duimnael|Kaart van die Karoo duimnael|Nasa-Satellietbeeld van die twee Karoo-ekostreke van Suid-Afrika en Namibië, soos uitgestippel deur die Wêreldnatuurfonds. Die geel lyn sluit die twee streke in. Die groen lyn verdeel die Sukkulente Karoo in die weste van die Nama-Karoo in die ooste. duimnael|'n Tipiese Karoolandskap
Die Karoo is 'n halfwoestyn wat 'n groot deel van die suidweste van Suid-Afrika beslaan. Karoo is 'n Khoi-woord wat "droog" of "harde grond" beteken, so genoem na die aard van die landstreek. Die Khoi het met hul veekuddes oor die uitgestrekte Karooveld rondgetrek. Die naam "Caro" kom die eerste keer voor in die resolusies van die Politieke Raad op 4 Februarie 1794.
Die koloniste het hierdie gebied aanvanklik die Droogeveld genoem, wat ’n vertaling van die Khoi-pleknaam was. Die Karoo kan geografies verdeel word in drie streke: die Klein-Karoo, die Groot-Karoo en die Noord-Karoo. Geologies is die Karoo een van Suider-Afrika se ouer sisteme (sowat 270 miljoen jaar oud) en dit bestaan uit vier strata wat in lae bo-op mekaar lê. Die Karoogebied beslaan sowat 40% van Suid-Afrika se oppervlakte.
Dit is 'n dorre tot semi-ariede gebied wat besig is om uit te brei. In die ooste neem dit geleidelik die soetveldgrasvlaktes in, terwyl dit in die weste toenemend die kenmerke van egte woestyn (Kalahari) aanneem. As gevolg van veral verkeerde beweidingsmetodes is dele van die aanliggende gebiede besig om al hoe meer Karooagtig te word. Hierdie proses kan slegs deur verbeterde beweidingsmetodes gestuit word.
Deur middel van verskeie besproeiingskemas is groot dele van die droë Karoogebied in besonder nuttige landbougrond omskep. In dele waar boerdery van die natuurlike lae reënval afhanklik is, word op groot skaal met skape, angorabokke en in mindere mate stoetperde geboer.
Ligging en geografie Klein-Karoo duimnael|Boerderylande langs die goed natgemaakte, vrugbare voetheuwels van die meer as 2000 m hoë Swartberge (op die agtergrond) aan die noordelike strook van die Klein-Karoo Die Khoi-naam vir die Klein-Karoo was Kango, wat "nou vlakte tussen hoë berge" beteken. Die Klein-Karoo is dan ook 'n lang en breë vallei wat tussen die Lange- en die Outeniekwaberge in die suide en die Klein- en Groot Swartberg in die noorde lê. Die strook land is taamlik gelyk en ongeveer 60 km breed en 250 km lank.
Dit is 'n tafelland wat net hier en daar deur alleenstaande kaal koppies of klipperige rûens onderbreek word. In die ooste word dit deur 'n kunsmatige lyn tussen Willowmore en Joubertina begrens en in die weste strek dit verby Touwsrivier en De Doorns tot by die Hexrivierberge ('n deel van die Karoo wat dikwels tot die Groot-Karoo gereken word). Die belangrikste riviere van die Klein-Karoo is die Gourits, die Gamka, die Olifants, die Touws en die Kammanassie.
Die Klein-Karoo is 'n somerreënvalstreek met 'n halfwoestynklimaat. Daar val gemiddeld sowat 250 mm reën per jaar. Die gemiddelde somertemperatuur is 27°C, terwyl die gemiddelde wintertemperatuur 14°C is. Die plantegroei bestaan hoofsaaklik uit die bekende karoobossies, wat besonder goed bestand is teen droogte en boonop vir sekere diere eetbaar is. Aalwyne, melkbos en turksvye kom ook voor en na een van die baie skaars donderstorms gedurende die blomtyd kan die Klein-Karoo vir 'n kort tydjie in 'n blomtuin verander.
Om boerdery in hierdie halfwoestyn toestande te bevorder, is daar 'n aantal damme in die riviere van die Klein-Karoo gebou. Baie van hierdie riviere loop gedurende die wintermaande glad nie. Die grootste dam is die Gamkapoortdam in die Swartberg, nie ver van Gamkaskloof en die bekende Hel nie ('n baie verlate, vroeër byna onbereikbare nedersettinkie).
