Hierdie artikel handel oor die Indiese nasionale manskrieketspan. Vir die artikel oor die nasionale vrouekrieketspan, sien Indiese nasionale vrouekrieketspan.
Die Indiese nasionale krieketspan (Engels: India national cricket team; Hindi: भारतीय क्रिकेट टीम), met die byname Men in Blue en Team India, is die nasionale krieketspan wat Indië in toets- en kitskrieket verteenwoordig. Dit word beheer en geadministreer deur die Raad vir Beheer van Krieket in Indië (BCCI, van Engels: Board of Control for Cricket in India) en is ’n volle lid van die Internasionale Krieketraad (IKR) met toets-, EDI- en T20I-status. Indië is tans (Maart 2026) vierde op die IKR-toetsranglys, eerste op die eendagranglys en eerste op die Twintig20-wêreldranglys.
Hoewel krieket reeds in die 18de eeu deur Europese handelsmatrose na Brits-Indië gebring en die eerste krieketklub in Indië reeds in 1792 in Kolkata gestig is, het Indië se nasionale krieketspan eers hul eerste toets op 25 Junie 1932 op Lord’s in Engeland gespeel. Hulle word die sesde span om toetskrieketstatus te ontvang. In sy eerste vyftig jaar van internasionale krieket was Indië een van die swakste spanne in internasionale krieket, hulle het slegs 35 van die 196 toetse wat hulle gedurende dié tydperk gespeel het gewen. Indië moes van 1932 tot 1952, 20 jaar, vir sy eerste toetsoorwinning wag. Die span het in die 1970’s sterker geword, met opkomende spelers soos die kolwers Sunil Gavaskar en Gundappa Viswanath, die veelsydige Kapil Dev en die Indiese “draaikwartet” Erapalli Prasanna, Srinivas Venkataraghavan, Bhagwat Chandrasekhar en Bishen Singh Bedi.
Indië is tradisioneel tuis baie sterker as oorsee, maar sedert die begin van die 21ste eeu kon die span sy oorsese prestasies verbeter, veral in die korter vorme van krieket; hulle het reeds toetse in Australië, Engeland en Suid-Afrika gewen. Indië het die krieketwêreldbekertoernooi tot dusver twee keer gewen – in 1983 onder kaptein Kapil Dev in Engeland en in 2011 onder kaptein MS Dhoni tuis. Nadat hulle die 2011-toernooi gewen het, was Indië slegs die derde span, ná Wes-Indië en Australië, wat dié trofee twee keer ingepalm het, en die eerste span wat dit tuis kon vermag. Hulle het ook die T20I-wêreldbekertoernooi (in 2007) en die Kampioenetrofee (in 2013) onder kapteinskap van MS Dhoni ingepalm. Daarbenewens het hulle die Kampioenetrofee 2002 met Sri Lanka gedeel en onder kapteinskap van Rohit Sharma die T20I-wêreldbeker 2024 en die Kampioenetrofee 2025 gewen. Daarna het hulle onder hul kaptein Suryakumar Yadav die T20I-wêreldbeker 2026 tuis beklink.
Onder die leierskap van Dhoni het die Indiese span as een van die gedugste spanne in internasionale krieket na vore getree. Die Indiese krieketspan ding in kragmetings mee teen ander toetsspelende lande, veral met Pakistan, die politieke aartsvyand van Indië. Die afgelope tyd het tweestryde met lande soos Australië, Engeland, Nieu-Seeland en Suid-Afrika ook bekendheid verwerf. Tien voormalige Indiese spelers is in die Internasionale Krieketraad se Heldesaal opgeneem.
Beheerliggaam
duimnael|links|Ondersteuners van die Indiese krieketspan met die Indiese vlag tydens ’n wedstryd teen Australië op die Melbourne-krieketveld Die Raad vir Beheer van Krieket in Indië (BCCI) is in 1928 gestig en verantwoordelik vir die reël van krieket in Indië. Sedert 31 Mei 1926 is Indië ’n volle lid van die Internasionale Krieketraad (IKR) en mag dus toetskrieket speel. Daarbenewens was die Indiese beheerliggaam in 1983 ’n stigtingslid van die Asiatiese Krieketkonferensie (Asian Cricket Conference, ACC; nou Asiatiese Krieketraad).
