Roemenië (Roemeens: România, [romɨˈni.a], ) is 'n land in Sentraal- en Suidoos-Europa. Dit beslaan 'n oppervlakte van 238 391 km² en het in 2024 'n bevolking van 18 148 155 gehad. Roemenië grens in die noordweste aan Hongarye, in die noordooste aan Moldowa, in die noorde aan Oekraïne, in die ooste aan die Swartsee, in die suide aan Bulgarye en in die suidweste aan Serwië. Behalwe vir Hongarye en Moldowa is die Romaanstalige Roemenië omring deur Slawiestalige lande. Die hoofstad en grootste stad is Boekarest. Roemenië is ryk aan kultuur en natuurskoon. Die Donaurivier vloei in die Swartsee en vorm die Donaudelta, 'n Unesco-wêrelderfenisgebied weens sy biodiversiteit. Die Karpateberge oorheers die sentrum van die land.
duimnael|links|Nasa-satellietbeeld van Roemenië in Desember 2001 Roemenië bestaan uit die tradisionele en historiese gebiede Dobroedsja, Walachye, Moldawië, Transsilvanië en Banaat wat soms as deel van Transsilvanië beskou word. Die gebied van die huidige Roemenië is oor eeue heen beheers deur die twee prinsdomme Moldawië en Walachye wat in 1859 in die Prinsdom Roemenië verenig het. Dit is in 1881 tot koninkryk verklaar en was op sy grootste in die tussenoorlogse tydperk, nadat die Koninkryk Roemenië Transsilvanië van die ontbinde Oostenryk-Hongarye en Bessarabië van die voormalige Russiese Ryk ontvang het. Ná die Tweede Wêreldoorlog moes koning Michael I op Sowjetse druk abdikeer, gelyktydig moes die land Bessarabië afstaan. Tydens die Koue Oorlog was dit 'n sosialistiese diktatuur en deel van die Warskouverdrag. Ná die bloedige rewolusie in 1989 het Roemenië 'n demokratiese republiek geword en by Westerse lande aangesluit. Roemenië het op 29 Maart 2004 'n lidland van die NAVO en op 1 Januarie 2007 'n lidland van die Europese Unie geword.
Roemenië beklee die 52ste plek in die menslike-ontwikkelingsindeks en dit is 'n ontwikkelende land met 'n hoë-inkomste-ekonomie. Dit het die 41ste grootste ekonomie ter wêreld volgens nominale BBP, met 'n jaarlikse ekonomiese groeikoers van 4,6% in 2022. Die amptelike taal is Roemeens, 'n Romaanse taal. Die etniese samestelling van Roemenië is soos volg: 89% is Roemeens, 6% Hongaars, 3,4% Roma en die res bestaan uit 'n klein aantal Oekraïners, Duitsers, Russe, Turke en Jode. 85,3% van die bevolking behoort aan die Roemeens-Ortodokse Kerk.
Etimologie duimnael|links|Neacșu se brief, die oudste bekende dokument wat in Roemeens geskryf is met die oudste voorkoms van die woord "Roemeens" Die woord "Roemenië" (România) is afgelei van die plaaslike naam vir die Roemene (român) wat op sy beurt ontleen is aan die Latynse romanus en "Romeins" of "uit Rome" beteken. Dié etnoniem vir Roemene is vir die eerste keer gebruik in die 16de eeu deur Italiaanse humaniste wat na Transsilvanië, Moldawië en Walachye gereis het.
Die oudste dokument in Roemeens is van Câmpulung van 1521 (bekend as "Neacșu se brief van Câmpulung"). In die brief waarsku Neacşu die burgemeester van Brașof oor 'n Turkse bedreiging. In plaas van Walachye word die naam wat die inwoners self aan hul land gegee het gebruik: Țara Românească, die "Roemeense land" (Țara van Latyn Terra vir land). In die volgende eeue was daar twee spellings: Român en Rumân. In die 17de eeu is besluit om aan die vorm umân, wat dikwels vir laer klasse gebruik word, die betekenis "lyfeiene" te gee, terwyl die vorm român 'n etno-linguistiese betekenis verkry het. Ná die afskaffing van slawerny in 1746 het die vorm rumân begin verdwyn en die vorm român(esc) het uiteindelik die korrekte en enigste aanvaarde spelling geword. Die naam România het die algemene naam vir alle Roemeense lande geword en dit is die eerste keer in die vroeë 19de eeu gebruik. Die Roemene is die mees oostelike Romaanse volk; dit word heeltemal omring deur nie-Romaanse lande ("'n Romaanse eiland in 'n Slawiese See").
