Daar word algemeen aanvaar dat die eerste moderne mense Suid-Afrika meer as 100 000 jaar gelede bewoon het. Die vroegste bekende inwoners word gesamentlik as die Khoisan beskryf, ’n versamelnaam vir die Khoekhoe- en San-groepe. Vanaf ongeveer 400 n.C. is hierdie gemeenskappe aangevul deur Bantoesprekende groepe wat uit Wes- en Sentraal-Afrika gemigreer het tydens die sogenaamde Bantoe-uitbreiding. Hierdie groepe het aanvanklik hoofsaaklik in die noordoostelike dele van die huidige Suid-Afrika gevestig, maar het teen die latere Middel-Ystertydperk (ca. 1000–1300 n.C.) geleidelik verder suidwaarts na die binneland uitgebrei.

Europese verkenning van die Afrika-kus het in die laat 15de eeu momentum gekry toe Portugal ’n alternatiewe seeweg na Asië gesoek het. Portugese seevaarders het die kuslyn gekarteer en in 1488 die Kaap die Goeie Hoop omseil. In April 1652 het die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie ’n verversingspos aan die Kaap gestig onder leiding van Jan van Riebeeck. Europese nedersetting het mettertyd uitgebrei, en vryburgers het landboubedrywighede in die Kaapkolonie gevestig. Ná Britse besettings van die Kaap in 1795 en 1806 het spanning oor beheer en beleid bygedra tot die Groot Trek, waartydens Voortrekkers na die binneland getrek en verskeie Boere-republieke gestig het.

Die ontdekking van diamante en goud in die 19de eeu het ’n ingrypende invloed op die streek gehad deur ekonomiese groei, industrialisering en verstedeliking aan te dryf. Hierdie ontwikkelinge het ook bygedra tot verskerpte konflik tussen Britse imperiale belange en Boererepublieke, wat uiteindelik uitgeloop het op die Suid-Afrikaanse Oorlog (1899–1902). Ná die oorlog is die Unie van Suid-Afrika op 31 Mei 1910 as ’n selfregerende dominium binne die Britse Ryk gestig, ingevolge die Suid-Afrika-wet van 1909, wat die Kaapkolonie, Natal, Transvaal en die Oranjerivierkolonie verenig het. In 1934 het Suid-Afrika groter wetgewende onafhanklikheid verkry met die Status van die Unie-wet, en in 1961 is die land ná ’n referendum tot ’n republiek verklaar.

Van 1948 tot 1994 is Suid-Afrika oorheers deur ’n beleid van apartheid, ’n stelsel van institusionele rasseskeiding en wit minderheidsregering. In die laat 20ste eeu het toenemende binnelandse weerstand en internasionale druk tot hervormings gelei. Op 2 Februarie 1990 het president F. W. de Klerk die verbod op bevrydingsbewegings opgehef en politieke gevangenes, insluitend Nelson Mandela, vrygelaat. Onderhandelinge tussen verskeie politieke rolspelers het gevolg en het gelei tot die aanneming van ’n nuwe demokratiese bestel.

Op 27 April 1994 het Suid-Afrika sy eerste demokratiese verkiesing gehou, wat ’n einde aan apartheid en die begin van ’n inklusiewe grondwetlike demokrasie ingelui het. Sedertdien word die land regeer deur die African National Congress (ANC), hoewel die party se verkiesingsmeerderheid mettertyd afgeneem het en dit in 2024 vir die eerste keer sy parlementêre meerderheid verloor het. Hedendaagse Suid-Afrika staar verskeie uitdagings in die gesig, insluitend hoë misdaadvlakke, korrupsie, werkloosheid, stadige ekonomiese groei, energievoorsieningsprobleme en infrastruktuur-agteruitgang.

Prehistoriese Suid-Afrikaanse geskiedenis duimnael|Mev. Ples se kopbeen in die Transvaal-museum, Pretoria.|alt= Argeologiese opgrawings dui daarop dat die "moderne" mens meer as 50 000 jaar gelede reeds in die teenswoordige Suid-Afrika aanwesig was. Die landstreek is moontlik nagenoeg 30 000 jaar gelede die eerste keer deur San-groepe (Boesmans) beset.

Suid-Afrika is een van net ’n paar gebiede ter wêreld waar daar baie geologiese en omgewingsbewyse bestaan dat anatomies moderne mense hier gebly en geleef het. Vroeë rotskuns in Suider-Afrika wat onder meer op ’n jagkultuur uit die Steentyd dui, is van die bewyse van bewoning derduisende jare gelede. Die meeste van die sogenaamde Boesmantekeninge is egter heelwat jonger as 25 000 jaar en die grootste hoeveelheid rotskuns is waarskynlik eers die laaste 10 000 jaar gemaak.

