duimnael|regs|320px|Die NG kerk aan die bopunt van Voortrekkerstraat, Philippolis. Die gebou en perseel is op 18 Julie 1969 as 'n nasionale gedenkwaardigheid verklaar. 'n Suil ter nagedagtenis aan ds. Colin Fraser jr. staan voor die ingang van die kerk waarin hy 44 jaar die Woord bedien het. Dr. Tobie Muller, Philippolis se derde predikant, wat in 1918 ná net twee jaar in die gemeente tydens die Griepepidemie beswyk het, se suil is een van die vier kleineres. Die ander drie is vir di. C.J. van Niekerk, D.N.J. du Toit en Gideon Engelbrecht. Geskiedenis van die NG gemeente Philippolis op Philippolis.org . URL besoek op 2 Februarie 2014. Die gebou is omstreeks 1871 ontwerp deur Richard Wocke.

Die NG gemeente Philippolis is die negende oudste gemeente in die Nederduitse Gereformeerde Kerk se Vrystaatse Sinode.

Konsulent duimnael|regs|180px|Ds. A.A. Louw was as predikant van die NG gemeente Fauresmith Philippolis se eerste konsulent.

Ds. Andries Adriaan Louw van die NG gemeente Fauresmith, onder wie Philippolis voor die gemeente se stigting in Oktober 1862 geval het, was die baanbreker wat die fondamente van die jong gemeente goed en heg gelê het. Die eerste skrede van Philippolis as nuwe gemeente was wankelend en weifelend. Daar was ná al die jare van ongeordende kerklike bestaan 'n gebrek aan gemeentelike tradisie en samehorigheid waarop gebou kon word. Ná die afstigting in Oktober 1862 van dié negende kerk in die Vrystaat, het ds. Louw die eerste konsulent van die nuwe gemeente geword. Dit was dus 'n uitgestrekte gebied wat hy moes bearbei, maar hy het al die gawes besit om in hierdie wye arbeidsveld geestelike baanbrekerswerk te verrig. Hy het 'n kragtige persoonlikheid en 'n diepe menslikheid gehad. In sy omgang was hy baie minlik, waartoe sy geestige en gevatte opmerkings bygedra het. Sy preekstyl was besonders, boeiend: Sy preke was enig in hul soort en het op die gemoed van elke toehoorder 'n onuitwisbare indruk gelaat, volgens J.A. Bosch in Philippolis se Eeufeesgedenkboek.

As konsulent van Philippolis was hy vir dié gemeente in sy vormingsjare 'n besonderse krag en 'n bron van raad. Onder sy bekwame leiding is die jong gemeente se huishoudelike sake soos die beroep van 'n eerste leraar, die verkryging van 'n kerkgebou en pastorie, die kiesing van 'n eerste kerkraad ensovoorts in orde gebring. Ds. Louw het sonder uitsondering die kerkraadsvergaderings kom lei en op die daaropvolgende Sondag die sakramente bedien. Ná die aankoms van ds. Colin Fraser jr., het ds. Louw nog as raadgewer en getroue helper tot in 1867 gedien toe hy 'n beroep na die NG gemeente Murraysburg aanneem. Ná 'n vrugbare bediening van 44 jaar is hy op 24 Junie 1908 oorlede.

Ds.C.M. Fraser (1863–1907) duimnael|links|180px|Ds. Colin McKenzie Fraser as jong predikant op Philippolis.

Hoewel die NG gemeentes van die Vrystaat noord van Bloemfontein meer lidmate gehad het danksy 'n digter bevolking as dié suid van die Vrystaatse hoofstad, sou Philippolis as een van die suidelike gemeentes, onder die bekwame leiding van ds. C.M. Fraser, spoedig een van die toonaangewende gemeentes van die Oranje-Vrystaat word. As leraar het hy sy geestelike werk in Philippolis begin en dit tot sy emeritaat in 1907 voortgesit. Omdat Philippolis die enigste gemeente was waarin hy gearbei het, was daar by hom dus geen sprake van 'n eerste en laaste gemeente nie, maar slegs van die enigste gemeente. Sy 44 bedieningsjare het hom in staat gestel om op 'n besonderse wyse met die sake van die Vrystaatse Sinode bekend te word. Dit is dus geen wonder nie dat hy vyf maal tot moderator gekies is, vier maal tot assessor en dat die leraars van die Oranje-Vrystaat tot hom "als hun vader" opgesien het. In die Sinode het hy sy stempel onuitwisbaar afgedruk. Hy was 'n leraar enig in sy soort en voorwaar 'n sieraad vir die kerk, volgens J.A. Bosch. Hy het 18 beroepe ontvang, waarvan agt uit die Kaapkolonie gerig was, waarvan vier deur die Groote Kerk, maar hy het steeds besef dat hy in die Oranje-Vrystaat 'n taak te verrig gehad het. In die Sinodale sittings het hy deur sy welsprekendheid en logiese beredenering van sake roem verwerf, en dit het daartoe gelei dat hy een van die belangrike boumeesters van die vroeë Vrystaatse Kerk geword het.