Die BCCI is een van die rykste sportbeheerliggame wêreldwyd. Sy mediaregte-inkomste vir die Indiese toernooie vir die periode 2006–2010 het $ 612 000 000 beloop. Met sy sterk finansiële bande in die krieketwêreld het die BCCI al herhaaldelik weerstand ontbied teen die IKR se toerskedule, en op meer toetsreekse teen Australië en Engeland aangedring, aangesien hulle hiermee meer inkomste verdien as met ’n toetsreeks teen Bangladesj of Zimbabwe. In die verlede het die BCCI met die IKR ook oor borgskappe en die Kampioenetrofee se bestaansrede verskil.
Die Raad vir Beheer van Krieket in Indië bestuur al die Indië-verteenwoordigende nasionale spanne, insluitende die mans, vroue en jeug. Hulle is ook verantwoordelik vir die bestuur en organisasie van toets-, EDI- en T20I-reekse teen ander spanne, en die reël van internasionale wedstryde tuis. Daarbenewens is die BCCI verantwoordelik vir inkomsteverkryging deur die verkoop van kaartjies, borgskappe en uitsaairegte, veral in verband met die Indiese span.
Kinders en jongmense word reeds op skool aan krieket bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting. Net soos ander krieketlande beskik Indië oor ’n o/19-nasionale span wat aan die o/19-krieketwêreldbeker deelneem. Indië A is die tweede nasionale span van Indië en van hul wedstryde geniet eersterangse of A-lys-status.
Geskiedenis Inheemse voorlopers Daar word al oor eeue heen sport in Indië beoefen waar deelnemers ’n bal met ’n stok slaan. Veral Gilli Danda, ’n antieke sport, waarby ’n speler ’n gegooide bal met ’n stok slaan, word as ’n inheemse voorloper van krieket beskou. Dié sport word dalk sedert sowat 2500 jaar gelede in Indië beoefen. Gilli Danda word gereeld met krieket vergelyk en die sportsoorte toon vele ooreenkomste.
Vroeë geskiedenis duimnael|links|upright|Kumar Shri Ranjitsinhji Jadeja was ’n Indiër wat vir Engeland gespeel het Soos in ander dele van die wêreld het Britse kolonisasie die spel krieket na Indië gebring, waar dit vinnig gewildheid verwerf het. Die eerste bekende krieketwedstryd in Indië is in 1721 deur seemanne van die Britse Oos-Indiese Kompanjie gespeel. Die eerste bekende krieketklub is die Kolkata Krieketklub wat sedert minstens 1792 bestaan. In 1848 het die Parsi-gemeenskap in Bombaai die Oosterse Krieketklub gestig, die eerste krieketklub wat deur Indiërs gestig is. Ná ’n stadige begin het die Europeërs in 1877 die Parsi’s genooi om ’n krieketwedstryd te speel. Die eerste toer van ’n Indiese span na Europa is in 1886 gereël, twee jaar later het die eerste Engelse span Indië besoek. Teen 1912 het die Parsi’s, Sikhs, Hindoes en Moslems van Bombaai teen die Europeërs in ’n jaarlikse vierhoekige toernooi met vier spanne gespeel. In die vroeë 1900’s het van die Indiërs vir Engeland begin speel. Sommige van hierdie spelers, soos Ranjitsinhji en KS Duleepsinhji, is deur die Britte opreg waardeer en hul name is met onderskeidelik die Ranji-trofee en die Duleep-trofee vereer – twee vername eersterangse toernooie in Indië. In 1911 het ’n Indiese span vir hul eerste amptelike toer na die Britse Eilande vertrek, maar slegs teen Engelse countyspanne, en nie die Engelse nasionale span gespeel nie.
Op pad na toetskrieketstatus duimnael|Die Indiese krieketspan word deur wyle Koningin Elizabeth II in 1952 op Lord’s verwelkom Die Marylebone-krieketklub (MKK) was gretig om krieket in die hele Britse Ryk te bevorder en op 31 Mei 1926 het die Indiese beheerliggaam saam met sy Nieu-Seelandse en Wes-Indiese eweknieë volle lede geword van die Imperiale Krieketkonferensie (IKK; nou Internasionale Krieketraad, IKR) wat voorheen slegs uit die MKK en verteenwoordigers uit Australië en Suid-Afrika bestaan het. Ná sy toetrede tot die IKK kon Indië nou amptelike toetswedstryde speel, wat na die belangrikste en vernaamste internasionale krieketwedstryde verwys. Twee jaar later is die BCCI amptelik gestig. Indië het sy debuut as ’n toetslande in 1932 op Lord’s in Londen gemaak, aangevoer deur CK Nayudu, wat destyds as die beste Indiese bouler beskou is; hulle het egter nie oor ’n sterk kolfspan beskik nie en is in dié wedstryd met 158 lopies verslaan. In 1933/34 het die Engelse teenbesoek gevolg, wat gelyktydig Indië se eerste tuisreeks in toetskrieket was. Hulle het twee toetse in Bombaai (nou Mumbai) en Kalkutta (nou Kolkata) gespeel. Die besoekers het dié reeks met 2-0 gewen.
