Hierdie artikel handel oor die Pakistanse nasionale manskrieketspan. Vir die artikel oor die nasionale vrouekrieketspan, sien Pakistanse nasionale vrouekrieketspan.

Die Pakistanse nasionale krieketspan (Engels: Pakistan national cricket team; Oerdoe: پاکستان قومی کرکٹ ٹیم, Pākistān qaumī kirkeṭ ṭīm), met die byname Shaheens (شاہین; letterlik: “valke”), Green Shirts, Men in Green, is die nasionale krieketspan wat Pakistan in toets- en kitskrieket verteenwoordig. Dit word beheer en geadministreer deur die Pakistanse Krieketraad (PCB) en is ’n volle lid van die Internasionale Krieketraad (IKR) met toets-, EDI- en T20I-status. Pakistan is tans (Februarie 2026) sewende op die IKR-toetsranglys, vierde op die eendagranglys en sesde op die Twintig20-wêreldranglys.

Pakistan het 467 toetswedstryde gespeel, 152 gewen, 149 verloor, in nul gelykop en in 166 onbeslis gespeel. Pakistan het, as die tweede land in Asië, op 28 Julie 1952 toetsstatus verkry – op aanbeveling van Indië – en Pakistan het sy toetsdebuut teen Indië op Feroz Shah Kotla Ground, Delhi, in Oktober 1952 gemaak, wat Indië met ’n beurt en 70 lopies gewen het. In die 1930’s en 1940’s, voor die Verdeling van Indië in 1947, het verskeie Pakistanse krieketspelers vir die Indiese krieketspan in toetswedstryde verskyn.

Pakistan het 996 EDIs gespeel, 526 gewen, 440 verloor, in nege gelykop en in 21 onbeslis gespeel. Pakistan het die Krieketwêreldbeker in 1992 gewen en die Krieketwêreldbeker in 1999 as naaswenner afgesluit. Pakistan het, saam met ander lande van Suid-Asië, die krieketwêreldbekertoernooie in 1987 en 1996 aangebied, en die 1996-eindstryd is op Gaddafistadion in Lahore beslis.

Pakistan het 299 T20Is gespeel, meer as enige ander span, 173 gewen, 114 verloor, in vier gelykop en in agt onbeslis gespeel. Pakistan het die eerste T20I-wêreldbeker 2007 as naaswenner afgesluit en die T20I-wêreldbeker 2009 gewen, daarna het hulle ook die T20I-wêreldbeker 2022 as naaswenner afgesluit.

Pakistan het ook die Kampioenetrofee 2017 vir die eerste keer gewen, nadat hulle Indië verslaan het. Pakistan het sodoende die eerste span geword wat al die vername internasionale kriekettoernooie kon wen: Krieketwêreldbeker, T20I-wêreldbeker, Kampioenetrofee en die Toetskampioenskap. Sewe voormalige Pakistanse spelers is in die Internasionale Krieketraad se Heldesaal opgeneem.

Terrorisme in Pakistan het daartoe gelei dat verskeie nasionale spanne nie na dié land getoer het nie, en ná die 2009-aanval op die Sri Lankaanse nasionale krieketspan nie meer internasionale krieketwedstryde in Pakistan gespeel is nie. Eweneens is Pakistan van sy rol as medegasheer vir die Krieketwêreldbeker 2011 ontneem. Van 2009 af het Pakistan sy tuiswedstryde veral in die Verenigde Arabiese Emirate gespeel. Maar ná die afname van terreuraanvalle in Pakistan gedurende die onlangse jare, en die verbetering van veiligheid in dié land, het verskeie spanne sedert 2015 weer na Pakistan begin toer. Van die spanne sluit in Zimbabwe, Sri Lanka, Wes-Indië, Bangladesj, Suid-Afrika, Australië, Engeland, Nieu-Seeland en ’n IKR Wêreld XI. Daarbenewens is wedstryde van die Pakistan Superliga in Pakistan aangebied.

Beheerliggaam

duimnael|links|Die provinsiale streke van die Pakistanse Krieketraad Die Pakistanse Krieketraad (PCB) is op 1 Mei 1949 as Raad vir Beheer van Krieket Pakistan (BCCP) gestig en verantwoordelik vir die reël van krieket in Pakistan. Sedert 28 Julie 1952 is Pakistan ’n volle lid van die Internasionale Krieketraad (IKR) en mag dus toetskrieket speel. Daarbenewens was die Pakistanse beheerliggaam in 1983 ’n stigtingslid van die Asiatiese Krieketkonferensie (Asian Cricket Conference, ACC; nou Asiatiese Krieketraad).