Ander damme waarop boere staatmaak, is die Stompdriftdam naby De Rust, die Kammanassiedam naby Dysselsdorp, die Prinsrivierdam in die Anysberg, die Bellairdam in die Warmwaterberg en die Poortjieskloofdam tussen Montagu en Barrydale.
Groot-Karoo duimnael|'n Tipiese landskap in die Groot-Karoo duimnael|’n Illustrasie van die Groot Eskarp, veral gebaseer op sy voorkoms in die Groot-Karoo, waar dik erosiebestande dolerietplate (verteenwoordig deur die dik swart lyne) gewoonlik die boonste skerp rand van die eskarp vorm. In ander dele van die eskarp vorm harde, erosiebestande geologiese lae die boonste skerp rand (sien teks). Let op die eilandoorblyfsels onder op die skets wat agtergebly het toe die eskarp geleidelik meer na die binneland geskuif het. Die Groot-Karoo begin naby Laingsburg en lê tussen die noordelikste ketting van die Kaapse Plooigordel en die Kaapse platorand. Dit strek van die Sondagsrivier in die ooste tot by die Tankwarivier in die weste. Die noordelike plooiberge bestaan uit die onderpunt van die Roggeveldberge, Nuweveldberge, Sneeuberge en die Coetzeesberge. Die suidelike platorand begin hier in die vorm van die Witteberge, Langeberg en Swartberge.
Die Groot-Karoo is 'n uitgestrekte, golwende plato wat af en toe deur koppies of kliprantjies onderbreek word. Die gemiddelde hoogte bo seespieël wissel van 300 m tot 1200 m. Een van die belangrikste geografiese kenmerke van die Groot-Karoo is dat erosie steeds toeneem en dat die bogrond oor groot dele reeds byna weggespoel het. Dit is hoofsaaklik die gevolg daarvan dat die gebrekkige plantbedekking (van nature reeds yl woestynplantegroei) deur vroeëre onoordeelkundige beweiding nog verder uitgedun is.
Die temperatuur styg baie hoog gedurende die somer, byvoorbeeld gemiddeld 26 °C by Beaufort-Wes. Gedurende die winter kan die dae steeds warm wees, maar die temperatuur daal snags tot ver onder vriespunt, met strawwe ryp. Die gemiddelde reënval van die Groot-Karoo is effens hoër as dié van die Klein-Karoo, wat onmiddellik bydra tot groter erosiewerking omdat daar meer spoelwater is. Die plooiberge in die noorde keer die reënwinde weg en die Groot-Karoo se jaarlikse reënval wissel tussen 200 mm en 500 mm.
'n Warm, stowwerige noordwestewind waai gedurende die somermaande. Min plekke ter wêreld kan egter met meer sonskyndae per jaar spog as die Groot-Karoo. Die plantegroei is ook aangepas by die halfwoestyn toestande, en behalwe die karoobossie, melkbosse, aalwyne en turksvye kom daar in die Groot-Karoo ook verspreide polle harde gras voor. Hierdie wêreld kan na 'n tydige donderstorm in 'n blomtuin verander, maar dit duur net 'n kort rukkie, omdat die blomme vanweë die versengende hitte gou verwelk.
Die belangrikste riviere van die Groot-Karoo is die Gamtoos-, Buffels-, Dwyka, Sout-, Sondags en die Groot-Visrivier. Belangrike damme is die Van Ryneveldpasdam by Graaff-Reinet en die Darlingtondam in die Suurberge. Albei damme is in die Sondagsrivier. Die Grassridgedam is in die Grootbrakrivier, 'n voorloper van die Groot-Visrivier. Byna al die riviere is gedurende die winter droog, maar na donderstorms kan hulle (veral die Gamtoos- en die Sondagsrivier) verwoestende strome word wat groot oorstromings veroorsaak.
Noordelike Karoo Die Noordelike Karoo, wat ook die Bo-Karoo genoem word, beslaan die suidwestelike hoek van die platostreek en strek van die platorand in die suide (dit wil sê net noord van die noordelike plooiberge) tot min of meer by die Oranjerivier in die noorde. In die ooste begin die Noordelike Karoo by die Stormberg en in die weste strek dit tot by die platorand naby die weskus. Met 'n gemiddelde hoogte van 1200 m bo seespieël is die Noordelike Karoo heelwat hoër as die Groot-Karoo, maar in voorkoms stem die twee streke baie ooreen.
