thumb|240px|Die 2,7 m lange Hoba-meteoriet van 60 ton in Namibië is die grootste bekende meteoriet in een stuk.
'n Meteoriet is 'n soliede stuk afval uit die ruimte van 'n voorwerp soos 'n komeet, asteroïde of meteoroïde wat in die buitenste ruim ontstaan, sy reis deur die atmosfeer oorleef en die oppervlak van 'n planeet of maan tref. Wanneer die oorspronklike voorwerp die atmosfeer binnegaan, veroorsaak verskeie faktore soos wrywing, druk en chemiese wisselwerkings dat die atmosferiese gasse die liggaam laat verhit en energie laat uitstraal. Dit word dan 'n meteoor en vorm 'n vuurbal, of wat algemeen 'n "verskietende ster" genoem word. Sterrekundiges noem die helderste vuurballe boliede. Sodra dit op die groter liggaam se oppervlak beland, word die meteoor 'n meteoriet.
Meteoriete wissel baie in grootte. Vir geoloë is 'n bolied 'n meteoriet wat groot genoeg is om 'n slagkrater te laat.
Meteoriete is tradisioneel in drie breë kategorieë ingedeel: steenmeteoriete, wat klippe is en hoofsaaklik uit silikaatminerale bestaan; ystermeteoriete, wat hoofsaaklik uit ysternikkel bestaan; en steen-ystermeteoriete, wat groot hoeveelhede metaal én klip bevat.
Moderne klassifikasiestelsels verdeel meteoriete in groepe volgens hulle struktuur, chemiese en isotopiese samestelling en mineralogie. Meteoriete kleiner as 2 mm word as "mikrometeoriete" geklassifiseer. Buiteaardse meteoriete is al op die Maan en Mars gevind.
Valverskynsel Die meeste meteoroïdes disintegreer wanneer hulle die Aarde se atmosfeer binnedring. Vyf tot 10 per jaar word waargeneem wat die Aarde tref. Net 'n paar meteoriete is groot genoeg om 'n groot slagkrater te vorm. Die meeste bereik die oppervlak teen hulle terminale snelheid en veroorsaak hoogstens 'n klein gat. thumb|200px|Die NWA 859-ystermeteoriet met tekens van atmosferiese erosie. thumb|200px|Die slagkrater wat deur 'n meteoriet van 61,9 g veroorsaak is toe dit die dak van 'n huis in Noord-Kalifornië op 17 Oktober 2012 tref.
Groot meteoroïdes kan die Aarde tref met 'n aansienlike breuk van hulle ontsnapsnelheid en 'n hipersnelheidsslagkrater agterlaat. Die soort krater sal afhang van die grootte, snelheid, samestelling, graad van fragmentasie en die invallende hoek. Die krag van sulke botsings het die potensiaal om groot verwoesting te saai.Make your own impact at the University of Arizona . Lpl.arizona.edu. Retrieved on 17 December 2011.
Die gereeldste hipersnelheidskratervorming op Aarde word veroorsaak deur ystermeteoroïdes, wat die grootste kans het om ongeskonde deur die atmosfeer te klief. In teenstelling daarmee word relatief groot steen- of ysliggame soos klein komete of asteroïdes, van tot miljoene tonne, in die atmosfeer uiteengeskeur en maak hulle nie groot slagkraters nie. Hoewel sulke voorvalle ongewoon is, kan hulle 'n aansienlike skudding veroorsaak; die bekende Toengoeska-voorval is moontlik die gevolg van so 'n gebeurtenis.
Baie groot steenvoorwerpe met 'n deursnee van honderde meters en 'n gewig van tien miljoene tonne kan die oppervlak bereik en groot kraters veroorsaak, maar is baie skaars. Sulke voorvalle het gewoonlik so baie energie dat die voorwerp heeltemal vernietig word en geen meteoriet agterlaat nie. (Die heel eerste voorbeeld van 'n steenmeteoriet wat 'n groot krater veroorsaak het, die Morokweng-slagkrater in Suid-Afrika, is in Mei 2006 aangemeld.)
Verskeie verskynsels is aangeteken waar ooggetuies 'n meteoriet sien val het wat te klein was om 'n hipersnelheidskrater te veroorsaak. Die vuurbal wat gevorm word wanneer 'n meteoroïde deur die atmosfeer trek, kan baie helder wees en net so 'n skerp lig soos die Son veroorsaak, hoewel die meeste baie dowwer is en dalk nie eens in die dag gesien sal word nie. Verskeie kleure is aangemeld, insluitende geel, groen en rooi.
