildhoek en ’n Ster van Indië met ’n koninklike kroon daarbo op die wapperkant. Om die kwessie van hoe die ster “Indiërskap” oorgedra het aan te spreek, het koningin Victoria die Ridderkommandeur van die Orde van die Ster van Indië geskep om dienste aan die ryk deur Indiese onderdane te vereer. Gevolglik het al die Indiese vorstestate vlae gekry met simbole wat gebaseer was op die heraldiese kriteria van Europa, insluitend die reg om verwerkte rooi Britse vaandels te vertoon.
In die vroeë twintigste eeu, in die tyd van die kroning van Edward VII is gesprekke oor die behoefte aan ’n heraldiese simbool verteenwoordigend van die Indiese ryk, begin. William Coldstream, ’n Britse lid van die Indiese Burgerlike Diens, het die regering gevra om die heraldiese ster, wat hy as ’n algemene keuse beskou het, af te skaf en iets meer toepaslik te kies. Sy voorstel is nie goed ontvang deur die regering nie; Lord Curzon het dit om praktiese redes (waaronder die vermenigvuldiging van die vlag) verwerp. In hierdie tyd het die nasionalistiese mening in die dominium gelei tot ’n verteenwoordiging deur die geloofstradisie. Die simbole wat in die mode was het die Ganesja, voorgestel deur Bal Gangadhar Tilak, en Kālī, voorgestel deur Aurobindo Ghosh en Bankim Chandra Chattopadhyay, ingesluit. ’n ander simbool was die koei of Gau Mata (koeimoeder). Al hierdie simbole was egter Hindoesentries en het nie eenheid met Indië se Moslembevolking voorgestel nie.
Die afskorting van Bengale het gelei tot die inwyding van ’n nuwe Indiese vlag wat gepoog het om die menigte kaste en rasse in die land te verteenwoordig. Die Vande Mataram-vlag, deel van die Swadesji-beweging teen die Britte, het bestaan uit Indiese geloofsimbole soos voorgestel in ’n westerse heraldiese manier. Die driekleurvlag het agt wit lotusse in die boonste groen baan bevat wat die agt provinsies voorstel, ’n son en sekelmaan in die onderste rooi baan en die Bande Mataram-slagspreuk in Hindi in die middelste geel baan. Die vlag is in Kalkutta bekendgestel sonder enige seremonie en die bekendstelling het nie veel aandag in die media geniet nie. Die vlag is nie in kontemporêre regerings- of politieke verslae opgeneem nie maar is gebruik tydens die jaarlikse sitting van die Indiese Nasionale Kongres. ’n Effens gewysigde weergawe is gevolglik deur Madam Bhikaiji Cama gebruik tydens die Tweede Sosialistiese Internasionale Vergadering in Stuttgart. Ten spyte van veelvuldige gebruik van die vlag het dit nie veel entoesiasme onder Indiese nasionaliste gewek nie.
Ongeveer in dieselfde tyd is ’n ander vlagvoorstel deur Suster Nivedita, ’n Hindoe-hervormer en dissipel van Swami Vivekananda, ingedien. Die vlag het bestaan uit ’n weerligstraal in die middel en 108 olielampe vir die omboorsel met die Vande Mataram-slagspreuk aan weerskante van die weerligstraal. Die voorstel is in 1906 voor die Indiese Nasionale Kongres ingedien. Kort daarna het talle ander voorstelle die lig gesien maar geen daarvan het die aandag van die nasionalistiese beweging geniet nie. In 1916 het Pingali Venkayya 30 nuwe ontwerpe in die vorm van ’n boekie, geborg deur lede van die Hooggeregshof van Madras, ingedien. Hierdie talle voorstelle en aanbevelings het nie veel anders gedoen as om die vlagbeweging aan die gang te hou nie. Dieselfde jaar het Annie Besant en Bal Gangadhar Tilak ’n nuwe vlag as deel van die Tuisregeringsbeweging aanvaar. Die vlag het die Union Jack in die skildhoek gehad, ’n ster en sekelmaan bo in die wapperkant en sewe sterre diagonaal van die skildhoek na die wapperkant op ’n agtergrond van nege bane in rooi en groen afwisselend. Die vlag het uitgeloop op die eerste inisiatief van die regering teen enige nasionalistiese vlag omdat ’n landdros in Coimbatore die gebruik daarvan verbied het. Die verbod is opgevolg deur ’n openbare debat oor die funksie en belangrikheid van ’n nasionale vlag.
In die vroeë 1920’s het vlagbesprekings aandag gekry in die meeste Britse diminiums na die ondertekening van vrede tussen Brittanje en Ierland. In November 1920 wou die Indiese afvaardiging na die Volkebond ’n Indiese vlag gebruik. Die het die Brits-Indiese regering genoop om nuwe klem op die vlag as nasionale simbool te plaas. In April 1921 het Mohandas Gandhi in sy tydskrif Young India oor die behoefte aan ’n Indiese vlag geskryf en ’n vlag met die tsjarka of spinwiel in die middel voorgestel. Die idee van die spinwiel het van Lala Hansraj gekom en Gandhi het aan Venkayya opdrag gegee om ’n vlag met ’n spinwiel op ’n rooi en groen vlag te ontwerp waar rooi die Hindoeïsme en groen Islam sou voorstel. Gandhi wou die vlag teenwoordig hê by die Kongresvergadering van 1921 maar dit is nie betyds afgelewer nie en ’n ander vlag is tydens die vergadering voorgestel. Gandhi het later geskryf dat die vertraging gunstig was omdat dit hom laat besef het dat ander gelowe nie teenwoordig was nie; hy het daarna wit tot die vlag toegevoeg om alle ander gelowe voor te stel. Uiteindelik, te danke aan polities-religieuse gevoeligheid het Gandhi in 1929 ’n meer sekulêre interpretasie aan die kleure toegedig en gesê dat rooi die opofferings van die mense voorstel, wit stel reinheid voor en groen stel hoop voor.
Op 13 April 1923, gedurende ’n herdeking van die slagting van Amritsar deur plaaslike Kongresvrywilligers in Nagpur, is die Swaraj-vlag met die spinwiel, wat deur Venkayya ontwerp is, gehys. Hierdie gebeurtenis het gelei tot ’n konfrontasie tussen kongreslede en die polisie en vyf mense is tronkstraf opgelê. Meer as ’n honderd betogers het die vlagoptog voortgesit na die herdenking. Gevolglik, op 1 Mei het die sekretaris van die Nagpur Kongreskomitee, Jamnalal Bajaj, die Vlag Satyagraha begin. Dit het nasionale aandag geniet en ’n betekenisvolle punt in die vlagbeweging aangeteken. Tydens die Indiese Kongreskomiiteevergadering in Julie, op aandrang van Jawaharlal Nehru en Sarojini Naidu, het die kongres besluit om die vlagbeweging te ondersteun. Die vlagbeweging is bestuur deur Sardar Vallabhbhai Patel met die idee van openbare optogte en vlagvertonings deur gewone burgerlikes. Aan die einde van die beweging is meer as 1 500 mense regoor Brits-Indië gearresteer. Die Bombay Chronicle het verslag gedoen dat die beweging mense uit verskillende agtergronde, soos landbouers, studente, handelaars, arbeiders en “nasionale amptenare” gelok het. Moslemdeelname was minder prominent maar vrouens wat tot dusver nie werklik aan die onafhanklikheidsbeweging deelgeneem het nie, is betrek.