Van die oudste fossiele van anatomies moderne mense wat sowat 115 000 jaar gelede die suidpunt van Afrika bewoon het, is by Klasiesrivier gekry en heelwat bewyse van sowat 75 000 jaar gelede is in die Blombosgrot by Stilbaai gevind.

Die jongste argeologiese navorsing dui daarop dat die voorvaders van die Suider-Afrikaanse swartmense boere was wat van verder noord op die vasteland gekom het. Van nagenoeg die eerste of tweede eeu n.C. het hulle hulle in klein gemeenskappe langs die kus van die teenswoordige KwaZulu-Natal gevestig. Hulle sou later opwaarts versprei in die riviervalleie van die streek en nog later tot in die hoërliggende graslande.

Die groot suidwaartse trek van Sentraal- en Wes-Afrika het ongeveer 2 000 jaar gelede begin, toe die Khoi-Khoi hulle in die Kaapse kusgebiede gevestig het. Hoewel hulle jagters was, het hulle ook beeste en skape saamgebring. Swart Ystertyd-boere van die noorde het ook suidwaarts migreer en hulle suid van die Limpopo by Mapungubwe (Heuwel van die Jakkalse) gevestig en later (moontlik sowat 400 n.C.) ooswaarts na KwaZulu-Natal getrek en later (sowat 600 n.C.) na die Oos-Kaap. Hier het hulle en ook die Khoi-Khoi-groep met die inheemse San-bevolking te doene gekry.

Navorsing dui daarop dat die mense van die Vroeë Ystertyd nie vee aangehou het nie, maar ongetwyfeld akkerbou beoefen het. Hulle het waarskynlik hul vleis van jag gekry. Later (sowat 500 n.C.) is bokke, beeste en skape aangehou. Een van die opvallendste veranderinge in die Laat Ystertyd is die uitbreiding van 1300-1600 n.C. van die bosveldgebiede na die oop grasvlaktes, waar klip as boumateriaal gebruik is eerder as hout en klei van die bosveldgebiede.

Dit is interessant dat toe die Nederlanders in 1652 hul verversingspos in die Kaap gestig het, sowat 75 000 San en Khoi-Khoi reeds in die gebied gewoon het. Die onderlinge verhouding tussen hulle was waarskynlik een van konflik maar ook samewerking. Dit val op dat dit nie tot die onderwerping en selfs vernietiging van die een groep was nie – soos meestal die geval is – maar dat hulle in dieselfde gebied kon bestaan. Tog is daar aanduidings dat die “nuwe” intrekkers die San begin oorheers en gedeeltelik geabsorbeer het.

Fenisiese ekspedisie In 1827 het die Engelse reisiger George Thompson 'n boek met die titel Travels and Adventures in South Africa gepubliseer. In die boek noem hy dat naby die dorpie Kaapse Vlakte, nou die distrik Kapstad, aan die oewer van die waterval, kort voor sy aankoms, dele van die bekleding van 'n antieke vaartuig “met spore van metaalstof in 'n sterk erodeerde toestand” ontdek is, vermoedelik spykers. . Die timmerman wat tydens die inspeksie teenwoordig was, het beweer dat die hout seder was (die Libanese seder is wyd deur antieke skeepsbouers gebruik). Thompson het voorgestel dat dit die oorblyfsels is van 'n seilskip wat tydens die Fenisiese ekspedisie rondom Afrika verwoes is, wat ongeveer 600 vC onderneem is voor die bevel van die Egiptiese farao Necho II. Die vonds is lankal vergete, maar na dertig jaar op dieselfde plekke het 'n plaaslike amptenaar die provinsiale goewerneur in 'n brief in kennis gestel dat 'n halfbederf sederboord met 'n voet van ongeveer 21 meter aan die kus gevind is. Reeds in die XX eeu is die wrak van 'n antieke skip deur die beroemde wetenskaplike Raymond Dart bestudeer. Hy het gevind dat die lengte van die seilboot 52 m (52 ​​m) kan bereik, wat ooreenstem met die gegewens oor die skeepsbou onder die Fenisiërs. Aan die einde van die 20ste eeu is rotstekeninge wat skepe uitbeeld, in die Clanuilliam-omgewing ontdek. Hulle is op verskillende plekke aan die kus met 'n skerp voorwerp op die kuskranse aangebring. Sommige van die beelde kan geïnterpreteer word as Fenisiese skepe. 'N Sekere probleem is die feit dat die Koikoin-stamme eers in die 5de eeu op die kaap verskyn het, dit wil sê duisend jaar na die Fenisiese ekspedisie. In sy 'Geskiedenis' rapporteer Herodotus egter dat die Fenisiërs tydens die ekspedisie die land vasgemeer het, gewerk het, gewag het op die oes, geoes en verder gegaan het. Die spore van hul teenwoordigheid kon dus so beduidend wees dat dit lank gebly het, of tydens hul verblyf op die kaap merkbaar ver van die kus af was.

