Die Zimbabwiese nasionale krieketspan (Engels: Zimbabwe national cricket team), met die bynaam The Chevrons, is die nasionale krieketspan wat Zimbabwe in toets- en kitskrieket verteenwoordig. Dit word beheer en geadministreer deur Zimbabwe Krieket (ZC, van Engels: Zimbabwe Cricket), voorheen bekend as die Zimbabwiese Krieketunie (Zimbabwe Cricket Union, ZCU). Zimbabwe is sedert 1992 die tweede volle lid van die Internasionale Krieketraad (IKR) in Afrika ná Suid-Afrika met toets-, EDI- en T20I-status. Zimbabwe is tans (Februarie 2026) elfde op die IKR-toetsranglys, elfde op die eendagranglys en elfde op die Twintig20-wêreldranglys.
Zimbabwe het reeds aan nege krieketwêreldbekertoernooie deelgeneem, met hul beste prestasie in 1999 en 2003, waar hulle die Super Ses gehaal het. In 2003 het Zimbabwe saam met Suid-Afrika en Kenia die eerste krieketwêreldbekertoernooi in Afrika aangebied. Hulle het tot dusver ook aan sewe T20I-wêreldbekertoernooie deelgeneem en twee keer die tweede rondte gehaal (in 2022 en 2026). Zimbabwe het ook reeds aan vyf Kampioenetrofeë deelgeneem en in 2000 hul beste verskyning gemaak, toe hulle die kwarteindrondte gehaal het; in onlangse jare het hulle egter nie meer vir dié toernooi gekwalifiseer nie, omdat hulle nie meer onder die agt beste spanne in die IKR se EDI-ranglys is nie. Saam met Namibië en Suid-Afrika sal Zimbabwe ook die Krieketwêreldbeker 2027 aanbied.
Weens Zimbabwe se swak ekonomiese en politieke stabiliteit in onlangse jare het die Zimbabwiese nasionale krieketspan agteruitgegaan, veral omdat belangrike spelers dié land verlaat en teenstanders weens veiligheidkwessies geweier het om in Zimbabwe te speel. Dit lei tot ’n gebrek aan beide ervaring en kundigheid, waarvolgens Zimbabwe nie meer kan meeding met lande wat elke jaar baie krieketwedstryde speel nie. Hul laagtepunt was die opskorting deur die IKR in 2019, maar Zimbabwe is intussen weer gerehabiliteer. Een voormalige Zimbabwiese speler is in die Internasionale Krieketraad se Heldesaal opgeneem.
Beheerliggaam
Zimbabwe Krieket (Engels: Zimbabwe Cricket, ZC) is in 1898 gestig as Rhodesiese Krieketunie (Rhodesia Cricket Union, “RCU”), in 1980 hernoem in Zimbabwiese Krieketunie (Engels: Zimbabwe Cricket Union, ZCU) en het in 1992 sy huidige naam aangeneem. Dit is verantwoordelik vir die reël van krieket in Zimbabwe. Op 21 Julie 1981 het hulle as ’n assosiaatlid by die Internasionale Krieketraad (IKR) aangesluit en sedert 6 Julie 1992 is Zimbabwe ’n volle lid en mag dus toetskrieket speel. Daarbenewens was die Zimbabwiese beheerliggaam in 1997 ’n stigtingslid van die Afrikakrieketvereniging (Africa Cricket Association, “ACA”).
Zimbabwe Krieket bestuur al die Zimbabwe-verteenwoordigende nasionale spanne, insluitende die mans, vroue en jeug. Hulle is ook verantwoordelik vir die bestuur en organisasie van toets-, EDI- en T20I-reekse teen ander spanne, en die reël van internasionale wedstryde tuis. Daarbenewens is die ZC verantwoordelik vir inkomsteverkryging deur die verkoop van kaartjies, borgskappe en uitsaairegte, veral in verband met die Zimbabwiese span.
Kinders en jongmense word reeds op skool aan krieket bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting. Net soos ander krieketlande beskik Zimbabwe oor ’n o/19-nasionale span wat aan die o/19-krieketwêreldbeker deelneem. Zimbabwe A is die tweede nasionale span van Zimbabwe en van hul wedstryde geniet eersterangse of A-lys-status.
