Hierdie artikel handel oor die Nieu-Seelandse nasionale manskrieketspan. Vir die artikel oor die nasionale vrouekrieketspan, sien Nieu-Seelandse nasionale vrouekrieketspan.
Die Nieu-Seelandse nasionale krieketspan (Engels: New Zealand national cricket team), met die byname Black Caps (“swart pette”; Maori: Pōtae Pango) of Kiwis, is die nasionale krieketspan wat Nieu-Seeland in toets- en kitskrieket verteenwoordig. Dit word beheer en geadministreer deur Nieu-Seeland Krieket (NZC, van Engels: New Zealand Cricket) en is ’n volle lid van die Internasionale Krieketraad (IKR) met toets-, EDI- en T20I-status. Hulle het hul eerste toets in 1930 teen Engeland in Christchurch, Nieu-Seeland, gespeel en daarmee die wêreld se vyfde toetsland geword. Die span kon eers in die 1955/56-seisoen ’n toets wen, teen Wes-Indië op Edenpark in Auckland. Hulle het hul eerste internasionale eendagwedstryd in die 1972/73-seisoen teen Pakistan in Christchurch gewen. Nieu-Seeland is tans (Maart 2026) vyfde op die IKR-toetsranglys, tweede op die eendagranglys en tweede op die Twintig20-wêreldranglys.
Nieu-Seeland het tot dusver twee keer as medegasheer van ’n krieketwêreldbekertoernooi opgetree (in 1992 en 2015), in albei gevalle saam met Australië. Al is Nieu-Seeland telkens een van die gunstelingspanne om beide die krieketwêreldbeker en die T20I-wêreldbeker te verower, het dié eer hulle nog nie te beurt geval nie. Hul beste prestasie tot dusver is die eindstryd, wat die Black Caps twee keer gehaal het (in 2015 en 2019), maar hulle is deur onderskeidelik Australië en Engeland in die eindstryd verslaan. Nieu-Seeland het Suid-Afrika in die halfeindstryd van die Krieketwêreldbeker 2015 verslaan, hul eerste oorwinning in ’n wêreldbekerhalfeindstryd en sodoende vir die eerste keer in ’n wêreldbekereindstryd verskyn, maar uiteindelik teen hul trans-Tasmanse teenstanders Australië verloor. In die volgende krieketwêreldbekertoernooi in 2019 het Nieu-Seeland weer die eindstryd gehaal, maar naelskraap teen Engeland volgens aangetekende grenshoue verloor, nadat beide die wedstryd en die volgende superboulbeurt gelykop geëindig het. Drie voormalige Nieu-Seelandse spelers is in die Internasionale Krieketraad se Heldesaal opgeneem.
Nieu-Seeland het tydens die Kampioenetrofee 2000 (destyds die Uitkloptrofee genoem) sy eerste internasionale titel ingepalm. In 2021 het die Blacks Caps in die eindstryd van die Wêreldtoetskampioenskap 2019–2021 Indië met agt paaltjies verslaan en sodoende hul tweede IKR-titel gewen. Tydens die T20I-wêreldbeker 2021 het Nieu-Seeland vir die eerste keer die T20I-wêreldbekereindstryd gehaal, maar hulle is deur Australië met agt paaltjies verslaan. Nieu-Seeland se volgende eindstrydverskyning was tydens die Kampioenetrofee 2025, maar hulle is deur Indië met vier paaltjies geklop. Daarna het die Black Caps die T20I-wêreldbeker 2026-eindstryd gehaal, maar teen die verdedigende wêreldkampioen Indië vasgeval.
Beheerliggaam
Die beheerliggaam van krieket in Nieu-Seeland, Nieu-Seeland Krieket (NZC, New Zealand Cricket), is op 27 Desember 1894 as die Nieu-Seeland Krieketraad gestig (NZCC, New Zealand Cricket Council) en is die toesighouer van die Nieu-Seelandse nasionale krieketspanne. Sedert 31 Mei 1926 is Nieu-Seeland ’n volle lid van die Internasionale Krieketraad (IKR) en mag dus toetskrieket speel.
Nieu-Seeland Krieket bestuur al die Nieu-Seeland-verteenwoordigende nasionale spanne, insluitende die mans, vroue en jeug. Hulle is ook verantwoordelik vir die bestuur en organisasie van toets-, EDI- en T20I-reekse teen ander spanne, en vir die reël van internasionale wedstryde tuis. Daarbenewens is Nieu-Seeland Krieket verantwoordelik vir inkomsteverkryging deur die verkoop van kaartjies, borgskappe en uitsaairegte, veral in verband met die Nieu-Seelandse span.
