Die nasionale vlag van Georgië (Georgies: საქართველოს სახელმწიფო დროშა, sakartwelos sachelmtsʼipo drosja), ook bekend as die Vyfkruisevlag (ხუთჯვრიანი დროშა, choetjwriani drosja), is op 14 Januarie 2004 amptelik in gebruik geneem. Die vlag vertoon ’n rooi Sint Joriskruis op ’n wit agtergrond met ’n rooi Bolnoer-Katskhoeri-kruis in elk van die kwadrante. Dit was oorspronklik die vlag van die Middeleeuse Koninkryk Georgië en is aan die einde van die 20ste en die begin van die 21ste eeu tydens die Georgiese nasionale herlewing in hergebruik geneem.

Die vlag van die Middeleeuse Koninkryk Georgië is ’n Jerusalemkruis (’n groot kruis met kleiner kruise in elke kwadrant) wat uit die tydperk ná die heerskappy van koning George V dateer. Dit toon ook ooreenkomste met die vlag van die Bisantynse Ryk en die vlag van Engeland.

Ná onafhanklikwording van die Russiese Ryk in 1918 het die Demokratiese Republiek van Georgië sy eie vlag in gebruik geneem wat ’n wynrooi baan met ’n swart en wit baan in die skildhoek getoon het. In 1921 is dié vlag ná die besetting van Georgië deur die Sowjetunie afgeskaf en die Georgiese Sosialistiese Sowjetrepubliek het in die 20ste eeu verskeie Sowjetvlae gebruik. Nadat Georgië in 1990 sy onafhanklikheid herwin het, is tot in 2004 ’n verlengde weergawe van die vlag van die Demokratiese Republiek van Georgië in gebruik geneem. Ná die vreedsame Roosrewolusie is die huidige Vyfkruisevlag in 2004 aanvaar.

Geskiedenis Vroeë Georgiese state Die eerste Georgiese vlag is tydens die eerste Georgiese staat, die Prinsdom Iberië, in gebruik geneem wat ’n rooi kruis in die middel op ’n wit agtergrond gehad het, soortgelyk aan die vlag van Engeland. Die daaropvolgende Prinsdom Tao-Klarjeti het dieselfde vlag gebruik.

Middeleeuse Georgiese vlae duimnael|links|Detail van die Pizzigano-kaart van 1367 met Tbilisi en sy vlag Die wit vlag met ’n enkele rooi Sint Joriskruis is vermoedelik gebruik deur Koning Vachtang I in die 5de eeu. Theodore E. Dowling, Sketches of Georgian Church History, New York, bl. 54. D.M.Lang – Georgia in the Reign of Giorgi the Brilliant (1314–1346). Bulletin of the School of Oriental and African Studies, Universiteit van Londen, Vol. 17, No. 1 (1955), bl.84. G. Macharashwili დროშა გორგასლიანი, თბ. 2011. Volgens oorlewering het koningin Tamar ’n vlag met ’n donkerrooi kruis en ’n ster op ’n wit baan gebruik.

In die kaart van 1367 deur Domenico en Francesco Pizzigano word die vlag van Tifilis (Tbilisi) aangedui as ’n Jerusalemkruis (’n groot kruis met kleiner kruise in elke kwadrant). Volgens D. Kldiasjwili (1997) is die Jerusalemkruis aanvaar ná die heerskappy van koning George V. David Kldiasjwili, ქართული ჰერალდიკის ისტორია (“Geskiedenis van Georgiese heraldiek”), Parlamentis utskebani, 1997; bl. 30-35.

Transkaukasiese Demokraties-Federatiewe Republiek In 1828, ná die laaste Russies-Persiese oorlog, is verskeie van die Khanate van die Kaukasus deur die Russiese Ryk geannekseer. Toe die Russiese Ryk tot ’n val gekom het, het Russies-Georgië sy onafhanklikheid verklaar en by die kortstondige Transkaukasiese Demokraties-Federatiewe Republiek aangesluit, saam met Armenië en Azerbeidjan. Hierdie verenigde staat het slegs vir ’n maand bestaan. Omdat die republiek so ’n kort bestaan gehad het, het dit geen vlae of simbole gebruik nie. Sommige historici beskou ’n horisontale goud, swart en rooi driekleur, soortgelyk aan die vlag van Duitsland met die kleure wat anders gerangskik is, egter as ’n vlag wat vir Transkaukasië gebruik is. Georgië het sy onafhanklikheid op 26 Mei 1918 as die Demokratiese Republiek van Georgië verklaar. Twee dae later is die federasie ontbind toe Armenië en Azerbeidjan ook hul onafhanklikheid verklaar het as die Demokratiese Republiek van Armenië en die Demokratiese Republiek van Azerbeidjan onderskeidelik.