Ds. Fraser as Vrystaatse kerkleier Nadat die Vrystaatse Kerk in 1864 'n selfstandige Sinode gevorm het, het hy gedurende die eerste Sinodesitting belangrike werk gekry: "Met Di. A.A. Louw, G. van de Wall en den Staatsbeampte, den heer Niele Marais diende hij als commissielid om een concept wet voor de Ned. Geref. Kerk van den Oranje-Vrijstaat op te trekken." In hierdie kommissie het hy besonderse vernuf getoon, sodat in die toekoms op groot skaal van sy dienste gebruik gemaak sou word. Herhaaldelik het hy die Vrystaatse Kerk op belangrike byeenkomste verteenwoordig. In 1869 het hy die groete van die Vrystaatse Kerk aan die Nederduits Gereformeerde Kerk in die Transvaal gebring en in 1873 aan die Moederkerk in Kaapstad. 'n Paar jaar later het hy ook die Vrystaatse Sinode verteenwoordig in "de eerste Pan-Presbyteriaansche Concilie" in Edinburg, Skotland.

In 1881 is hy en ds. J.H. van Wijk deur die Vrystaatse Sinode afgevaardig "om onze groete en gelukwenschen aan de Transvaal te brengen bij de herwonnen onafhankelijkheid, en hem viel de eer te beurt de eerste vergadering van den Nieuwen Volksraad met gebed te openen". Hy het verskeie belangrike afvaardigings gelei, maar in die Vrystaatse Sinode het hy sy diepste spore getrap. In 1867, toe die Sinode sy sitting op "Winburg" gehad het, het Philippolis die beskrywingspunt ingestuur dat die "Synode vergadere in het vervolg te Bloemfontein en op geen ander dorp". Twee jaar later het die Sinode na aanleiding van hierdie voorstel besluit dat die Sinodesitting voortaan in Bloemfontein sou plaasvind omdat dit dan vir al die gemeentes in die Vrystaat die mees sentrale sou wees.

In 1871, toe hy 34 jaar oud was en hy slegs agt jaar as leraar in die Oranje-Vrystaat werksaam was, is hy tot moderator van die Vrystaatse Sinode gekies. Drie jaar later is hy herkies. Van besonderse belang vir die Vrystaatse Sinode en kerk in die algemeen was die openingsredes wat hy as moderator gelewer het. In 1877, toe hy as moderator aftree, het hy 'n treffende rede gevoer. Hy het die moeilikhede van die kerk geskilder en daarop gewys dat lidmate meer belangstelling in hul kerk behoort te toon. Hy wou alle lidmate kerkbewus hê. "Wij moeten ons niet alleen verblijden als het in onze gemeente welgaat, maar ook over het goede in andere gemeenten." Hy het vervolgens ernstig gewaarsku teen die groot rol wat bygeloof onder die Christene speel en weer eens op die toename van die Rooms-Katolieke geloof gewys. In dieselfde lig sien hy ook "de Hooge Kerk van Engeland", wat hy "de eenige ware draagster voor zondaren" genoem het. Voorts waarsku die uittredende moderator teen die oprigting van Roomse skole oral in die land en wys daarop dat die geskiedenis van die Protestantisme dit nie kan goedkeur nie, want baie Suid-Afrikaners "zijn afstammelingen van de vrome Hugenoten, die hunne godsdiensvrijheid met hun goed en bloed hebben gekocht". Ten slotte het hy daarop gewys dat daar 'n dure plig op elke NG gemeente rus om hierdie gevare die hoof te bied.