Kinders en jongmense word reeds op skool aan krieket bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting. Net soos ander krieketlande beskik Nieu-Seeland oor ’n o/19-nasionale span wat aan die o/19-krieketwêreldbeker deelneem. Nieu-Seeland A is die tweede nasionale span van Nieu-Seeland en van hul wedstryde geniet eersterangse of A-lys-status.
Geskiedenis Invoering en vestiging van krieket Soos in ander dele van die wêreld het Britse kolonisasie die spel krieket na Nieu-Seeland gebring, waar dit vinnig gewildheid verwerf het. Die krieketgeskiedenis in Nieu-Seeland begin in 1832 met die eerste bekende reël van ’n wedstryd deur die predikant Henry Williams in Northland. In 1835 besoek Charles Darwin met sy HMS Beagle tydens sy beroemde omseiling van die aarde die Bay of Islands en Darwin sien, hoe bevryde Māori-slawe en die seun van ’n sendeling in Waimate North krieket speel. Darwin skryf in The Voyage of the Beagle soos volg: The Summer Game by D.O & P.W. Neely 1994 bl. 11
Die eerste bekende krieketwedstryd in Nieu-Seeland het in Desember 1842 in Wellington plaasgevind. Die koerant Wellington Spectator berig oor ’n wedstryd op 28 Desember 1842 tussen ’n “rooi”- en ’n “blou”-span van die Wellington-klub. Die koerant Examiner in Nelson lewer die eerste bekende, volledige berig oor ’n wedstryd tussen die Surveyors en Nelson in Maart 1844.
Op 16 Maart 1860 is die eerste interprovinsiale wedstryd in Wellington gehou, toe Wellington ’n eendagwedstryd teen die span uit Auckland met vier paaltjies gewen het. ’n Kort rukkie later is verdere wedstryde aangebied, wat almal een dag geduur en nie eersterangse status geniet het nie. Die eerste eersterangse wedstryd in Nieu-Seeland het op 27–29 Januarie 1864 tussen Otago en Canterbury op die Suid-Dunedin Ontspanningsveld plaasgevind. Dit het drie dae geduur en die boulbeurte het tydens die eerste beurt uit ses aflewerings elk en tydens die tweede beurt uit vier aflewerings elk bestaan. Canterbury het die loot gewen en gekies om eerste te kolf, maar Otago het dié wedstryd met 76 lopies gewen. Hoewel dit die eerste eersterangse wedstryd in Nieu-Seeland was, het vyf van Otago se spelers reeds oor eersterangse ondervinding beskik, wat hulle by die interkoloniale krieket in die Australiese deelstaat Victoria verkry het. Nogtans was dit die 32-jaarige nuweling James Fulton wat die eerste 25 lopies aangeteken het. John Mace, ’n voormalige speler uit Victoria, en MacDonald, gebore in Victoria, het Canterbury aan die einde van die eerste dag op 34 lopies uitgeboul. Op die tweede dag het Otago se span vir 65.1 kolfbeurte gekolf en 74 lopies aangeteken, voordat Mace en MacDonald vier paaltjies elk geneem en Otago laat wen het. Otago en Canterbury het van 1864 af jaarliks teen mekaar gespeel en hierdie wedstryd is van die 1911/12-seisoen af tydens die Plunket Shield beslis.
duimnael|links|Die eerste wedstryd tussen Canterbury en Engeland op Hagleypark, Christchurch, in Februarie 1864 In 1863/64 het George Parr se “All England”-span, nadat hulle in Melbourne gespeel het, die eerste geword wat na Nieu-Seeland getoer en die Suideiland vir vyf wedstryde besoek het. Dié Engelse span het 22 wedstryde teen sterk spanne uit Otago en Canterbury gewen. Tydens hul 1876/77-toer na Australië het James Lillywhite se span tussen Januarie en vroeg Maart 1877 Nieu-Seeland vir agt nieeersterangse wedstryde besoek. Hulle het ses gewen en in twee onbeslis gespeel. Hul daaropvolgende wedstryd ná hul terugkeer na Australië was die eerste toetswedstryd in die krieketgeskiedenis. Tussen 1864 en 1914 het altesaam 22 buitelandse spanne na Nieu-Seeland getoer. Ses spanne was uit Engeland, 15 uit Australië en een uit Fidji.
Die eerste nasionale span duimnael|links|’n Krieketwedstryd tussen die plaaslike Otagospan en die besoekende Australië op Carisbrook in 1910 duimnael|Sedert 1906 ding die Nieu-Seelandse eersterangse spanne om die Plunket Shield mee Op 15–17 Februarie 1894 het die eerste Nieu-Seelandse verteenwoordigende span teen Nieu-Suid-Wallis op Lancasterpark in Christchurch gespeel. Nieu-Suid-Wallis het dié wedstryd met 160 lopies gewen. Die Nieu-Seelandse Krieketraad (nou Nieu-Seeland Krieket, New Zealand Cricket, NZC), is op 27 Desember 1894 gestig. Nieu-Suid-Wallis het in 1895/96 teruggekom en die gasheer het die eensame wedstryd met 142 lopies gewen, Nieu-Seeland se eerste oorwinning.