Demokratiese Republiek van Georgië Gedurende Georgië se kortstondige bestaan as ’n onafhanklike staat as die Demokratiese Republiek van Georgië van 1918 tot 1921 is ’n vlag met ’n wynrooi baan met ’n swart en wit baan in die skildhoek aanvaar. Dié ontwerp het gekom ná ’n vlagontwerpkompetisie wat gewen is deur die skilder Iakob Nikoladse. Dit is in 1921, ná die inlywing van Georgië by die USSR, deur die Sowjetunie afgeskaf. In 1990, tydens die ontbinding van die Sowjetunie, het Georgië ’n verlengde weergawe van die vlag aanvaar.

Transkaukasiese Sosialistiese Federatiewe Sowjetrepubliek Op 29 November 1920 het die Bolsjewiste die Armeense SSR gestig. ’n Nuwe vlag is aanvaar en in die grondwet vasgelê wat op 22 Februarie 1922 goedgekeur is deur die Eerste Sowjetkongres van die Armeense SSR. Daardie vlag het slegs vir ’n maand bestaan want op 12 Maart het die Armeense SSR met die Georgiese SSR en die Azerbeidjanse SSR saamgesmelt om die Transkaukasiese SFSR tot stand te bring. Op 30 Desember 1922 het die Transkaukasiese SFSR een van die vier Sowjetrepublieke geword wat saamgesmelt het om die Sowjetunie te vorm. Die vlag van die republiek het ’n hamer en sekel in ’n ster gehad met die letters “ЗСФСР” (ZSFSR) in Russies daarop. Hierdie letters staan vir Закавказская Советская Федеративная Социалистическая Республика (Zakawkazskaja Sowjetskaja Federatiwnaja Sotsalistitsjeskaja Respoeblika, “Transkaukasiese Sosialistiese Federatiewe Sowjetrepubliek”). In 1936 het die TSFSR ontbind in sy drie samestellende gebiede, onderskeidelik die Georgiese, Armeense en Azerbeidjanse SSR’e.

Georgiese Sosialistiese Sowjetrepubliek Gedurende die Sowjetperiode het Georgië verskeie aanpassings van die rooi Sowjetvlag aanvaar met eers die naam van die Georgiese Sosialistiese Sowjetrepubliek daarop en later ’n hamer en sekel met ’n ster in ’n blou son in die skildhoek met ’n horisontale blou baan in die boonste gedeelte van die vlag. Die vlag van die Georgiese SSR is in November 1990 deur die Georgiese regering vervang met dié van die Demokratiese Republiek van Georgië kort voordat onafhanklikheid van die Sowjetunie verklaar is.

Republiek Georgië Die vorige vlag wat deur die Demokratiese Republiek van Georgië van 1918 tot 1921 gebruik is, is op 14 November 1990 herstel deur die Opperraad van die Republiek Georgië. Dit het daarna egter gewildheid verloor omdat dit geassosieer is met die chaotiese en gewelddadige tydperk rondom die ontbinding van die Sowjetunie. Die wynrooi kleur het goeie tye in die verlede en toekoms gesimboliseer, die swart het vir Russiese oorheersing gestaan en die wit vir hoop en vrede.

Huidige vlag duimnael|Die vyf kruise op die huidige Georgiese vlag word soms geïnterpreteer as die Vyf Heilige Wonde of alternatiewelik Jesus en die vier Evangeliste. Michael Spilling, Winnie Wong: Georgia bl. 37. Die huidige vlag is deur die Georgiese Patriotiese beweging gebruik ná die land se onafhanklikheid van die Sowjetunie in 1991. Teen die laat 1990’s het die destydse ontwerp bekend gestaan as ‘die Georgiese historiese nasionale vlag’ nadat vlagkundiges die rooi-en-wit Jerusalemkruis op ’n 14de-eeuse kaart van Domenico en Francesco Pizzigano as die vlag van Tbilisi uitgewys het. “Die nuwe vlag van Georgië hou nie verband met hierdie historiese banier nie. Die vlag van die Nasionale Beweging was tien jaar gelede (1993) onbekend en is ‘die Georgiese historiese nasionale vlag’ genoem deur opposisieleiers nadat die vlagkundige I.L. Bichikasjwili daaroor gepubliseer het.” Michail Rewniwtsef, 25 November 2003 crwflags.com In laat 2021 kon met hulp van ’n nuut ontdekte muntstuk van Dawid die Bouer met vyf kruise op die Georgiese vlag na die 12de eeu terugdateer word. Volgens die Staatsraad vir Heraldiek is dié muntstuk van grootste belang en dit is ’n onmiskenbare bewys dat die Georgiese vlag tydens die heerskappy van koning Dawid IV gebruik is.