Die Indiese span het regdeur die 1930’s en 1940’s verder ontwikkel, maar hulle het nie ’n internasionale oorwinning in dié tydperk aangeteken nie. In die vroeë 1940’s het Indië weens die Tweede Wêreldoorlog nie toetskrieket gespeel nie en tot die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog het Indië in sewe wedstryde teen Engeland geen oorwinning en slegs twee onbeslisuitslae aangeteken. Ná die onafhanklikheid en Verdeling van Indië is ook wedstryde teen die ander toetslande, waaronder Australië en Wes-Indië, gespeel. Die span se eerste wegreeks as ’n onafhanklike land was in laat 1947 teen Donald Bradman se Invincibles (soos die Australiese span destyds genoem is). Dit was ook die eerste toetsreeks wat Indië nie teen Engeland gespeel het nie. Australië het die vyf-toetsreeks met 4–0 gewen, nadat Bradman die Indiese boulwerk in sy laaste Australiese somer gekwel het. Ná onafhanklikheid het Indië sy eerste toetsreeks tuis in 1948 teen Wes-Indië gespeel. Die besoekers het dié vyf-toetsreeks met 1–0 gewen, nadat vier wedstryde onbeslis geëindig het.
Indië het sy eerste toetsoorwinning, in hul 24ste probeerslag, teen Engeland in Madras in 1952 aangeteken. Later dieselfde jaar het hulle hul eerste toetsreeks, teen Pakistan, gewen; Pakistan het tydens dié toetsreeks sy eerste toetswedstryd ooit gespeel. Indië het sy vordering in die vroeë 1950’s met ’n reeksoorwinning oor Nieu-Seeland in 1956 voortgesit. Hulle het egter tot die einde van dié dekade geen verdere oorwinning aangeteken nie en swak teen sterk Australiese en Engelse spanne verloor. Op 24 Augustus 1959 het Indië met ’n beurt in die toets teen Engeland verloor, wat tot die enigste platloop deur Engeland met 5–0 gelei het. In die volgende dekade het Indië in ’n sterk span met ’n tuisrekord ontwikkel. Hulle het hul eerste tuisreeks teen Engeland in 1961/62, maar ook ’n tuisreeks teen Nieu-Seeland, gewen. Eweneens het Indië daarin geslaag om gelykop in tuisreekse teen Pakistan en teen Australië, asook in ’n verdere tuisreeks teen Engeland te speel. Gedurende dieselfde tydperk het Indië ook sy eerste reeksoorwinning buite die subkontinent aangeteken, toe hulle in 1967/68 in Nieu-Seeland geseëvier het.
Die kern van die Indiese boulwerk in die 1970’s was hul draaikwartet – Bishen Bedi, E.A.S. Prasanna, B.S. Chandrasekhar en Srinivas Venkataraghavan. Dié dekade het ook die opkoms van twee van Indië se beste kolwers nog, Sunil Gavaskar en Gundappa Viswanath, beleef. Indiese kolfblaaie het die neiging gehad om draai te ondersteun en die draaikwartet het die feit uitgebuit om die opponente se kolfspanne te laat ineenstort. Hierdie spelers, onder kaptein Ajit Wadekar, het Indië na twee opeenvolgende reeksoorwinnings in 1971 in Wes-Indië en in Engeland geneem. Gavaskar het 774 lopies tydens die Wes-Indiese toetsreeks aangeteken, terwyl Dilip Sardesai se 112 belangrik was in een van hul toetsoorwinnings.
EDI-krieket en krieketwêreldbekersuksesse duimnael|’n Grafiek van Indië se toetswedstryde teen al die ander toetslande tussen 1932 en September 2006 duimnael|Toetswedstryd tussen Indië en Nieu-Seeland op Basin Reserve in Wellington, 1981