Geografie duimnael|links|'n Kaart van Roemenië duimnael|Die Roemeense "sfinks" op die plato in die Bucegi-berge op 'n hoogte van 2 216 meter. Dit is agt meter hoog en twaalf meter breed duimnael|links|Klimaatsones in Roemenië volgens die Köppen-klimaatklassifikasie duimnael|links|Cheile Turzii in die Roemeense Wes-Karpate (Apuseni) Roemenië is in die sentrale en suidoostelike deel van Europa geleë en beslaan 'n oppervlakte van 238 391 km². Dit is die grootste land in Suidoos-Europa en die twaalfde grootste in Europa. Die suidooste van die land oorkant die Donau maak deel uit van die Balkanskiereiland. Die Roemeense grense word deur hoofsaaklik twee riviere gevorm: die Donau in die suide en die Proet in die ooste. Van die ander groot riviere in Roemenië sluit in die Siret en die Tisza, albei sytakke van die Donau wat in die Karpate ontspring.
Roemenië word in die noorde begrens deur Oekraïne, in die ooste deur Moldowa, Oekraïne en die Swartsee, in die suide deur Bulgarye, terwyl Serwië en Hongarye in die weste lê. Roemenië beslaan dele van die historiese gebiede Banat, Dasië, Dobroedja, Moldawië, Transsilvanië en Walachye. Die noordelike en sentrale deel van dié land word gekenmerk deur die Karpateberge of Karpate.
Roemenië het 'n gematigde klimaat van koue winters en warm somers. Die gemiddelde jaartemperatuur wissel van noord na suid tussen 8 en 11 °C. Die neerslag is baie wisselvallig. Dit reën min langs die kus, terwyl dit in die Karpate gemiddeld tot 1 400 mm per jaar reën.
Die land het ook 'n kusstrook aan die Swartsee (245 km). Kenmerkend vir die Roemeense landskap is die groot boog wat die Karpate maak, 'n middelgebergte uit die Tersiêr, en die heuwels en plato's, met laagvlaktes langs die groot riviere. Tipies van die Karpate is die baie bergmassiewe wat deur riviervalleie van mekaar geskei word met 14 bergreekse wat hoogtes van meer as 2 000 m bereik waarvan Moldoveanu-piek die hoogste is teen 2 544 m.
Natuurlike en semi-natuurlike ekosisteme beslaan ongeveer 47% van die land se oppervlakte. Daar is bykans 10 000 km² (ongeveer 5% van die totale oppervlakte) se beskermde gebiede in Roemenië wat bestaan uit 13 nasionale parke en drie biosfeerreservate.
Roemenië het een van die grootste dele van die ongerepte woud in Europa (byna 27% van sy grondgebied). Ongeveer 3 700 plantspesies is in die land geïdentifiseer (23 is as natuurlike monumente verklaar, 74 uitgesterf, 39 bedreig, 171 kwesbaar en 1 253 skaars).
Die fauna van Roemenië bestaan uit 33 792 diersoorte (33 085 ongewerweldes en 707 gewerweldes). Daar is byna 400 unieke soorte soogdiere, voëls, reptiele en amfibieë, insluitende ongeveer 50% van Europa se bruinbere (Rusland uitgesluit) en 20% van sy wolwe.
Die Donaurivier vloei in die Swartsee en vorm die Donaudelta, wat die tweede grootste en bes bewaarde delta in Europa is, 'n biosfeerreservaat en wêrelderfenisgebied weens sy biodiversiteit. Die Donaudelta is die grootste aaneenlopende moerasland in Europa (5 800 km²), en ondersteun 1 688 verskillende plantspesies. Byna al die Roemeense riviere mond uiteindelik in die Donau uit, deels via die Tisza, waarin die Mures- en Somesriviere dreineer wat in die berge ontspring. Die riviere suid van die Transsilvaanse Alpe, die Jiu, Arges, Prahova en Ialomita mond direk in die Donau uit.
Die Oltetrivier ontspring in die middel van die Karpate en vloei deur die Transsilvaanse Alpe. Die Siret en Proet word uit die oostelike deel van die Karpate en uit die Moldawiese hoogvlakte gevoed. Daar is baie mere langs die Donau en lagunes langs die kuslyn. Dit is moeilik om die rivierstelsel se watervlak te beheer en oorstromings kom voor. 'n Ander natuurverskynsel wat Roemenië nou en dan teister is aardbewings.