Die Pakistanse Krieketraad bestuur al die Pakistan-verteenwoordigende nasionale spanne, insluitende die mans, vroue en jeug. Hulle is ook verantwoordelik vir die bestuur en organisasie van toets-, EDI- en T20I-reekse teen ander spanne, en die reël van internasionale wedstryde tuis. Daarbenewens is die PCB verantwoordelik vir inkomsteverkryging deur die verkoop van kaartjies, borgskappe en uitsaairegte, veral in verband met die Pakistanse span.

Kinders en jongmense word reeds op skool aan krieket bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting. Net soos ander krieketlande beskik Pakistan oor ’n o/19-nasionale span wat aan die o/19-krieketwêreldbeker deelneem. Pakistan A, oftewel Pakistan Shaheens, is die tweede nasionale span van Pakistan en van hul wedstryde geniet eersterangse of A-lys-status.

Geskiedenis Beginjare duimnael|links|Verslag oor die wedstryd tussen Sindh en Australië in Karatsji op 22 November 1935 in The Sydney Morning Herald Krieket in Pakistan het ’n geskiedenis wat reeds voor die onafhanklikheid van dié land in 1947 begin; die spel is deur die Britte in die vroeë 1700’s na hul destydse kroonkolonie Brits-Indië gebring, waar dit vinnig gewildheid verwerf het. Die eerste bekende internasionale krieketwedstryd in Karatsji is op 22 November 1935 tussen Sindh en Australië gespeel. Dié wedstryd is deur 5 000 Karatsji’s bygewoon.

Ná onafhanklikheid duimnael|Die Pakistanse nasionale krieketspan voor hul vertrek na Indië met die Pakistanse eerste minister Khawaja Nazimuddin duimnael|Waqar Hasan (links) en Imtiaz Ahmed (regs) tydens die tweede toetswedstryd teen Nieu-Seeland in Lahore, 1955 Ná die Verdeling van Indië en die gepaardgaande onafhanklikheid van Pakistan in 1947 het spoedig ’n krieketbedryf in dié land begin ontwikkel. Op 1 Mei 1949 is die Raad vir Beheer van Krieket Pakistan gestig en het op 28 Julie 1952 – op aanbeveling van Indië – ’n volle lid van die Internasionale Krieketraad (IKR) geword en mag dus toetskrieket speel, wat na die belangrikste en vernaamste internasionale krieketwedstryde verwys. Laasgenoemde het, as opvolgerstaat van Brits-Indië, nie só ’n spoedige ontwikkeling in krieket ondergaan nie. Abdul Hafeez Kardar is as eerste kaptein van die nuwe nasionale krieketspan benoem.

Pakistan se eerste toetswedstryd is in Oktober 1952 op Feroz Shah Kotla Ground, Delhi, gespeel. Dit was deel van ’n vyf-toetsreeks, wat die gasheer met 2–1 gewen het, met twee onbesliste wedstryde. Pakistan het sy eerste toer na Engeland in 1954 onderneem en die toetsreeks met 1–1 geëwenaar. Die Pakistanse oorwinning op The Oval, waarin die snelbouler Fazal Mahmood twaalf paaltjies geneem het, was die span se eerste wegoorwinning in Engeland. Pakistan se eerste tuistoetswedstryd is in Januarie 1955 op Bangabandhu Nasionale stadion, Dacca, Oos-Pakistan (Dacca was destyds deel van Pakistan, maar is nou die hoofstad van Bangladesj) gespeel. Indië was weer die teenstander en ook dié wedstryd was deel van ’n vyf-toetsreeks. Die ander vier toetswedstryde is in Bahawalpur, Lahore, Pesjawar en Karatsji gespeel. Vir die eerste keer in die toetskrieketgeskiedenis het al die vyf toetswedstryde van ’n toer onbeslis geëindig. In dieselfde jaar het Nieu-Seeland Pakistan vir die eerste keer vir ’n toetsreeks tussen albei nasionale spanne besoek. Die eerste toetswedstryd het die gasheer met een lopie en die tweede met vier paaltjies gewen. Die laaste toetswedstryd het onbeslis geëindig, waarvolgens Pakistan sy eerste toetsreeks gewen het (met 2–0).