Ligflitse kan ontstaan terwyl die voorwerp opbreek. Ontploffings, knalgeluide en rommelings word dikwels gehoor tydens die val van 'n meteoriet. Dit kan veroorsaak word deur supersoniese knalle sowel as skokgolwe wat deur fragmentasie meegebring word. Nadat die vuurbal deur die atmosfeer getrek het, word 'n stofspoor soms minute lank gesien.
Omdat meteoriete verhit word wanneer hulle die atmosfeer binnekom, smelt hulle oppervlakke en ondervind hulle erosie. Hulle kan tydens dié proses in verskillende vorms gegraveer word. As die meteoriet sy oriëntasie behou terwyl hy val en nie tol nie, kan dit 'n keëlvorm kry. As dit snelheid verloor, kan die gesmelte oppervlaklaag in 'n fusiekors verhard. Op die meeste meteoriete is dit swart.
Meteoroïdes wat in die atmosfeer disintegreer, kan as meteorietreëns neerval, wat skaars is. Die gebied waaroor 'n meteorietreën neerstort, word sy verstrooiingsveld genoem. Verstrooiingsvelde het gewoonlik 'n elliptiese vorm, met 'n hoofas parallel met die vlugrigting. In die meeste gevalle word die grootste meteoriete in 'n reën op die verste afstand in die verstrooiingsveld aangetref.
Klassifikasie
Die meeste meteoriete is steenmeteoriete, wat as chondriete en achondriete geklassifsieer word. Net sowat 6% van meteoriete is yster- of gemengde meteoriete. Die moderne klassifikasie van meteoriete is ingewikkeld. Krot et al. (2007) som dit op.
Sowat 86% van meteoriete is chondriete,Meteoritical Bulletin Database. Lpi.usra.edu (1 January 2011). Besoek op 17 Desember 2011.The NHM Catalogue of Meteorites . Internt.nhm.ac.uk. Besoek op 17 Desember 2011.MetBase. Metbase.de. Besoek op 17 Desember 2011. wat genoem is na die klein, ronde deeltjies wat hulle bevat. Dié deeltjies, of chondrules, bestaan hoofsaaklik uit silikaatminerale wat lyk of hulle gesmelt het terwyl hulle vry in die ruimte rondgedryf het. Sekere soorte chondriete bevat ook klein hoeveelhede organiese materiaal, insluitende aminosure, en presolêre korrels. Chondriete is gewoonlik sowat 4,55 miljard jaar oud en verteenwoordig vermoedelik materiaal van die asteroïdegordel wat nooit met groter liggame versmelt het nie. Nes komete, is chondrietasteroïdes van die oudste en primitiefste materiale in die sonnestelsel. Chondriete word dikwels beskou as die "boustene van die planete".
Sowat 8% van meteoriete is achondriete, wat beteken hulle bevat nie chondrules nie. Van hulle is soortgelyk aan stollingsgesteentes op Aarde. Die meeste achondriete is ook antieke rotse en verteenwoordig vermoedelik korsmateriaal of gedifferensieerde planetesimale. Een groot familie achondriete (die HED-meteoriete) het dalk op Vesta ontstaan, hoewel dié bewering betwis word. Ander kom van ongeïdentifiseerde asteroïdes. Twee klein groepe achondriete is spesiaal, omdat hulle jonger is en nie lyk of hulle in die asteroïdegordel ontstaan het nie. Een van dié groepe kom van die Maan af en sluit rotse in soortgelyk aan dié wat die Apollo- en Loena-ruimteprogram na die Aarde teruggebring het. Die ander groep is feitlik vir seker van Mars af en is die enigste materiaal van ander planete wat deur die mens teruggebring is Aarde toe.
Sowat 5% van meteoriete wat gesien val is, is ystermeteoriete, wat bestaan uit ysternikkelallooie. Die meeste ystermeteoriete kom vermoedelik van die kern van planetesimale wat eens gesmelt was. Soos met die Aarde, het die digter metaal van die silkaatmateriaal geskei, na die middel van die planetesimaal afgesak en sy kern gevorm. Nadat die planetesimaal gestol het, het dit opgebreek in 'n botsing met 'n ander planetesimaal. Vanweë die min ystermeteoriete wat geval het in gebiede soos Antarktika, waar die meeste meteoriete wat val gevind kan word, is dit moontlik dat die persentasie ystermeteoriete wat val minder as 5% is.
Die oorblywende 1% van meteoriete is steen-ystermeteoriete. Hulle is 'n mengsel van ysternikkel en silikaatmateriale. Die twee hoofgroepe is pallasiete en mesosideriete.
