duimnael|Kennisgewing op Durbanstrand in Engels, Afrikaans en Zoeloe, wat aandui dat die strand gereserveer is vir gebruik deur die witrassegroep. duimnael|'n Rasse beperkingsbord op 'n strand in Muizenberg in Valsbaai. "Net blankes" — nie-blankes en honde was verbode. duimnael|Parkbankie in Joubertpark, Johannesburg, geneem gedurende die Apartheidsera omstreeks 1970. Die teks "Europeërs alleenlik" verskyn in Engels en Afrikaans.
Apartheid, soms geëufemiseer tot afsonderlike ontwikkeling, verwys na 'n politieke bestel, ideologie en beleid wat op rasseklassifikasie gegrond is en tussen 1948 en 1994 as amptelike beleid in Suid-Afrika gegeld het. Die woord apartheid dui oorspronklik op 'n toestand van apart of afgesonder wees. Met die implementering van die Nuwe Benadering van P.W. Botha in 1984 na afloop van die referendum in 1983, is 'n beleid van magsdeling daargestel waarmee tentatiewe stappe gedoen is om ander groepe by die regering te betrek. Dit het egter steeds die swart meerderheid uitgesluit en is deur die meeste mense in Suid-Afrika en in die buiteland verwerp. Onder apartheid is lede van verskillende rasse geskei en is swart mense stemreg binne die sogenaamde "wit" Suid-Afrika ontsê. Die invoer van die beleid veroorsaak oneindige leed aan miljoene Suid-Afrikaners deur gedwonge verskuiwings, beperkings op beweging, indiensneming en gewelddadige onderdrukking van die vryheidstryd. Vele ander wette en reëlings soos die Groepsgebiedewet, Ontugwet en die Wet op Afsonderlike Geriewe dra by tot die daaglikse vernedering van swart en gekleurde mense.
In 'n manifes van dr Daniël François Malan (leier van die Nasionale Party 1948–1954) op die vooraand van die algemene verkiesing in eersgenoemde jaar, word die term apartheid vir die eerste keer gebruik om die beleid van die Nasionale Party aan te dui. Daarmee wou die Party die voortbestaan van die afsonderlike identiteit van elke ras in Suid-Afrika verseker. Blankes, Indiërs, swartes en bruines sou afsonderlik naas mekaar tot ontwikkeling gebring word.
Die negatiewe element van hierdie beleid en die verloop daarvan is hoofsaaklik die diskriminasie teen sogenaamde nie-blankes. Dit het duidelik geword dat die politieke mag sedert 1948 die Europese (wit) groepe bevoordeel het, terwyl die ander groepe afgesonder is ten opsigte van politieke deelname, en deelname aan maatskaplike voordele en ekonomiese bedrywighede. Ten opsigte van die swart mense was die verklaarde beleid om die vernaamste etniese groepe te skei in hulle eie gebiede. Hulle moes daar as selfversorgende eenhede ontwikkel. Die gebiede was egter nie geskik vir die vorming van volwaardige state nie en finansiering deur die Apartheidsregering was onvoldoende om die Groot Apartheid-visie te verwesenlik.
Verskeie woordsamestellings het ontstaan om aanduidend te wees van stelsels wat die gevolg van apartheid was: apartheidsregering, met sy apartheidspolitiek en apartheidsbeleid; apartheidspolisie en apartheidsweermag. Die term dra in die algemeen 'n skeldende ondertoon, juis omdat die uitoefening van die apartheidsbeleid tot soveel onreg en lyding binne die onderdrukte groep gelei het.
In Engeland het simpatiseerders met die lot van die onderdrukte groepe in 1969 onder leiding van die anti-apartheidsaktivis Peter Hain, 'n bybetekenis geskep: "apart hate" is gebruik om aan te dui dat daar 'n element van haat geheers het om 'n onderdrukte groep in die Suid-Afrikaanse sosiaal-politieke bedeling te vestig. Hierdie verwikkeling het die wêreld soos 'n veldbrand getref en die uitwerking was uiters nadelig vir die Suid-Afrikaanse regering, wat vertrou het op eufemismes, gebore uit 'n beleid van segregasie, om sy politieke ontwerp van swart tuislande en selfbeskikking in afgesonderde state te bevorder.