Geskiedenis Invoering en vestiging van krieket duimnael|links|Fort Victoria in 1952, waar op 16 Augustus 1890 die eerste krieketwedstryd in die destydse Rhodesië beslis is In 1890 het die Pionierskolom, ’n deur Cecil John Rhodes en die British South Africa Company (BSAC) saamgestelde mag huursoldate, vanuit die Kaapkolonie die gebiede noord van die Limpoporivier bereik. Op 16 Augustus 1890, kort nadat Rhodes dié nedersetting laat stig het, is naby Fort Victoria op ’n kolfblad van skaars twee en twintig treë die eerste bekende krieketwedstryd in Rhodesië beslis. Toe die huursoldate gekies is, het die koloniale amptenare, wat hul opleiding hoofsaaklik aan Britse openbare skole ontvang het, groot waarde aan sportprestasies geheg. Hulle het daarin belanggestel om Britse balsporte in die nuwe kolonie te vestig. Dienooreenkomstig het rugby en krieket ’n prominente rol gespeel, aangesien hulle ’n ideale verbinding met die Verenigde Koninkryk sou vorm. Volgens die koloniste se siening het dié twee sportsoorte in ’n besondere mate “imperiale ideologieë van die Britte se mag en van manlikheid, wat uitgedruk is in sportprestasies” bevorder. In dié kolonie se beginjare, wat veral deur militêre konflikte (Jameson-inval, Matabele-opstand, Tweede Vryheidsoorlog) gekenmerk was, het die BSAC gepoog om deur gereelde sportverslae in die Suid-Afrikaanse en Britse pers ’n soort normaliteit voor te gee om die toestroming van nog setlaars aan die gang te hou.
Rhodes het na ’n geruime tyd besef dat die BSAC alleen nie in staat was om die deur die setlaars verkiesde suidelike deel van Rhodesië doeltreffend te administreer nie. In 1897 het hy dus sy vriend William Henry Milton as administrateur van die gebied Masjonaland (van 1901 af ook van Matabeleland en dus van die hele Suid-Rhodesië) aangestel om ’n siviele administrasie te vestig. Milton het in 1874/75 vir die Engelse nasionale rugbyspan uitgedraf en was van 1889 tot 1892 kaptein van die Suid-Afrikaanse nasionale krieketspan. Tydens sy ampstermyn, wat tot 1914 geduur het, het hy onder meer strukture geskep vir sportaktiwiteite, byvoorbeeld deur die bekendstelling van skoolsport. Vir die setlaars was die beoefening van sport ’n belangrike manier vir sosiale akkulturasie, aangesien dit die interaksie tussen betreklik ver afgeleë nedersettings bevorder en tot die skepping van ’n eenvormige “wit” kultuur bygedra het. Die vorming van ’n uitsluitende setlaaridentiteit was glo noodsaaklik vir die handhawing van die oppergesag en beheer oor die veel groter inheemse bevolking. Milton se rassistiese invloed was aansienlik en hy was meer as enige ander verantwoordelik vir die skepping van ’n gesegregeerde speelprogram. Gevolglik is krieket feitlik uitsluitlik deur “wit” mense gespeel. In die middel-1890’s was die belangrikste wedstryd van die Rhodesiese krieketseisoen die wedstryde tussen Salisbury en Bulawayo. Die eerste Engelse verteenwoordigende span, aangevoer deur Lord Hawke, het Rhodesië in 1898/99 besoek, en die wedstryde is op ’n matkolfblad gespeel.
Rhodesiese krieket duimnael|links|upright|Denis Tomlinson het in 1935 Rhodesië se eerste toetskrieketspeler geword Toe die spoorlyn in 1897 Bulawayo bereik het, het dit die vestiging van gereelde sportverhoudings met Suid-Afrika vergemaklik. In 1898 is die beheerliggaam Rhodesiese Krieketunie (Rhodesia Cricket Union, “RCU”) gestig. Toe hulle aan die Suid-Afrikaanse Curriebeker deelgeneem het, is in 1904/05 vir die eerste keer eersterangse krieket in Rhodesië gespeel. Op 15–16 Maart 1905 is in Johannesburg die eerste eersterangse wedstryd teen die Transvaalse krieketspan gespeel, wat Rhodesië met ’n beurt en 170 lopies verloor het. Ná hierdie kort verskyning het Rhodesië vir ’n kwarteeu nie meer aan die Curriebeker deelgeneem nie. Vanaf 1931/32 het hulle weer aan die Curriebeker deelgeneem en vier van hul vyf wedstryde gewen, maar hulle moes die beker weens die destydse puntestelsel aan die Westelike provinsie afstaan. Die Rhodesiese span het vanaf 1946/47 op ’n gereelde vlak begin deelneem, maar hulle “tuiswedstryde” is in Suid-Afrika aangebied, sodat die Suid-Afrikaanse spanne nie lang moes reis nie. In die tussentyd het Denis Tomlinson Rhodesië se eerste toetskrieketspeler geword, nadat hy in 1935 vir die Suid-Afrikaanse span benoem is om saam na Engeland te toer. Chris Duckworth was die tweede tydens die Engelse toer in 1955 en Tony Pithey die derde teen Engeland in die tuisreeks van 1956/57. Ander goeie spelers soos Colin Bland het ook internasionale krieket vir Suid-Afrika gespeel.