’n Meerderheid Georgiërs, insluitende die invloedryke Katolikos-patriarg van die Georgies-Ortodokse en Apostoliese Kerk, het die herinstelling van die vlag ondersteun en in 1999 het die Parlement van Georgië ’n konsepwet deurgevoer om die vlag te verander. Dit is egter nie deur die destydse president Edward Sjewardnadse onderskryf nie. In die vroeë 2000’s is die vlag deur die hoofopposisieparty, die Verenigde Nasionale Beweging onder leiding van Micheil Saakasjwili, aangeneem as ’n simbool van weerstand teen Sjewardnadse se regering en as ’n simbool van die Roosrewolusie. “’n Meerderheid van Georgiërs insluitend die patriarg van die Georgies-Ortodokse Kerk is lank reeds ten gunste van die aanvaarding van die vyfkruisvlag as die volk se amptelike vlag. Die uittredende president het alle pogings tot verandering gestuit. In 1999 het die Georgiese parlement gestem om die vlag te verander en al wat Sjewardnadse moes doen was om ’n dekreet ter ondersteuning uit te vaardig. Hy het, onverklaarbaar, geweier en eerder gekies om ’n magtelose Heraldiese Kommissie tot stand te bring om die saak te bestudeer. Toe Saakasjwili die Nasionale Beweging in 2001 begin het was die vyfkruisvlag die natuurlike keuse om sy party se gewildheid te demonstreer.” Brendan Koerner, 'Wat gaan aan met Georgië se vlae?', Slate, 25 November 2003.

Op 14 Januarie 2004 is die vlag deur die parlement aanvaar. Saakasjwili het dit formeel onderskryf deur die Presidensiële Dekreet No. 31 op 25 Januarie, nadat hy tot president verkies is. Sedertdien hou Georgië jaarliks op 14 Januarie vlagdag.

Ontwerp duimnael|Korrekte vertikale gebruik van die vlag van Georgië Lêer:IFIS Vertical exclusive.svg Die nasionale vlag van Georgië word soos volg in die dekreet beskryf:

Die Georgiese vlag het die volgende tegniese ontwerp:

350px|senter|Konstruksietekening

Kleure duimnael|Vlag van Georgië by die ambassade in Rome Die kleurskema word hieronder gelys:

30px Rooi Wit RGB 255-0-0 255-255-255 CMYK 0-100-100-0 0-0-0-0 Pantone 485 C Safe Heksadesimaal #FF0000 #FFFFFF

Simboliek duimnael|Detail van die Dulcert-kaart van 1339 met Tbilisi se vyfkruisevlag Die wit agtergrond verteenwoordig onskuld, kuisheid, reinheid en wysheid. Die rooi kruise verteenwoordig moed, dapperheid, geregtigheid en liefde.

Die vlag se sentrale element is die rooi Sint Joriskruis op ’n wit agtergrond, soortgelyk aan die vlag van Engeland s’n. Daar is ook ooreenkomste met die standaard van die keiser in die laat Bisantynse Ryk onder die Palaiologos-dinastie. Volgens die Georgiese geleerde Giorgi Gabeskiria is die vier bykomende kruise in die 14de eeu onder die heerskap van die Georgiese koning George V by die vlag gevoeg.

Sodoende het die vyf kruise ’n variant geword van die Jerusalemkruis wat die kruisvaarder Godfried van Bouillon in 1099 as die wapen van die Koninkryk Jerusalem ingevoer het. Dit was tot in 1291 die wapen van die Koninkryk Jerusalem, maar anders as in Georgië was die Jerusalemkruise geel. Aangesien Bouillon na homself as heerser van Jerusalems as “Beskermer van die Heilige Graf” verwys het, word die vyf kruise ook met die Graf van Christus geassosieer.

Die vyfkruisevlag is glo tot in die 15de eeu in Georgië gebruik. Dit verteenwoordig Georgiese gebied op seekaarte deur Angelino Dulcert (in 1339), Francesco en Domenico Pizigano (in 1367) en Sider (in 1565).

Gebruik duimnael|Die Georgiese president Salome Zurabisjwili met die Georgiese vlag ná die nasionale rugbyspan se historiese oorwinning oor Italië in Batoemi, 2022 Die vlag van die Republiek Georgië word op die volgende dae gehys: 1 Januarie: Nuwejaarsdag 9 April: Onafhanklikheidsdag (1991) 14 April: Georgiese Taaldag 23 April: Sint Jorisdag 26 Mei: Onafhanklikheidsdag (1918) 23 November: Herdenking van die Roosrewolusie

Subnasionale vlae duimnael|Die vlae van Adzjarië en Georgië Abchasië en Suid-Ossetië het hul onafhanklikheid van Georgië verklaar, wat tot dusver deur min lande erken word. Adzjarië is ’n verdere outonome republiek binne die land.

Abchasië