Optrede teen maatskaplike euwels duimnael|regs|210px|Die herstelde preekstoel soos dit vandag lyk. In Mei 1882 toe hy weer tot moderator van die Vrystaatse Sinode gekies is, het die Sinode onder sy leiding drasties teen die toenemende drankmisbruik te velde getrek. Daarom is in Mei 1882 'n skrywe in dié verband aan die Volksraad gerig. In 1883 het die Volksraad deur 'n ordonnansie duidelik vasgelê op watter wyse drank binne die grense van die Oranje-Vrystaat verkoop kon word. In Mei 1884 het hy weer die moderatorskap beklee en in 1889 is hy vir die vyfde maal in die vername posisie gekies. Tydens die Sinodesitting van 1895 het Philippolis as beskrywingspunt ingestuur dat die Sinode per brief by die Volksraad aansoek doen "om pogingen in het werk te stellen, dat het loopen van treinen door ons land op Zondag kan worden afgeschaft met uitzondering van eene express-passagierstrein". Dit is aan ds. Fraser en die leraar van Heilbron opgedra om 'n brief in dié verband aan die Volksraad te rig. Hierdie skrywe aan die Volksraad het eers in 1898 tot 'n drukke bespreking in die Volksraad aanleiding gegee. Volksraadslid D.W. Steyn het gemeen dat die Volksraad as die hoogste gesag die voorbeeld moet stel om die Sabbat te heilig, want dit beskou hy as die taak van die Volksraad wat verteenwoordigers van 'n Christelike volk is. Die heer Steyn is ondersteun deur die lede G.A. Coetzee, P.J.S. Jooste, P.D.C. Grabe, H.S. Viljoen, C.R. de Wet, E.N. Grobler en J.G. Fraser, wat ook besef het dat Gods wet wat die heiliging van die Sabbat betref, gehandhaaf moes word "en alzoo Gods zegen op den Staat te doen rusten". Gedurende Junie 1898 is aanvullende wetgewing by Wet No. 14 van 1891 oor die heiliging van die Sabbat ingedien en wat die loop van treine op Sondae betref, is in 1898 onder meer bepaal: "1. Het loopen van plezier treinen alsook van alle goederen treinen uitgezonderd van treinen bevracht met vergangbare goederen, is verboden. 2. Het verkeer van passagiers- en vergangbare goederen treinen zal zoo ingericht worden dat zooveel mogelijk vermeden wordt dat zij op Zondag loopen.

Hoewel die Volksraad alreeds in 1890 wetgewing teen loterye in die Vrystaat aangeneem het, het dit gedurende die negentigerjare in Transvaal so erg toegeneem dat ds. Fraser die saak in die Sinodesitting van 1897 aanhangig gemaak en meegedeel het dat die Sinode met droefheid verneem het "uit de verslagen over den staat van den Godsdienst, dat zoo vele leden onzer Kerk deel nemen aan de z.g. 'sweepstakes' te Johannesburg". Met die meeste nadruk waarsku hy teen dobbelary van enige aard "waardoor zoo vele zonden veroorzaakt worden". In Junie 1898 het die Volksraad aanvullende wetgewing teen dobbelary aangeneem wat daartoe gelei het dat Wet No. 17 van 1890 insake dobbelary strenger toegepas sou word.

Ywer vir die sending Dit het verder in die Sinodale sittings en Ringvergaderings ook duidelik geblyk wat ds. Fraser vir die sending en Sondagskool in die Vrystaat beteken en gedoen het. Sy sendingwerk was nie net tot Philippolis beperk nie, maar oor die hele Vrystaat en selfs buite die grense van die provinsie, so het hy gevoel, moes sendingwerk aangepak word. Hy het, met Philippolis as praktiese voorbeeld, veel daartoe bygedra dat die Vrystaatse Kerk geïnspireer is om aandag te skenk aan die ewige belange "van de Heidenen, die onder ons en rondom ons wonen". Op Philippolis het hy soveel aandag aan die sendingwerk gegee dat van die wit lidmate begin kla het en in 1883 het twee hulle van die NG Kerk losgeskeur. Die Kerkraad het aan die saak aandag gegee, dog besluit dat die leraar ongesteurd met sy sendingwerk kon voortgaan. Wat sendingwerk betref, het Philippolis tussen die ander gemeentes van die Vrystaat uitgeblink en kon as 'n voorbeeld op dié gebied beskou word, want, hoewel die notules van die Sendinggemeente op Philippolis vantevore deurspek was met ontugsake, het die werk van ds. Fraser sodanig vrug afgewerp dat die sedelike peil van die Sendinggemeente in 1897 besonder hoog was.