Cleopatra VII Filopator (Grieks: Κλεοπάτρα Φιλοπάτωρ; 69 v.C. - 10 Augustus 30 v.C.), in die geskiedenis bekend as Cleopatra of Kleopatra, was van 51 tot 30 v.C. farao van die Ptolemeïese Ryk van Egipte en sy laaste aktiewe heerser.Sy was ook 'n diplomaat, vlootaanvoerder, linguis en mediese skrywer; sien en .

As lid van die Ptolemeïese dinastie was sy 'n afstammeling van sy stigter, Ptolemeus I Soter, 'n Masedoniese generaal en vriend van Alexander die Grote. Ná Cleopatra se dood het Egipte 'n provinsie van die Romeinse Ryk geword, en dit was die einde van die tweede laaste Hellenistiese staat en tydperk wat geduur het vanaf die bewind van Alexander (336-323 v.C.). Haar moedertaal was Koine, en sy was die enigste Ptolemeïese heerser wat Egipties leer praat het.

In 58 v.C. het Cleopatra vermoedelik haar pa, Ptolemeus XII Auletes, vergesel tydens sy verbanning na Rome ná 'n opstand in Egipte ('n Romeinse vasalstaat) en dit het sy dogter Berenike IV in staat gestel om die troon op te eis. Berenike is in 55 v.C. vermoor toe Ptolemeus met Romeinse militêre hulp na Egipte terugkeer. Toe hy in 51 v.C sterf, het die gesamentlike bewind van Cleopatra en haar broer Ptolemeus XIII begin, maar 'n uitval tussen hulle het tot 'n burgeroorlog gelei. Nadat die Romeinse staatsman Pompeius in 48 v.C. 'n veldslag in Griekeland teen sy teenstander Julius Caesar ('n Romeinse dikatator en konsul) in Caesar se burgeroorlog verloor het, het hy na Egipte gevlug. Pompeius was 'n politieke bondgenoot van Ptolemeus XII, maar Ptolemeus XIII het hom op aanbeveling van sy hofeunugs in 'n lokval gelei en vermoor voor Caesar se aankoms en besetting van Alexandrië.

Caesar het toe probeer om die mededingende Ptolemeïese sibbes te herenig, maar Ptolemeus se hoofraadgewer het gedink Caesar se voorwaardes bevoordeel Cleopatra, en daarom het Ptolemeus se magte haar en Caesar by die paleis beleër. Kort nadat die beleg deur versterkings opgehef is, is Ptolemeus XIII dood in die Slag van die Nyl. Cleopatra se halfsuster Arsinoe IV is eindelik na Efese verban vir haar rol in die beleg. Caesar het Cleopatra en haar broer Ptolemeus XIV tot medeheersers verklaar, maar het 'n verhouding met Cleopatra begin wat tot die geboorte van 'n seun, Caesarion, gelei het. Cleopatra het in 46 en 44 v.C. as 'n vasalkoningin na Rome gereis, waar sy in Caesar se villa gebly het. Ná die sluipmoord op Caesar en, op haar bevel, Ptolemeus XIV in 44 v.C., het sy Caesarion as Ptolemeus XV se medeheerser aangestel.

In die Bevrydersoorlog van 43-42 v.C. het Cleopatra haar aan die kant van die Tweede Triumviraat geskaar wat gevorm is deur Caesar se nefie en erfgenaam Octavianus, Marcus Antonius en Marcus Aemilius Lepidus. Nadat hulle in 41 v.C. ontmoet het, het Cleopatra 'n verhouding met Antonius begin. Hy het Arsinoe op haar versoek laat teregstel en al hoe meer op Cleopatra begin steun vir befondsing en militêre hulp tydens sy invalle in die Partiese Ryk en Koninkryk Armenië. Die Skenkings van Alexandrië het hulle kinders – Alexander Helios, Cleopatra Selene II en Ptolemeus Philadelphus – tot heersers van verskeie eertydse gebiede onder Antonius se gesag verklaar. Dit, tesame met hulle troue en Antonius se egskeiding van Octavianus se suster, het gelei tot die finale oorlog teen die Romeinse Republiek. Octavianus het 'n propagandaoorlog gevoer en Antonius se bondgenote in die Romeinse Senaat gedwing om in 32 v.C. uit Rome te vlug, en hy het oorlog teen Cleopatra verklaar.

Nadat hy Antonius en Cleopatra se vloot in 31 v.C. in die Slag van Actium verslaan het, het Octavianus se magte Egipte in 30 v.C. binnegeval en Antonius verslaan. Dit het gelei tot Antonius se selfmoord en Cleopatra se dood nadat sy gif gedrink het.

Etimologie Die gelatiniseerde vorm Cleopatra kom van die antieke Griekse Kleopátra (Κλεοπάτρα), wat beteken "glorie van haar vader", van κλέος (kléos, "glorie") en πατήρ (patḗr, "vader"). Die manlike vorm sou geskryf gewees het as óf Kleópatros (Κλεόπατρος) óf Pátroklos (Πάτροκλος).