Die fokus op apartheid het wêreldwyd só 'n oorweldigende gevolg gehad, dat die term spoedig opgeneem is as leenwoord in ander tale, eerder as om nuutskeppings te maak.
Die apartheidtydvak kom finaal tot 'n einde met die eerste nie-rassige algemene verkiesing in Suid-Afrika in 1994, wat oortuigend deur die ANC gewen word. Die verkiesing word gevolg deur die inhuldiging van Nelson Mandela as Suid-Afrika se eerste swart president en die saamstel van 'n regering van nasionale eenheid waarin die leiers van die vernaamste opposisiepartye, die Nasionale Party en die IVP, adjunkpresidentsposte en ander kabinetposte beklee.
Die stryd teen apartheid In Mei 1948 wen die Nasionale Party onder leiding van dr. D.F. Malan die verkiesing en word die beleid van apartheid van stapel gestuur. Die Nasionale Party se beleid het ten doel gehad om deur middel van rasseskeiding die mag in die hande van die wit bevolking — en in besonder die Afrikaners — te hou. 'n Hele reeks wette is uitgevaardig wat afsonderlike ontwikkeling op ekonomiese, politieke, geografiese en sosiale vlak sou verseker. Dit was die begin van die apartheidsera wat van 1948 tot April 1994 sou duur, toe die eerste algemene demokratiese verkiesing in Suid-Afrika gehou is. Die mees dramatiese wetgewing ná 1950 was eerstens die Groepsgebiedewet, wat later deur middel van verdere wetgewing uitgebrei sou word. Dit het daarop neergekom dat sekere gebiede vir elke bevolkingsgroep gereserveer sou word. Swart mense kon net met spesiale toestemming in die stede woon, en ook net in gebiede wat vir hulle geoormerk was. Die Tuislandbeleid sou hieruit voortvloei: swart mense is hul burgerlike regte ontneem en is saam met sekere stamme in gebiede ver van hul woon- en werkomgewing gegroepeer. Dit was die motivering vir die verpligte dra van pasboeke. Hierdie drastiese wetgewing het 'n gevoel van minderwaardigheid by swart mense gekweek en sou gou daarna gevoelens van haat en wraak by organisasies soos die ANC ontlok. In 1951 het die Wet op die Afsonderlike Verteenwoordiging van Kiesers die swart en bruin kiesers in die Kaap van die kieserslyste verwyder. Die Hooggeregshof het hierdie wysiging van 'n bykans 100 jaar oue wet in 1952 onkonstitusioneel verklaar aangesien dit nie deur 'n tweederdemeerderheid goedgekeur is nie. Die regering se reaksie hierop was om 'n nuwe wet te aanvaar ingevolge waarvan 'n tweederdestem nie meer nodig was om wetgewing te wysig nie. Die bevinding van die Hooggeregshof is dus eenvoudig omseil.
Apartheidswetgewing Wet op Verbod van Gemengde Huwelike Ontugwet Wet op Bevolkingsregistrasie Groepsgebiedewet Sensuurwet Wet op die Afsonderlike Verteenwoordiging van Kiesers Wet op die Voorkoming van Onregmatige Plakkery Wet op Bantoe-owerhede Naturellewet (Afskaffing van Passe en Koördinering van Dokumente) Wet op Bantoe-onderwys Wet op Afsonderlike Geriewe Wet op die Hervestiging van Naturelle Wet op die Ontwikkeling van Groepsgebiede Naturelle- (Verbod op Interdikte) Wet Wet op Bantoebeleggingskorporasie Wet op Gemeenskaplike Kleurlingreservate Wet op die Behoud van Kleurlinggebiede Wet op Stedelike Bantoerade
Passiewe verset teen apartheid in die 1950's duimnael|regs|200px|Prof. Z.K. Matthews, Kaaplandse leier van die ANC. Vir geleerde en professionele swart mense was die manier waarop hulle deur die regering behandel is, eenvoudig onaanvaarbaar. Hulle het gevoel dat hulle minderwaardig behandel en verneder is deur 'n regering wat geen gehoor gegee het aan die aandrang, sowel binnelands as buitelands, om die beleid van apartheid af te skaf nie. Politieke organisasies soos die ANC, die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP), die Pan Africanist Congress (PAC) van Robert Sobukwe wat in 1959 van die ANC weggebreek het, die South African Students Organisation (SASO) en die National Union of South African Students (NUSAS) was almal deel van die protesveldtog teen apartheid.