Chemie In Maart 2015 het Nasa-wetenskaplikes berig komplekse organiese verbindings wat in DNS en RNS aangetref word, is in die laboratorium gevorm onder buiteruimtoestande met die gebruik van chemikalieë soos pirimidien, wat in meteoriete voorkom. Pirimidien en polisikliese aromatiese koolwaterstowwe kon gevorm gewees het in rooireuse of in interstellêre stof en gaswolke, volgens die wetenskaplikes.
In Januarie 2018 het navorsers ontdek 4,5 miljard jaar oue mateoriete wat op Aarde ontdek is, bevat vloeibare water en organiese stowwe van prebiotiese kompleks wat bestanddele van lewe kan wees.
In November 2019 het wetenskaplikes berig hulle het vir die eerste keer suikermolekules bespeur in meteoriete, insluitende ribose, wat daarop dui dat chemiese prosesse op asteroïdes sommige verbindings kan produseer wat noodsaaklik vir lewe is.
In April 2022 het 'n Japannese groep berig hulle het adenien (A), timien (T), guanien (G), sitosien (C) en urasiel (U) in koolstofryke meteoriete gevind. Dié verbindings is boustene van DNS en RNS, die genetiese kode van alle lewe op Aarde. Dié verbindings het ook spontaan voorgekom in 'n laboratoriumopset wat toestande in die buitenste ruim nageboots het."These meteorites contain all of the building blocks of DNA", LiveScience, 28 April 2022
Verwering Die meeste meteoriete dateer uit die vroeë sonnestelsel en is verreweg die oudste bestaande materiaal op Aarde. Ontledings van aardverwering weens water, sout, suurstof, ensovoorts word gebruik om die graad van wysiging te bepaal wat 'n meteoriet ondergaan het. Verskeie kwalitatiewe verweringsaanduidings is toegepas op Antarktiese en woestynvoorbeelde.P. A. Bland, M. E. Zolensky, G. K. Benedix, M. A. Sephton. "Weathering of Chondritic Meteorites"
Die algemeenste verweringskale wat gebruik word, vir gewone chondriete, wissel van W0 (ongerepte staat) tot W6 (kwaai verandering).
Fossiele meteoriete "Fossiele" meteoriete word soms deur geoloë ontdek. Hulle is die kwaai verweerde oorblyfsels van meteoriete wat in die verre verlede op Aarde geval en goed genoeg in sedimentneerslae bewaar gebly het dat hulle deur mineralogiese en geochemiese studies herken kan word. Die Thorsberg-kalkgroefsteen in Swede het meer as 100 fossiele meteoriete uit die Ordovisium opgelewer, waarvan byna almal kwaai verweerde L-chondriete is wat steeds onder 'n petrografiese mikroskoop soos die oorspronklike meteoriete lyk, maar waarvan feitlik al die oorspronklike materiaal vervang is deur aardse sekondêre mineralisasie.
Die bewys van hulle buiteaardse oorsprong word deels gedemonstreer deur isotopiese ontledings van oorblywende edelgesteentekorrels, 'n mineraal wat algemeen in meteoriete is, onoplosbaar in water is en in staat is om chemies onveranderd te bly in aardse verweringstoestande. Wetenskaplikes glo dié meteoriete, wat ook in Rusland en China ontdek is, het almal dieselfde bron: 'n botsing wat iewers tussen Mars en Jupiter voorgekom het. Een van dié fossiele meteoriete, wat Österplana 065 gedoop is, verteenwoordig oënskynlik 'n sekere soort meteoriet wat "uitgesterf" het in die sin dat dit nie meer op die Aarde val nie, omdat die moederliggaam al heeltemal uitgewis is uit die reservoir van naby-aarde-voorwerpe.
Versameling 'n "Meteorietval", ook genoem 'n "waargenome val", is 'n meteoriet wat die Aarde tref nadat mense of toestelle die val waargeneem het. Enige ander meteoriet word 'n "meteorietvonds" genoem. Daar is meer as 1 100 aangetekende valle wat in algemeen gebruikte databasisse voorkom. Van die meeste is daar monsters in moderne versamelings. Teen Januarie 2019 het die Meteorietbulletindatabasis 1 180 bevestigde valle bevat.
Meteorietvalle thumb|220px|'n Motorsitplek wat in 1938 deur die Benld-meteoriet getref is, met die meteoriet in die inlas. Dit was 'n waargenome val.
Die meeste meteorietvalle word versamel op grond van ooggetuieverslae van die vuurbal of die impak van die voorwerp op die grond, of albei. Hoewel die moontlikheid dat 'n meteoriet die Aarde kan tref dus oral in die wêreld ewe groot is, is geverifieerde meteorietvalle geneig om gekonsentreerd te wees in gebiede met hoër bevolkingsdigthede soos Europa, Japan en Noord-Indië.