Die sedert 1953 bestaande Sentraal-Afrikaanse Federasie is tien jaar later ontbind, waarmee die RRVU sy verantwoordelikheid vir die nuwe onafhanklike lande Zambië en Malawi kwyt was. Die “wit” minderheid van Suid-Rhodesië het destyds oor ’n groot mate aan selfregering beskik en hulle wou hul bevoorregte posisie behou, wat vir die Britte weens die toenemende dekolonisasie egter onaanvaarbaar was. Nadat onderhandelinge oor die “swart” meerderheid se politieke gelykstelling misluk het, het die regering onder Ian Smith op 11 November 1965 eensydig Rhodesië se onafhanklikheid van die Verenigde Koninkryk verklaar. Die Britse regering onder Harold Wilson het dié gebeurtenis as ’n opstandige daad bestempel en talle pogings op internasionale vlak aangewend om die Rhodesiese regering enige internasionale legitimiteit te ontsê. Dit het spoedig die sportwêreld ingesluit en van 1967 af het die Britse regering aangevoer dat verbindinge op sportvlak ’n vorm van “ondersteuning vir die onwettige regime in Rhodesië” sou wees.
Die boikotpogings was nie op die rasseskeiding per se gemik nie, dit was egter uitdruklik gefokus op die onwettigheid van die Smith-administrasie. In teenstelling met Suid-Afrika was die diskriminasie van die bevolkingsmeerderheid in Rhodesië nie op ’n staatsbepaalde en georganiseerde apartheid gegrond nie, veral as sulks in Rhodesië weens ’n gebrek aan die nodige veiligheidsmagte in elk geval nie afdwingbaar was nie. Dit was eerder ’n uitdrukking van uitsluiting op sosiale en ekonomiese vlak. Op die gebied van sport het dit op verskillende maniere gemanifesteer. Sportsoorte wat duur toerusting en fasiliteite of spesiale afrigtingsmetodes vereis het, is oorheers deur die gegoede “wit” setlaargemeenskap, terwyl baie “swart” Rhodesiërs uitgesluit was bloot weens ’n gebrek aan finansiële middele. In sportsoorte sonder sulke vereistes was reeds sedert die 1950’s ’n afbreek van skeidende hindernisse waarneembaar, wat veral die geval in sokker en atletiek was. Daarenteen het sportsoorte soos rugby en krieket, wie se beheerliggame noue verbindinge met hul Suid-Afrikaanse eweknieë gehandhaaf het, ’n hoë mate aan segregasie getoon.
Die jaarlikse Loganbeker was minder gesog, maar dit het aansienlik bygedra tot die kondisionering van die Rhodesiese spelers. Dit is as ’n naweektoernooi tussen die vier destydse provinsies Matabeleland, Masjonaland, Manicaland en Midlands van stapel gestuur, en het later Noord-Rhodesië (nou Zambië) ingesluit. Gedurende die wintermaande het die Sunday Country Districts se krieket meer geword. Daarbenewens het die Straggler, saamgestel uit spelers van Masjonaland, in die laat 1950’s en vroeë 1960’s, in daardie wintermaande vir naweekwedstryde teen Njassaland (nou Malawi) op matkolfblaaie na Blantyre getoer. In die 1961-wedstryd het Chris Duckworth 91 lopies in 58 minute aangeteken. Sedert die 1993/94-seisoen geniet die Loganbekertoernooi eersterangse status. In Oktober 1961 het Nieu-Seeland aan die begin van hul Suid-Afrikaanse toer Rhodesië besoek. Hulle het twee driedaagse eersterangse wedstryde teen Rhodesië gespeel, waarvan die eerste in Bulawayo en die tweede in Salisbury. Albei wedstryde het onbeslis geëindig.