In 1956 het Australië tydens sy Suid-Asiatiese toer vir die eerste keer in ’n toetswedstryd teen Pakistan te staan gekom, wat die gasheer gewen het. Hulle het Australië in die eerste beurt op 80 lopies uitgeboul. Nadat Pakistan vir 199 sy paaltjies verloor het, was hulle met 119 lopies voor. In die tweede beurt het Pakistan Australië op 187 uitgeboul, en nadat hulle die nodige 68 lopies aangeteken het, het hulle met nege paaltjies geseëvier. Fazal Mahmood het weereens met sy boulwerk uitgeblink en 13 paaltjies vir 114 lopies geneem. In 1958 het Pakistan sy eerste toer na die Karibiese gebied onderneem en in vyf toetswedstryde gespeel. Die eerste toetswedstryd het onbeslis geëindig. Hanif Mohammad het sy span van ’n nederlaag gered, nadat hulle in die eerste beurt op 106 lopies uitgeboul is en Wes-Indië voorheen 579 lopies aangeteken het. Tydens hul lopiejaag van 473 lopies het Mohammad in die laaste toetsbeurt van 970 minute gekolf en die beslissende 337 lopies aangeteken. Wes-Indië het die daaropvolgende drie toetswedstryde gewen en in die laaste toetswedstryd het Pakistan sy eerste oorwinning met ’n beurt en een lopie teen dié span aangeteken. Die keer het Hanif se broer Wazir Mohammad 189 lopies vir Pakistan se telling van 496 lopies in antwoord op die gasheer se 268 lopies bygedra. Wes-Indië is in die tweede beurt op 227 lopies uitgeboul, maar hulle het die toetsreeks reeds met 3–1 beklink.

Onder Imran Khan na wêreldklas duimnael|links|Die Pakistanse aanvangskolwer Yasir Hameed speel teen Australië op Lord’s in Engeland duimnael|Pakistan se kaptein Imran Khan en die destydse Pakistanse eerste minister Nawaz Sharif met die Benson & Hedges Wêreldbeker nadat Pakistan die Krieketwêreldbeker 1992 gewen het Die koms van EDI-krieket het ook vir Pakistan nuwe aspekte by die internasionale krieket gevoeg. In 1973 het Pakistan sy eerste EDI-wedstryd tydens hul Nieu-Seelandse toer in Christchurch gespeel, maar hulle is deur die gasheer met 22 lopies verslaan. Met die EDI-krieket het die Krieketwêreldbeker verskyn en terwyl hulle tydens die groepfase van die Krieketwêreldbeker 1975 uitgeskakel is, het Pakistan tydens die toernooie in 1979, 1983 en 1987 drie agtereenvolgende keer die halfeindstryd gehaal. Toe Imran Khan in 1982 as kaptein van die nasionale span aangewys is, het hy Pakistan na wêreldklas geneem. Reeds in die tweede toetswedstryd tydens hul 1982-toer na Engeland op Lord’s het hy sy span na hul eerste oorwinning op Engelse bodem in 28 jaar aangevoer.

Een van die noemenswaardige ontmoetings met Indië was die eindstryd van die Australasiatiese Beker in 1986 in Sharjah in die Verenigde Arabiese Emirate. Indië het eerste gekolf en ’n teiken van 245 lopies opgestel, waarvolgens Pakistan ’n lopietempo van 4.92 lopies per boulbeurt benodig het. Toe Pakistan aan die beurt was, het Javed Miandad op nommer drie gekolf en Pakistan het paaltjies op ’n gereelde manier verloor. Nadat net drie boulbeurte oor was en Pakistan nog 31 lopies vir ’n oorwinning benodig het, was Indië blykbaar op die punt van ’n oorwinning. Miandad wou „met waardigheid verloor“ en het ’n reeks grenshoue geslaan, terwyl sy span met ’n laerorde gekolf het, totdat hulle vier lopies met die laaste aflewering van die wedstryd benodig het. Miandad het ’n volle gooi aan die beenkant van Chetan Sharma ontvang, wat hy vir ’n grenshou oor die middelste paaltjiegrens geslaan en Pakistan die wedstryd laat beklink het. Javed Miandad het toe ’n nasionale held geword.

In 1987 het Khan sy span na hul eerste toetsreeksoorwinning in Indië geneem, nadat die eerste vier toetswedstryde onbeslis geëindig en Pakistan die vyfde gewen het. Daarop het die eerste Pakistanse reeksoorwinning in Engeland gevolg. Daarbenewens het Pakistan gedurende die 1980’s in drie agbare onbesliste wedstryde teen Wes-Indië gespeel. In 1987 het Indië en Pakistan die Krieketwêreldbeker saam aangebied, maar geen van albei spanne het verby die halfeindrondte gevorder nie. Ná die einde van die Krieketwêreldbeker het Khan uit internasionale krieket bedank. In 1988 het die Pakistanse president Mohammed Zia ul-Haq hom gevra om weer die nasionale span aan te voer, waarvoor hy op 18 Januarie 1988 ingestem het. Kort ná sy terugkeer as kaptein het Khan Pakistan deur ’n suksesvolle toer in Wes-Indië gelei, waartydens hy 23 paaltjies in drie toetswedstryde geneem het.