Cleopatra was die naam van Alexander die Grote se suster sowel as van Cleopatra Alcyone, vrou van die held Meleager in die Griekse mitologie. Deur die huwelik tussen Ptolemeus V Epiphanes en Cleopatra I Sira ('n Seleukidiese prinses) het die naam in die Ptolemeïese dinastie beland. Cleopatra se aangenome titel, Theā́ Philopátōra (Θεᾱ́ Φιλοπάτωρα) beteken "godin wat haar vader liefhet".

Biografie Agtergrond thumb|links|220px|Hellenistiese koninkryke wat ontstaan het ná die dood van Alexander die Grote.

Ptolemeïese farao's is deur die hoëpriester van Ptah in Memphis gekroon, maar het in die multikulturele en grootliks Griekse stad Alexandrië gewoon wat deur Alexander die Grote van Masedonië gestig is. Hulle het Grieks gepraat en as Hellenistiese monarge oor Egipte regeer. Hulle het geweier om Egipties te leer praat.Die weiering van Ptolemeïese heersers om Egipties te leer praat, is die rede hoekom antieke Grieks (Koine) saam met Egipties op amptelike hofdokumente soos die Rosettasteen gebruik is ().

thumb|180px|'n Hellenistiese borsbeeld van Ptolemeus XII Auletes, die vader van Cleopatra (Louvre, Parys). In teenstelling hiermee kon Cleopatra baie tale praat en sy was die eerste Ptolemeïese heerser wat Egipties geleer het. Volgens Plutarchus kon sy ook onder meer Hebreeus (of Aramees), Arabies, Siries, Parties en dalk selfs Latyn praat.Vir die baie tale wat Cleopatra gepraat het, sien en . Van dié tale weerspieël Cleopatra se wens om die Wes-Asiatiese gebiede te herstel wat eens tot die Ptolemeïese Ryk behoort het.

Romeinse inmenging in Egipte kom van voor Cleopatra se bewind. Toe Ptolemeus IX Lathyros laat in 81 v.C. sterf, is hy deur sy dogter Berenike III opgevolg. Teenstand teen die bewind van 'n enkele vroulike heerser het haar egter gedwing om met haar neef en stiefseun Ptolemeus XI Alexander II te trou en hom as medeheerser te aanvaar. Ptolemeus XI het sy vrou kort ná die huwelik in 80 v.C. vermoor, maar is in die opstand oor die moord daaroor gelynch. Ptolemus XI, of dalk sy oom Ptolemy IX of vader, Ptolemy X Alexander I, het die Ptolemeïese Ryk aan Rome nagelaat as kollateraal vir lenings. Daarom het die Romeine die wetlike reg gehad om Egipte, hulle vasalstaat, oor te neem ná die moord op Ptolemeus XI.

Die Romeine het egter verkies om die Ptolemeïese Ryk tussen die wettige seuns van Ptolemeus IX te verdeel. Hulle het Siprus aan Ptolemeus van Siprus gegee en Egipte aan Ptolemeus XII Auletes.

Bewind en verbanning van Ptolemeus XII In 65 v.C. het die Romeinse sensor voor die Senaat gepleit Rome moet die Ptolemeïese Egipte annekseer, maar dit is verwerp. Ptolemeus XII het op die bedreiging van 'n moontlike anneksasie gereageer deur vergoeding en groot geskenke aan magtige Romeinse staatsmanne te bied, soos aan Pompeius en eindelik Julius Caesar nadat hy in 59 v.C. Romeinse konsul geword het. Ptolemeus se optrede het hom egter bankrot gemaak en hy moes noodgedwonge lenings van 'n Romeinse bankier kry.

thumb|links|180px|Waarskynlik 'n portret van Cleopatra wat ná haar dood geskilder is, met rooi hare en haar besonderse gelaatstrekke (Italië, 1ste eeu n.C. In 58 v.C. het die Romeine Siprus geannekseer en Ptolemeus van Siprus, Ptolemeus XII se broer, met aantygings van seerowery daartoe gedryf om selfmoord te pleeg eerder as om verban te word. Ptolemeus XII het in die openbaar niks gesê oor sy broer se dood nie, en dié besluit en sy bemaking van tradisioneel Ptolemeïese grondgebied aan die Romeine het sy geloofwaardigheid geknou onder onderdane, wat reeds woedend was oor sy ekonomiese beleide.