Die ANC, wat verreweg die meeste ondersteuners gehad het, het in 1949 'n plan van aksie van stapel laat loop om vir swart mense verteenwoordiging op nasionale regeringsvlak te kry. Die veldtog van passiewe verset sou die volgende vorme aanneem: Publieke ongehoorsaamheid: die pasboeke sou nie meer gedra word nie. Stakings: wegbly-aksies sou die ekonomie knou. Geen samewerking nie: die boodskap aan die regering was dat hulle ingesluit moes word anders sou hulle nie onderhandel nie. Boikotte: hulle sou saamstaan om Suid-Afrikaanse sakeondernemings te boikot. Massa-optogte: openbare protesoptogte sou gereël word.
In 1949 is dr. James Moroka tot president-generaal van die ANC verkies, en Walter Sisulu van die ANC se Youth League tot sekretaris-generaal. Die ANC het 1 Mei 1950 tot Vryheidsdag verklaar ter herdenking van die Vryheidsdag van die Kommunistiese Party in Rusland in 1917. Hulle het hul ondersteuners aangemoedig om op daardie dag van die werk weg te bly en die helfte van die arbeidsmag aan die Witwatersrand het daardie dag nie vir werk opgedaag nie. Polisieoptrede teen die stakers het tot die dood van agttien werkers gelei.
Aangesien die ANC die ondersteuning van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party geniet het, het die regering in 1950 besluit om die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme te publiseer wat alle bedrywighede van dié party aan bande sou lê. Die Russiese Konsulaat in Pretoria is in 1956 gesluit en alle diplomatieke bande tussen Suid-Afrika en die U.S.S.R. is verbreek.
In 'n brief aan dr. D.F. Malan het swart, Kleurling- en Indiër-weerstandsorganisasies die regering versoek om die volgende diskriminerende wette af te skaf: Die Groepsgebiedewet wat bepaal het dat sekere gebiede vir sekere rassegroepe geproklameer sou word en dat geen lid van 'n ander ras daar mag woon nie. Die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme wat alle kommunistiese bedrywighede in Suid-Afrika verbied het. Die Wet op Bantoe-owerhede wat voorsiening gemaak het vir bepaalde etniese groepe om in hul eie tuislande te bly. Die Pasboekwet wat alle swart mense verplig het om te alle tye 'n pasboek of identiteitsdokument te dra. Die Wet op Bantoe-onderwys wat aan die regering beheer oor die inhoud en medium van onderrig vir swart mense gegee het. Die Wet op Aparte Stemreg wat uitsluitlik aan witmense stemreg gegee het.
Dr. Malan is in die brief gedreig dat protesvergaderings gehou sou word indien die wette nie afgeskaf word nie. Malan het egter volgehou dat wetsoortreders swaar gestraf sou word. Die Uitdagingsbeweging (Defiance Campaign) is op 26 Junie 1952 geloods toe duisende swart mense die paswet oortree het, gebiede wat "Slegs Blankes" gemerk was, betree het, of aangedring het op diens by poskantoortoonbanke waar slegs witmense bedien is. In Oktober 1952 het die versetoptredes 'n hoogtepunt bereik. Meer as 8 000 betogers is gearresteer, maar hulle het geweier om borggeld te betaal. Die gevolg was dat baie tronke twee of drie maande lank tot oorlopens toe vol was, na gelang van die straf wat opgelê is. Botsings wat met geweld gepaard gegaan het, het veral in die Oos-Kaap plaasgevind. Verskeie betogers het hul lewens verloor, maar dit het ook tot die dood van onskuldige burgerlikes gelei. Een van die skokkendste voorvalle was die dood van 'n Katolieke non. Die vasberadenheid van die ANC om die owerheid openlik te konfronteer het die beeld van die ANC verander. Groot getalle mense wat voorheen bloot simpatiek gesind was teenoor die ANC, het nou by die ANC aangesluit en die ledetal het van 7 000 tot 100 000 gegroei.