Daar is 'n hele aantal panne in die gebied, soos Grootvloer, Verneukpan en Swartkolkvloer. Bekende soutpanne in die Noordelike Karoo is die Commissioner's Salt Pan en die Hunis-soutpan. 'n Groot aantal kleiner riviere soos die Brak-, die Sak-, Renoster-, Ongers-, Groen-, Kruis- en Seekoeiriviere sorg vir die dreinering van die gebied. Riviere soos die Sout-, die Hartbees- en die Olifantsvleirivier loop net 'n kort rukkie nadat dit gereën het en die enigste werklike standhoudende rivier is die Oranje. Die Gariep-, die Vanderkloof- en die Torquaydam is deel van die Oranjerivierprojek.
Die Smartt-sindikaatdam tussen Vosburg en Britstown en die Kriegerspoortdam naby Hanover is kleiner damme wat water aan beperkte gebiede in die Noordelike Karoo lewer. Wat klimaat en natuurlike plantegroei betref, is daar 'n groot ooreenkoms met die Groot-Karoo, behalwe dat die jaarlikse reënval nog laer is en gemiddeld tussen 130 mm en 380 mm wissel. Neerslag in die vorm van enkele, wisselvallige donderbuie wat onderbreek word deur langdurige droogtes, met selfs 'n jaar of drie sonder reën, is die reël in die Bo-Karoo.
Prehistorie duimnael|'n Skematiese geologiese kaart van die buitewyke van die Karoo Supergroepgesteentes in Suider-Afrika: Die ligging en die benaderde struktuur van die Kaapse vouberge word ook vir verwysingsdoeleindes aangedui. duimnael|'n Diagrammatiese 400 km noord-suid deursnit deur die suidelike gedeelte van die land naby Calitzdorp in die Klein Karoo (ongeveer 21°30'O), wat die verhouding tussen die Kaapse plooigebergte (met hulle geologiese struktuur) en die geologie van die Klein en Groot Karoo, sowel as die posisie van die Groot Platorand wys. Die kleurkode vir die geologiese lae is dieselfde as dié wat gebruik word in die diagram op die linkerkant. Die swaar swart lyn met opponerende pyle weerskante is die breuk wat vir byna 300 km langs die suidelike rand van die Swartbergberge loop. Die Swartbergreeks het dele van sy groot hoogtes te danke aan hierdie foutlyn. Die ondergrondse strukture is nie op skaal nie. duimnael|'n Geskatte SW-NO deursnit deur Suid-Afrika met die Kaapse Skiereiland (met Tafelberg) op die linkerkant en die noordoostelike KwaZulu-Natal op die regterkant. (Diagrammaties en net min of meer op skaal.) Dit toon die groot geologiese strukture (gekleurde lae) wat die suidelike en oostelike dele van die land oorheers, sowel as die verhouding tussen die sentrale plato, die Kaapse plooigebergtes, en die Drakensbergplatorand. Die betekenis en oorsprong van die geologiese lae kan gevind word onder die opskrifte "Karoo Supergroep" en "Kaapse Supergroep”. duimnael|Bradysaurus duimnael|Lystrosaurus Geologies beslaan die Karoo-supergroep 'n veel groter gebied as die geografiese Karoo. Alhoewel dit die Klein-Karoo, die Groot-Karoo en die Noordelike Karoo geheel en al insluit, strek dit in die weste tot teenaan die Kaapse suidweskus, omring dit Lesotho en die Natalse Drakensberg en het dit enkele smal uitlopers wat so ver noord as Gauteng, Zimbabwe en Malawi strek. Die formasie wat deur geoloë die Karoo-supergroep genoem word, bestaan uit 'n aantal lae of strata, waarvan die eerste (onderste) laag 280 miljoen jaar gelede gedurende 'n ystydperk gevorm is en die boonste (jongste) laag deur massiewe vulkaniese uitbarstings sowat 170 miljoen jaar gelede.
Tussen die boonste en die onderste laag is daar 'n aantal series en etages waaruit geoloë en paleontoloë kon aflei dat die klimaat en toestande met verloop van miljoene jare verander het van 'n ystydperk en 'n dik yskors tot 'n tropiese woud en lang periodes van hoë en lae reënval tussenin. Gedurende hierdie tyd het verskillende vorme van plante- en dierelewe ontwikkel, 'n hoogtepunt bereik en uitgesterf. Die evolusie of ontwikkeling van lewe kan duidelik uit die fossiele wat in die verskillende lae gevind is, "gelees" word.