Roemeense kuslyn Daar is geen natuurlike hawens aan die Roemeense kuslyn nie. Die enigste hawe vir groot skepe is Constanța, naby die Oekraïense hawe Odessa, die grootste hawe langs die Swartsee. Die Donaurivier se delta ondervind in die somer subtropiese klimaatstoestande terwyl die binneland van Roemenië 'n kontinentale klimaat het.
Gevolglik is die somers in die binneland uiters warm en die winters baie koud. Uiteenlopende soorte diere en voëls, onder meer pelikane, tropiese voëls, bere, wolwe, takbokke en rooikatte kom in die land voor. Daar is soms baie sterk winde in die berge; een van die kwaaiste winterwinde is die noordelike Crivat, wat dikwels groot skade aan oeste aanrig.
Geskiedenis Dasiërs en Romeine duimnael|Sarmizegetusa was die hoofstad en die militêre, religieuse en politieke sentrum van Dasië In 513 v.C. is verskeie stamme van die Getes noord van die Donau verslaan deur die Persiese keiser Darius die Grote in sy veldtog teen die Skitiërs (Herodotus IV.93). Die Getes, net soos die Dasiërs wat in dieselfde omgewing gewoon het, was 'n Thraciese volk. Sommige beskou die Geto-Dasiërs as een enkele volk. Ná 'n halwe millennium is die Geto-Dasiërs onder leiding van Decebalus verslaan deur die Romeinse Ryk onder leiding van keiser Trajanus. Hy het twee veldtogte tussen 101 en 106 n.C. benodig om hulle te verslaan. Die gebied het die status gekry van 'n Romeinse provinsie met die naam Dacia (Dacia Traiana). Trajanus se Kolom op die forum in Rome is in herinnering aan hierdie oorwinning opgerig. Dasië het 'n hoogtepunt bereik tydens die regering van Boerebista omstreeks 80 v.C met Sarmizegetusa as sy militêre, religieuse en politieke sentrum.
Die Romeine het 'n georganiseerde kolonisasiebeleid gevolg en die inwoners van die provinsie het in die tweede eeu 'n lang tydperk van vrede en voorspoed geniet. Geleerdes wat die Daco-Romeinse kontinuïteitsteorie aanvaar – een van die belangrikste teorieë oor die oorsprong van die Roemeniërs – sê dat die saamwoon van die inheemse Dasiërs en die Romeinse koloniste in Romeinse Dacia die eerste fase van die Roemene se etnogenese was. Die Gotiese en Karpatiese invalle tussen 238–269 (van die begin van die Romeinse krisis van die derde eeu tot die Slag van Naissus) het die Romeinse Ryk uiteindelik gedwing om afstand te doen van Dasië en sy inwoners te ontruim na die voormalige Moesië suid van die Donau. Dié nuwe, beter te verdedigende Romeinse provinsie is Dacia Aureliana genoem en maak deel uit van die huidige lande Serwië, Bulgarye en Roemenië.
Ná die Romeinse heerskappy duimnael|Kaart van die Roemene se etnogese Tussen 271 en 275 het die Romeine die voormalige Dasië verlaat, waar die Gote binnegeval het. Hulle het daar gewoon tot die vierde eeu saam met die plaaslike bevolking. Toe het 'n nomadiese volk verskyn: die Hunne. Die Gepiede en die Aware het tot in die agtste eeu in Transsilvanië regeer, toe die Bulgare Dasië by hul ryk gevoeg en dit tot in 1018 regeer het.
Transsilvanië was Hongaars van die stigting van die Hongaarse Koninkryk in die tiende of elfde eeu tot die sestiende eeu; daarna is die prinsdom Transsilvanië gevorm. Maar weens die verwoesting en finansiële las is die plaaslike bevolking nie deur die migrante geraak in hul lewenswyse en hul kultuur nie. Die Pechenegs, Cumans en Uzen was ook op Roemeense terrein soos dit blyk uit argeologiese opgrawings. Die Roemeense owerhede Walachye (deur Basarab I) en Moldawië (deur Maramureșaan Dragoș) is tussen die dertiende en veertiende eeu gestig. In die Middeleeue het die Roemene in twee verskillende en onafhanklike Roemeense owerhede gewoon: Walachye (Roemeens: Țara Românească – Roemeense Land) en Moldawië (Roemeens: Moldova), maar ook in die Hongaarse Transsilvanië.
Laat Middeleeue duimnael|Die drie prinsdomme is deur die Karpate van mekaar geskei: Moldowa (rooi), Walachye (blou), Transsilvanië (geel)