Die eerste Europeërs duimnael|Die Boeredelegasie in Europa, 1900 (v.l.n.r.): Andries Daniël Wynand Wolmarans, Willem Johannes Leyds, Abraham Fischer, Hendrik Pieter Nicolaas Muller en Cornelius Hermanus Wessels. duimnael|'n Standbeeld van Bartholomeu Dias, wat in 1488 by vandag se Mosselbaai aan wal gegaan het. Die ooskus van Afrika tot Dar-es-Salaam en Zanzibar is in die vroeër jare gereeld deur onder meer Griekse en Indiese handelaars besoek. Eers nadat die Portugese die Ceuta-hawe in Marokko in 1415 verower het, het seevaarders meer suidwaarts begin vaar.

Die eerste aanduiding van vroeë ontmoetings tussen die Khoi-Khoi en Europeërs was toe die Portugese ontdekkingsreisiger Bartolomeus Dias in Februarie 1488 by vandag se Mosselbaai (destyds Bahia de São Bras genoem) ontmoet het toe bemanning vars water op land kom kry het. Daarna het die Portugese al hoe om die suidpunt van Afrika gevaar om water en vleis te kry en noodsaaklike herstelwerk aan hul skepe te doen.

Die Nederlanders het ook aan die einde van die sestiende eeu al hoe meer die roete na die ooste om die suidpunt van Afrika begin gebruik. Die Nederlandse handelsvlote en later ook dié van die Franse en Britte het toenemend om die Kaap gevaar en in die baai geanker om vars water en kos en ook wilde vrugte te kry. In ruil daarvoor het die matrose onder meer koper, yster en ander Europese produkte aangebied en gereelde ruilhandel het ontstaan.

Die verhouding tussen die Europeërs en die Khoi-Khoi was op onderlinge begrip en samewerking maar ook soms konflik gegrond. Veral die Portugese het met hulle gebots en een van die gevegte was in 1510, toe Francisco d’Almeida en 56 offisiere, soldate en matrose in Tafelbaai in ’n geveg met die Khoi-Khoi dood is.

Ander Europese lande het ook soms in konflik met hulle gekom, maar dit was oor die algemeen meer positief. Teen 1652, toe die Nederlanders ’n permanente nedersetting in die Kaap gestig het, was daar gereelde kontak tussen die groepe, wat mekaar as vreemd ervaar het maar tog die kontak tot wedersydse voordeel benut het.Die eerste Europeërs wat hulle hier gevestig het, het in 1652 onder leiding van die VOC seevaarder en Nederlandse Kommandeur Jan van Riebeeck geland te Kaap de Goede Hoop soos wat dit later genoem is.

Nederlanders Die eerste Nederlandse vloot wat in 1595 Mosselbaai aangekom het, het ook met die Khoi-Khoi handel gedryf en daarna was daar gereeld aanraking. Tafelbaai het sy naam in 1601 gekry danksy die Nederlandse bevelvoerder Joris van Spilbergen en sy bemanning.

Die Engelse het die eerste aan ’n nedersetting gedink maar daar het nie veel van hul poging gekom nie. Intussen is die Vereenigde Oost-Indische Compagnie (VOC) as federale handelsgroep gestig en sy hoogste gesag, die Here XVII, het na aanleiding van sekere bevindinge in 1650 besluit om ’n versterkte verversingspos aan die Kaap te stig, met die doel om sy handelsryk in Oos-Indië winsgewender te maak en ’n tydelike herstelplek vir sy skepe en siek matrose te maak. Jan van Riebeeck en ’n groep van 90 mans, vroue en kinders het toe Tafelbaai op 6 April 1652 binnegevaar.

Toe Jan van Riebeeck in 1662 na Batavia vertrek het, was daar reeds ’n groep van sowat 260 vryburgers (nuwe boere), amptenare en gesinslede. Toe Simon van der Stel in 1679 as bewindhebber oorgeneem het, is die uitdruklike opdrag aan hom gee om die ekonomiese welvaart aan die Kaap te bevorder. Dit het onder meer gelei tot die toekenning van plase aan koloniste en ook Franse Protestantse vlugtelinge.

Franse Hugenote