Ptolemeus XII is toe uit Egipte verban. Hy het eers na Rhodos, toe na Athene en eindelik na Pompeius se villa naby Praeneste, Italië, gevlug. Hy het byna 'n jaar daar aan die buitewyke van Rome deurgebring, blykbaar vergesel van sy dogter Cleopatra, wat toe sowat 11 jaar oud was.Fletcher het min twyfel hieroor: "Auletes is in die somer van 58 v.C. van die troon gesit en omdat hy vir sy lewe gevrees het, het hy uit beide sy paleis en sy koninkryk gevlug, hoewel hy nie heeltemal alleen was nie. Een Griekse bron onthul hy is "deur een van sy dogters" vergesel. Aangesien die oudste, Berenike IV, monarg was en die jongste, Arisone, nie veel ouer as 'n baba nie, word algemeen aanvaar dit moes sy middelste en gunstelingdogter, die 11-jarige Cleopatra, gewees het." Berenike IV het afgesante na Rome gestuur om voorspraak te maak vir haar bewind en die herinstelling van haar pa op die troon teen te staan, maar Ptolemeus het sluipmoordenaars gestuur om die leiers van die afgesante te vermoor, 'n voorval wat deur sy magtige Romeinse ondersteuners toegesmeer is. Toe die Romeinse Senaat weier om aan Ptolemeus XII 'n gewapende eskort te verskaf om na Egipte terug te keer, het hy besluit om Rome laat in 57 v.C. te verlaat en het hy in Efese gaan bly.

thumb|220px|Die Romeinse Republiek (groen) en Ptolemeïese Egipte (geel) in 40 v.C. Ptolemeus XII se Romeinse finansiers was vasbeslote om sy bewind te herstel. Pompeius het Aulus Gabinius, die Romeinse goewerneur van Syria, omgekoop om Egipte binne te val en Ptolemeus op die troon terug te plaas. Gabinius het dit in die lente van 55 v.C. gedoen. Marcus Antonius was as jong offisier onder Gabinius se bevel. Hy het hom onderskei deur Ptolemeus XII te keer om die inwoners van Pelousion te vermoor en deur die lyk van Archelaos, Berenike IV se man, te red nadat hy in 'n veldslag gesneuwel het om te verseker hy kry 'n koninklike begrafnis. Cleopatra, wat toe 14 jaar oud was, sou saam met die Romeinse ekspedisie na Egipte gereis het; jare later het Antonius erken hy het in dié tyd op haar verlief geraak.

Gabinius is in Rome verhoor omdat hy sy gesag oorskry het. Hy is onskuldig bevind, maar in sy tweede verhoor, vir die aanvaarding van omkoopgeld, is hy skuldig bevind en verban. Caesar sou dit sewe jaar later, in 48 v.C., herroep. Ptolemeus XII het Berenike IV en haar ryk ondersteuners laat teregstel en beslag op hulle eiendom gelê.

Ptolemeus het 'n testament laat opstel waarin hy Cleopatra en sy seun Ptolemeus XIII as sy gesamentlike erfgename aanwys en hy het die ekonomie gestabiliseer. Op 31 Mei 52 v.C. is Cleopatra 'n regent van Ptolemeus gemaak. Ptolemeus het nie al sy skuld afbetaal teen die tyd dat hy dood is nie, en die skuld is oorgedra aan sy opvolgers, Cleopatra en Ptolemeus XIII.

Troonbestyging

Ptolemeus XII is die een of ander tyd voor 22 Maart 51 v.C. oorlede. Verskeie dringende noodgevalle het Cleopatra kort ná haar troonbestyging in die gesig gestaar, soos hongersnood wat deur 'n droogte en 'n lae vloedvlak van die Nyl veroorsaak is en wetteloosheid wat aangehits is deur die Gabiniani, die nou werklose Romeinse soldate wat deur Gabinius in Egipte agtergelaat is om die land te beset. Sy het ook haar pa se skuld geërf en die Romeinse Republiek baie geskuld.

Teen 29 Augustus 51 v.C. het amptelike dokumente Cleopatra die enigste heerser begin noem. Dit is 'n bewys dat sy haar broer Ptolemeus XIII as medeheerser verwerp het. Sy het waarskynlik met hom getrou, hoewel daar geen rekord daarvan is nie.

Die Ptolemeïese gebruik van huwelike tussen sibbes is deur Ptolemeus II en sy suster Arsinoe II begin. Dit was lank reeds die gebruik in Egipte, maar het die Grieke gewalg. Teen die tyd van Cleopatra se bewind is dit egter as 'n normale reëling vir Ptolemeïese heersers beskou.

Ondanks Cleopatra se verwerping het Ptolemeus XIII steeds magtige bondgenote gehad, veral die eunug Potheinos, sy kindertydse onderwyser en regent en die administrateur van sy eiendom. Daar was ook ander wat Cleopatra teengestaan het en dit lyk of sy 'n kort bondgenootskap met 'n ander broer, Ptolemeus XIV, gesluit het.

Teen die herfs van 50 v.C. het Ptolemeus XIII egter die oorhand in hulle konflik gekry en het hy begin om dokumente te teken met sy naam voor dié van sy suster.

Sluipmoord op Pompeius