Nieu-Seeland het sy eerste twee internasionale wedstryde (maar nie toetse nie) in 1904/05 teen ’n sterbesaaide Australiese span met spelers soos Victor Trumper, Warwick Armstrong en Clem Hill gespeel. Reën het Nieu-Seeland van ’n afranseling in die eerste wedstryd beskerm, maar nie in die tweede nie, wat Nieu-Seeland met ’n beurt en 358 lopies verloor het – tot op hede die tweede hoogste nederlaag in Nieu-Seeland se eersterangse geskiedenis. Oor die daaropvolgende 50 jaar sou die wedersydse ontmoeting met Australië slegs op keurspanne uit die deelstate en die Australia XI beperk wees, omdat die Australiërs hul bure nie as sterk genoeg vir toetskrieket geag het nie.
In 1906 is die Plunket Shield deur Lord Plunket geskenk. Dit was Nieu-Seeland se eerste amptelike trofee in krieket en voorheen was dit veral die spanne uit Canterbury, Otago, Auckland, Wellington, Hawke’s Bay, Nelson (tot in 1891) en Taranaki (tot in 1898), wat gereeld wedstryde teen mekaar gereël het. Tot in 1920/21 is die Plunket Shield as ’n uitdagingstoernooi gespeel en sedertdien as ’n nasionale kampioenskap. Aan die begin is die Plunket Shield óf deur Canterbury óf deur Auckland gewen.
Tussenoorlogse tydperk duimnael|Roger Blunt, Tom Lowry, Curly Page en Stewie Dempster tydens die eerste Nieu-Seelandse 1931-toer na Engeland duimnael|Walter Hadlee en Jack Kerr tydens die Nieu-Seelandse 1937-toer na Engeland Die Marylebone-krieketklub (MKK) was gretig om krieket in die hele Britse Ryk te bevorder en op 31 Mei 1926 het die Nieu-Seelandse beheerliggaam saam met sy Indiese en Wes-Indiese eweknieë volle lede geword van die Imperiale Krieketkonferensie (IKK; nou Internasionale Krieketraad, IKR) wat voorheen slegs uit die Marylebone-krieketklub (MKK) en verteenwoordigers uit Australië en Suid-Afrika bestaan het. Ná sy toetrede tot die IKK kon Nieu-Seeland nou amptelike toetswedstryde speel, wat na die belangrikste en vernaamste internasionale krieketwedstryde verwys. In 1927 het Nieu-Seeland vir die eerste keer na Engeland getoer, maar hulle het nog nie toetswedstryde gespeel, omdat Nieu-Seeland nie as sterk genoeg geag is nie. Hulle het 26 eersterangse wedstryde gespeel, meestal teen county-spanne. Nieu-Seeland het sewe wedstryde gewen, insluitende dié teen Worcestershire, Glamorgan, Somerset en Derbyshire. Ná hierdie suksesvolle toer is Nieu-Seeland as sterk genoeg vir amptelike toetskrieket beskou.
In 1929/30 het die MKK, wat die opsig oor al die amptelike Engelse oorsese toere gehad het, onder hul kaptein Harold Gilligan as Engelse verteenwoordiger na Nieu-Seeland getoer en vier toetse gespeel, almal het drie dae geduur. Gelyktydig het Freddie Calthorpe ’n ander Engelse span na Wes-Indië aangevoer, waarvolgens die Engelse span in Nieu-Seeland nie ’n volstoomspan was nie. Nieu-Seeland het sy eerste toetswedstryd op Lancasterpark, Christchurch, met agt paaltjies verloor, maar hulle het in die volgende drie onbeslis gespeel. In die tweede toets het Stewie Dempster en John Mills 276 lopies om die eerste paaltjie aangeteken. Dit is steeds die hoogste vennootskap vir Nieu-Seeland teen Engeland. ’n Aansoek deur die Nieu-Seelandse Krieketraad vir ’n Australiese besoek van twee toetswedstryde vroeg in 1931 is deur die Australiese beheerliggaam van die hand gewys omrede die spelers van ’n uitputtende jaar met twee toetsreekse van vyf toetswedstryde elk moes herstel. In 1931 het Nieu-Seeland sy eerste toetstoer na Engeland onderneem en drie toetwedstryde gespeel, dit was Nieu-Seeland se eerste amptelike toer in toetskrieket. Hulle het die toetsreeks egter met 0–1 verloor, nadat hulle in twee toetswedstryde onbeslis gespeel en Engeland die tweede toets met ’n beurt en 26 lopies gewen het.